Lina Spies resenseer Geloof anderkant Sondag

  • 1

Titel: Geloof anderkant Sondag
Skrywer: Julian Müller
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624066231

Koop Geloof anderkant Sondag by Kalahari.com

Julian Müller se boek Geloof anderkant Sondag word gekenmerk deur ’n gesprekstoon en ’n bewuste gerigtheid op sy leser. Dit is nie bedoel as ’n teologiese studie en dus as vakkundige bydrae tot die Bybelwetenskap nie, maar is hoofsaaklik vir buitekerklike Afrikaners geskryf. Uiteraard ontbreek dit die boek nie aan ’n teologiese grondslag nie, want Müller is ’n predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en ’n professor in dié kerk se fakulteit aan die Universiteit van Pretoria. Enersyds is hy dus nog sterk verbonde aan die kerk, maar andersyds bewus van ’n buitekerklike geestelikheid waarin diegene wat hulle rug op die kerk gedraai het, hulle bevind.

Die titel van sy eerste hoofstuk, “My persoonlike reis na anderkant Sondag”, gee die persoonlike perspektief van waaruit hy skryf te kenne. Sondag simboliseer vir hom nie net die geestelike geborgenheid van die Afrikaner nie, maar ook sy sosiale geborgenheid wat die kerk hom geslagte lank gebied het: “Die tradisie van Sondag kerk toe gaan was die samevloeiing van ’n hele lewenswyse. Die kerk was letterlik en figuurlik die middelpunt van die dorp en die boeregemeenskap. Sondag was die bymekaarkomdag en al die sosiale aktiwiteite van daardie plattelandse gemeenskap is daar rondom gereël” (8).

Die byna mistieke verbintenis tussen dorp en plaas blyk uit Müller se weergawe van sy grootwordjare as seun op ’n plaas in die distrik Nigel. As die Boerevolk het die Afrikaners hulle stewig op Suid-Afrikaanse bodem gevoel met hulle kerk op vaste fondamente. Maar so sou dit nie bly nie. Twee verwoestende wêreldoorloë het oor Europa gewoed en die apartheidsbeleid, gebaseer op rasseskeiding, wat die Nasionale Party na sy bewindsaanvaarding in 1948 gevolg het, is wêreldwyd veroordeel. Dit was die aanleiding tot die afskaffing van apartheid in 1994 en die totstandkoming van ’n demokrasie. Met die afskaffing van apartheid het die Bybelse grondslag waarop dié beleid gefundeer is, verval. Dit het aanleiding gegee tot bevraagtekening van die gesag van die Bybel en saamgehang met wat Müller tereg noem ’n “geloofwaardigheids­krisis in kerklike geledere”. Oor die verbrokkeling van die fondamente van die kerk sê hy: “Die ontnugtering met die kerk het weer gelei tot ontnugtering met die God van die kerk. Dit het ’n nuwe en bykomende mate van sekularisasie gebring” (28).

In ’n gesekulariseerde samelewing draai mense se lewens nie meer om die kerk nie; hulle staan nie net meer ver of verder van die kerk nie, maar hulle beroeps-, persoonlike en sosiale lewe word nie meer enigsins deur die kerk beheer nie. Binne so ’n gemeenskap is daar naas ongelowiges ook buitekerklike Christene wat hulle band met die kerk verbreek het, maar gelowig gebly het en wil bly. Dis veral met hulle dat Müller in gesprek tree. Hy wil dit doen na die voorbeeld van Che Guevara wat in die rolprent The Motorcycle Diaries as jong werker in ’n hospitaal oorgeswem het na die melaatses op hulle afgesonderde eiland om sy solidariteit met hulle te betoon. Müller skryf: “Met die boek wil ek self ’n rivier oorsteek en uitreik na diegene op die geloofseiland: die gelowiges buite die magsirkel en gemaksone van die gemarginaliseerde godsdiens en kerk” (21).

Waar Müller ’n teoloog is wat bereid is om na buitekerklike gelowiges te luister, is hy bewus van ’n kerk wat nie wil luister nie en dus nie bereid is tot die oop gesprek nie, maar dit eerder opponeer. In dié verband bring Müller die debakel van die USWoordfees 2013 ter sprake. In aansluiting by die tema van die fees, “Hemels”, het Jean Oosthuizen, toe nog nuusredakteur van die Kerkbode, twee gesprekke gereël: een oor of die God van die Christen, die Moslem en die Jood dieselfde God is en die ander een oor of die siening van die hiernamaals as ’n konkrete plek algemeen aanvaar word.

Toe die programboekie van die Woordfees reeds gedruk en versprei is, en ondanks die aanvanklike amptelike goedkeuring, het die kerk meteens bedenkinge oor die godsdiensgesprekke gekry en is Oosthuizen summier afgedank. In die verklaring wat die NG Kerk se moderamen uitgereik het en wat Müller in hooftrekke aanhaal, is onder meer gesê: “Die kerk begelei mense nie na twyfel nie, maar deur twyfel na geloof” (34). As deelnemer aan die gesprek, “Een God?” was ek nou betrokke by en diep ontsteld deur dié gebeure. Waar ek lank reeds buitekerklik was en geruime tyd oorweeg het om amptelik my lidmaatskap van die NG Kerk te beëindig, was die moderamen se verklaring die laaste impuls om my tot dié radikale stap te beweeg. Ek het ’n gelowige anderkant Sondag geword; een van diegene vir wie Müller in die besonder skryf. Ek wil dus as een so ’n leser in my verstaan van sy boek die gesprek met hom voortsit eerder as om in die streng sin van die woord ’n resensie van sy boek te skryf.

Die belangrikste saak waarop Müller in die verklaring van die moderanem wys, is die stelling dat die kerk sy “bereidwilligheid tot die oop gesprek” uitspreek, maar dit onmiddellik kwalifiseer deur te sê dat dit nie “gesprekke kan borg” wat daartoe aanleiding kan gee dat die “kernbelydenis van die kerk in die gedrang gebring word nie” (34). Müller stel die vraag wát die “kernbelydenis” volgens wié is en ’n mens wonder tereg wat Van Wyk Louw, wat die term gemunt het, van so ’n voorskriftelike “oop gesprek” sou gesê het. Uit die verdere betoog van Müller word dit egter onteenseglik duidelik dat die kernbelydenis die dogma is, en ironies genoeg is dit die dogma – waaroor geen woord gerep mag word nie – wat lidmate bewus of onbewus van die kerk vervreem het.

Vervreemding van die kerk as gevolg van die dogma bring Müller op verskeie maniere ter sprake onder andere deur briewe aan hom wat hy volledig of gedeeltelik aanhaal waarin Christene hulle twyfel en hulle frustrasie met die kerk, in die besonder die prediking, met hom deel. Hy haal onder andere aan uit ’n brief van ’n ouderling van Universiteitsoord, Koot Bosman, waarin hy sy frustrasie uitspreek oor ’n begrafnisdiens “toe hy wéér moes hoor hoe God sy seun letterlik vir ons sondes geoffer het”. Müller wys daarop dat die ouderling die kruisdood van Jesus metafories probeer verstaan deurdat dit vir hom slegs beteken dat “God ons selfopofferend vergewe” (57). Wat dit verder impliseer, is dat ouderling Bosman inderwaarheid ook weer eens moes luister hoe ’n Bybelse gebeurtenis – Jesus se kruisdood – ingeklee is in die dogma van sonde, verlossing en saligmaking.

Ek het grootgeword met die begrip van ’n sogenaamde kategismuspreek op sekere Sondae waarteen altyd opgesien is, maar as volwassene met ’n kritiese sin het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ek op elkeen van die 52 Sondae van die kerklike jaar na ’n kategismuspreek moes luister. Wat ook al die Bybelse teks was, dis altyd binne die dogma ingeklee. In hoofstuk 3 rig Müller hom onder die hoof “Die moeilike gesprek” spesifiek tot die Christen-banneling met sy erkenning van die geldigheid van twyfel: “Twyfel, teenstrydigheid en onsekerheid is inherent deel van die geloofslewe, maar in die  Sondag-geloof is daar ’n geneigdheid om dit te ontken” (51). Die kenmerke van die geloofslewe wat Müller noem, is wesenlik ook kenmerke van die lewe self. Die  Sondag-geloof gee deur die prediking van die dogma vir mense die sekerheid waarna hulle smag in hulle alledaagse bestaan met sy nimmer­eindigende kontrasspel tussen vreugde en verdriet, voorspoed en teenspoed. Aansluitend daarby versterk die sekerheid van die  Sondag-geloof oor ’n geluksalige hiernamaals lidmate vir die “onsalige” lewe op hierdie aarde wat “nie ons woning is nie”. Müller wys spesifiek ook op die naïewe geloof in ’n Almagtige God se ingryp op natuurlike prosesse soos droogte en siekte om dit ten goede om te keer en die onhoudbaarheid daarvan in ’n wetenskaplik-georiënteerde, sekulêre samelewing (48).

Op die lange duur oortuig dogmaties-gefundeerde prediking lidmate nie meer nie en begin dit hulle verveel, soos blyk uit die brief van ouderling Bosman wat sy verveling met die boodskap by ’n begrafnisdiens onomwonde te kenne gee deur te sê dat hy vir die soveelste keer daarna moes luister.

Wat is die oplossing? Müller se antwoord is dat ’n mens “anderkant Sondag” moet leer leef soos die meisie Maria in die Noorweegse film The other side of Sunday (1996) wat die titel en tema van sy boek geïnspireer het. Sy glo in God, maar maak haar los van die rigiede godsdienstige dwingelandy waaronder sy as domineesdogter in ’n Lutherse gesin moes grootword (14). Müller kontrasteer op treffende wyse ’n “Sondag-geloof” met ’n “anderkant Sondag-geestelikheid”:

Anderkant Sondag ontdek ’n mens dat geloof meer is as om net die regte formules of geloofstaal te vind. Geloof het veel meer met die lewe self te doen. Dit behels om in voeling met die lewe te wees en bewustelik nadenkend te lewe, om ’n sensitiwiteit te hê vir die lewe. Geloof is méér as om bloot net te bestaan – dis om soekend en ontdekkend te lewe. Dit behels om die lewe weer en weer te ontdek as ’n gawe. (115)

Om die lewe in al sy wonderlikheid te omhels, voeg Müller daaraan toe, sal beteken dat jy “jouself ook opnuut as ’n verhoudingswese sal ontdek”, want die lewe het “te doen met medemense en met God” (114). Dis ’n waarheid op die snypunt van die  Sondag-geloof en die anderkant Sondag-geestelikheid. Die buitekerklike Christen se religieuse ervarings is uit die aard daarvan individueel en persoonlik en kan beswaarlik met ’n medemens gedeel word. Verwoording dra nie die emosie waarmee die ervaring gepaard gegaan het, oor nie.

In hoofstuk 8 skryf Müller oor die uitlewing van geloof anderkant Sondag. Hy haal ’n lang brief van oudprofessor Diek van Wyk aan waarin Van Wyk sy erkentlikheid uitspreek teenoor die godsdienstige tradisie waaruit hy kom, maar verklaar: “Ek het … ’n behoefte daaraan om langs die weg van eie, private simbole uitdrukking te gee aan my gerigtheid op die Heilige Misterie” (26). As voormalige hoogleraar in algemene taalwetenskap en Afrika-tale weet hy egter baie goed dat sy persoonlike rituele en ervarings van so ’n aard is dat dit “ver anderkant woorde lê” (126). Van Wyk noem ook Beethoven se Sanctus uit sy Missa Solemnis en Van Gogh se Oeslandskap wat hom as openbaring van die menslike skeppingvermoë aangegryp het (127). Musiek en visuele kunste wek seer seker by meerdere mense ’n spirituele ontroering, maar dit is ook grootliks ’n geslote individuele ervaring. Dit sluit nie uit dat musiek en sang in die erediens ’n groot rol kan speel nie. Die Protestantisme het die kerk gestroop van die visuele, en die skep van nuwe rituele buite die kerk bly beperk tot individue en uitsonderlike gebeurtenisse waarvan Müller enkeles noem.

Wat ek in die besonder waardeer van Müller, is dat hy soveel prominensie gee aan taal. Dis juis in dié verband dat hy in die besonder tot my spreek en dat ek as buitekerklike met hom in gesprek kan tree. Ek is deur my lewe, my werk en my digterskap onlosmaaklik verbonde aan die Woord en die woord. Vir baie digters is ook nog in ons sekulêre samelewing die Bybel die Boek agter die boeke. Müller kontrasteer die goedgestruktureerde Sondag-geloof met onder andere sy “vaste rituele en ’n bekende taal” met anderkant Sondag as die “onbekende woesteny”, die “onbekende landstreek sonder definitiewe aanwysers” (39).

Volgens Müller is daar tallose lidmate wat nog “bly hoop dat die kerk aan hulle ’n taal sal bied waarin hulle hul geloof los van die kerk kan verwoord” (52). As uiters belangrike kwalifikasie voeg hy by dat hy na taal nie net as “kommunikasiemiddel” verwys nie, maar ook as “wyse waarop die lewe beskryf en aan dinge betekenis gegee word” (52, 53). Begrippe wat in die prediking gebruik word en hulle betekenis kwytgeraak het, word deur abstrakte selfstandige naamwoorde benoem, soos onder andere: vergewing, skuld, geheimenis, wonder, ewigheid, God (53). Uit die lys wat Müller aanhaal, kies ek dié woorde wat nie tuishoort in die poësie nie, al verwys dit na temas wat juis vra om poëties verwoord te word, omdat dit eie is aan die menslike kondisie en aan die lewe. Die taal van abstrakte denke is die taal van die teologie en die filosofie en nie van die poësie nie. Die taal van die poësie is konkreet, sintuiglik, visueel. Dit is aards in die sin van “van die aarde” in die verwoording van die bo-aardse; dit maak God teenwoordig by ons en verhewe bo ons; tegelyk immanent en transendent, twee begrippe wat ek eerder insluitend as uitsluitend gebruik. Müller skep die begrip van God as “die Moontlike” (74). Dit beteken dat ons God skielik ontmoet; ’n moontlikheid wat die poësie by uitnemendheid skep.

Müller formuleer helder en dui die verskillende temas wat hy in elke hoofstuk wil verwoord, deur die titel aan en vat sy betoog aan die einde van die hoofstuk in die vorm van ’n tabel kernagtig saam. In sy strewe om gestalte te gee aan sy belangrikste doelstelling, vervat in die titel van die boek, Geloof anderkant Sondag, slaag hy uitmuntend en skep begrip in plaas van veroordeling vir die geloofsbelewenis van buitekerklike Christene. Terselfdertyd wys hy op die gevare wat die kerk kan laat leeg loop: kerklike retoriek, die kerk se onvermoë tot deelname aan die oop gesprek oor geloof en godsdiens en die daarmee gepaardgaande onverdraagsaamheid jeens andersdenkendes.

Die landstreek van die “anderkant Sondag”-geestelikheid is in vergelyking met die bekende kerklike milieu inderdaad “onbekend”, maar al is daar nie “definitiewe aanwysers” nie, ís daar wel aanwysers, waarvan die duidelikste waarskynlik die taal van die poëtiese boeke van die Ou Testament – Psalms, Hooglied, Prediker en Spreuke – en die gelykenisse van Jesus is. Dit is bronne vir ’n lewende kerktaal. Die kunsfilm is ook so ’n bron. Die Skandinawiërs het ’n ryk skat aan kunsfilms gelewer, ook films wat spreek van hulle worsteling met hulle Lutherse verlede. Naas The other side of Sunday is daar die sensitiewe religieuse Deense film Babette’s feast (1987) en die meer onlangse Deense film “As it is in heaven” (2004). Müller is gedrenk in die kunsfilm, by uitnemendheid dié genre van die 20ste eeu, en ken uiteraard die poëtiese boeke van die Bybel, wat ’n onuitputlike bron bly vir ’n taal wat aanspreek, meevoer en uitdaag. In verband met taal spreek Müller die volgende voorneme uit: “Ek gaan in hierdie boek probeer om ’n geloofstaal vir ’n anderkant Sondag-geestelikheid te ontwikkel” (54). Dit is ’n onbegonne taak vir ’n individu om in een boek te vermag, maar Müller het die weg na die verwesenliking daarvan aangedui en reeds groot treë daarop gegee. Sy gebede aan die einde daarvan is die belangrikste getuienis: die gebed as gesprek met God oor die gewoonste kleinmenslike ervarings in ’n taal wat flikker aan die grense van die poësie.

  • 1

Kommentaar

  • In die resensie kom die volgende sin voor: "Die buitekerklike Christen se religieuse ervarings is uit die aard daarvan individueel en persoonlik en kan beswaarlik met ’n medemens gedeel word." Ek wil graag iets noem oor die sg buitekerklike christen. 

    Dit is voorwaar so dat daar christene is wat seergekry het of om een of ander rede nie meer tuis voel in die kerk nie, maar wat ten spyte daarvan tog nog die belydenis het dat Jesus hul Here is. 

     
    Dit is egter iets anders wanneer mense die kerk verlaat het omdat hulle Christus verlaat het. Wanneer hulle nie meer vir Christus as Here en God bely nie en ook nie as die enigste Verlosser van hul sonde nie, sou hulle per definisie nie meer as christene kan deurgaan nie. In sulke gevalle sou ons nie van buitekerklike christene kan praat nie, maar slegs as buitekerklikes. Buite die kerk van Christus, losgeskeur van die Hoof van die kerk. Hulle het die Lig verruil vir die duisternis.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top