Into the red deur die Blues Broers

  • 0

Die verskeidenheid stemme, style en boodskappe maak die album Into the red ’n genot.

’n Mens hoor van tyd tot tyd ’n musikant moet nog “ontdek” word. Dis ook waar van die Blues Broers. Al jare al. Hulle trek mense en hulle hou gereeld gigs voor ondersteuners wat dit eens is dat hulle “groot moet gaan”. Maar om die waarheid te sê, jy besef ná genoeg luister hulle is rééds ontdek. Jý het hulle ontdek, en wat meer, moet jy jou luisterend afvra, wil jy hê?

Into the red is die tweede album van die groep wat ek beluister, hoewel hulle al sedert die vroeë negentigs bedrywig is. Die vorige een was Out of the blue, wat vir my lieflike hoogtes behaal het, veral in Simon Orange se “Everybody knows” en dan Rob Nagel se instrumentele nommer “De Aar”, waar hy sy slag met die mondfluitjie ten toon stel. Dis ’n stuk wat aan atmosferiese filmmusiek herinner. Daardie werkies het landskappe vir die oor geskep wat ’n mens ook in “Lonely kind of loving”, “Coal train” en die jolige “Stoned cold sober” kon raakhoor.

Met Into the red is Orange, Nagel en Albert Frost terug, hierdie slag bygestaan deur Jonno Sweetman op perkussie. Die produksieaanslag was anders, verduidelik Nagel op die CD-blaadjie. Die album is oor drie dae in die ateljee opgeneem, en wat ons het, is ’n album wat meer soos ’n gig klink as ’n ateljeeproduk.

Frost lei die vertoning met sy eie instrumentele maaksel in: “Into the blue”. Dis jolig en vinnig en die klanke van die trompet en Orange se keyboard word met vinnige steke om die kitaarspel gewerk. Frost is reeds bekend as een van die beste kitaarspelers in die land en liedjie na liedjie bevestig sy vaardigheid.

Orange sing “Slowly but Shirley” en kort daarna is dit Nagel met “Who’s that knocking?”. En hier begin vir my ’n interessante verskynsel. Dis deels tweestryd, deels samewerking, hierdie ding tussen Orange en Nagel wat beurte maak om voorsanger te wees, telkens elkeen vir sy eie komposisie.

Hoe oud Orange presies is, weet ek nie. Volgens inligting van die groep se publisiteitsbestuurder kom hy van die VK af, terwyl dit bekend is dat Nagel Duitse wortels het. Orange se stem klink jonk en sy temas is dromerig; en selfs wanneer hy oor die liefde lamenteer, weet ’n mens hy glo steeds vas in die verskynsel.

Met Nagel is dit anders gesteld. Hy klink ouer en sy stem is dieper en hy sing met ervaring van finansiële swaarkry en lewensleed en ’n siniese insig wat dalk net Teutoons van oorsprong mag wees. En oor die liefde voel ’n mens dat hy (in sy persona as musikant, in elk geval: in werklikheid is hy gelukkig getroud met die publisiteitsbestuurder) dit sal vat waar hy dit kry en bly sal wees daaroor, al moet ’n man dan soos in “Who’s that knocking?” soms moet hardloop dat jy klap omdat jou vriend se vrou by jou kuier en hy opdaag.

Temas en boodskappe wissel van ligsinnig na diep, soms in die dieselfde liedjie. In “Who’s that knocking?” koes die protagonis vir ’n Jehovasgetuie. “Fire and brimstone” vat evangeliste aan en vervang 2 000 jaar se dogma en voorskrifte met ’n eenvoud wat geen toewyding (of moontlik verantwoordelikheid) vereis nie: “Preacher, you know I’m a good man/ and I treat my neighbour well/ I don’t do anybody any kind of harm/ so why should I end up in hell?” Maar daar is ook frustrasie oor die feit dat ’n mens se eie oortuigings van ander s’n kan verskil: “So Mister Preacher/ pack your bags/ and leave us all alone./ Enough with the fire, enough with the brimstone/ and the guilt that is all your own/ and the fear that you have sown.” Die liedjie is in die vorm van ’n Amerikaanse “spiritual”, kompleet met opgeruimde koor.

Met “My black dog” is jy as luisteraar in diep waters. Dis hoe ’n neerslagtige bui daar uitsien, en jy weet sommer jy kom net daaruit wanneer jou geliefde laat weet sy kom met die trein terug. Of deur ’n hengse liedjie oor die toestand te skryf. Om die waarheid te sê is die liedjie so treffend dat ’n mens bekommerd is die trein kom dalk te vroeg en die here Frost, Nagel, Orange en Sweetman maak nie hierdie heerlike stukkie werk klaar nie.

Sweetman se perkussie is soos die mure om ’n mooi kamer in ’n kunslokaal: ’n mens is nie altyd bewus daarvan nie en tog bied dit die struktuur vir die uitstalling. Dit wissel genoegsaam af om elke liedjie nuut te laat klink. Vergelyk sy spel op “It’s getting worse” met wat hy net voor dit in “Fire and brimstone” gedoen het en jy kom agter die man is meer as “die ou in die kombuis met die skottels”. Goeie werk.

Die lekkerte van die album lê vir my in die verskeidenheid van stemme en style. Die album is nie hardekern-blues nie en die luisteraar verval nie in ’n melancholiedeurdrenkte stupor nie. Soms slaan daardie styl of ingesteldheid sterk deur, veral waar Nagel betrokke is met sy ryp stem en sy mondfluitjie wat voortborduur op sy lirieke en sy boodskappe die onsêbare indra sodat jy nie altyd seker is of hy tergerig, ironies of net pleinweg die hel in is nie. Maar dan luister jy na Orange wat so direk vir jou sing en op so ’n eintlik naïewe wyse dat jou luim heeltemal lig, so opreg klink hy. (Sy “Let it rain” verdien spesiale vermelding.) Ek moes dink aan Fleetwood Mac, wat ook meer as een voorsanger gebruik. Dit maak dat ’n mens nie sommer vermoeid raak met die album nie. Into the red ewenaar sy voorganger Out of the blue. Uiteindelik is dit die koop werd en jy sal weer en weer luister.

Die Blues Broers bestaan uit Albert Frost, Rob Nagel, Simon Orange en Jonno Sweetman. Die blaasinstrumente word bespeel deur William Haubrich, Ian Smith en Dan Shout. Melissa van der Spuy dra ook by tot die sang. Into the red is by Sunset Recording Studios opgeneem.

CD’s en inligting oor gigs kan verkry word by Maggie Nagel (maggie.nagel@gmail.com). Kommunikasie kan ook bewerkstellig word by www.bluesbroers.com, www.facebook.com/thebluesbroers en Twitter (@bluesbroers).

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top