Klaskamerklets: In gesprek met Carin Lawrie

  • 0

1. Wat is vir jou die grootste uitdaging in die onderwys soos dit vandag daar uitsien?

Ek is my, soos ’n vorige klaskamerkletser, intens bewus daarvan dat ek besonder bevoorreg is in die opset waar ek werk in ’n privaatskool (Bridge House School). In vergelyking met die meeste skole het ek min leerlinge in elke klas en toegang tot ’n wye spektrum tegnologie. My grootste uitdaging is dus om in die kortste moontlike tyd my leerlinge (meestal immigrante) Afrikaanse woordeskat en sinskonstruksies te leer sodat hulle in graad 8 by die standaardklasse kan inskakel en hulself in Afrikaans kan handhaaf, binne en buite die klaskamer.

2. Wat is vir leerders vandag die grootste uitdaging?

Vir die meeste leerders in Suid-Afrika is hul lewensomstandighede hul grootste uitdaging. In die skool en by die huis beteken dit dat hulle die stryd moet aanknoop teen ’n magdom aandagafleiers. Genoeg tyd is ook nie altyd beskikbaar nie. Vir my eie klasse is die grootste uitdaging die kennismaking met ’n splinternuwe tweede, derde of vierde taal. Dit is egter ook hopelik opwindend!

3. Watter eienskappe het ’n goeie onderwyser nodig om die uitdaging(s) van die beroep die hoof te bied? Hoe belangrik, byvoorbeeld, is eienskappe soos ’n humorsin, kreatiwiteit, geesdrif, empatie, ruimhartigheid, aanpasbaarheid, toegewydheid, grit – om maar enkeles te noem – vir iemand wat daagliks in ’n klaskamer staan?

Al die genoemde eienskappe is uiters belangrik, en partykeer op dieselfde oomblik! ’n Onderwyser se oordeel groei met die jare. Jy moet weet wanneer en hoe om die atmosfeer skielik te verander om verveling teë te werk of om ’n situasie te ontlont.

4. Hoe moedig jy jou klas aan om aktief deel te wees van dit wat in die klas gebeur?

Ek maak baie keer gebruik van liedjies en stories. Dis verstommend hoe gou ’n kind ’n taal kan aanleer wanneer sy/hy wil weet wat aangaan! Die verhalende element en vrae wat daarop volg is gewoonlik genoeg om die aandag te prikkel en te behou. Verder is herhaling en vaslegging makliker as die leerling self betrek word by ’n klein drama en iets oor en oor moet sê ter wille van die storie. ’n Reël met ’n emosionele lading word ook gouer en beter onthou.

5. In watter mate het jy toegang tot en maak jy gebruik van tegnologie in jou klaskamer?

Ek het reeds hier bo aangedui dat ek besonder gelukkig is om toegang te hê tot allerhande tegnologiese hulpmiddels, van musiek (op YouTube, waar jy omtrent enige Afrikaanse liedjie kan opspoor, en op kompakskyf) tot film. Die rolprent Hoofmeisie word elke jaar vir die graad 6-klas gewys en hulle geniet dit geweldig.

6. Watter webtuistes en/of boeke/bronne besoek jy vir jou vaknavorsing en voorbereiding?

Ek besoek LitNet, YouTube en ook Die Burger se webwerf. Verder gebruik ek Afrikaans sonder Grense deur Mari Latti, Sonia Gouws en Carine le Roux. Ek gebruik ook baie soorte woordeboeke, digbundels en vertalings van Asterix, Kuifie, en Richard Scarry se boeke en Roald Dahl se Revolting Rhymes. Philip de Vos is ’n geliefde skrywer by al my klasse.

7. Hoe pas jy jou onderrig aan om die leerder(s) wat onderpresteer te ondersteun?

Omdat ek klein klasse het, kan ek baie keer ’n soort verpersoonlikte les gee aan ’n leerder wat dit nodig het. Ek deel eenvoudig vir die ander ’n projek uit waaraan hulle kan werk terwyl ek ekstra aandag aan een leerling gee.

8. Watter ekstra voorsiening maak jy vir die buitengewoon begaafde leerder(s) in die klas?

Hulle voltooi take gewoonlik vinniger en sal dan ’n boek uit my klasbiblioteek kies om te lees terwyl die ander nog besig is. (Dit help om oor die jare jou eie biblioteek vir die klas op te bou.) Verder kan ek meer gevorderde vrae redelik maklik beantwoord terwyl die ander nog besig is. Sulke leerlinge is van onskatbare waarde vir die klas-atmosfeer en voordelig vir die res wat moontlik nie so begaafd is nie. Ek ondervind egter dikwels dat elke leerder ’n area van begaafdheid besit, op sy eie manier, al is dit beperk.

9. Hoe sal jy ’n leerder(s) hanteer wat herhaaldelik dissiplinêre probleme gee?

Ek sou na die klas met haar/hom ’n gesprek voer. Dit help gewoonlik. ’n Mens kom baie keer agter dat daar probleme buite die skoolopset is waarmee sy/hy worstel.

10. Watter inhoud van jou vak vind leerders die moeilikste om te verstaan?

Uit die aard van die saak het my immigrante nog nie die woordeskat om tekste wat nie eenvoudig genoeg is te verstaan nie. Die konstruksie in Afrikaans wat hulle dikwels kortwiek, is die sin wat met ’n tyd- of plekbepaling begin. In Engels word dit nie gevolg deur ’n werkwoord, soos in Afrikaans nie, en omdat dit induktiewe denke vereis, is dit dikwels vir hulle moeilik om te onthou. Die dubbele “nie” is ook net vir die Franssprekendes maklik.

11. Hoe dra jy hierdie inhoud aan hulle oor sodat hulle dit uiteindelik verstaan?

Deur herhaling, veral deur middel van rympies, grappies en liedjies, en deur die inoefen van konstruksies. Ek sê altyd vir hulle dat dit ’n stywe opdraand is om die eerste essensiële woordeskat aan te leer, maar sodra jy oor meer woorde beskik, raak dit al makliker, omdat die woorde met mekaar “praat”.

12. Watter onderrighulp sou jy graag op LitNet wou kry?

Ek sou graag ’n versameling Afrikaanse liedjies, stories en grappe wou sien wat bruikbaar kan wees vir my immigrante. Dit sou ook lekker wees om ’n paar eenvoudige vraestelle vir beginners te sien.

13. Kan jy ’n les (of lesidee) wat goed gewerk het, met LitNet deel sodat ander onderwysers daaruit kan put?

Hier is ’n assesseringsoefening vir graad 12-portefeuljes oor Gilbert Gibson se Kaplyn.

14. Watter boek(e) het jy in die afgelope jaar gelees en/of films het jy gesien wat ’n blywende impak op jou gemaak?

Die film Ida was baie aangrypend en het pas verskeie BAFTAs gewen. Dis asemrowend verfilm. Ook die Franse film Le Secret het ’n blywende indruk gelaat. Verder het verskeie digbundels en gedigte my sprakeloos van bewondering gelaat: onder andere Kaar, deur Marlene van Niekerk, en ’n nuwe gedig oor berge deur Lina Spies (nog nie gepubliseer nie).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top