Mediese dokter van Kaapstad wen radiodrama-kompetisie

  • 0
Ingrid Penzhorn
Martie Swanepoel
Zesta Vorster

’n Mediese dokter van Seepunt, Ingrid Penzhorn, is die wenner van RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2014. Haar radiodrama, Ontnugter, is uit sowat 120 inskrywings aangewys as die algehele wenner. Sy ontvang R22 000 se prysgeld.

Die beoordelaars het dit beskryf as ’n verhaal wat luisteraars se geestessnare sal raak. Ontnugter toon dat suksesvolle mense soos dokters en prokureurs ook probleme het en hoe hoop mettertyd tog seëvier. In hierdie “sterk en sinvolle verhaal” stry ’n dokter teen verslawing, en meer spesifiek alkoholisme.

Penzhorn se vorige radiodrama, Vlug, is in die 2012-kompetisie met die prys vir beste jong skrywer (jonger as 30 jaar bekroon) en op RSG uitgesaai.

Die tydskrif-joernalis en lektor Martie Swanepoel se radiodrama, Sonate, het die tweede plek gewen. Dit is ’n roerende verhaal wat die beoordelaars met “sjoe!” laat reageer het. Die stuk handel oor kindermolestering, maar dit word met die nodige sensitiwiteit hanteer.

Swanepoel, wat bekend is om haar artikels in Rooi Rose, Beeld, Sarie en De Kat, is R12 000 ryker.

Zesta Vorster se Ver in die ou Kalahari het die derde plek behaal. Vorster bied dramatiese kunste as skoolvak by verskillende drama-ateljees in Bloemfontein aan. Haar radiodrama handel oor ’n man en vrou wat na ’n motorongeluk saam in die motor vasgekeer is. Die luisteraar word verras deur wat in hierdie klein en pynlike ruimte gebeur ...

Sy ontvang prysgeld van R8 000.

In die kategorie vir skrywers jonger as 30 jaar het Gerda Kriel met haar debuut-radiodrama, Swanesang, met die louere weggestap. Kriel (27) is ’n kliniese sielkundige in die Wes-Kaap en het ’n “lekkerluister-verhaal” geskryf oor alleenheid en jaloesie. Dit is geloof vir sy spesiale soort musikaliteit, sonder dat dit na liriekskrywery klink.

Lees 'n onderhoud met Ingrid Pentzhorn.

Lees 'n onderhoud met Martie Swanepoel.

Lees 'n onderhoud met Zesta Vorster.

Die vier wendramas van vanjaar se kompetisie word van April 2015 in Radioteater op RSG uitgesaai. RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2015 begin in April met die RSG Sanlam-wendramas, wat elke Donderdag om 20:00 gehoor kan word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top