kykNET-Rapport Boekprys: ’n Goeie dag vir die boekbedryf

  • 0


 vir interessante en innoverende fiksie & feite in Afrikaans

’n Goeie dag vir die boekbedryf!

kykNET en Rapport span kragte saam om belangstelling in boeke en lees te stimuleer en die gesprek rondom boeke te verlewendig deur die aankondiging van nuwe, jaarlikse literêre pryse in Afrikaans, deur boekmense vir boekmense: die kykNET-Rapport Boekpryse met vennote LitNet, Kalahari.com en Leserskring.  

Drie kontantpryse ter waarde van R500 000 word toegeken aan boeke wat in 2013 verskyn het in die volgende kategorieë:

  • Beste volwasse roman in Afrikaans R200 000
  • Beste Afrikaanse niefiksie-boek R200 000
  • Afrikaanse roman of niefiksie-boek met die meeste filmiese potensiaal R100 000

Die pryse  het ten doel om groter erkenning en blootstelling te gee aan innoverende romans wat veelvlakkig is, maar nie obskuur nie, verhale wat lesers stimuleer en verras, sowel as aan deeglik nagevorste niefiksie wat die taal en kultuur verryk en lei tot nuwe insig by die leser.

Alle uitgewerye wat boeke in Afrikaans publiseer word genooi om boeke voor te lê. Die maatstaf is uitnemendheid en innovering.

Boeke moet oorspronklik in Afrikaans geskryf wees. Waar boeke gelyktydig in Afrikaans en Engels verskyn het, kom die Afrikaanse uitgawe in aanmerking vir die prys indien die skrywer self die boek vertaal het.

Slegs gepubliseerde boeke kom in aanmerking vir die boekpryse, en geen self-publikasies nie. Wat die filmprys betref, geen draaiboeke nie, slegs gepubliseerde romans met potensiaal om verwerk te word in ’n draaiboek.

Kortlyste en name van keurders word aangekondig op 5 Oktober 2014.

Die wenners sal aangekondig word in die eerste week van November by ’n intieme funksie met alle belanghebbendes.

NB: Voltooide inskrywingsvorms vir die eerste kykNET-Rapport Boekpryse sowel as 8 eksemplare van elke boek moet die sameroeper bereik voor of op die sperdatum: 17 April 2014.

Adres waarheen boeke versend moet word per koerier:

Die sameroeper, kykNET-Rapport Boekpryse

Hettie Scholtz
La Clémence 128
Webersvalleipad
Jamestown
STELLENBOSCH
084 583 0272

Daar is geen inskrywingsfooi nie.

Inskrywingsvorms sowel as riglyne vir toekenning sal op 7 April 2014 versend word aan uitgewerye en is ook beskikbaar by die sameroeper. Rig alle navrae oor die prys aan die sameroeper: 

Hettie Scholtz by scholtz5@mweb.co.za / 084 583 0272

Laai die riglyne in PDF-formaat af

Laai die inskrywingsvorm in PDF-formaat af

Lees 'n onderhoud met Hettie Scholtz oor die nuwe boekprys

---

Riglyne

Die nuwe jaarlikse kykNET-Rapport Boekpryse ter waarde van R500 000 word toegeken in die volgende kategorieë:

  • Beste Afrikaanse volwasse roman (R200 000)                   
  • Beste Afrikaanse niefiksie-boek (R200 000)
  • Afrikaanse roman of niefiksie-boek met die meeste filmiese potensiaal (R100 000)

Dit is ’n letterkunde toekenning. Die sameroeper wil nie graag deelname beperk tot slegs 4 titels per uitgewery nie maar versoek uitgewers om streng oordeel aan die dag te lê by die voorlegging van boeke in die verskillende kategorieë. Slegs boeke wat voldoen aan die kriteria moet voorgelê word.

Die wenboek vir FIKSIE moet:

  • in gesprek wees met die beste in sy eie lokale tradisies en met die wêreldliteratuur
  • veelvlakkig wees, maar nie obskuur nie
  • verras met vars, innoverende taalgebruik
  • oorspronklik lig werp op die alledaagse

Die wenboek vir NIEFIKSIE moet:

  • kersvashou by die beste niefiksie plaaslik sowel as internasionaal
  • getuig van deeglike navorsing, hoogstaande tegniese vakmanskap en uitstekende vormgewing
  • inhoudelik oorspronklik wees in taal en tema
  • lei tot nuwe insig by die leser

Enkele riglyne by die FILMTOEKENNING:

1)   Is die tema van die boek geskik om aangepas te word as ’n rolprent, televisiereeks of dokumentêre program? (As jy die verhaal in ’n sin saamvat, kan jy dit op ’n plakkaat sien?)

2)   Aanpasbaarheid van die manuskrip om verwerk te word in ’n draaiboek. (Is dit filmies geskryf met ’n goeie struktuur? (Gaan dit pas in die lengte van die algemene 90-minute rolprent = 114 bladsye dubbelspasiëring).

3)   ’n Slim/onderhoudende/spannende verhaal wat volhoubaar sal wees vir 90 minute en karakters waarmee die rolprentgehoor sal kan identifiseer.

4)   Bekostigbaarheid – Realiteite van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf dwing vervaardigers om “goedkoop” te dink en te werk. (Is dit bekostigbaar?)

5)   Kommersialiteit – Is die tema, situasie, karakters toeganklik? Die finansiële realiteit van die rolprentbedryf: Gaan dit geld maak?

Lê slegs boeke voor wat u meen filmiese potensiaal het.

Ampelike reëls

  • Slegs gepubliseerde boeke wat tussen 1 Januarie 2013 en 31 Desember 2013 verskyn het, kom in aanmerking vir die kykNET-Rapport Boekpryse.
  • Skrywers se toestemming moet in alle gevalle vooraf verkry word.
  • Geen self-publikasies word oorweeg nie.
  • Boeke moet oorspronklik in Afrikaans geskryf wees. Indien boeke gelyktydig in Afrikaans en Engels verskyn het, kom die Afrikaanse uitgawe in aanmerking vir die prys mits dit deur die skrywer self vertaal is.
  • Die kortlyste word aangekondig op 5 Oktober na ’n vergadering van keurders.
  • Uitgewers sal in kennis gestel word van boeke op die kortlys en versoek word om so gou doenlik die sameroeper te voorsien van die volgende:
  • bondige opsomming van die inhoud
  • goeie gehalte foto van die skrywer
  • bondige biografiese gegewens
  • skriftelike toestemming dat gratis uittreksels van boeke op die kortlys in Rapport en op LitNet mag verskyn.
  • Die sameroeper is nie verantwoordelik vir die terugsending van boeke wat verkeerdelik voorgelê word nie.
  • Die besluite van die keurders is finaal.
  • Geen inskrywingsfooi is betaalbaar nie.
  • Voltooide inskrywingsvorms vir die eerste kykNET-Rapport Boekpryse sowel as 8 eksemplare van elke boek moet die sameroeper bereik voor of op 17 April 2014.

Adres waarheen boeke versend moet word per koerier:

kykNET-Rapport Boekpryse
p/a Hettie Scholtz
La Clémence 128
Webersvalleipad
Jamestown
STELLENBOSCH
084 583 0272

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top