kykNET-Rapport Boekpryse 2014: Commendatio vir Wolf, wolf deur Eben Venter

  • 1

Wolf, wolf is bekroon met die eerste kykNET-Rapport Boekprys vir Fiksie. Louise Viljoen het die commendatio gelewer:

Eben Venter

Koop Wolf, wolf by Kalahari.com.

Lees 'n onderhoud met Eben Venter oor die kykNET-Rapport Boekpryse.

Foto's van die toekenningsgeleentheid

Eben Venter se Wolf, wolf is ’n sterk en ontstellende roman waarin die verwikkelde verhoudinge tussen ’n groep karakters geplaas word teen die agtergrond van ’n eietydse Suid-Afrikaanse stadslandskap. Die roman se sentrale karakter, Mattheüs Duiker, is ’n komplekse persoonlikheid: hy is selfgesentreerd, kompulsief, verwend, naïef en as gevolg daarvan besonder kwesbaar in die verhoudings met sy vader, Benjamin, sy minnaar, Jack, en die Kongolese vlugteling Emil Youlou, wat in sy kitskosonderneming vir hom werk.

Die roman is ’n indringende ondersoek na die sentrale karakter se interaksie met die verskillende persone in sy lewe, veral die verhouding met sy vader, vir wie hy versorg op sy sterfbed en op wie se uiteindelike aanvaarding hy as gay man hoop.

Alhoewel dit aanvanklik mag lyk asof die roman afstuur op ’n positiewe en versoenende einde tussen vader en seun, blyk dit ’n illusie te wees. Die gevolg van Benjamin se finale verwerping van sy seun is die snelle afloop tot by ’n uitsiglose slot waarin Mattheüs letterlik alles verloor wat hy gehad het en totaal ontredderd gelaat word.

Op die persoonlike vlak teken die roman iemand wat as gevolg van sy beskermde agtergrond, relatiewe bevoorregting en onttrokkenheid van die werklikheid volkome onvoorbereid is op die realiteite van ’n land waarin sluheid, korrupsie, uitbuiting en bedrog so algemeen is dat die lewe ’n oorlewingstryd geword het. Tegnologiese vernuwing, die internet en sosiale media verwyder Mattheüs, en ook Jack, nog verder van die werklikheid en neem hulle ’n vervreemdende hiperrealiteit in eerder as om hulle toe te rus vir uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word.

Op kollektiewe vlak is die roman – soos talle ander tekste in die Afrikaanse letterkunde – ’n verkenning van Afrikaners se aansprake op ’n lewe in Afrika en die geldigheid van hulle aannames. Die “wolf, wolf”-gegewe met sy apokaliptiese assosiasies en intertekstuele geskiedenis in Afrikaans word op ’n besonder veelduidige wyse gebruik om die spanning in die roman op te bou en uiteindelik tot ’n ontnugterende klimaks te bring. Die onskuldige kinderspeletjie ontaard in ’n tragedie waardeur die verskillende dierefigure in die roman terugwerkend nuwe betekenis kry.

Met hierdie roman toon Venter weer eens dat hy nie huiwer om die kilste moontlike scenario’s van hulle leefwêreld vir sy lesers te teken nie. Net soos Horrelpoot is Wolf, wolf ’n roman waarvan die weerklank nog lank in die Suid-Afrikaanse letterkunde sal bly nagalm. Die roman is ’n waardige wenner van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse!

Louise Viljoen namens die beoordelaars

  • 1

Kommentaar

  • Sylvia Fisher

    Is die hijacking van sy eetplek deur die Kongolees 'n illusie? Of gebeur dit regtig in die verhaal?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top