LitNet Akademies-leesgoed: Susan Smith

  • 0

Susan Smith deel haar top drie leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

 

In die skadu van soveel bome, deur Hennie Nortjé

Hierdie digdebuut verdien werklik al die toekennings en lofredes en is ’n lieflike bundel wat aan my soveel vreugde verskaf het. Reeds met die eerste versreëls eet ek uit die hand van die digter:

Wie sou ooit gewoond kon raak
aan die gewuif van sulke skares,
die opgewonde samedromming,
orals linte, die see van groen vlae?

Ek is meegevoer deur die vars metafore uit die natuurlike omgewing en die verhouding van die mens met hierdie omgewing wat by tye vanuit die perspektief van die objek aangebied word. In die openingsgedig word die dendroloog en Hoogheid, wat die kenner en Skepper van bome impliseer, gesien deur die oë van sy onderdane, jonk en oud. Bome en mense word uitruilbaar, die kern- en randposisies omkeerbaar, die antroposentriese wêreld van die mens gerelativeer. Die digter neem die leser mee op ’n soekende reis tussen soveel bome waar ’n skeutjie humor en woordspel soms verras, soos in die gedig “Olienhoutboom”, waarin die boom as ‘n jong vrou aangespreek word as “O Lea”, terwyl sy as ouer vrou “O Lien” word – ’n dubbele verwysing na die biologiese Olea europaea en die Afrikaanse “olien”. In die skadu van die bome word mites ontgin, luister die leser saam na die klank van peule wat soos pylvlekkatlagters raas, en kry telkemale ’n glimp van die koninklike heerskappy en mag van die natuur – die bome se skrif wat langer staan as dié van die mens.

 

Koop dit by Kalahari.com!

Vibrant Matter. A Political ecology of things, duer Jane Bennett

In 2013 het ek my navorsing oor ekokritiek en ekopoësie voortgesit. Verwant hieraan het ek Vibrant Matter van Jane Bennett baie insiggewend gevind.

In 2010, die jaar van groot omwentelinge en teoretiese veranderinge wêreldwyd, publiseer Bennett, saam met teoretici soos Susan Hekman, Stacy Alaimo en Karen Barad, ’n aantal akademiese tekste wat die verhouding van die mens met dit wat hom omring, totaal in ’n nuwe perspektief stel. In Vibrant Matter ontwikkel sy die idee dat om aan materie in die algemeen as leweloos te dink, inherent problematies is en bydra tot die mens se houding van beheer en verbruik en hom nie toelaat om ’n wyer spektrum niemenslike kragte om en in homself waar te neem nie. Sy stel ’n groener en sinvoller vorm van menslike kultuur voor met aandagtige, sensoriese ontmoetings tussen mens-materialiteite en ding-materialiteite en hulle effek. Daarsonder bestaan die wêreld slegs uit aktiewe menslike subjekte wat passiewe objekte konfronteer.

 

Koop dit by Kalahari.com!

Ecology without Nature (2007) en The Ecological Thought (2010), deur Timothy Morton

In dieselfde trant het ek ook Timothy Morton se The Ecological Thought en Ecology without Nature onder oë gehad. Morton word gesien as een van die rigtinggewende teoretici van die objekgeoriënteerde ontologie en skepper van die terme wat ek hier as hiperobjekte en vreemde vreemdeling vertaal.

In The Ecological Thought spring Morton weg met ’n motto van Emmanuel Levinas: “Infinity overflows the thought that thinks it.” En so vertrek die leser op ’n reis van uitdagende, grensoorskrydende denke.

Morton wys daarop dat daar nie ’n omgewing of ’n natuur “daar buite” is nie: die lug wat die spinnekop omring, die water om die padda, die suurstof in die longe van die mens – dit alles is deel van mekaar. Omgewing en natuur is nie iets daar ver nie. Dit is ook binne-in die mens; daar is geen skeiding nie. Morton sê: “Your DNA doesn’t stop expressing itself at the ends of your fingers. Things are made of other things. Things come from other things. You drive and fly using crushed liquefied dinosaur bones. You are walking on top of hills and mountains of fossilized animal bits. Most of you house dust is your skin.”

Om die natuur te sien as “daar buite” beteken om dit op ’n geromantiseerde wyse agter glas te sit om bewonder te word, of om úitte gaan en dit te ervaar. Hierdie denkwyse lei volgens Morton daartoe dat die mens steeds verbruikersgeoriënteerd is, bewus daarvan dat hy ‘n verbruiker is, iemand vir wie die objek van sy verbruik sy eie identiteit definieer. Om die skoonheid van die natuur te bewonder, kan gevaarlik wees: onder die projeksies van onskuld skuil geweld wanneer die natuur op ’n afstand gehou word.

Die ekologiese gedagte, beweer Morton, is dat alle materie, menslik en niemenslik, interaktief verbind is aan mekaar; die ekologiese gedagte ontsluit en verbreed ons idees van plek en ruimte en tyd; dit dwing ons om nuwe wyses te bedink om as materie saam te bestaan wat nie op selfbelang alleen ingestel is nie. Want ekologie gaan by uitnemendheid oor saambestaan; bestaan is altyd sáám bestaan.

 

Koop Ecology without Nature by Kalahari.com!
Koop The Ecological Thought by Kalahari.com!

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top