kykNET-Rapport Boekpryse: Onderhoud met Dominique Botha

  • 0

 

Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.

Valsrivier deur Dominique Botha is genomineer in die kategorie: Fiksie.

Dominique Botha

Koop Valsrivier by Kalahari.com.

Koop Conquest of Useless Things by Kalahari.com.

Wat beteken dit vir jou om vir die eerste kykNET-Rapport Boekprys genomineer te word?

Ek beskou dit as ’n baie groot eer om in die geselskap van gesiene en gesoute romansiers soos Etienne van Heerden en Eben Venter vir so ’n groot prys in aanmerking te mag kom. Hierdie was ’n jaar van verrassings en groot vreugde in my lewe en hierdie benoeming is ’n kersie op die Krismiskoek. Meer kan mens nie vra nie.

Kry Afrikaanse skryfwerk die nodige erkenning?

Natuurlik hoop mens dat meer mense meer moet lees, maar dis wêreldwyd ’n kwynende groep. In my beskeie ondervinding kan Afrikaanse skrywers hulself gelukkig ag in terme van belangstellende lesers, akademici, resensente en instansies.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke boek te skryf?

Ek het Valsrivier geskryf met die bedoeling om my broer Paul te onthou, maar ek wou ook met ’n groter groep mense in gesprek tree, en het dit deur die opskryf van sy dood vermag.  Paul Auster sê elke boek is ’n toonbeeld van eensaamheid. Terselfdertyd is die uitvloeisel van al hierdie tyd wat mens alleen in ’n kamer deurbring, ’n dokument wat jou toelaat om ’n meer sinvolle interaksie met jou medemens aan te knoop as wat normaalweg moontlik is.

As jy kyk na die boek in sy geheel, van die eerste gedagte tot die finale produk, wat is vir jou die lekkerste aspek van die skryfproses en wat frustreer jou die meeste?

Die lekkerste aspek was die klaarmaak. Frustrasies? Seker die gevoel van ongemak met die waarde van waarmee ek besig is wat mens begelei en nooit aan heeltemal ontsnap nie.

Waar en watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Voor my lessenaar vroeg in die oggend of voor my rekenaar laat in die aand.

Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?

Ek lees soos ek eet, gulsig en sonder fiemies. Ek lees op die oomblik Werner Herzog se Conquest of Useless Things, sy dagboek oor die maak van Fitzcarraldo. ’n Metafoorder van formaat!

Is daar een of meer boeke, fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?

Ek herlees die Afrikaanse woordeboek en Oxford English Dictionary amper elke liewe dag.

As jy nou aan jouself dink as ’n nog ongepubliseerde skrywer, watter raad sou jy aan jouself gee?

Skryf asof jou lewe daarvan afhang en onthou dat dit eintlik ontsettend onbelangrik is.

Werk jy aan ’n nuwe boek?

Ja.

 

Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top