kykNET-Rapport Boekpryse aangekondig

  • 0

Goeie nuus vir die boekebedryf!

 

kykNET en Rapport span kragte saam en kondig nuwe, jaarlikse literêre pryse in Afrikaans aan: die kykNET-Rapport Boekpryse met vennote LitNet, Kalahari.com en Leserskring. 

Drie kontantpryse ter waarde van R500 000 word toegeken aan boeke wat in 2013 verskyn het, en wel in die volgende kategorieë:

  • Beste volwasse roman in Afrikaans: R200 000
  • Beste Afrikaanse niefiksieboek: R200 000
  • Afrikaanse roman of niefiksieboek met die meeste filmiese potensiaal: R100 000.

Naomi Meyer vra die sameroeper van die kykNET-Rapport Boekpryse se beoordelingskomitee, Hettie Scholtz, watter boeke in aanmerking sal kom en waarom.

Hallo Hettie, daar bestaan geen twyfel dat literêre toekennings van groot belang is nie. Francis Galloway het juis 'n ruk gelede hieroor op LitNet geskryf en na "die simboliese erkenning" en "die (broodnodige) finansiële steun aan pryswenners" verwys. Jy is jare lank al in die boekebedryf en op boekprystoekenningspanele. Wat is vir jóú die belangrikste redes waarom daar boekpryse moet wees?

Boekpryse is vir my ’n manier om te sê dat boeke en lees belangrik is, dat dit sáák maak. Die waarde daarvan is die erkenning – vakkundig en finansieel – wat so maklik kan uitbly in ’n era van WhatsApp en Twitter. Dis ook ’n manier om dankie te sê vir kosbare verbeeldingsvlugte wat die letterkunde verryk en meermale die loop van ’n lewe verander. Pryse van hierdie omvang skenk ook aan skrywers ’n kosbare kommoditeit: tyd.  Ook ruimte vir reise, vir deeglike navorsing vir ’n volgende tema. En die wenner is … die leser! 

Dit is 'n goeie dag vir die boekbedryf, met die aankondiging van die kykNET-Rapport Boekpryse. Kan hierdie pryse beskou word as 'n plaasvervanger van die M-Net-prys?

Nee, dit is eerder ’n Afrikaanse eweknie van die Sunday Times se letterkundige pryse wat beide fiksie en niefiksie bekroon, met die bonus van die filmprys daarby.

Dis baie goeie nuus dat daar instansies is wat boekpryse befonds, omdat boekpryse lees en gesprek oor boeke stimuleer. Is daar 'n rede waarom die pryse net aan Afrikaanse boeke toegeken sal word?

Soos genoem, is die kykNet-Rapport Boekpryse ’n inisiatief van die Afrikaanse media, ’n teenpool vir die Sunday Times se pryse vir Engelse boeke. Die mediavennote wou dieselfde geleentheid vir Afrikaanse skrywers skep. Gesien in die lig van die onlangse verskraling van ruimte vir resensies en boekbesprekings in die Afrikaanse drukmedia is dit ’n prima geleentheid met belofte van groter ruimte wat vorentoe aan boeke afgestaan gaan word in ’n nasionale weekblad.

Die prys sal toegeken word aan 'n veelvlakkige roman, maar nie een wat obskuur is nie, staan in die persverklaring. Wanneer is 'n roman veelvlakkig – en wanneer obskuur?

’n Roman is veelvlakkig as dit ryk is aan tekstuur, emosionele diepte en betekenis, as ek kan verbande lê wat my interesseer en stimuleer, ook vir verdere lees. “Obskuur” word gebruik in die sin van “duister”: die “amount and diversity of material” is wel daar, maar nie geïntegreer nie, sodat betekenis uitbly. ’n Boek met die vreugde van ontdekking of openbaring is wat vir my die kenmerk is van ’n onvergeetlike storie.

Ander maatstawwe vir toekenning van die prys is uitnemendheid en vernuwing. Verskyn daar wel elke jaar minstens een roman wat tegelyk veelvlakkig, uitnemend en vernuwend is?

Uiteraard verwag mens nie dat ’n enkele roman aan ál die kriteria hoef te voldoen nie!  Riglyne vir toekenning is nie in goud gegiet nie. Enersyds is dit bloot ’n aanduiding vir uitgewers van watter boeke in bepaalde kategorieë geskik sal wees vir voorlegging. Vir die keurders sê ek altyd van meet af aan: hier is basiese riglyne vir ’n wenboek om in die agterkop te hou; dat mens nooit weet wat die stapel boeke voor jou inhou nie; en dat ’n boek wat effe buite die “patroon” val, wat risiko’s neem en wat grense verskuif, geensins nié ernstig opgeneem moet word nie. Daar word immers gesê “all great art has something ungainly ...”

Ten opsigte van die niefiksieboek se toekenning: Beskou jy die navorsingsvlak hiervan gelykstaande aan dié van 'n PhD? Of moet die boek ook toeganklik geskryf wees, as bydraende kriterium?

Natuurlik moet dit geen droë akademiese werk wees nie. Dit moet onderhoudend geskryf wees, al is die materiaal kompleks.

As mens dink aan 'n boek met filmiese potensiaal, dink ek dadelik aan misdaadfiksie. Of is dit tog minder voor die hand liggend? Met ander woorde: kan 'n meervlakkige, dalk stadiger-bewegende verhaal wat in aanmerking kom vir die beste fiksieprys, ook in aanmerking kom vir die filmiese-potensiaal-prys? 

Daar is filmspesialiste op die beoordelaarspaneel. Ek geloof een van die vrae – met inagneming van die realiteite van  ons plaaslike filmbedryf – sal wees: As jy die verhaal in ’n sin kan saamvat, kan jy dit op ’n plakkaat sien?

Geen selfpublikasies kom in aanmerking vir die prys nie. Waarom nie?

’n Gevestigde uitgewery verrig die funksie van ’n eerste leser of filter – dit verhoed dat die keurders toegegooi word met alles behalwe die opwasbak. Ek wil glo dat ’n roman wat die toets van die tyd kan deurstaan, wel ’n uitgewer binne of buite die hoofstroom sal vind.

Hier is nog inligting oor die nuwe kykNET-Rapport Boekpryse. 

Lees ook Francis Galloway se bydrae oor die belang van boekpryse.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top