Resensie: Mellet Moll se Heilige Meetkunde, Swanesange en Nalewe

  • 0

Titels: Heilige Meetkunde, Swanesange en Nalewe
Outeur: Mellet Moll
Uitgewer: Cordis Trust Publikasies
ISBN (Heilige Meetkunde): 9780992205713
ISBN (Swanesange): 9780992205720
ISBN (Nalewe): 9780992205737

Bestel by www.cordistrust.co.za.

Die afgelope dekade was daar ’n herlewing van Afrikaanse poësie, hoofsaaklik weens nuwe publikasiegeleenthede wat deur uitgewers sowel as die internet geskep is. Cordis Trust Publikasies is een van die jong onafhanklike uitgewers wat nuwe skrywers in staat stel om hul skryfwerk te publiseer. Onlangs het die gesiene digter Johan Lodewyk Marais se bundel In die bloute sowel as die trilogie van die debuutdigter Mellet Moll by Cordis Trust verskyn. Hier is ’n uitgewer wat wil toesien dat veral debutante in alle genres die geleentheid gegun word om hul werk te publiseer en sodoende kreatiewe skryfwerk onder Afrikaanssprekendes aan te moedig.

Mellet Moll het pas geskiedenis gemaak as die eerste Afrikaanse digter wat ’n trilogie as debuut gepubliseer het. Die drie bundels, getiteld Heilige Meetkunde, Swanesange en Nalewe, sluit tematies by mekaar aan en vorm ’n siklus wat saam gelees moet word. Die drie bundels is pragtig uitgegee, met kunswerke van Diek Grobler op die buiteblaaie wat die bundels esteties asook tematies komplementeer.

Die eerste bundel in die trilogie, Heilige Meetkunde, fokus hoofsaaklik op die kosmiese en metafisiese en is in vyf afdelings verdeel, naamlik “Vorm en materie”, “Musiek en die Sfere”, “Kosmiese DNS”, “Heilige Afmetings” en “Euklidiese Ruimtes”. Die bundel word ingelei met ’n aanhaling van D’Arcy Wentworth Thompson: “Die harmonie van die kosmos manifesteer in figure en getalle wat die poësie van die wetenskappe vergestalt in wiskundige skoonheid.” Moll ondersoek die wisselwerking tussen poësie en die wetenskappe en Thompson se aanhaling kan dus as ’n tema vir die eerste bundel dien. Die inleidende gedig, “Aksis”, dien as vertrekpunt vir beide die bundel en die trilogie in sy geheel:

Daar is ’n spil in weet en ongeloof:
’n spergebied waarin die sterre val
en die eleeg die sterwensligte sien
in sondowings verby die uiteindes
van die sideriese infinitum se spoor.

Moll beskik oor ’n uitgebreide verwysingsraamwerk wat die Afrikaanse letterkunde, wetenskap, klassieke musiek en die geskiedenis insluit en die vertrekpunt vir die meeste van sy gedigte vorm. Moll tree ook intertekstueel in gesprek met onder andere Van Wyk Louw in die gedig “Principia Mathematica” wat by Louw se gedig “Suiwer wiskunde” in sy bundel Nuwe verse (1954) aansluit:

En hy onthou die natgeleide grond
wat oopgaan vir die nuwe dag se saad:
die opbrengs van die opbetaalde loon
wat herverdeel in elke jaar se oes.

Hy sweef nou in asimptote voort
deur nuwe sterlande wat onverken
langs sy patryspoort dryfhout maak:
as x oneindig word, neig y na nul

sodat die uurwerk eendag kantel.

Moll maak geredelik van die vryevers in die drie bundels gebruik, wat aan sy poësie ’n vloeiende en informele toon verleen. Hy slaag daarin om die leser direk met die vers te konfronteer en sodoende op ’n figuurlike wyse met die leser in gesprek te tree.

In die tweede bundel, Swanesange, fokus Moll hoofsaaklik op die lewe en die verganklikheid van die mens. Net soos Hambidge, skryf Moll talle lykdigte wat insluit “Hoofman, O my Hoofman” na aanleiding van die akteur Robin Williams se dood, asook “Stil broers, daar gaan ’n man verby”, wat aan Nelson Mandela opgedra is.  Alhoewel die verse ryk aan beelde en metafore is, grens die titels “Hoofman, O my Hoofman” asook “Stil broers, daar gaan ’n man verby” net te veel aan ’n cliché. Die titels doen afbreuk aan die andersins goedgestruktureerde verse wat aan die ontslape akteur en oudpresident hulde bring. Na aanleiding van die afsterwe van oudpresident Mandela skryf Moll:

Die sterrekinders sal hom welkom heet
wanneer hy met die witligte ontslaap
op ’n astrale skynreis deur die waas
van wondmense en ouvolk nagelaat
in tussendrome sonder vragbriewe
of pasboeke om verder aan te swerf.
[…]
Die kinders van die grond sal rustig slaap
as hy verlaas in Vilakazi-straat afstap.

Die gedigte “Sutherland” en “Nieu-Bethesda” fokus op die landskap van die twee dorpies. In “Nieu-Bethesda” word Helen Martins se kunswerk soos volg beskryf:

Sy is ’n digter van die kalksteenland:
die randfiguur wat beelde uit die leem
van ’n ontdane ander wêreld bring;
wat fyngemaalde glas oor Marrakesj
se desolate sterretempels strooi
as Koos Malgas die grendelslotte sluit;
[…]

Tematies is Swanesange meer somber van toon en inhoud as Heilge Meetkunde, maar die gedigte bring op liriese wyse hulde aan die mens, landskap en lewe.

Die sluitstuk, Nalewe, kan as die hoogtepunt van die drieluik beskou word. Van die treffendste verse sluit in “Pripyat”, “Napalmkind”, “Sarajewo” en “6 Augustus 1945”. Die geskiedkundige gebeure word op geslaagde wyse in woorde vasgevang en beeldryk weergegee. Die gedig “Napalmkind” is gebaseer op die bekende foto van ’n jong meisie wat naak in die pad hardloop nadat sy tydens die Viëtnam-oorlog erge brandwonde opgedoen het:

Haar klere het versmelt tot teen haar lyf
en ingeëet soos kerswas wat nog drup
omdat haar vonnis nie verseël was nie.
Haar naakte lyf was ’n vertoonvenster
van Trang Bang; Viëtnam se slagoffers
wat in die reuk van doodsaltare vlug
uit Cao dai-tempel anderkant Saigon.
Kyk stip, o liewe leser, lê haar vas
[…]

Die bundel bring al die kosmiese elemente wat tot die mens se bestaan bydra, byeen. Die bundel is ’n viering van beide die lewe en die dood. Met Nalewe lê Moll klem op die mens se verganklikheid, aangesien die mens bloot ’n minuskule deeltjie van die kosmos beslaan en weer tot stof sal vergaan.

Moll se trilogie kan as ’n belowende debuut beskou word. Sy verse is toeganklik asook ryk aan beelde, met metafore wat doeltreffend aangewend word. Sommige gedigte kon egter beter afgerond gewees het om enige clichés uit te skakel. Ten spyte van laasgenoemde is die meerderheid gedigte treffend met weldeurdagte onderwerpe wat goed nagevors is. Met Heilige Meetkunde, Swanesange en Nalewe lewer Moll ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse poësie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top