Fiksie-kompetisies | Fiction Competitions

 
Kersverhaal-kompetisie: Kersfees met hom
Waar sy vroegoggend na die kombuis sluip, voel sy die verlange brand.


Die pyn in haar bors skud sy diepe sugting af.

Haar oog vang die tafel. Wit en silwer was die tema wat sy gekies het. Die duursaamheid op haar oorlede ma se wit tafeldoek klimaks tot mooi. Hier en daar ’n rooi kruldraad in die lang regop houers. Vir werklikheid van onthou.

Gisteraand het sy eers die pakkie toegedraai. Met silwer papier en ’n wit lint kruis en dwars daarom.

Ferm het haar vingers gewerk, nes sy hande.

Weke lank het sy gesoek na die beste en die duurste vir hom.

Versigtig het sy die geskenk op die leë wit bord geplaas. Net haar gesig het daarin weerkaats.

Dis hulle eerste Kersfees saam ... nadat ... hulle ... so voel. .

Die reuk van die eend laat haar vinnig omdraai. Dis met dikword in haar keel dat sy gaan red.

Alles is nou reg vir Kersfees saam met hom.

Wanneer sy die sagte materiaal oor haar liggaam laat glip, voel sy dit.

Mooi woorde en murmelgeluide wat haar vel laat warm voel. Oomblikke van verrukking wanneer hy haar liefkoos met sy blik.

Versigtig het sy elke liefdesgebaar of aanraking in ’n mooi pakkie toegedraai. Hierdie geskenksakkies was nog nooit vir haar nie. Toedraai het sy eie bekoring.

Vir ’n sekonde gee sy haar oor aan onthou. Maria wat haar kindjie toedraai in doeke. ’n Beeld van ’n jong meisie met ’n pasgebore babatjie wat sy toedraai.

Die volgende beeld kom sit egter op die krop van haar maag.

Die man aan die kruis is oopgevlek en die doeke is af.

Skuldgevoelens maak plek vir verwagting. Soos waterkanne sonder bodems bly sy dit vol gooi. Kundig wend sy haar grimering aan.

Nog ’n bietjie blou bo en onder. Hy kyk so priemend in haar oë. Sy het dit weer gevoel toe hy haar styf vasgehou het. Dit was soos die doeke en die geskenkpapier omgevou.

Die beeld van die baba in doeke toegevou en nou van die kruis sit sy te vinnig eenkant. Dalk kan hulle môre ophou.

Hy is so genoeg vir die nou.

“Ek voel skuldig.”

“Die kinders en sy mag nooit weet nie.”

“Ons sal die ding moet stop.”

Dan het sy nog ’n pakkie toegedraai en gegee, weer en weer.

Net na Kersfees het sy belowe, maar dan moet jy hier kom eet. Dis al wat ek sal hê ... net een Kersfees.

Die middag laat kan sy dit nog hoor – die engelesang.

Gemeng met vrolike klanke wat uit die woning kom. Water wat klots soos iemand in die water inspring.

Die pakkie is klein genoeg om in die posbus te pas. Hy sal dit kry en hy sal weet, al is daar nie ’n naam op nie.

Terug by die huis slaan sy haar Bybel oop by die verhaal. Dit swem voor haar oë. Die doeke word die kruis en die leuen die waarheid. Die geskenk word gestroop van papier. En die kruis groei en groei vir haar maar ook vir hom ...

Die man streel liggies maar ferm oor die handgemaakte kruis.

Sy mooi vrou praat onhoorbaar sag.

“Wie sou ’n naamlose Kersgeskenk in ons posbus sit?”

 

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address