Karoo-bekoring

  • 0

In die Karoo leer jy fyn kyk. Die mooi is ’n bietjie dieper weggesteek.

Wanneer ‘n mens self in die gasvryheidsbedryf jou brood en botter verdien, raak jy ‘n meester met vinnige wegbreke. Ons kan saam met Lize Beekman sing oor Oujaar in Nieu-Bethesda: dit het ons in 2013 beleef. Die lanternstap was ‘n goeie manier om die Oujaar mee af te sluit. Indien jy vooraf bespreek, ontvang elke stapper ‘n lantern. Die roete begin en eindig by die kultuursentrum. Hier word jy ingewag met ‘n heerlike bord braaivleis en gemmerbier vir die dors.

2014 het ons gekies om Kersdag op Nieu-Bethesda wakker te word. Vanaf Victoria-wes kronkel die pad verby die Vallei van Verlatenheid; ‘n natuurlike nasionale monument. ’n Stop by Gideon Scheepers se gedenknaald is ‘n opsie. Scheepers is gedurende die Anglo-Boereoorlog deur die Engelse tereg gestel, maar sy liggaam is nooit oorhandig nie. Hy is iewers in ’n onbekende graf begrawe. Albei genoemdes vind jy net voor jou wiele Graaff-Reinet binne ry.

Die natuurskoon tussen Graaff-Reinet en Nieu Bethesda is ‘n fotograaf se droom. Met die laaste kronkel bergaf, wag De Toren padstal jou in. Dis ook hier waar ons Kersdag ‘n heerlike koue ete onder die bome sou nuttig.

Reeds met die binnery in die dorpie is dit duidelik dat alles en almal hier welkom is. Skape en donkies langs die pad het ’n verwelkomingskomitee gevorm. Oral was honde-eienaars met hul troeteldiere op wandeling ook te sien. Niemand was haastig nie.

Ons blyplek vir die nag was ‘n drie-vertrek eenheid aan die eienaar se huis. Ongelukkig moes ons vir ‘n plekkie meeding met die spinnekoppe en miere, maar die interessante dekor het ons aandag van die indringers (dalk het hulle dieselfde oor ons gevoel) afgetrek. Die sitkamer se mure is met boekblaaie uitgeplak en in die badkamer het ‘n ou groot, groen spoorwegmat diens gedoen met SAR wat sierlik daarop pryk. Teen die muur is ‘n spoorwegrak aangebring vir pakplek. Manlief het dadelik tuis gevoel. As student het hy vakansies op die spoorweë gewerk om sy studiegeld aan te vul.

Ten spyte van die feit dat dit Oukersdag was, het ons enkele restaurante in die dorp wel oop gevind. Alhoewel by een ’n aandete aangebied is teen R280 per kop, het ons verkies om ons soutbeskuitjies, olywe en bokmelkkaas onder die sterre te geniet. So nou-en-dan is die stilte deur ‘n hond se geblaf of die skiet van ‘n klapper versteur. Met ‘n laataandwandeling deur die strate het vrolike liggies en oop deure tekens van lewe getoon, maar die dorpie was in stilte toegevou. Dit was asof ’n mens die sterre kon hoor praat.

Kersoggend het stil aangebreek. Aangesien ons blyplek nie toegerus was met ‘n kombuis of yskas nie, is huis-skons en koffie vir ontbyt genuttig. ’n Rukkie voor die aanvang van die erediens het ons ons sitplekke ingeneem. Rondom die kerk het perde rustig gewei; heel gepas met die Kersverhaal in gedagte. Meer as een eienaar het hulle honde saamgebring na die erediens. Dit was nogal ’n eerste vir my. Foto’s (wat definitief hul weg na facebook of whatsapp gevind het), is selfs as bewys geneem dat woefkind ook daar was. Soos in menige Karoohuis is garingbome, met liggies in die kerk as kersbome ingespan. In die gees van Kersfees is die kleiner kinders na die erediens met geskenkies bederf. Te lekker!

Ook die inwoners se vervoermiddele is, nes die dorp, uniek. Na die diens het ‘n oupa en ouma met hul kleinkind ‘n motorfiets met sidecar bestyg. Kleinkind se maatjie wou ook saam. Met almal aan boord het die motorfiets egter ‘n paar mensehande nodig gehad vir ‘n goeie wegspring. Wuiwend is hul weg om Kersdag verder te gaan geniet.

Aan die oorkant van die kerk het ‘n ou tjorrie sy laaste rusplek gevind; nou beskilder en met ’n naamplaat wat lees Roesemaat. Ook die tuine getuig van ongereptheid.

Onsself het die tyd verwyl om deur die strate te dwaal. ’n Ma en twee kleuters, piekniekmandjie in die hand, het koers gekies berg se kant toe. By ’n restaurant kon ons lui-lekker ’n koppie koffie geniet. Aan die oorkant van die restaurant is die bekende Uilehuis waar Helen Martins gewoon het. Dit is die einste huis wat Nieu Bethesda bekend gemaak het. Behalwe vir Kersdag is dit elke dag van die jaar oop vir toeriste.

Verskeie kunstenaars het nes geskrop in die mooi dorpie wat deur die Kompasberg omring word. Behalwe vir ’n groot verskeidenheid ateljees op die dorp, is daar ook ’n fossielsentrum wat menige se belangstelling prikkel. Alhoewel ek nie ’n vreeslike fliekvlooi is nie, weet ek darem dat Athol Fugard van sy bekendste werke op Nieu Bethesda geskryf het.

Tydens ons besoek is my aandag getrek deur ‘n plakkaat wat ‘n Pampoendag in April 2015 aankondig … definitief iets anders. Markdae word ook elke eerste Saterdag van elke maand gehou. Alhoewel dit vir besoekers mag lyk of die tyd stilstaan, is die dorp en sy inwoners beslis nie aan die slaap nie.

Besoekers aan die dorp moet wel kennis neem dat daar geen banke, kredietkaartfasiliteite of petrolpompe is nie. As Pa dus wil seker maak Vroulief spandeer nie te veel nie, kan hy veilig speel en net genoeg kontant saambring. Hier werk die towerkaarte nie.

Ons laaste stilhou was by De Toren-plaas en -padstal. Vrolike tafels is onder die bome gedek waar ons vir middagete kon aansit. Soms is ons gejaag deur die son, maar daar was genoeg helpers om gou die tafel te skuif. Die ete was ‘n familie-spanpoging: Pa, Ma en die twee dogters het self die gaste bedien.

Om Kersdag op die pad te wees is elke motoris se droom. Selfs ’n kleuter se telvermoë is gevorderd genoeg om die paar karre te tel.

Om ’n besoek na Nieu-Bethesda te beplan is baie gerieflik deur van accommodation@nieu-bethesda.com gebruik te maak. Katrin het meestal die antwoorde op alle vrae; indien nie, sal sy vir jou uitvind.

Die dorpie is voorwaar ’n besoek werd. Dit laat jou wyd kyk, diep kyk, in kyk. Pure Karoo bekoring…

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top