KlankKas-resensies | Music Reviews

 
Kort en kragtig: Spoke op Harleys, Janneman in die Diereryk en 11 dodelike sondes

Kort is soms kragtig, soos dié man sal kan getuig.

Ter ere hiervan (en oor ons almal gaar is ná ’n lang jaar), gooi ons hier drie kort resensies van drie plaaslike albums.

Spoke op Harleys
Kaalvoet en die Volgende Oggend

Kaalvoet (of dan Nicol du Toit, soos sy ma hom gedoop het) was die kitaarspeler van die Stellenbosse rooiwyn-rockers Dikazzins.
Hierdie is sy solo-debuut. Die “volgende oggend”, verduidelik hy op sy webblad, “is meer ’n vibe as ’n band, en bestaan uit ’n kollektief van musikante”. Dit sluit in onder meer Dale Collins, Basson Laubscher (van Zinkplaat-faam) en Liezl “Mooiliezl” Spies.

Kaalvoet is bepaald meer ’n kitaarslaner as ’n sanger, maar dis nie onoorlik om te luister nie, en hy lê dalk iewers tussen ’n jong Valiant Swart en ’n jong Anton Goosen.  Die musiek self is bluesy, folky en rocky.

Die album is 11 snitte lank (hoewel die openingsnit, “Tuning”, nie régtig ’n snit is nie), met drie covers op (insluitend Vic Chestnutt se “Gravity of the Situation” en die Stones se “Wild Horses”).

Uit die sewe oorsponklike snitte is dit veral “Die jetsetter” (oor ’n Kapenaar se struggle om in die binneland te werk, en die vryheid van wyn drink in die Kaap oor naweke), “Spoke op Harleys” (oor slapeloosheid) en die hartverskeurende “Blues vir Pieter” (wat hy vir sy afgestorwe pa geskryf het) wat uitstaan.

Dis ’n soliede debuut, en hoewel dit nie grense van oorspronklikheid verskuif nie, is dit heel luisterbaar met ’n paar lekker songs.

(Nota: Die skrywer noem hier, soos voorheen, dat hy en Du Toit gereeld saam braai. Die skrywer dink egter nie dit meng in met ’n eerlike mening oor ’n album nie. Ook is ’n resensie niks meer as net een mens se mening nie. Die skrywer weet steeds nie hoekom hy hier in die derde persoon praat nie.)


Janneman in die Diereryk
Riku Lätti en vriende

My susters se kinders is vreeslik lief vir onder meer Nedine Blom se kindertjoens.

Soos die Romeine egter gesê het: “suum cuique”, of dan “to each his own”. (Oukei, julle het my, ek het nie geweet wat dit in Latyn is nie; ek moes dit gaan Google sodat ek slimmer kan klink.)

Elk geval, vir dié van ons wat nie van die doef-doef hou nie, het Riku Lätti tot die redding gekom met Janneman.

Dié album is ’n mengsel van musiek en vertellings, met kunstenaars soos Dorette Potgieter (sy’s die verteller), Neil Sandilands en Bacchus Nel, wat ook gehoor kan word.

In kort: Janneman, ’n werklike stouterd, beland in die diereryk, waar hy meer oor homself en die wêreld leer.

Hier is ’n paar lekker tjoens waarna ouers en kinders kan luister (veral “Stoomtrein” en “Skilpad in my hangmat” staan uit).

My enigste kritiek is dat die storie hier en daar ’n bietjie moeilik is om te volg.

Ondersteun die man, toe. Hy is, by own admission, gefrustreerd dat hy nie meer verkoop nie. En hy maak sulke lekker musiek. En elk geval, as Lollos se “Bons dat dit gons” dit nie vir jou doen nie, is dié ’n lekker alternatief.

11 dodelike sondes
Volkspeler

Volkspeler is, wel, moeilik om te beskryf.

Op hulle Facebook-blad seg hulle die volgende: “Volkspeler is die breinkind van Johan Jack Smith vanaf Bloemfontein. Dit het ontstaan vanaf gedigte wat verander is na songs en toe getoonset is. Die lirieke vorm die kern van die projek en speel ’n integrale rol in die musiek. Die klank is vars en nuut en die oorsese invloede is duidelik waarneembaar. Luister self en maak jou eie gevolgtrekkings.”

As jy hulle video’s op YouTube gaan beloer, kom jy tot die gevolgtrekking dat dit net soveel multimedia as musiek is.

Vir my klink dit so ’n bietjie soos Nine Inch Nails, so ’n bietjie soos Battery 9 en ’n bietjie getemper met Bloemfontein (hoewel Volkspeler hulle glo in Jozi gaan hervestig).
11 dodelike sondes bestaan (verrassing!) uit 11 snitte.

Die musiek (en lirieke) is maar meestal donker. Die naaste aan ’n love song wat jy op dié album gaan kry, is “Middernagnooi”.

Dis egter die donker snitte wat die beste is. “Spook en diesel-bandiet”, oor drink en bestuur en die dood, staan uit en gaan in jou kop maal.

“Suicide-engel” – oor ’n (skynbaar beeldskone) “toppresteerder” en “onderskeidingskandidaat”, haar “pappa se versteurde sterretjie” en “mamma se ou reine kloosterkoekie”, wat graag die vleeslike gebruik om haar sin te kry – is ook ’n oorwurm.

“Onnatuurlik” is ook nogals ’n draler in jou kop – dis oor ene Leanne wat deur ’n meneer Marx, ’n onderwyser by haar skool, verkrag word en swanger word. Later neem Leanne wraak deur meneer Marx met ’n haelgeweer dood te skiet.

Die lirieke is meer haelgeweerskoot as genuanseerd (nie net op dié snit nie, maar deurgaans) en gaan nie in almal se smaak val nie. Die musiek ook nie.

As jy egter lus is om te waag met iets bietjie anders, is dié ’n lekker kopie.  



 

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address