KKNK 2014: Kokkedoor 2014

  • 1

Die idee rondom Kokkedore het oorspronklik ontstaan by die Victoria Junction in Groenpunt, Kaapstad, vertel Karen Meiring (direkteur van M-Net se Afrikaanse kanale: kykNET, kykNETMusiek, kykNET&kie en MK), en dertien weke later was die eerste seisoen op kykNET te sien. Daar het ’n behoefte by die produksiespan ontstaan om die besondersheid van Afrikaanse kos te vier. Die program huisves twee groepe deelnemers: kinkelkokke (professionele kokke) en onthoukokke (dié wat nog ouma se malvapoedingresep kan maak wat daardie jare die ACVV-prys losgeslaan het). Gedurende die loop van die program word hulle in verskeie spanne saamgesit om die uiterste kulinêre uitdagings aan te pak.

LitNet het die voorreg gehad om die afskop van die tweede reeks van dié uiters suksesvolle realiteitskookkompetisie by vanjaar se KKNK by te woon. Dié spesiale geleentheid het plek gemaak vir ’n paar gevleuelde woorde van elkeen wat die produksie moontlik gemaak het, voor en agter die skerms. Mariëtta Kruger (aanbieder), Hetta van Deventer Terblanche en Nic van Wyk (beoordelaars) het elkeen ’n beurt gehad om te vertel hoe Kokkedore hulle lewens verander het. Homebrew Films is veral bedank vir hulle uitstekende werk as produksiespan. Daar is nie alleen gespog met die groot sukses van die program op beide die kykNET- en DStv-platforms nie, maar ook beklemtoon hoe belangrik dit is om hierdie geleentheid te gebruik om Afrikaans te bevorder.

Kokkedore se sukses eindig egter nie by die faam van die televisieprogram nie. Die sukses van die program het dit ook moontlik gemaak om plaaslik, in Prince Albert waar die program verfilm word, produkte onder die handelsmerk te ontwikkel. Die produseer van produkte skep plaaslik werk en maak dit moontlik om aan ’n handjie vol mense ’n inkomste te bied.

Ten einde kry ons ’n spanningsvolle voorsmakie van die tweede reeks te sien. Uitstekende verfilmingskwaliteit en wat lyk soos ’n opwindende reeks beloof om my aan die begin van die nuwe reeks voor my skerm te kry. Nes die formaliteite verby is, word ons, soos verwag, bederf met ongelooflike kos, as’t ware ’n voorsmakie van wat in reeks twee voorlê.

Die nuwe Kokkedore-reeks is vanaf 10 April op kykNET te sien. Kyk ook uit vir al hulle produkte wat binnekort op kalahari.com beskikbaar sal wees. 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top