LitNet Akademies-leesgoed: Francois Venter

  • 0

Francois Venter deel sy top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

Civilization – The Six Killer Apps of Western Power deur Niall Ferguson

Hier is ’n boek met voetnote, ’n bibliografie, tabelle en grafieke wat die hede teen die agtergrond van die geskiedenis onderhoudend en vermaaklik verhelder. Dat Brittanje waarskynlik die mees suksesvolle politieke entiteit in die geskiedenis van die afgelope vyf eeue was, en al sy voorgangers se sukses oortref, word met smaak en sonder inhibisie deur Ferguson in sy boek, wat met 600 jaar se wêreldgeskiedenis handel, besing. Dit gaan natuurlik nie net oor Brittanje nie, maar dié eiland met sy blywende kultuur van brutale selfsug met panache dryf in die middel van die skrywer se aardbol. Hy het met hierdie en ander materiaal ’n suksesvolle Britse televisiereeks tot stand laat kom en slaag uitstekend daarin om geskiedenis aktueel te maak. Hy verduidelik oortuigend waarom die Weste (wat Noord-Amerika en Wes-Europa insluit) tans die oorhand in die wêreld het en nie byvoorbeeld China of Islam nie – maar versuim nie om die vraag te vra of dit steeds volhoubaar is nie.


The Cosmopolitan State
deur H Patrick Glenn

Die nasiestaat is dood – lank lewe die kosmopolitaanse staat! Patrick Glenn beheers die staatsregsgeskiedenis, die politieke wetenskappe, staatsfilosofie, volkereg en die logika, en demonstreer dit in hierdie boek waarin hy vars perspektiewe op kontemporêre staatskap plaas. Die boek herinner ’n mens opnuut daaraan dat daar niks nuuts onder die son is nie, maar wel immer-ontwikkelende sienswyses oor wat voorhande is. Dit bring ook die besef van hoeveel mites uit die verlede ons siening van die staat oorheers: die sosiale verdrag, nasionalisme, burgerskap, en veel meer, alles konstrukte waarsonder ons skaars kan klaarkom, maar as jy die vernis afkrap, sien jy ou en uitgediende illusies oor die herkoms van staatsgesag. ’n Mens leer by Glenn dat globalisering al meer gemeenskaplike eienskappe aan state oral op die aardbol verleen, eienskappe wat uit eeue se hoofsaaklik Westerse geskiedenis geput is. Tog bly diverse modelle eerder as eenvormigheid die maatstaf.

.


The Judiciary in South Africa
deur Cora Hoexter en Morné Olivier (bydraende redakteurs)

’n Mens kan nogal verstom staan oor hoeveel daar oor die regsprekende gesag in ons land gesê kan word. Die sukses of tekortkominge van wat in en om ons howe aan die gang is, is bepalend vir die oorlewing van konstitusionalisme. Nege skrywers dra in hierdie boek daartoe by dat ’n dieptebeeld van die vele fasette van die regbank in Suid-Afrika tot stand kom. Die historiese wortels van ons howe se funksionering en strukture word ontbloot, en wel op ’n wetenskaplik verantwoordbare manier wat kritiek lewer waar nodig en aanprysing bied waar dit verdien is. Min twyfel bestaan dat die Suid-Afrikaanse howe se onafhanklikheid en onpartydigheid tans ’n politieke teiken is; maar dat hulle op ferm historiese en grondwetlike fondamente staan, en oor ’n ryk kultuur van professionalisme beskik, word in hierdie boek effektief toegelig.

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top