Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in samewerking met die Hugenote Gedenkskool bied op Vrydag 11 April ‘n spesiale program aan ter viering van Internasionale Dag van Monumente en Terreine. Hierdie dag word jaarlikse wêreldwyd op of rondom 18 April gevier ná dit in 1982 deur die Internasionale Raad van Monumente en Terreine ingestel en in 1983 deur UNESCO aanvaar is.
Volgens Catherine Snel, Bestuurder van Erfenis en Opvoeding by die Afrikaanse Taalmuseum, is die doel van die dag om die publiek bewus te maak van hul diverse kulturele erfenis met die oog op die bewaring en beskerming van hierdie erfenis.
As deel van die program sal gaste drie erfenisterreine besoek, naamlik die Taalmonument, die Anglo-Boereoorlog Monument en die Hugenote Gedenkskool.
Die program begin om 08:00 vir 08:30 in die Konferensielokaal van die Taalmonument en duur tot 13:30. Die gasspreker is Michael Jonas, Hoof Museumgeesteswetenskaplike van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, wat sal gesels oor die tema “Erfenis van Herdenking”. Organisasies sal ook gevallestudies oor suksesvolle erfenisprojekte met gaste deel.
Bywoning is gratis en ligte verversings is ingesluit. Daar is slegs beperkte plek beskikbaar en bespreking is noodsaaklik. Vir navrae en besprekings, kontak Janine Brown by die Afrikaanse Taalmuseum by tel. 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.