Little Foot bied ’n ander blik op ’n populêre tema

  • 0

Skrywer: Craig Higginson
Regisseur: Malcom Purkey
Ontwerper: Neil Coppen

Little Foot is ’n ander blik op die baie populêre tema by vanjaar se Nasionale Kunstefees, naamlik die ontstaan en nalatenskap van die oermens in Afrika, die sogenaamde Cradle of Human Kind. “... Were climbing right under God’s fingernails” soos die karakter Braai sê. Little Foot is die adolessente weergawe van dié moderne soeke na identiteit in en identifisering met die ontstaan van ons voorvaders in ’n magiese verbeeldingswêreld.

Dié produksie bied ’n jong geselskap die rare geleentheid om op vanjaar se hooffees te speel. Die geselskap het ongelukkig eers stelselmatig gemaklik geraak met hul plek en rol op die verhoog, wat heel moontlik die gevolg is van so ’n jong geselskap onder die druk en verwagtinge van ’n nasionale openingsvertoning. Little Foot getuig van goeie konseptualisering, merkwaardige stelontwerp en karakterwerk, maar het tot groot spyt gely onder wat blyk na te min repetering. Akteurs en dansers het onhandig met die stel en rekwisiete omgegaan met wat voorkom as ’n beperkte idee van die groter geheel, hul speelspasie en hul mede-akteurs in die verhoogruimte.

Little Foot stel egter ’n baie belangrike vraag oor waar die lyn getrek word tussen mens en dier, gewete en ’n gebrek daaraan, en in watter mate ons as homo sapiens sosiaal ontwikkel is. Dit is tot en met die agtste Julie by die Nasionale Kunstefees te sien en toer daarna in die buiteland.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top