LitNet Akademies-leesgoed: Hendrik Geyer

  • 0

Hendrik Geyer deel sy top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

Twee boeke wat ek die afgelope paar maande gelees het, dek temas uit die fisika en is vir ’n breë leserspubliek toeganklik. In beide gevalle skryf die outeurs as gesoute navorsers wat die wêreld waaroor hulle skryf goed ken, en hulle verhale rugsteun met uitgebreide verwysings wat van deeglike voorbereiding getuig.

How the Hippies Saved Physics deur David Kaiser

Die boek bring ons teen die einde van die verhaal by ’n onderwerp wat die afgelope paar weke selfs die voorblad van Time gehaal het: kwantumrekenaars. Kaiser, Germeshausen-professor in geskiedenis van die wetenskap by MIT, gaan haal sy verhaal in die jare 1970, toe die konsep van kwantumrekenaars nog nie eers bestaan het nie, maar daar wel ’n belangstelling begin ontwikkel het in Bell se Teorema. Bell se werk van 1964 laat ons toe om eksperimente te beplan wat kan aandui of ’n wêreld van “lokale realisme” soos wat Einstein voorgestaan het (en min of meer impliseer dat objekte eienskappe het wat net “ontsluier” moet word, eerder as dat hulle hierdie eienskappe verwerf tydens ’n meetproses), versoenbaar is met voorspellings van kwantummeganika. Vir baie navorsers wat nie deel van die fisika-hoofstroom was nie, het dit ook die geleentheid gebied om dinge soos telepatie, ekstrasensoriese persepsie (ESP) en ander idees oor die paranormale by te sleep.

Kaiser slaag goed daarin om te wys hoe hierdie “fisika-hippies” nie net met die hulp van soms vreemde geldskieters oorleef het nie, maar met hul volgehoue program uiteindelik die eerste saadjies kon saai wat tot vandag se vloedgolf van aktiwiteit rondom kwantumrekenaars en kwantuminligting aanleiding kon gee.

Koop dit by Kalahari.com


About Time
  deur Adam Frank

About Time neem ’n wye historiese draai deur die konsep van tyd en lig historiese momente in die ontwikkeling van die mensdom uit waar ons konsep van tyd drasties verander het –  met verreikende gevolge vir hoe samelewings hulself organiseer en toelaat dat hulle georganiseer word. Die oorgang tydens die industriële revolusie wat in Brittanje afgeskop het, is ’n goeie voorbeeld hiervan. Parallel aan hierdie verhaal van hoe persoonlike of menslike tydservaring ontwikkel het, wys Frank ook hoe ons idees oor kosmiese tyd verander het, en argumenteer dat hierdie twee konsepte mekaar beïnvloed het.

So wys hy daarop dat daar toenemend in hedendaagse navorsing in kosmologie aandag gegee word aan die vraag oor wat “voor die oerknal” gebeur het, ’n vraag wat tot onlangs min of meer afgewys is as ’n nonvraag, omdat die konsep van tyd eers tydens die oerknal beslag gekry het. Teen hierdie agtergrond verwag Frank ’n revolusie in ons verstaan van kosmiese tyd en saam daarmee ’n nuwe ontwikkeling van ons begrip en toepassing van persoonlike tyd.

Die argument dat kosmiese en persoonlike tye kousaal verwant is, is miskien net nie oortuigend genoeg nie, maar dat daar wel ’n “gesprek” tussen hierdie konsepte plaasvind, veral deur middel van die tegnologie van die dag, word tog baie goed geïllustreer. Hierbenewens is dit in elk geval fassinerend om sistematies die verhaal te sien ontvou van hoe ons deur die eeue met die begrip tyd omgegaan het en dit toenemend ook meer akkuraat kan meet.

Koop dit by Kalahari.com

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top