Jake Gunn: "Die kitaar sit my elke dag ore aan"

  • 0

Jacques Groenewald, ook bekend as Jake Gunn, is een van die mees vaardige jong kitaarmanne in die land en het ’n debuutalbum agter die blad. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Jacques. Hoe’s dinge?

Goeiedag, Henry. Baie goed dankie. Dis ’n besondere voorreg om met LitNet te gesels.

 

Jou debuutalbum, Triple Jack, is in 2012 opgeneem en later met die vrystelling uitstekend ontvang, onder meer deur Rolling Stone. ’n Debuutalbum sorg mos soms vir ’n bietjie van ’n love/hate-verhouding – hoe voel jy terugskouend oor die album? Waarop is jy besonder trots, en wat sou jy anders doen as jy môre moes oor begin daarmee?

Jy is heeltemal reg. Om eerlik te wees, ek luister nie juis baie na die album nie, juis oor die storie, alhoewel ek die songs speel. Natuurlik is daar ’n paar dinge wat ek nou sou anders gedoen het. Maar ’n ou moet seker nie te krities terugdink nie en dit meer as ’n leerproses sien. Dis maar ’n snapshot in tyd, seker.

Die album is besonder divers … van klipharde kitaar- en bekfluitgedrewe blues-snitte soos “Dust my broom” tot meer melankoliese ballades soos “Honey and Gold” – alles is daar. Was dit deel van jou benadering tot die album, om ’n diverse produk met ’n klomp musikale avenues te skep? Waar kom die songs vandaan?

Ek dink nie ek het doelbewus ’n diverse album probeer maak nie. Dis maar wat uit die pen gekom het op daardie stadium. Waar kom die songs vandaan? Hier is van hulle: "Radio mojo" gaan oor ’n dude wat net wil kitaar speel en reis en die highways wil verken. "Rosie" is oor ’n vrou wat begrawe is onder ’n roostuin en elke jaar haar verskyning maak in blommetyd in ’n blombak, haha. “Rebel soldier” gaan oor die oorlog in Libië en is eintlik baie van toepassing nou met al die oorloë en dinge wat aangaan.

Dit is geen geheim dat jy uiters, uiters vaardig is met ’n kitaar – énige kitaar – in die hand nie. Die versoeking is dan seker daar om, veral met ’n debuutalbum en ’n loopbaan wat aan die afskop is, die instrumentwerk op die voorgrond te plaas, met lirieke en vocal werk op die agtergrond. Dis egter beslis nie wat jy gedoen het nie. Wat is jou filosofie rondom die verhouding tussen instrumentwerk, vocal werk en lirieke? Wat moet hulle vir mekaar doen, en hoe laat jy wat Jacques is, dit wérk wanneer jy gaan sit om ’n liedjie te skryf?

Wow, thanks man! Maar ek ag myself as ’n beginner op die kitaar. ’n Ou leer mos maar die ding speel jou hele lewe lank. En glo my, die kitaar sit my elke dag ore aan. Ek’s baie lief vir hulle. Hulle is my girlfriends. Kwaai, gemeen, pragtig, sexy, vol dinge en grille soms, maar hulle los my nie en het nooit hoofpyn nie, jy weet, haha. Uhm, ek dink die instrumentwerk is baie belangrik, net soos die lirieke en vocals. Soms kan ’n ou wegkom met minder goeie lirieke as die rif cool is. Melodieë is ook ’n kragtige aspek van die hele ding.

Die eerste keer toe ek jou sien optree het, was dit saam met Piet Botha. Jy het ook volgens Jake Gunn se Facebook-blad ’n geruime tyd saam met Piet en die Akkedis-ouens opgetree. Ek dink nie ek verbeel my as ek heelwat Piet-invloede in jou songs (akkoordstrukture, melodieë, algemene vibe!) hoor nie. Wat het jy by dié veterane geleer, en hoe het hulle jou as musikant geshape wat vaardigheid en “attitude” tot die loopbaan en die plaaslike musiekbedryf betref?

Ja dis waar. Toe ek 11 jaar terug Piet Botha se albums in die hande gekry het, het my lewe verander. Ek kon nie ophou luister nie. Ek het vir Piet en Johnathan Martin tien jaar terug ontmoet by ’n fees in Vredendal. Ek het deur ’n doringdraad gekruip om my heroes te ontmoet en vol bloed backstage by hulle aangekom. Daar het als begin. So daar is baie invloede van Piet en die Jack Hammer band. Dis die musiek wat my nog al die tyd move. Ek het die wêreld se respek vir Piet. Akkedis was ook nog altyd een van my gunstelinge. Arthur Dennis is ’n meester op die kitaar en het ’n unieke styl. Ek het al baie van sy licks gesteel en ek het ook onsettend baie by hom en Rudi geleer oor die jare. Hulle almal is rock ’n roll soldiers wat musiek maak reguit uit die hart sonder ego’s.

Gepraat van invloede … Dit moet ’n interessante dinamiek wees wat in ’n mens se kop gebeur wanneer ’n debuutalbum met so ’n sterk blues-rock-inslag beplan word. Aan die een kant wil jy in die gevestigde style en strukture jou vaardighede bewys, aan die ander kant wil ’n mens iets uniek doen. Het jy dit enigsins so beleef? Wat hoop jy sê mense wanneer hulle praat van Jake Gunn se musiek, in terme van hoe dit ánders is en dus gehoor móét word?

Hierdie is ’n moeilike een. Ek’s ’n groot fan van die ou blues dudes, vanaf Robert Johnson, Muddy Waters, Buddy Guy tot Eric Clapton ens ens. En natuurlik The Rolling Stones en Willie Nelson. So die invloede kom seker van al die ou cats af. Om jou eie unieke klank te kry kom seker met tyd en deur die musiek te skaaf en te polish. Ek wil maar net kitaar speel in ’n band en saam met ander dudes tot die beste van my vermoë. Ek wil die musiek altyd eerlik hou en dit doen vir die regte redes. Rock ’n roll is groter as wat ek te sê het.

Jy tree dikwels solo op, maar het ook ’n voltal bandlede in die seile met wie jy dikwels die verhoog deel. Watter van die twee optreestyle – solo of met vol band – verkies jy? Of eerder, wat is die pro’s en cons verbonde aan die onderskeie vibes soos jy dit beleef?

Ek tree nooit alleen op nie. Dis nie juis my ding nie. Ek verkies om saam met ander kitaarspelers te werk. Die vol band is altyd ’n jol. Kyk, dis altyd lekker om die Marshall en die Fenders aan die gang te kry saam met die band en te gooi. Dan doen ons die akoestiese shows. Dis nou weer ’n ander storie. Die akoestiese kitaar is ’n eerlike instrument. Moeilik om te kies tussen die twee. Desember gaan ek en Johnathan Martin ’n toer langs die kus af doen. Dis iets waarna ek baie uitsien. Twee akoestiese kitare. Two sailors and one highway.

Jy het al jare se gigs, toer en recording agter die rug, oor die land heen – enige spesifieke hoogtepunte wat uitstaan? Enige staaltjies, gebeure of venues wat jy eerder sal wil vergeet?

My hoogtepunt is ongetwyfeld die dag toe Piet my gebel het om saam met hom te speel. Dit was spesiaal. Daar is nie juis iets wat ek eerder wil vergeet nie. Ek wens ek kon meer onthou het, eintlik, maar laat nagte raak die film soms op ... hehe.

Wat hou die nabye toekoms vir Jake Gunn (met en sonder band) in?

Wel, om net aan te hou musiek skryf, gig, gig, gig en om my girlfriends beter te leer speel.

Wat is die sin van die lewe?

Ek’t geen idee nie, om eerlik te wees. Maar ons het net een, so ek scheme moerit.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top