Laaste dans, Drienie deur Steve Hofmeyr

  • 1

Titel: Laaste dans, Drienie
Outeur: Steve Hofmeyr
Uitgewer: Zebra
ISBN: 9781770227071

Koop Laaste dans, Drienie by Kalahari.com

Steve Hofmeyr se romans is tot nou toe baie goed ontvang en sy nuutste, Laaste dans, Drienie, is nóg ’n sukses. Die verhaal is spannend en lees besonder lekker; ek kon nie wag om te weet wat gaan gebeur nie.

Laaste dans, Drienie is dus in die eerste plek ’n spanningsroman wat vir die leser ’n besonder goeie storie bied. Terselfdertyd is hier veel om te ontgin, want dit is ’n slim werk met vele vlakke.

Ek wil die lekkerleesaspek voorop stel, want voor ek begin tjommel oor allerlei literêre truuks, móét die leser weet dat dit in die eerste plek ’n besonder goeie leeservaring is. Slim, ja, maar nie droog en ontoeganklik nie.

Julle kan die roman gerus gee vir mense wat bang is vir lees, maar wat hou van Steve die verhoogpersoonlikheid. Dalkies oorreed hierdie verhaal hulle om weer hierna nog ’n boek op te neem.

Die eerste twee storielyne, dus

Ek gaan baie versigtig wees om nie die storie te verklap nie, want ’n baie groot deel van die lekkerte in hierdie teks lê in die wil weet. Lees dit, julle sal dit geniet.

Alles begin toe luitenant Muller Joubert ’n lêer gegee word om te gaan ondersoek. Daar ontmoet hy ’n tannie van 91. Sy is die hoofverdagte, maar waar is die lyk? Ek gaan nie sê nie.

Lees maar self.

Nou net eers iets oor Muller Joubert. Hy is ’n poliesman, maar nie ’n speurder soos Bennie Griesel of sy naamgenoot Mat Joubert nie. O, nee. Muller Joubert is ’n spindokter. Hy is daar om tydens netelige sake die pers te hanteer, sodat die “ware” polisiemanne hulle werk kan doen. In Muller se eie woorde: “Regte polisie werk met dossiere. Ek werk om lêers dossiere te maak.”

Muller Joubert het nie eens ’n vaste kantoor nie of ’n polisievoertuig nie. Hy word van saak na saak gestuur, en waar hy ook al moet werk, word vir hom ’n plekkie gevind. In sy eie woorde: “As tydelike, floating SAP liaison bevind ek my in bekende waters maar, soos al om die ander maand, in ’n vreemde omgewing.” En ’n bietjie later: “Ek is die offisier in transito. Eintlik pal in die pad. Ek dra nie pistole nie. Ek lyk nie eens gevaarlik nie.”

Wanneer ons hom leer ken, is hy besig om te spin aan die Oscar Pistorius-saak, maar Pistorius moet net nou en dan die stasie aandoen om sy borgvoorwaardes na te kom, so daar is nie veel vir Joubert om te doen nie. Daarom beland hy in ’n klein kantoortjie saam met twee ouer vroue en die blonde Sonja. Kaptein Sonja Basson: opgeleide maatskaplike werker; die vrou wat altyd aan ’n bekende krieketspeler se arm gesien word en vir arme Muller Joubert die mooiste mense op aarde is. Sonja Basson sien hom egter nie raak nie. Luitenant-kolonel Andile Solelo sê Muller moet vir Sonja saamneem as hy die inhoud van die lêer gaan ondersoek. ’n Mens weet nooit met ’n 91-jarige verdagte nie.

En hier, liewe leser, is die eerste twee storielyne: Muller raak betrokke by die oplos van die moord, en Sonja praat die eerste keer met hom. Sal dit weer gebeur? Lees maar self.

Die derde en vierde storielyne

Muller Joubert, spindokter, besluit om vir ‘n slag sélf ’n saak te ondersoek en gaan kuier gereeld vir die 91-jarige verdagte. Van haar leer hy uiteindelik genoeg om wél die saak op te los, maar hy kry meer as dit. Hy hoor haar storie; en wat ’n storie is dit nie. In het korte gaan dit oor twee broers wat op dieselfde meisie verlief raak. Beide sluit aan by die Ossewa Brandwag se elitekorps, die Stormjaers. Erger nog, die twee broers is die elite van die elite en word na Duitsland gestuur om daar onder skuilname Hitler se drome te help red. Die enigste ding waaroor hierdie twee broers meer passievol voel as die meisie wat hulle deel, is hulle haat vir die Engelse. Dit is hoekom hulle gaan.

Meer van die storie wil ek nie verklap nie.

Dit is egter belangrik om te sê dat elkeen van die vier storielyne die moeite werd is om te volg.

’n Verweefde teks

Die roman open met drie motto’s. Die eerste is van Lina Spies, waarin Maart as ’n geliefde verwelkom word wat nog vir oulaas ’n “somerskal” sal gee; die tweede is ’n deel van 2 Samuel 11 vers 27, waarin vertel word van Betseba wat vir Dawid ’n seun gebaar het, maar dat Dawid verkeerd opgetree het in die oë van die Here; terwyl die derde ’n aanhaling is uit Nigel Crawthorne se verhaal oor die SS waarin vermeld word dat twee Suid-Afrikaners ook by ’n sekere “force” aangesluit het.

Al drie hierdie elemente word geïnkorporeer, maar ook ondergrawe.

Drienie, die verdagte, wat ook as jong meisie die objek van die twee broers se liefde was, lê hier in Maart, wanneer die storie afspeel, reeds in die winter van haar lewe. Sy is oud en sieklik. Tog is sy bereid om vir oulaas die lente en die somer van haar lewe met die jong Joubert te deel. Op hierdie manier word ons nie net van haar storie bewus nie, maar leer sy ook vir Joubert dat die lente van jou lewe daar is om besluite te neem oor jou eie menswees.

Die twee Bremer-broers, Jurgen (bekend as Jurie) en Dawid is die spil waarom hierdie roman draai. Die leser besef gou dat Jurgen die stil, sterk een is, terwyl Dawid die flambojante een is met die mond. Of die Here, ook die leser, met alles tevrede sal wees wat Dawid doen, wel, dit moet die leser maar self besluit. Blaai egter na die motto aan die einde van die boek en gaan lees weer deur 2 Samuel 11 wanneer julle deur die roman gelees het. (Moenie dit voor die tyd lees nie; daar is ongemaklike ooreenkomste tussen hierdie roman en daardie hoofstuk in die Bybel.)

Ten einde laaste is Crawthorne se teks die springplank wat Hofmeyr toelaat om hierdie twee broers oorsee te stuur en sodoende ’n meisie én die lesers in Suid-Afrika laat wag en wag ...

Die manier waarop die motto’s verweef word, is iets wat leeskringe met vrug kan ondersoek by die lees van hierdie teks. (Sien ook die opmerking by “Taalgebruik” hier onder.)

’n Geskiedkundige terugblik

Die geskiedenis van die Ossewa Brandwag (OB), en meer bepaald die Stormjaers, is nie oorbekend nie. Myns insiens het dit te doen met die Nasionale Party (NP) onder DF Malan wat ’n tuiste geword het vir die Afrikaner in daardie jare ná die Nazi’s verslaan is. Die OB was die verloorders en dit was makliker om die suksesse van die NP te vier as om te erken dat jy ooit aan die verloorkant was.

Die Ossewa Brandwag was ’n nasionaal-sosialistiese beweging wat veral gekant was teen die Engelse eienaarskap van die Unie. Toe generaal Smuts verklaar dat Suid-Afrikaanse soldate in die Tweede Wêreldoorlog vir Engeland teen Duitsland sou gaan veg, was talle Afrikaners woedend. Om teen Duitsland te veg vír die Engelse, was haas ondenkbaar. Kort en bondig som Hofmeyr die agtergrond vir die leser in die hoofstuk “Twee weke later” (25–7) op. Dit is ’n knap opsomming wat veel inligting oordra sonder om die storie te pla. Dit is nodig om hierdie geskiedenis weer te gee, want min mense weet deesdae hoe sterk Nazi-gesind sommige Afrikaners was ten tye van die Tweede Wêreldoorlog. My pa het altyd met trots vertel hoe my oupa, Izak de Vries, ook in daardie tyd geïnterneer is. Vandag is dit om politieke redes nie baie gewild om ’n Nazi-verbintenis te hê nie, maar ’n paar jaar tevore was dit nogal oulik om te kon beweer dat jy familie gehad het in die Ossewa Brandwag, of dat hulle ten minste die Ossewa Brandwag goedgesind was – óf, o my aarde, dat daar dalk iemand by jou aan huis was wat aan daardie elitekorps, die Stormjaers, behoort het.

Wits se biblioteek het ’n goeie versameling dokumente oor die OB. Hulle spesiale versameling A726 bevat geskrifte, notules, toesprake en dies meer. Om meer te wete te kom oor die Stormjaers is egter moeilik, want hulle dokumente is dikwels in kode geskryf en die meeste daarvan is vernietig.

Steve Hofmeyr, die skrywer, het egter veel beter toegang tot die binnewerkinge van die Stormjaers as enigeen van ons. Anders as mý oupa was sý oupa nie bloot ’n ondersteuner wat later by die NP aangesluit het nie; sý oupa, Steve Hofmeyr, was die hoofleier van die Stormjaers. Inderdaad. Julle het reg gelees. Die man wat aan beheer was van die Stormjaers was ook Steve Hofmeyr – dit is waar die skrywer sy naam vandaan kry.

Hofmeyr was ’n neef van Onse Jan Hofmeyr, die leier van die Afrikanerbond. Sy vrou Maddie was ’n kleindogter van generaal Louis Botha.

Hofmeyr het in Oxford gestudeer en was ’n dubbele Oxford Blue. ’n Oxford Blue is iemand wat in ’n bepaalde sportsoort vir Oxford se eerste span speel. Hofmeyr was ’n rugbyspeler en het in die skrum gesak. Vir Oxford was hy die kaptein van hulle rugbyspan. Hy het in waterpolo sy tweede Blue verdien. Steve Hofmeyr moes ’n imposante man gewees het. Ná sy tuiskoms in Suid-Afrika was hy die eerste sportredakteur van Die Vaderland, ’n Afrikaanse middagblad wat van 1936 tot 1988 in Johannesburg uitgegee is.

Later sou Hofmeyr ’n suksesvolle prokureur word, maar dit was as hoofleier van die Stormjaers dat hy onthou sal word, hoewel hy glad nie ’n bekende figuur in die Afrikaanse geskiedenis is nie.

Die OB, en die Stormjaers, het ten tye van die oorlog ’n hele paar mense gehad wat binne Smuts se kringe beweeg het, ook in sy Weermag diens gedoen het, en sodoende inligting kon oordra aan die organisasie en die lede kon waarsku as daar dalk opgetree sou word.

Die Stormjaers het ’n aantal bomme geplant en kragpale opgeblaas. Hulle wou dié vorme van sabotasie gebruik om die Smuts-regering by te kom, en hulle wou die ander Afrikaners wys dat dit moontlik is om op te tree teen ’n regering wat deur Engeland gesteun word.

Steve Hofmeyr se puik Engels en sy fyn Oxford-opvoeding het gemaak dat niemand ooit kon dink dat hy aan die hoof van ’n terreurgroep staan nie.

Hierdie feite kom nie in die roman voor nie, maar ek noem dit omdat dit skeptici dalk mag noop om wel die boek te koop en te lees. Talle mans lees eerder feite as fiksie. Hierdie roman bevat heelwat feitelike juisthede, maar die manier waarop die jonger Hofmeyr die feite gebruik, maak daarvan ook ’n heerlike storie.

Vir diegene wat meer oor Hofmeyr, leier van die Stormjaers, wil weet, beveel ek hierdie skakel aan: http://perskor.blogspot.com/2012/07/eerste-sportredakteur-was-oxford-blue.html. Agter in Laaste dans, Drienie is ook ’n kort beskrywing van die skrywer se oupa.

Tannie Beckie Smit

Laaste dans, Drienie is opgedra aan die skrywer se tannie, Beckie Smit – Beckie, die suster van die outeur se pa, en dus die dogter van Steve Hofmeyr, hoofleier van die Stormjaers.

Daar is geen twyfel nie dat die jonger Steve Hofmeyr baie ure by sy tannie deurgebring het om die verhale oor sy oupa neer te pen (hy sê ook so), maar Beckie Smit en Drienie is glad nie dieselfde mens nie.

Nie ’n biografie nie

Ten spyte van die sterk familiebande wat die outeur met minstens een van sy karakters het, is hier geen poging tot ’n biografiese vertelling nie.

Die leier van die Stormjaers bly ’n vae, anonieme figuur – wat van hom ’n veel sterker karakter maak. Die leser wil die hele tyd meer weet, maar die besonderhede word van ons weerhou, net soos dit van die karakters weerhou word.

Nie blote nostalgie nie

Hofmeyr is té slim om van Laaste dans, Drienie bloot ’n nostalgiese verheerliking van die verlede te maak.

Dit kan so maklik gebeur dat alles in die verlede net rooskleurig skyn te wees in geskrifte oor toentertyd en dat die verlede en die hede sodoende ’n jukstaposisie vorm. Alles in dese jare sou dan skynbaar goed wees, alles vandag sleg.

Lesers wat bekend is met Dot Serfontein se werk, sal weet dat sy ’n geneigdheid het om die verlede taamlik rooskleurig aan te bied.

’n Mens sou ook kon kyk na die manier waarop Niël Stemmet openlik oor die nostalgie van die verlede praat in sy skryfwerk oor erfeniskos. Stemmet bou egter telkens ’n korrektief in deur ook die swaarkry van toenterjare by te trek.

Meer onlangs was vele mense egter ontsteld toe PG du Plessis ’n redelik negatiewe blik op sommige grootbek leiers van die Boereoorlog gegee het in sy boek Die fees van die ongenooides. Dat Du Plessis hierdie kwessies reeds in die tagtigerjare aangeraak het in sy drama Vereeniging, vereniging het skynbaar by die erg gekûûûnstelde Afrikaners verbygegaan.

Ook Sonja Loots se Sirkusboere is deur sommige as negatief beskou, hoewel haar historiese navorsing uitstekend was.

Steve Hofmeyr vermy ook die slaggat van nostalgie. Die verskrikking van die oorlog en die manier waarop mense te werk gaan om te oorleef, word realisties en bytend voorgestel. Ek gaan nie veel meer verklap nie, want dan kan ek die leeservaring bederf. Daar word ook oor heldhaftigheid gepraat, maar uiteindelik is almal verloorders in ’n oorlog.

Taalgebruik

Steve Hofmeyr het sy skryfdebuut gemaak met ’n baie knap digbundel, Valkuns. Hy kán met woorde werk.

Ook in Laaste dans, Drienie is passasies wat mooi is. Die herfs word só beskryf aan die begin van die boek: “Sy hou haar voor as somer, maar daar’s ’n winter in haar mou.” Dit is egter nie bloot mooiskrywery hierdie nie – dié vergelyking kan ook op Drienie van toepassing wees.

Op bladsy 11 word oor Drienie vertel:

Sy tel nie die ontluikende lentes nie. Nie die aftakelende herfste nie. Nie die daeraad en sonsondergange nie. Nie die voëls nie, die donderstorms en ander oumas se besoekers nie. Net die getal kere dat jou geheue jou elke uur weer besoek met dieselfde ou stories. Stories lojaal teenoor hul jaargety, kleure, klanke en soms beeltenis.

Die verteller mymer dus nogal, maar dit lees nooit lomp nie en ’n mens moet tegnies kyk om die vertellende instansie raak te sien.

Laaste dans, Drienie ís ’n metateks (Muller Joubert skryf dit voor jou oë), dus is die vertellende instansie se huiwerende teenwoordigheid ten volle veroorloof.

Al wat pla, is dat die hele teks in die verlede tyd geskryf is. Hoekom Hofmeyr se redakteurs dít deurgelaat het, weet ek nie, want die dreuning van die het ge-konstruksie is sterk teenwoordig. In Afrikaans werk die historiese presens baie goed. Ons het nie die dreuning nodig nie. Dit is egter bloot ’n klippie in die skoen.

Ter opsomming

Ek het hoog opgegee oor die teks as ’n spanningsroman, maar op die agterblad staan daar ook ’n baie mooi waarheid: hierdie storie is ’n “liefdesverhaal wat reeds sewentig jaar wag om vertel te word”.

Inderdaad.

Laaste dans, Drienie het iets vir almal. Koop dit en geniet dit.

Steve Hofmeyr het hom nog eens bewys as ’n skrywer wat nog diep spore in die Afrikaanse letterkunde gaan trap. In hierdie roman deel hy verder ’n belangrike deel van die Afrikaner se geskiedenis waaroor daar nog min geskryf is.


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top