Laudatio by die oorhandiging van Riet de Jong-Goossens se vertalingserepenning

  • 0
De Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns heeft een Erepenning toegekend aan de Nederlandse vertaalster Riet de Jong-Goossens. De Jong-Goossens ontvangt de Erepenning vanwege haar grote verdiensten als vertaler van Afrikaanstalige literatuur in het Nederlands.

Lees Ena Jansen se laudatio by die oorhandiging van dié gesogte toekenning by die Week van de Afrikaanse roman in Amsterdam.

Geagte en baie hoog gewaardeerde mevrou drs Riet de Jong-Goossens, ontvanger vandag van die Erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Liewe Riet.

Geagte dames en here

Een van die kenmerkende eienskappe van Riet de Jong-Goossens is haar entoesiasme. Dit is miskien die allerbelangrikste faset van haar persoonlikheid, want dit vorm die dryfkrag agter haar werkywer, haar konsentrasie, haar vindingrykheid en haar plesier in haar werk. Haar eerste vertaalde boek het presies 25 jaar gelede verskyn: Louis Kruger se Donkerboskind in 1989 vir Uitgeverij De Fontein. Tans is sy besig met Kamphoer deur Francois Smith vir Athenaeum, Polak en Van Gennep. Op 1 November 2014 sal dit klaar wees. Ja, reken maar!

Om u ’n indruk te gee van Riet de Jong se entoesiasme, haal ek fragmente uit onlangse briewe van haar aan my in Kaapstad aan. Dis so tipies van haar – wanneer sy met ’n spesifieke skrywer se werk besig is, gaan sy daar heeltemal in op en laat ‘n ander graag deel in haar genereuse en toegewyde fokus daarop.

23/6/2014
Riana Barnard schreef dat Athenaeum, Polak en Van Gennep het boek van Francois Smit, een debutant heeft gekocht. Over de Boereoorlog. Ik heb het in manuscript gelezen en een verslag gemaakt. Plus een proefvertaling. En ja, het is gekocht. Ik hoop dat ik de opdracht krijg. Het is een mooi boek. En de Boereoorlog is in!!!

4/8
Ik werk lekker aan de Kamphoer en ik heb Francois de eerste 2 hoofdstukken opgestuurd vanochtend. Hij heeft een ingewikkelde stijl van schrijven, in elkaar geknoopte zinnen en dingen die in het Ned absoluut niet mogen, zoals 2 dezelfde woorden in een alinea. Maar ik vind het erg mooi en krijg het wel voor mekaar. Ben benieuwd wat hij ervan vindt.

13/8
Ik ben een heel mooi boek aan het vertalen. Ik werk er hard aan, want we hebben een deadline van 1 november afgesproken. Maar het gaat goed. Francois leest mee en is heel tevreden.

18/8
Mijn vertaling gaat lekker. Ik werk met veel plezier.

U sal merk dat Riet veel meer is as ’n vertaler. Danksy haar uitstekende kontakte met Suid-Afrikaanse uitgewers wat haar op die hoogte hou van nuwe boeke, is Riet dikwels só entoesiasties oor iets dat sy ’n verslag en ‘n proefvertaling maak en daarmee “de boer op gaan”. So help sy om Nederlandse uitgewers vir Afrikaanse skrywers te vind, sodat ’n literêre agent dikwels nie eens nodig is nie. Fanie Naudé is naas Francois Smit ’n ander jong skrywer wat danksy Riet se entoesiasme waarskynlik óók kort voor lank in Nederlands sal verskyn. En hulle is maar enkele van die “nieuwkomers” in die ryk Afrikaanse letterkunde wat Riet de Jong op die voet volg en aan die Nederlandse leespubliek bekend help stel. Riet de Jong is nie slegs vertaler nie; haar bemiddelende rol tussen die Suid-Afrikaanse en Nederlandse literêre wêrelde is buitengewoon groot.

Ek het haar leer ken tydens die eerste besoek wat sy in 1996 aan Suid-Afrika gebring het terwyl sy die roman Kroniek uit die doofpot van John Miles aan die vertaal was. ‘n Volgende besoek van Riet aan Johannesburg het ‘n treurige aanleiding gehad. Een van die deur haar vertaalde outeurs, Koos Prinsloo, met wie sy ‘n vrolike vriendskap gehad het in die tyd toe sy twee van sy verhaalbundels vertaal het, het aan Vigs-verwante oorsake op sterwe gelê. Riet was vroeër verpleegster en het die vriendekring van Koos met groot betrokkenheid en toewyding kom bystaan tydens de laatste fase van sy lewe.

In die kwarteeu wat verby is, het Riet bykans 60 boeke uit Afrikaans in Nederlands vertaal: veral romans, maar ook gedigte en nonfiksie. Stilisties enorm verskillende skrywers soos Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Etienne van Heerden, Riana Scheepers, Karel Schoeman, AHM Scholtz, Jeanne Goosen, Dan Sleigh, Marita van der Vyver, Karin Brynard, Eben Venter, Koos Prinsloo, EKM Dido en Mark Behr – om maar ’n paar te noem – is telkens op ’n verbluffend oortuigende wyse deur Riet in Nederlands vertaal. In die proses is ’n paar rekenaars verslyt, stoelkussings deurgesit, en is ’n bos of wat afgekap om papier vir al die boeke te verskaf. Duisende e-posse is gewissel met skrywers en uitgewers wat byna almal vriende geword het.

Deur die jare heen het baie skrywers en uitgewers haar spesiaal in Nijmegen gaan besoek en het sy ’n aantal keer na Suid-Afrika gereis om eerstehands die stede en landskappe te sien waar “haar” boeke gesitueer is. Ek vermoed trouens dat min mense soveel nuwe vriende op ’n veraf kontinent gemaak het as Riet tydens die afgelope 25 jaar.

Dit is belangrik om te beklemtoon dat daar wat woordeskat betref, baie ooreenkomste tussen Afrikaans en Nederlands is, maar dat die twee tale op baie verskillende maniere vanuit 17de-eeuse Nederlands elk ’n eie pad ingeslaan het; hulle funksioneer eeue lank reeds in totaal verskillende kulture en landskappe. Baie Afrikaanse skrywers ken Nederlands voldoende om te verstaan wat daar in haar vertalings staan. Hulle is dan telkens onder die indruk van die groot idiomatiese verskille tussen Nederlands en Afrikaans en besef dat hulle sonder bemiddeling van ‘n vertaler soos Riet nóóit met hulle Afrikaanse tekste ‘n Nederlandse leserspubliek sou kon bereik het nie.

Riet de Jong-Goossens slaag telkens daarin om vir elk van die baie uiteenlopende tekste wat sy die afgelope jare vertaal het, die regte register, die goeie toon te tref. Telkens verdiep sy haar eers baie deeglik in die wêreld van die Afrikaanse boek en maak haar dan meester van die taal van die ooreenstemmende wêreld in die Nederlandse taalgebied. Die Afrikaanse roman- en verhaalskrywers wat sy vertaal, hanteer wyd uiteenlopende registers van Afrikaans en tog slaag De Jong-Goossens telkens daarin om die outentisiteit van elkeen se stem te tref, om pragtige Nederlandse tekste van die boeke te maak. Met haar vertalings van opvallend moeilike tekste het Riet telkens getoon dat sy tot ‘n groot teksgetrouheid van dramaties verskillende tekste in staat is.

Voorbeelde is haar vertaling van die orale vertelstyl van Vatmaar deur AHM Scholtz en van die verbale kragtoer van Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat oor makers van ‘n woordeboek van argaïese Afrikaanse woorde. Telkens maak sy ‘n studie van sowel die Nederlandse as die Suid-Afrikaanse kultuurwêrelde om byvoorbeeld die gay-jargon van Prinsloo se karakters suksesvol oor te dra, die streektaal van ‘n afgeleë plattelandse gebied (Riana Scheepers), die terminologie van gebruike aan die Kaap tydens die 17de eeu (Dan Sleigh), die taal van “bergies” teen Tafelberg (Dido), of karakters uit die Boereoorlog (Ingrid Winterbach).

Die moeilikheidsgraad van Marlene van Niekerk se Agaat oortref egter alles. By Riet de Jong se ontvangs van die Nijhoff-prys is haar vertaling van dié boek ook al uitgesonder. Die teks is ‘n argief van argaïese taal, streekwoorde, ou rympies en liedjies; is afwisselend liries, boosaardig, sinies, humoristies, feitlik presies, en tegelykertyd modern. Om so ’n taalkonstellasie in al sy verskeidenheid terug te wil sien in vertaling lyk bykans onmoontlik, maar tog het De Jong-Goossens dit reggekry.

Van Niekerk wou met Agaat die krag en soetheid van Afrikaans demonstreer. Teen die agtergrond van die problematiese posisie van Afrikaans in ‘n veranderende politieke situasie wou sy uitprobeer of die taal in hierdie “onmoderne” register nog steeds tot kommunikasie in staat is. Dit het bykans onmoontlik gelyk om so ’n ouderwetse soort Afrikaans en met baie spesifieke en intiem Suid-Afrikaanse kwessies as onderwerp te vertaal. De Jong-Goossens het dit egter binne ’n jaar reggekry om hierdie komplekse web van taalregisters ewe ryk en veelkantig in Nederlands te vertaal. Haar fokus op die maak van ‘n kommunikatiewe vertaling het nooit ten koste gegaan van die vreemdheid en weerbarstigheid van die Afrikaanse bronteks nie. Haar vertaling boor ewe uiteenlopende registers in Nederlands aan waardeur ook Nederlandse lesers in staat gestel word om die dieper betekenisse en kompleksiteit van die werk te deurgrond.

Dit het Riet vir Agaat gedoen, maar dit doen sy vir alle boeke waaraan sy werk. Ook nou vir Smith se Kamphoer, dit weet ek al by voorbaat.

Dames en here, soos u weet, is vandag se penning nie die eerste erkenning wat Riet vir haar werk ontvang nie. Die kroon op haar werk was die uiters gesogte en grootste vertalersprys van Nederland, die Nijhoff-prys, wat sy in 2010 ontvang het. Ook het sy in 2013 die Van Riebeeck-penning en voor dit pryse van Suid-Afrikaanse instellings soos die FAK en die ATKV ontvang. Tog is die erepenning van die Akademie geen oorbodige toevoeging tot hierdie ry formidabele pryse nie. Omdat die erepenning na my wete altyd slegs toegeken word aan Suid-Afrikaners wat hulle op ’n uitsonderlike manier verdienstelik maak, beteken dit dat Riet de Jong vanaf vandag ’n Suid-Afrikaanse kulturele ereburger sal wees. Riet de Jong sou nou rustig op haar louere kon gaan rus. Maar die ereburgerskap danksy hierdie statusryke penning bring verpligtinge met sig mee.

Dit sal geweldig wees indien Riet danksy hierdie erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met nuwe inspirasie haar werk sal voortsit. Ek wens haar én ons toe dat haar so kenmerkende entoesiasme as vertaler, tussenganger en skakelfiguur nog baie pragtige Nederlandse vertalings van die immer vernuwende en so ryk Afrikaanse letterkunde sal oplewer. Van harte geluk met hierdie baie welverdiende toekenning!

Hierdie foto van Ena Jansen, Wiete Hopperus Buma en Riet de Jong-Goossens is by 'n ander geleentheid deur Carina van der Walt geneem.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top