Kersverhaal-kompetisie: Die apteker

  • 0

Hy stap by die apteek in, en ignoreer blatant die man wat by die deur by hom geld bedel. Met ’n inderhase wegkom-aksie, weg  van die bedelaar se stem, loop hy die Kersboom onderstebo. Die geklingel van klokkies laat hom sy fronskop vashou en die blinkskitter van balle wat rol verblind hom en dryf hom tot verdere irritasie op hierdie snikhete Desemberoggend.

Die heeldag spook die man se woorde by hom: “O ja, jy’s mos die apteker met die swart hart.” Net voor toemaaktyd lui sy foon: “Pappa, kan ek kom hallo sê vanaand?” “Ek het nie vir jou geld nie,” is sy antwoord aan Danika, dogter en dwelmverslaafde.

Die apteker sluit die motor se enjin af as hy voor die huishek stop. Daar staan sy. Sy glimlag vir hom van buite terwyl hy bly sit, en hy kyk streng uit na haar deur die toe motorvenster. Met ’n intense, lang en indringende oogkontak draai hy stadig die venster af, soos die ligtheid in haar oë hom groter laat glimlag. Haar kop val agteroor en sy lag opgewonde en luidkeels. Hy pluk die deur oop en gryp haar huilend vas. “Jy is regtig skoon!” sê hy tussen haar hare deur. “Ja Pappa, ek het jou Kersfees-offer van verlede jaar gaan opeis en myself gaan inboek daar.”  

Dis nog lig as hulle uit die restaurant stap ná die vieringsete, toe ’n bedelaar vir ’n paar sent vra met ’n  “dis Kersfees, meneer”-argument. “Nee!” skree die apteker en draai weg, maar sy dogter raak sag aan die man se arm en oorhandig haar oorskiet-restaurantpakkie aan hom. “Pappa,  die kleinste Kersgeskenke kan mense se lewens verander.”  Hy glimlag sagkens af na haar helder gesig. “Ja, jy’s reg,” sê hy terwyl hy sy jas oopknoop langs die motor. “Sjoe, ek weet nie hoekom het ek hierdie swart jas aangetrek vandag nie – dis eintlik so warm.”
 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top