LitNet Akademies-gespreksruimte | Seminar Room

 
Regsmening: Geld soos bossies uit die ou verlede
Owen Dean en Cobus Jooste skryf oor hoe outeursreg die voorgeslagte se kunswerke beskerm sodat almal, regsgeleerde of te nie, dit kan verstaan.

Die Iziko Galery vir Suid-Afrikaanse Kuns huisves tans ’n eeufees-uitstalling wat die lewe en werke van Barbara Tyrrell ten toon stel. Barbara Tyrrell is ‘n bekende Suid-Afrikaanse outeur en kunstenaar wat gekenmerk word deur haar werk van historiese gehalte, uitsonderlike dekoratiewe waarde en kwaliteit. Die uitstalling bestaan uit sowat 150 noukeurige visuele voorstellings van tradisionele uitrustings, inheemse kleredrag en bybehoorsels.

In die jare vyftig en sestig het Tyrrell ’n toer deur Suidelike Afrika onderneem ten einde soveel as moontlik van die inheemse stamme wat die gebied bewoon het, se tradisionele uitrustings en monderings te skets. Tydens dié tog het sy talle sketse gemaak, waarvan ’n groot aantal later as die onderwerp vir haar skilderye gebruik is. Die uitstalling van haar werk is ’n wonderbaarlike versameling van helder kleure en ’n rekord van die veelsoortigheid in tradisionele drag en persoonlike versierings. Hierdie versameling werke is ’n eiesoortige katalogus van tradisionele Suid-Afrikaanse kunswerke met klerasie en uitrustings as onderwerp, en waarskynlik ’n unieke rekord van opreg tradisionele Afrika-kuns. Haar werk word tans ingesluit as deel van die Campbell-versameling aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

In die loop van die optekenproses het Barbara Tyrrell verskeie stamgebiede, vestings en inheemse dorpe besoek en met lede van verskeie stamme omgegaan sodat sy die sketse en skilderye met hul samewerking en toestemming kon maak. Hierdie werke is op ’n informele wyse gemaak in ’n ontspanne luim sonder onnodige formaliteite of burokratiese struikelblokke. Sy het eenvoudig deur die landskap gereis en opgeteken wat sy op haar besoeke teengekom het. Op hierdie wyse is ’n waardevolle kultuurskat vasgevang en bewaar as geskiedkundige versameling. Sy is nou in haar honderdste lewensjaar en haar werk sal vir minstens nog 50 jaar outeursregbeskerming geniet.

Blaai nou die kalender sowat 60 jaar vooruit na die jaar 2014. Teen hierdie tyd is die Wysigingswet op Intellektuele Goederewette, wat die parlement in 2011 goedgekeur het, waarskynlik reeds van krag. Hopelik het president Jacob Zuma ook intussen ’n tydelike blaaskans van sy huwelikspligte geneem om hierdie wet te onderteken, saam met al die ander wette wat in 2011 uitgevaardig is.

Gevolglik is die Wet op Outeursreg en verskeie ander wette gewysig om voorsiening te maak vir sogenaamde “inheemse kennis” as gedaante van intellektuele goedere. Vanuit die outeursreg beskou verwys dit na uitdrukkings van volksoorleweringe, asook, meer in die besonder vir die huidige geval, tradisionele artistieke werke. Derhalwe vestig outeursreg terugwerkend in tradisionele kunswerk uit vanmelewe se dae en vooruit tot in ewigheid. Sodoende word hierdie kultuurskatte omskep tot kommersiële artikels met eiendomswaarde wat as ’n bron van inkomste aangewend kan word. Boonop is al die geriewe wat deur die wysigingswet tot stand gebring  is, reeds ingerig en die meegaande liggame op die been gebring. Dus beskik ons nou oor ’n verhewe liggaam genaamd die Raad op Inheemse Kennis, ’n Tradisionele-kennis-trust wat as ’n trustfonds funksioneer, en ’n Nasionale Databasis met die veronderstelling dat dit die tradisionele-outeursregbedryf sal reguleer deur ’n register van elke liewe werk van inheemse kennis te onderhou. Hierdie entiteite word deur ’n enorme aantal personeellede beman (waarvan die meerderheid genoegdoening vir een of ander politieke skuld geniet) en die florerende burokratiese orgaan is hard aan die werk. Die nasionale werkskeppingsdoelwitte is effektief ondersteun (maar word enigiets werklik gedoen of geskep? Ag wat.).

Ieder en elke werk van inheemse kennis, en spesifiek inheemse kunswerk, is nou die onderwerp van outeursreg ongeag wanneer (dalk honderde jare gelede), hoe of deur wie dit geskep is. Dit bly egter steeds ’n duister saak wie, of wat, die “gemeenskap” is wat hierdie outeursreg besit. Hetsy dit ’n uitgebreide familie, sibbe, stamgroep, bende, bevolking, kultuur of nasie (soos die Zoelos as geheel) is – wie sal weet? Hoe dit ook al sy, die outeursregeienaar (die newelagtige “gemeenskap”) is by magte om tantieme te hef alvorens die reg verleen sal word om reproduksies van hierdie kunswerke te maak. Dieselfde geld natuurlik ook in gevalle waar die verspreiding van sodanige afskrifte beoog word. Lisensiëring van outeursreg is dus aan die orde van die dag – gevolglik moet die Raad op Inheemse Kennis die lisensieooreenkoms in wese (insluitend alle voorwaardes daarin vervat) goedkeur alvorens dit onderteken kan word. Die tantieme verskuldig vir gebruik van die werk kan daarna aan die Nasionale Trust oorbetaal word, waarna ‘n gedeelte daarvan (en ná vordering van administratiewe gelde) na die “gemeenskap” van oorsprong terug kan vloei, alhoewel dit nie noodwendig oorbetaal moet word nie. Die verbreiding van gevestigde tradisionele kultuur is nou ’n onderneming wat vir winsbejag bedryf word. Die bestemming van sodanige inkomste wat deur die tantieme gegenereer word, bly egter verberg.

Gewapen met haar (vooraf-) goedgekeurde, geskrewe, konsep-lisensieooreenkoms arriveer ’n hedendaagse Barbara Tyrrell op ’n dorpie in Oos-Griekwaland. Sy beoog om daar ‘n inisiasie-seremonie in aanskoue te neem ten einde die gebeure en kostuums van die deelnemers as sketse of skilderye vas te vang. Sonder twyfel sal sy ’n toegangsfooi moet betaal om die seremonie by te woon, aangesien “tradisionele optredes” nou onder die Wet op die Beskerming van Voordraers beskerm word. Verder word spesifieke toestemming (wat teen ’n prys verleen kan word) vereis om enige soort opname van die gebeure te maak. In die geval waar die betrokke gemeenskap ’n invorderingsgenootskap aangestel het om hul geldsake te hanteer, ’n fasiliteit waarop die gemeenskap geregtig is, sal Tyrrell met die genootskap moet onderhandel. Indien so ’n genootskap nie bestaan nie, sal sy met die “gemeenskap” self (afsonderlik en gesamentlik) moet onderhandel, wie ook al dit mag wees. Gestel dat onderhandelinge op ’n ondertekende lisensieooreenkoms uitloop, sal sy by regte wees om een of meer sketse of skildery te maak van wat sy waarneem, onderhewig aan die voorwaardes van die lisensie. Verder word ’n lisensie vereis in elke opsig vir iedere werk wat gereproduseer word, en sy móét uit die staanspoor weet hoe sy moontlik die sketse of skildery sal wil aanwend, aangesien dit die bepalings, en koste, van die lisensie(s) mag beïnvloed.

Onder meer is een van die grootste struikelblokke in Tyrrell se geval die vraag watter “gemeenskap” die eienaar van outeursreg is. Volgens die wysigingswet is dit die gemeenskap waar die werk oorspronklik tot stand gekom het. Aangesien enige gemeenskap (wat dit ook al sou wees) by magte is om, deur middel van ’n subjektiewe ondersoek, te bepaal watter werke as hul tradisionele werke beskou kan word, is dit hoogs waarskynlik dat meer as een gemeenskap outeursreg in ’n bepaalde werk kan, en mag, eis. Dus bestaan die moontlikheid dat Tyrrell vasgevang sal word in ’n geskil tussen verskeie gemeenskappe oor presies waar die oorsprong van die werk was. So ’n ondersoek sal waarskynlik die oorsprong van die werk etlike honderd jaar terug moet probeer vasstel. Was die werk eie aan die Zoeloe-gemeenskap, of is dit van Xhosa-herkoms? Is dit dalk deur oorlewing deur die Zoeloe-gemeenskap vanaf ‘n Xhosa-gemeenskap ontleen, in welke geval elke gemeenskap die outeursreg in seker aspekte van die inheemse werk sal besit? ’n Raadsame Tyrrell sal vereis dat die gemeenskap (watter een dit ook al is) waarmee sy uiteindelik ’n verbintenis sluit, aan haar ’n waarborg gee dat hul wel die outeursreg in die werk regmatig beheer, asook ’n vrywaringsonderneming teen enige aanspreeklikheid deur ’n derde party wat teen haar gemaak mag word. Sy sal inderdaad die beste daaraan toe wees indien sy haar intellektuele-goederereg-prokureur saamsleep op reis sodat sy die nodige advies oor elkeen van die ontelbaar menigte tradisionele werke op die plek kan ontvang. Andersins staar sy die gevaar in die gesig dat sy, ondanks ’n lisensie, steeds die outeursregte van iemand mag skend en daardeur aanspreeklikheid vir skadevergoeding oploop.

Dit is te verstane dat indien die hedendaagse Barbara Tyrrell ook wyd en syd reis en meer as 150 werke produseer (soos haar voorganger gedoen het), sy onder tydsdruk sal wees om al die komplekse regs- en kommersiële strydvrae uit te stryk. ’n Aardige mate van toekomsbeplanning sal aan die ekspedisie afgestaan moet word om te verseker dat sy toegerus is met al die nodige, voorafgoedgekeurde, geskrewe lisensieoorkomste wanneer sy op die toneel aankom. Niks meer ronddwaal in die platteland of omswerwe tussen die inheemse “gemeenskappe” nie. Dit het nou skielik alles baie ingewikkeld geword.

Gegewe die gefoeter daaraan verbonde, kan jy nie anders as om te dink dat ’n hedendaagse Barbara Tyrrell, of enigiemand wat by sy/haar volle verstand is, nie so ’n projek vir enige geld ter wêreld sal aanpak nie. Dit sal egter ’n groot hartseer wees indien sy besluit om nie die reis te onderneem nie, aangesien dit sou beteken dat geen rekord geskep sal word nie, en dit van kostuums wat oor die ganse nasionale grondgebied gebruik word. Oorweeg dus die kultuurhistoriese verlies wat sou volg indien Barbara Tyrrell destyds ook verhoed was om haar projek aan te pak.

Daar bestaan wel ’n mate van gerusstelling vir die hedendaagse Tyrrell, alhoewel dit maar ’n skrale troos is. Die logistieke probleme kan moontlik aangespreek word deur die feit dat ’n staatsbeheerde databasis van inheemse werke deur die wysigingswet in die lewe geroep is. Gevolglik het al wat leef en beef die moeite en koste aangegaan om elke werk van die betrokke gemeenskap te laat registreer as deel van die databasis. Daarom is omvattende besonderhede oor die werk en eienaarskap daarvan nou toeganklik met die druk van ’n knoppie. Per slot van rekening is hierdie duur en omvattende databasis tog immers, op staatsonkoste, ontwikkel met persone soos Barbara Tyrrell in gedagte, en sal dit ’n jammerte wees indien dit nie gebruik kan word tot voordeel van sodanige individue nie. Die wysigingswet is tog op die ou end versiende en vindingryk. Hoekom sou landelike inheemse gemeenskappe dan die moeite ontsien om hul omvattende portefeulje van inheemse werke in Pretoria te registreer? Stellig sal dit mos hul gevestigde inheemse werke in ’n kits omskakel tot ’n bron van onmeetlike rykdom. Indien dit al is wat nodig is om hierdie skatte te ontgin, wie sou dan skrik vir die ontsaglike koste verbonde aan die registrasieproses?

Die merkbare verskille in die werkswyse van ‘n hedendaagse Barbara Tyrrell en dié van haar voorganger in die 1950’s moet dus toegeskryf word aan ontwikkelings wat inheemse gemeenskappe in staat stel om hul antieke tradisionele erfenis te kommersialiseer. Deur inheemse werke in bedryf te stel kan dit vir winsbejag uitgebuit word, en gemeenskappe is nou by magte om hierdie rykdomme te bekom. Vanslewe se skatkamers staan nou wawyd oop.

Dit is nou lank nie meer nodig om enige nuwe werke te skep nie. Waarom nou die sweet aftap, talente gebruik en moeite maak om in die toekoms geld te verdien terwyl jy ’n inkomste kan genereer uit werk wat lank reeds gedoen is? Dit is dan soveel meer effektief om met die voorvaders se skaar te ploeg. Wie het in elk geval nou kreatiewe aansporing nodig om nuutskeppend te werk te gaan tot verryking van kuns en kultuur? In die reënboognasie is sakke vol geld begrawe in die verre verlede, aan die begin van die reënboog. Draai om en kyk terug, nie vorentoe nie!

En die toppunt van hierdie ironie? Sou die hedendaagse Tyrrell wel inheemse kunswerke afskilder, sal die outeursreg in haar werk na vyftig jaar verstryk en daarna, soos oudergewoonte is in intellektuele goederereg, in die publieke domein beskikbaar wees. Dan kan enigiemand dit ongehinderd en vryelik gebruik, aanpas en daarop voortbou. Daarteenoor oorleef die outeursreg in die inheemse kunswerke wat sy uitgebeeld het, vir altyd, en sal dit aanhou om ’n inkomste te genereer tot in alle ewigheid. So milddadig is die beskerming wat die gewysigde outeursreg bied aan die voorgeslagte se werk.

Miskien is daar op die ou end ook sakke vol goud aan die einde van die reënboog, mits dit ooit bereik word! Maar – en hier is die haakplek – is dit waarskynlik dat verstandige mense in die loop van hul sake eerder inheemse werke soos die pes sal vermy? Dalk is daar in werklikheid glad nie ’n reënboog te bespeur nie?

Hierdie is die vertaalde en verwerkte weergawe van materiaal wat op die Anton Mostert Leerstoel (US) se blog vir regskommentaar, analise en hersiening (IPStell) gepubliseer is.

 

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address