Kaapse liedjieskrywers leer by Luna, Koos en Hunter

  • 0

Daar is 'n hele paar musikante wat enigiets sou gee om saam met legendariese liedjieskrywers soos Hunter Kennedy, Luna Paige en Koos Kombuis om 'n tafel te kan sit. Daarom het Sanlam en LitNet besluit om 'n liriekskryfwerkswinkel vir amateur-liedjieskrywers en musikante as deel van die Sanlam Sing 'it-kompetisie aan te bied.

Paul Bothner Music is een van Sing 'it se amptelike borge en het die venue verskaf. So tussen die kitare en klawerborde kon die groep musikante hulle kreatiewe denke vrye teuels gee. En dit met Hunter, Luna en Koos as mentors vir die dag!

Liriekskrywers van oraloor het die geleentheid bygewoon. Frans Koekemoer, 'n musikant van Port Elizabeth, het spesiaal vir die geleentheid afgevlieg Kaap toe en deelnemers het verlof ingesit om die oggend se bedrywighede by Paul Bothner Music in die N1 City-winkelsentrum by te woon.

"Dit is wonderlik om te sien hoe opgewonde en entoesiasties die deelnemers was," sê Luna Paige, wat gereeld soortgelyke liedjieskryfsessies in Stellenbosch aanbied.

Die deelnemers het ywerig geluister na Koos en Hunter se ervarings van die liedjieskryfproses en die musiekbedryf. Koos en Hunter is albei legendes, uit verskillende generasies, en die deelnemers het talle vrae gehad.

"Ek vergeet dat wat vir my vanselfsprekend is met betrekking tot die bedryf, nie noodwendig algemene kennis is vir diegene wat nie elke dag daarmee te doen het nie," het Hunter gesê.

Luna het ook 'n handleiding met wenke en riglyne vir LitNet saamgestel, wat tydens die sessie aan deelnemers gegee is. "Ek dink Luna se handleiding is spot on!" sê Hunter, wat ook 'n kopie huis toe gevat het.

En alhoewel die konsensus was dat daar nie eintlik 'n enkele suksesresep vir musikante bestaan nie, het Koos ook bevestig dat hy wel verskeie boksies op Luna se lys ge-tick het.

Daar is aan elke deelnemer die geleentheid gegee om individueel met die musikante te sit en gesels oor hulle eie lirieke en liedjies. "Sing 'it se deelnemers kort definitief bietjie leiding om hulle lirieke struktuur te gee," sê Hunter. "Daar was deelnemers wat definitief 'n toekoms het as hulle hulle kaarte reg speel."

Hunter, Luna en Koos was verbaas deur die goeie-gehalte lirieke wat die liedjieskrywers met hulle kom deel het. Die dapperes in die groep het hul kitare ingespan tot hulle musiekhelde se vermaak. "Daar was 'n paar lirieke wat ek dadelik as liedjies in my kop kon hoor," sê Hunter. 

Koos Kombuis was só beïndruk met een van die deelnemers se liedjies dat hy hom genooi het om in die toekoms 'n voorskou vir een van sy shows te lewer. "Ek was heeltemal oorstelp en ek hoop ons kan in die toekoms saam speel," het Frans Koekemoer na afloop van die geleentheid gesê.

Luna was mal oor  een van die deelnemers se rap-lirieke, alhoewel sy nie veel van die genre weet nie. "Hy het verstaan hoe songs werk," sê sy. "Hy het inspirerende temas in sy musiek en kan nog betekenisvolle werk lewer as hy daaraan werk."

"Mens kan nooit genoeg geleenthede vir liedjieskrywers skep om aan hul tegniese vaardighede te werk nie," sê Luna.

Die volgende Sing 'it-liriekskryfsessie vind op 28 September in Johannesburg plaas. Luna Paige sal weer eens die sessie lei en daar sal geleentheid wees vir liedjieskrywers om individuele terugvoer oor hul liedjies te kry. Een van Sing 'it se vorige deelnemende kunstenaars, Louise Carver, en die kwaito-legende Mzambiya is die gaste tydens hierdie geleentheid. Om te bespreek, stuur 'n e-pos na singit@litnet.co.za, of skakel 021 886 5169. Daar is beperkte sitplekke beskikbaar en kaartjies kos R300.

Koos Kombuis

 

Luna Paige, Maryna Blomerus, Clive Barnett en Koos Kombuis.

 

Die werkswinkel het by Paul Bothner Music se N1 City winkel plaasgevind.

 

Hanno Visser, Hunter Kennedy en Wessel Janse van Rensburg

 

Andrea Jensen is 'n gospelsangeres van Bloubergstrand.

 

Koos Kombuis deel staaltjies uit sy loopbaan.

 

Van links: Hunter Kennedy, Wessel Janse van Rensburg, Merlon Ndzimande, Clive Barnett, Quentin du Plessis en Tiaan du Toit

 

Clive Barnett en Luna Paige bespreek Clive se lirieke.

 

Tiaan du Toit het sy kitaar saamgebring. Hier sit hy en Hunter en gesels oor sy liedjies.

 

Fotos: Chrizane van Zyl

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top