Lara

  • 0

Lara was anders. Vir ’n oomblik sien jy haar verbykom en jy raak bewus van haar ontwykende teenwoordigheid wat jou intimideer en uitdaag. Wanneer sy om die hoek verdwyn, wil jy haar volg, maar in haar wegloop het sy jou reeds gewaarsku – en uit respek bly jy net waar jy is. Met ’n wilde en geheimsinnige ontsag wat deur die eeue heen in die mens se onderbewussyn ingeleef is. Wolwe doen dit aan ’n mens.

Die kleintjie wat saam met Lara se mense hier in die buurhuis aangekom het, het met ’n wapperende stompstertjie sommer vroeg al kom hallo snuffel en skootlê vir ’n middagslapie. Sy is Wendy die Yorkie. Later daardie aand was sy terug net om te kom nagsê. En so begin Wendy met ’n maande lange heen-en-weer-migrasie deur die grensheining. Haar gekrap-krap aan ons deur met opgewonde tjankgeluidjies raak al hoe gereelder. Later vang ek myself uit dat ek selfs uitsien na haar volgende besoek. Die uitbundige blydskap van elke hallo sê en die opgewonde optel met warm gesiglekkies betrap my emosioneel onkant.

So gebeur dit dat sy haar een aand kom tuismaak op die voetenent van my bed. Met vroegoggend se wakkerword lê sy warm en snoesig styf teen my en slaap. Ek het nog nooit in my lewe ’n hond gehad nie. Nou maak hierdie klein asielsoekertjie met haar sagte warm pensie of sy nog altyd hier was en hier hoort.

Die dilemma begin ons ry. Die ongemak. Wendy het dan ’n huis en sy het haar eie mense? Mis hulle haar nie? Hoe gemaak wanneer ek tuiskom en sy voor ons motorhek, langs haar eie mense se motorhek, vir my sit en wag en opgewonde blaf en tjank en by my in die motor spring om my tuis te verwelkom? Hoor haar eie mense dit nie?

Na maande gebeur dit uiteindelik: Lara die wolfhond maak kontak. Haar groot wolfkop pas net mooi deur die tralieheining daar waar Wendy so rats deurspring na ons toe. Ek stap nader. Haar warm tong lek my arms en hande. Lara se groot sagte bruin oë vergesel van anderkant die heining vir klein Wendy in haar vryheid om aan ons kant te kom en gaan net waar sy wil. Ek wil vir Lara help, maar ek voel magteloos. Hier is iets nie reg nie. Die mense het nóg ’n hond in die erf: Jack. Jack is ’n lewenslustige Canis Africanis wat uit frustrasie die klein dorpserf waarin hy vasgekeer is, se besproeiingstelsel stelselmatig opdiep en herontwerp.

“Ons het besluit dat wanneer ons weggaan, ons vir Wendy hier by jou gaan los,” sê die buurvrou een oggend by die hek vir my. Deel van die raaisel begin nou duidelik raak. Wendy het dit lank reeds geweet. Honde weet sulke goed lank voor mense. “En ons sal darem eers probeer om vir Lara ’n huis te kry,” sê sy verder.

Hoekom voel ek so onrustig oor hierdie “gerusstelling”?

’n Week later word Wendy se lewensboekie met besonderhede van haar geboortedatum en mediese geskiedenis saam met haar kosbakkie oor die heining in my hande gesit. Ek gaan bêre haar boekie by my eie identiteitsdokument. Sy is vyf jaar gelede gebore in Beaufort-Wes. Ek is hartseer en bly en onseker en opgewonde. Ek was nog nooit so lief vir ’n dier nie. Hierdie enetjie het ek nie sien kom nie. Lara staan eenkant en kyk vir ons. Sy weet óók.

Ek en my vrou begin rondsoek vir ’n huis vir Lara. Dit lyk nie of die buurmense meer langer hier gaan aanbly nie. Die gesinnetjie is besig om uitmekaar te gaan. En die honde is nie deel van hul toekomsplanne nie.

Die volgende oggend klop ek en Wendy aan by die bure. Niemand is tuis nie. Lara en Jack is ook nie daar nie. Die treklorrie staan reg om hul meubels te laai. Ek bel die buurvrou op haar selfoon. Sy antwoord nie. Ek stuur vir haar ’n SMS waarin ek sê: “Ons het vir Lara ’n huis gekry.”

Stilte.

’n Halfuur later kry ek ’n SMS-antwoord: “Jammer ek het jou oproep gemis. Ek was by die veearts. Ek het vir Jack laat uitsit en het sommer vir Lara ook saamgevat. Ek wou dit afhandel voor die kinders uit skool uit kom. (Still receiving text).”

“Neeeeeee!” gil ek stil die kuberruimte in. En dan kom die res van die teks deur: “Jou SMS het ’n berg van my skouers laat afrol. Die veearts sê hulle sal vir Lara daar hou tot die einde van die week – jy kan haar daar gaan haal as jy wil.”

Ek en Wendy ry dadelik na die dierehospitaal en ons gaan sit en wag in die portaal. Dr Pillay bring vir Lara terug uit die selle. Om haar nek is ’n dik wit primitiewe tou wat moet dien as leiband. Sy loop sag soos ’n wolf en kom staan voor my met herkenning duidelik in haar diep bruin oë. Dit is die eerste keer wat ek aan haar vat sonder dat daar tralies tussen ons is. Sy gee haarself oor asof ons jare lank reeds beste vriende is. Met die omhelsing sien ek dit: gestolde druppels bloed op haar poot. Die naald was duidelik reeds in ...

“Mostly peace,” kry ek dié aand ’n boodskap van Lara se nuwe huisbaas. “Ek vat sommer môre die dag af om seker te maak Lara en die ander meisie sorteer mekaar eers uit oor hul plek in haar nuwe hondegesin,” sê hy verder. Lara het ’n huis gekry saam met Humphrey die gidshond en Cleo, ook ’n wolfma. ’n Blinde vriend van ons het vir Lara aangeneem. Sy het nou ’n lewensroeping waardig aan haar statuur. Sy lewe as gidswolf vir ’n gidshond.

“En julle moet asseblief vir niemand vertel nie,” sê ons vriend wat glo in streng hondeliefde en dissipline, “maar Laratjie het haar eerste aand by ons saam met my op my bed geslaap.”

Diere wéét.

Hunting High And Low (A-HA)

Here I am
And within the reach of my hands
She sounds asleep and she's sweeter now
Than the wildest dream could have seen her
And I watch her slipping away
Though I know I'll be hunting high and low

High
There's no end to the lengths I'll go to
Hunting high and low
High
There's no end to lengths I'll go

To find her again
Upon this my dreams are depending
Through the dark
I sense the pounding of her heart
Next to mine
She's the sweetest love I could find
So I guess I'll be hunting high and low

High
There's no end to the lengths I'll go to
High and Low
High
Do you know what it means to love you ...

I'm hunting high and low
And now she's telling me she's got to
go away
I'll always be hunting high and low
Hungry for you
Watch me tearing myself to pieces
Hunting high and low

High
There's no end to the lengths I'll go to
Oh, for you I'll be hunting high and
low.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top