Mandela en Heaney, ambassadeurs van die gewete

  • 1

Nelson Mandela (Bron: Amnesty International)

Toe Nelson Mandela in 2006 Amnesty International se Ambassadeur van die Gewete word, het hy op die oog af min gemeen gehad met Seamus Heaney, wie se gedig “From the Republic of Conscience” die naam vir die toekenning verskaf het.

Mandela was ’n aristokratiese guerrilla wat teen ’n groot persoonlike prys kant gekies het vir sy mense; Heaney was die seun van ’n Ierse veesmous en is daarvan beskuldig dat hy op die draad gesit het in die Ierse bevrydingstryd. Albei het die Nobelprys gewen, maar in 2006 was die enigste ander ooreenkoms tussen hulle dat albei gevaar geloop het om gevalle helde te word. Mandela was omgewe deur skandale spruitend uit sy roem en die mense wat daaruit munt wou slaan, en Heaney se bynaam was Seamus the Famous.

Verlede jaar het hulle ’n bietjie nader aan mekaar beweeg toe hulle enkele maande uitmekaar dood is. Die dood het ’n mens anders na hulle laat kyk, en dis wanneer jy weer Heaney se gedig onder oë neem dat jy besef hoe na hulle in die gees aan mekaar was.

“From the Republic of Conscience” is reeds in 1985 geskryf, maar die beelde en gedagtes daarin lyk of dit die weg voorberei het vir Mandela, die man wat ’n paar jaar na sy vrylating die wêreld se voorste ikoon van ’n humanitêre staatsmanskap geword het.

Die gedig is gesetel in ’n land waarin die demonstrasie van mag en al die simbole daarvan afwesig is. Tydens die inhuldiging van nuwe leiers moet hulle “ween ter boetedoening vir hul aanmatiging om ’n amp te beklee”. Geen beamptes met swartlyste in die hand wag die vreemdeling in nie, net “’n ou man in ’n tuisgemaakte jas”. Wanneer jy jou by doeane aanmeld, gee die ou man jou nie ’n visum nie, maar ’n foto van jou oupa.

Wanneer jy terugvlieg, word jy net een voorreg aan boord gegun – jouself. Jy word ’n dubbele burger wanneer die ou man jou diep in die oë kyk. Die republiek se simbool is ’n boot, met ’n oor as die seil, ’n skuins pen as die mas, en ’n oopoogkiel. Sy burgers aanvaar dat alle lewe spruit uit die sout van trane. Ambassades is oral, maar tree onafhanklik op en ambassadeurs word nooit herroep nie.

Veral die vers oor ambassadeurs laat ’n mens na die afgetrede ou man Mandela kyk as vergestalting van Heaney se visie, al is die gedig nie vir hom geskryf nie. Met sy bekende skuifelende nederigheid en selfontkenning het dit soms gelyk asof hy uit ’n wêreld soos Heaney se republiek gekom het, waar niemand dit sou regkry om sy ambassadeurskap vir vrede en versoening te ondermyn nie.

Maar daar is ook ander Heaney-gedigte met verrassende eggo’s uit Mandela se lewe. Albei het ver en wyd gereis, as deel van ’n globale kringloop van vooraanstaandes, waar die pligsgetroue vergaar van eerbetoon ’n eensame en langdradige storie kon word, met baie dooie tyd op lughawens, in busse en by uitgerekte geleenthede.

In een van Heaney se mees aangehaalde gedigte, “The Tollund Man”, beskryf die verteller ’n eensame reis na Aarhus in Denemarke om na ’n “bog man” te gaan kyk. Dit was in ’n tyd toe die wêreld gaande was oor die ontdekking in die moerasse van Noord-Europa en Engeland van ’n aantal ongeskonde lyke van eeue voor die geboorte van Christus. Hulle is in die meeste gevalle vermoor, en die sappe van die moerasse het hulle laaste gesigsuitdrukkings goed bewaar. Die individuele verskille in hul gelaatstrekke het hul sterftes net aangrypender gemaak en Heaney in staat gestel om die ooreenkomste tussen toe en nou in ’n reeks klassieke gedigte uit te werk.

Net soos die moerasmanne slagoffers was van primitiewe offerandes wat waarskynlik gebruik is om twiste in hul gemeenskappe te besleg, is die moord en doodslag in die Ierse onrus van Heaney se tyd dikwels gekenmerk deur ’n gees van goedkoop wraak en ’n perverse obsessie met die dood as ritueel.

So ongelukkig en verlore as wat die reisiger in die “moordende gemeentes” is, gaan “The Tollund Man” voort, erken hy ten slotte dat hy tuis voel by die moerasman en sy geskiedenis van geweld. Net so moes ’n vredemaker soos Mandela by mense in stryd tuisgevoel het; hy het sy Etiopiese leermeesters in guerrillategnieke beïndruk met sy standvastigheid en leierskap.

Mandela was self ’n soort moerasman, vir 27 jaar verborge vir die wêreld in sy tronke. Maar daar het hy ’n analoë posisie aan dié van Heaney beklee, geweek in die sout van trane – dit was by die “Universiteit van Robbeneiland” dat Mandela omtrent die futiliteit van wraak geleer het, dat dit ’n verskuiwing van grense na ’n hoër vlak sou verg om vrede en bevryding in Suid-Afrika te bewerkstellig.

As Ierse digter kon Heaney kwalik onaangeraak deur die “Troubles” bly. Beide kante van die godsdienstige skeidslyn het hom vir hulself toegeëien, of het hom kwalik geneem dat hy nie meer uitdagend namens hulle optree nie. Dit herinner aan Mandela wat deur alle kante in die Suid-Afrikaanse situasie as hul redder opgeëis is.

Lees nog 'n huldeblyk aan Séamus Heaney op LitNet

Van Heaney se beste werk gaan oor sy lewenslange stryd met hierdie kwessie. In die gedig “The Borders of Writing” beskryf hy hoe hy op ’n rit in die Ierse platteland deur Britse soldate deursoek is, en hoe die reën en sy kar se windskerm hom van hulle afgedig het, nes ’n waterval waaragter ’n ontdekker in ’n grot skuil.

Hy skryf oor die begrafnisse van slagoffers van die “Troubles” vanuit ’n verwyderde, onpartydige perspektief. Hy aanskou die kleinlike maar dodelike rusies van die mensdom vanuit ’n gesigspunt wat so afgeleë is soos die pad van ’n komeet, het hy geskryf. ’n Mens kry die indruk dat hy gedurig op die rand van betrokkenheid gestaan het, maar homself net nie sover kon kry om enige stryd te betree nie.

Nelson Mandela was natuurlik ver van onbetrokke. Net soos sy naam nou staan vir die neerlegging van wapens, net so het dit lank terug gestaan vir ’n welsprekende en oortuigende regverdiging vir die opneem van wapens in ’n stryd wat op dieselfde soort “terroristiese” veldtog as die Ierse Republikeine s’n sou uitgeloop het as daar geen dialoog met die Nasionaliste was nie.

Maar toe hy sy “resep” wou begin toepas op ander wêrelddele, veral in ander streke van Suider-Afrika, het hy hom gou vasgeloop teen dieselfde kleinlikheid wat Heaney so verpes het. Reeds tydens sy presidentskap was hy raadop met diktators soos Robert Mugabe en Laurent-Desiree Kabila van die Kongo. En waarnemers het ’n gevoel van verligting by hom bemerk toe hy na net een termyn as president bedank het.

In sy postpresidensiële loopbaan het sy raak berekening van sy rol in die geskiedenis hom aan veldtogte laat deelneem waarin hy min direkte mag gehad het, maar waarin sy naam en status ten volle ontgin is, as ambassadeur wat nie herroep kon word nie.

Dalk word al hierdie raakpunte die beste saamgetrek in Heaney se bekendste gedig, “Digging”. Nes die man van die aarde wat Mandela aan ons onthul het in Long walk to Freedom, gaan Heaney se gedig oor die grond, oor knolle en wortels, oor grawe en dolwe tussen die kluite.

In die gedig kyk hy uit sy studeerkamer toe terwyl sy pa in sy tuin werk. Sy pa hef ’n graaf op, maar in Heaney se eie hand is “a pen, snug as a gun”. Terwyl hy peins oor die arbeid wat hulle albei verrig, sy pa met sy graaf, en hy met sy pen, besef hy dat albei op die ou end wapens in instrumente vir verkenning omskep het.

Vir Mandela was sy oorgang van guerrilla na gesprekvoerder, van geweld na dialoog, ewe gemaklik. So ’n natuurlike vegter as wat hy was as die “Swart Pimpernel”, so natuurlik het sy retoriese vermoëns oorgekom. Met woorde as sy nuwe wapens het Mandela ’n hele nuwe land oopgepraat. Daarna het hy in ’n globale verkenner van hoop verander; en was dit onvermydelik dat hy Ambassadeur vir die Gewete sou word, nie net vir Amnesty International nie, maar vir die mensdom as geheel.

En as voorspeller en skriba daarvan sou Heaney tuisgevoel het in die grond van Qunu.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top