KKNK 2014: Dogma

  • 0

Teks en regie: Christiaan Olwagen
Choreografie: Ina Wichterich
Musiek: Charl-Johan Lingenvelder
Met: Erik Holm, Tinarie van Wyk Loots, Rolanda Marais, Albert Pretorius, Chuma Sopotela en Roelof Storm

 Bron: ABSA KKNK @ http://kknk.co.za/nuus/storieswaarvanjymoetweet/kerk-en-vrydenker-slaan-vuis-in-dogma/

Dikwels is die grootste uitdaging vir gelowiges nie of jy glo al dan nie, maar eerder hóé jy glo. Dogma, as ’n stel reëls en prinsiepe wat deur ’n outoritêre figuur of beweging as die ononderhandelbare waarheid bestempel word, word hoofsaaklik hier vanuit die konteks van die Christelike kerk beskou. Dit laat vir niks wat anders is as die voorgeskrewe reëls plek nie, mag dit ras, klas of geloofsuitlewing wees. Die dogma van die NG Kerk met ’n stel reëls wat baie mense dikwels nie kan gehoorsaam nie. Wat dan te make as jy steeds glo, maar jou kerk het vanweë jou lewenskeuses nie meer vir jou plek nie? Hoe kom Bob Dylan te staan teenoor die dogma van die kerk? Is die enigste ander opsie dan ’n kontroversiële en alternatiewe gemeente wat uit beginsel alles anders as die NG Kerk preek?

Dogma is ‘n verhaal van vrae oor behoort, blindelingse geloof, ware geluk en onvermybare verskille. Dit vertel die storie van ’n paartjie wat verlief raak buite al die reëls van die NG Kerk. Albei is reeds met iemand anders getroud en hy is boonop ’n dominee. Die verhaal word deur hulle seun vertel, wat die verbrokkeling van sy ouers se verhouding deur sy storievertelling ondersoek. Die teks gebruik die metafoor van die bybelse skeppingsverhaal om die verhaal van die gebroke verhouding te navigeer. “Aan die begin was daar die Woord … en dit was goed.”

Die produksie stel die saligheid van geloof in sterk kontras teenoor onsekerheid. ’n Reeks gebeure plaas die karakters in ’n posisie waar blindelingse geloof nie meer moontlik is nie. Die seun se pa word met veelvoudige sklerose gediagnoseer, maar ten spyte van sterk uitdagings bly die karakters steeds, teen beter wete, aan hul geloof kleef. Hoe antwoord God in die donkerste van persoonlike beproewinge? Of miskien liewer net: hóé antwoord God? Die karakters worstel nie alleenlik met uitdagende omstandighede nie, maar kry ook te make met hulle religieuse verskille.

Dogma beklemtoon ook die baie belangrike skeiding tussen geloof en religie: religie as oorbodig, met tierlantyntjies en oorgekompliseerde reëls, en geloof as iets waarvan mens nie so maklik kan wegstap nie, ongeag hoe uitdagend die omstandighede. Religie as iets waarvan die roetine ’n kruk word, en geloof as iets egs waarin daar ook ruimte bestaan vir bevraagtekening en worsteling met God.

Olwagen skep met die produksie ’n fyngenuanseerde teks wat met deernis en sensitiwiteit ’n baie belangrike onderwerp in die Afrikaanse kultuur ondersoek. Sy gebruik van beweging, tablo’s en storievertelling gee besondere detail aan die produksie. Hy slaag daarin om die produksie met gebruik van hierdie mediums samehangend te laat vloei. Die uitnemende geselskap vertel met groot sukses die besonderse verhaal. Elke karakter is in die grootste besonderhede verfyn om aan die produksie ’n noemenswaardige eerlikheid te gee. Teks, regie en spel skep tesame ’n onpretensieuse produksie wat ’n opregte verhaal kom vertel.

Dogma was tot 5 April 2014 by die KKNK te sien. Hou egter ’n oog daarvoor oop by volgende kunstefeeste en op plaaslike verhoë.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top