Klaskamerklets: Onderhoud met Marthinus de Jager

  • 0

In Klaskamerklets leer ons onderwysers in die klas ken, maak kennis met hul fortés en hul frustrasies.

Hierdie week gesels ons met Marthinus de Jager, wiskunde-onderwyser by Carpe Diem Akademie, ’n privaatskool in die ooste van Pretoria.

1. Wat is vir jou die grootste uitdaging in die onderwys soos dit vandag daar uitsien?

Dissipline, respek en standaarde.

2. Wat is vir leerders vandag die grootste uitdaging?

Om eienaarskap van hulle studies te neem. Leerders is nie meer bereid om te leer nie. Daar word van onderwysers verwag om alles vir hulle te doen. In ’n samelewing waar tegnologie oorneem en informasie so maklik en vrylik op die internet beskikbaar is, verwag leerders dieselfde van hulle studies. Alles moet vinnig en maklik kom.

3. Watter eienskappe het ’n goeie onderwyser nodig om die uitdaging(s) van die beroep die hoof te bied? Hoe belangrik is byvoorbeeld eienskappe soos ’n humorsin, kreatiwiteit, geesdrif, empatie, ruimhartigheid, aanpasbaarheid, toegewydheid, grit – om maar enkeles te noem – vir iemand wat daagliks in ’n klaskamer staan?

Al die bogenoemde, en hare op jou tande. As onderwyser moet jy streng wees. Leerders is op skool om te leer en te werk, en dit moet reeds die eerste dag wat hulle in jou klas instap, so oorgedra word. Jy is die onderwyser en nie die leerders se “maat” nie. Dit beteken nou nie dat jy ’n draak moet wees nie. As onderwyser moet jy leerders met respek behandel, sodat jou leerders jou weer sal respekteer. Jy moet altyd in beheer wees van jou klas en nooit emosioneel optree nie. Gee leerders die kans om ’n mening te hê. As iemand praat, word daar geluister en ’n geleentheid word geskep vir iemand anders om met sy mening te reageer.

4. Hoe moedig jy jou leerders aan om aktief deel te wees van dit wat in die klas gebeur?

Ek is in ’n bevoorregte posisie om met klein klasse te werk. So bied ek my studente die geleentheid om te redeneer, menings te deel, gedagtes te wissel, ens. Ek probeer ook altyd om my klasse meer interessant te hou deur die geskiedenis agter die wiskunde te gee – ek verduidelik waar dit vandaan kom, of hoe dit ontstaan het, deur ’n wiskundegrappie op die deur te plak of ’n moeilike formule op die bord te skryf om dadelik die leerders se aandag te kry die oomblik wat hulle in die klas instap.

5. In watter mate het jy toegang tot en maak jy gebruik van tegnologie in jou klaskamer?

Onderwysers en studente het toegang tot die internet by die skool. Ek maak gebruik van ’n projektor en tablet en hou daarvan om programme soos GeoGebra en Geometer’s Sketchpad te gebruik vir meetkunde en funksies, veral om transformasies en refleksies van funksies te demonstreer en verduidelik.

6. Watter webtuistes en/of boeke/bronne besoek jy vir jou vaknavorsing en voorbereiding?

Ek gebruik die internet gereeld, op soek na lesidees, interessante toetse en vrae, wiskundige grappies ens. Daar is nie ’n spesifieke webtuiste wat ek gereeld gebruik nie, maar as ek een moet uitsonder, dan is dit Wolfram Mathworld.

7. Hoe pas jy jou onderrig aan om die leerder(s) wat onderpresteer te ondersteun?

Eerstens deur leerders gemaklik te maak sodat hul vrymoedig voel om vrae te vra. Ek probeer dan om iets op ’n verskeidenheid van en/of meer kreatiewe maniere te verduidelik of om leerders in klein groepies te verdeel sodat hul vir mekaar kan verduidelik. Ek glo dat as jy iets op verskillende maniere verduidelik, dit ’n groot bydrae lewer om beter te verstaan, aangesien ons almal verskillend is en op verskillende maniere leer.

8. Watter ekstra voorsiening maak jy vir die buitengewoon begaafde leerders in die klas?

Ek druk hulle om eienaarskap te neem en self meer te werk en navorsing te doen. Om nie net formules te gebruik nie, maar te probeer verstaan waar dit vandaan kom en hoe dit werk.

9. Hoe sal jy ’n leerder hanteer wat herhaaldelik dissiplinêre probleme gee?

Ek duld nie sulke leerders nie en maak dit ook nie my probleem nie. Die bestuur van ’n skool en ouers is verantwoordelik om met sulke leerders te werk.

10. Watter inhoud van jou vak vind leerders die moeilikste om te verstaan?

Trigonometrie en meetkunde.

11. Hoe dra jy hierdie inhoud aan hulle oor sodat hulle dit uiteindelik verstaan?

Baie geduld. Kreatiewe en praktiese aktiwiteite, en baie konstruksies. As jy dit kan teken, dan kan jy dit sien.

12. Watter onderrighulp sou jy graag op LitNet wou kry?

Kreatiewe lesidees van ander onderwysers.

13. Het jy ’n les of lesidee wat goed gewerk het en wat jy bereid is om met LitNet te deel sodat ander onderwysers daaruit kan put?

Ja. As ’n liefhebber van geskiedenis en filosofie, geniet ek dit om geskiedenis en filosofie deel te maak van my lesse. Onderwysers kan gerus die “Tale of Thale” gaan lees. Beskikbaar by http://www.anselm.edu/homepage/dbanach/thales.htm. Dit is vir my ’n wonderlike manier om gelykvormigheid te verduidelik en ook as inleiding tot trigonometrie. Studente kan aktief deelneem deur die verhouding te bereken van verskillende voorwerpe en hul skaduwees om sodoende hulle eie lengte te bereken. In hierdie aktiwiteit sê ek nooit vir studente wat om te doen nie. As huiswerk gee ek vir hulle die storie om te lees (die meeste dink ek is dan mal). Die volgende dag vra ek hulle dan om hulle lengte te bereken sonder om dit fisies te gaan meet. Hul mag enige ander voorwerpe se lengtes meet. Die doel is vir hulle om raak te sien dat daar ’n vaste verhouding tussen ’n voorwerp en sy skaduwee is en om daardie verhouding dan te gebruik om hulle eie lengte te bereken. Ek was ook betrokke by die skryf van werkboeke vir graad 7–9. Onderwysers kan dit gerus aflaai by http://www.mstworkbooks.co.za/downloads.html, kopieer en versprei. Die kopieerwet op die boeke laat dit toe, solank erkenning net aan die betrokke persone gegee word.

14. Watter boek(e) het jy in die afgelope jaar gelees en/of films het jy gesien wat ’n blywende impak op jou gemaak het?

Ek fliek gereeld. Die eerste fliek waaraan ek nou dink, is The King’s Speech.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top