Essays | Seminar Room

 
In Zuma se hande

’n Mens kan nie eis dat jou kinders jou respekteer nie.

- Jonathan Jansen in sy Briewe aan my Kinders

In die week waarin Brett Murray se skildery Die Spies die land feitlik tot stilstand gebring het, het ’n liedjie van Randy Newman in my kop bly draai. Een frase in die liedjie “A Wedding In Cherokee County” het ’n kringfluit in my gedagtes gemaak: “Why must everybody laugh at my mighty sword?”

Neem mens ’n bietjie afstand op die saak, is dit maklik om jouself wys te maak dat soortgelyke gedagtes die hele week by president Jacob Zuma bly maal het. Hoekom spot wit kunstenaars met hom en sy lewenstyl? Hoekom respekteer hulle hom nie? Beteken sy persoonlike waardigheid dan niks vir hulle nie?

Respek en waardigheid is net twee van die begrippe wat in hierdie ongelooflike Suid-Afrikaanse week by my gespook het nie, tesame met dinge soos artistieke vryheid, vryheid van spraak en kulturele kloof. Ek het aanvanklik probeer, soos ek gewend is (en waarmee ek myself té dikwels irriteer), om die humor in die saak te probeer insien:

Moenie 'n fout maak nie
daai urinemonster van Jaap
hou hom nou al
baie jare uit die slaap.

Dis ’n ligsinnigheid waaroor ek my nou skaam. Vir my het die draaipunt Donderdag gekom, toe advokaat Gcini Malindi in trane uitgebars het in die hof terwyl hy besig was om president Zuma se saak aan te voor. Wat het ek gemis? het ek gewonder. Was dit verkeerd van my om te argumenteer dat die saak nie oor ras gaan nie, maar die onderdrukking van die kunstenaar se reg om homself uit te druk oor die sake van ons land?

Die antwoord, het ek uiteindelik besef, is nie ja nie, maar ook nie nee nie.

Dit gaan vir eers om ’n kunstenaar vir wie daar, binne ons en enige ander demokrasie, geen grense moet wees wat sy kreatiwiteit aan bande lê nie. Maar in die praktyk het Suid-Afrikaners al té dikwels gesien dat kunstenaars hulle vasloop in ’n paar baie werklike grense wanneer hulle spesifieke mense teiken: politiek, godsdiens, kultuur. Al daardie grense sal herlei kan word na een belangrike ontbrekende komponent by die beswaarmaker teen die kunswerk, naamlik 'n intelligente begrip vir die kodes waarmee die kunstenaar werk.

In Brett Murray se geval is dit die juigkommando-kuns van die Russe tussen die twee wêreldoorloë en selfs ná die tweede daarvan. Ontsyfer mens daardie kode dan verder via die kop van Zuma en die hangende penis, is daar die verbande wat gelê word met die Sowjetunie in daardie tyd en die Suid-Afrika van nou. Jy sou nog verder kon gaan (oorbevolking, onderwysprogramme), maar dit sou 'n grondige kennis van die geskiedenis verg. Daarom dat 'n werk soos hierdie feitlik onmiddellik deur sy (onbegrypende) kritici gekompartementaliseer word as 'n rassistiese aanval op swart leiers en hul kulturele gebruike. Maar as jy bereid is om werklik daarop in te gaan, is dit ’n werk wat verrykende dinge sê oor die huidige situasie in Suid-Afrika.

Die kunstenaar se rol is om dinge te doen en te sê wat buite die normale, alledaagse kanale van kommunikasie val. Hy voer jou nie die waarheid op ’n lepel saam met ’n paar druppels lewensessens nie. Dis nie “maklike” boodskap-smousery soos in pop- en gospel-liedjies nie. Dit verwag – én veronderstel – ’n genuanseerde, ingeligte en kritiese beskouing deur die interpreteerder van die werk.

In Brett Murray se werk is president Zuma ons eie magsikoon, ons Vladimir Ilyich Lenin. Waar Lenin beroemd was om sy pragmatisme en sy opvatting dat ’n doelgerigte en gedissiplineerde politieke groep die spilpunt is van die totale revolusie, is ons magsikoon se posisie sinoniem met die saad wat hy gesaai het, met ’n korrupte bestel waarin die seksuele ’n sentrale rol speel. Dit is nie ’n magsikoon wat eer verdien nie, lei mens van die kunswerk af.

Voorts sê dit ook vir my dat Murray voel dat as mens bekommerd is daaroor, en die stem wat jy een keer elke vyf jaar uitbring, die president nie tot orde kan roep nie, dan sal jou kunswerke namens jou moet praat.

Wel, Murray het seker gemaak dat hy wyd aandag trek deur nie respek vir ons president te toon nie – en daardeur ’n debat ontketen oor die kwessie van respek.

Kry ’n persoon outomaties die land se respek wanneer hy president word? Kan tog nie wees nie. Dan moet mens mense soos Robert Mugabe, Silvio Berlusconi en George W Bush met respek bejeën.

’n President verwerf respek deur verskeie dinge: waardigheid, leierskap en sy dade. Of die dade nou subtiel of kragdadig is, maak nie saak nie, solank dit die etiese en morele waardes wat in ons grondwet beliggaam is, uitdra en bevorder.

Nou kan mens wel vra of president Zuma respek afgedwing het deur mense met kriminele rekords in poste aan te stel waar hulle in beheer is van wetstoepassing, deur sy eie omgang met veroordeelde korrupte persone, deur die trae optrede teen korrupsie in eie partypolitieke geledere asook in die staatsdiens, of deur die verraad wat teenoor toekomstige geslagte gepleeg word deur die verval van ons onderwysstelsel. Watse respek word teenoor skoliere getoon deur ’n staatsbestel wat nóg behoorlik gekwalifiseerde onderwysers nóg hulpmiddels soos handboeke aan alle skoliere beskikbaar stel? En hoeveel jare se matrikulante wat steeds werkloos rondswerf, onbewus daarvan dat hul skoolkwalifikasies in die werkplek weinig gaan beteken, omdat grondliggende onkunde taamlik vinnig blootgelê word?

Verdien só ’n leier respek?

Werkloosheid en die gepaargaande armoede, tesame met oorbevolking, is die olifante in hierdie kamer wat ons Suid-Afrika noem. Ons president, wat ’n rolmodel en aspirasievonk vir miljoene Suid-Afrikaners moet wees, is sewentig, het ses huwelike gesmee, waarvan vier steeds op gesonde voet is, het 21 kinders binne en een buite huweliksverband. Mens moet toegewings vir sy kultuur maak, maar is dit ’n verantwoordelike manier om op te tree? Hoe kan mens enigiets wat onder sy leiding oor bevolkingsbeplanning gedoen word, ernstig bejeën?

Hoekom lag ons vir sy magtige swaard?

Maar terwyl mens nog met die konsep van respekbetoon geworstel het, het twee mense Brett Murray se skildery met verf getakel en dit vir alle praktiese doeleindes vernietig. Wat oorbly, is ’n kuriositeit wat in die toekoms waarskynlik teen belaglike pryse sal verhandel.

Dit is die soort gedrag wat mens laat dink aan die Nazi’s se respek vir die kuns van mense wat anders as hulle dink. Nogtans het president Zuma se regspan besluit om voort te gaan met hul pogings om die galery te dwing om die werk van die tentoonstelling te verwyder. Protesoptogte is gereël – ’n baie duidelike teken dat vir ’n groot deel van die bevolking dit belangrik is om toe te sien dat daar respek vir ons president getoon word.

Weer het ek ’n gevoel van minagting vir die protesteerders gevoel. Het hulle betoog toe ’n sewentienjarige verstandelik vertraagde vrou deur ’n bende wellustelinge verkrag is en die video daarvan ’n groot gehoor gevind het? Het hulle marsjeer toe ’n vyftienjarige seun ’n agtjarige meisie verkrag het en daarna haar oë uitgepluk het? Marsjeer hulle elke jaar wanneer die polisiediens die amptelike misdaadsyfers bekend maak? Het hulle marsjeer oor die Oos-Kaap se onderwysers wat al amper ’n halfjaar lank onderwys in daardie provinsie ontwrig en daardeur die regte van die skoliere minag en vertrap? Marsjeer hulle oor die ineenstorting van plaaslike dienste, die manier waarop korrupsie op alle vlakke ons lewens raak? Marsjeer hulle oor ons werkloosheidsyfers?

Nee, maar hulle marsjeer oor die aantasting van ons president se waardigheid deur ’n wit kunstenaar wat geen respek vir die president het nie. My ingebore sinisme, aangevuur deur Gwede Mantashe se vurige pleidooi vir die boikot van City Press omdat hulle nie ’n foto van Murray se skildery van hul webwerf wil haal nie, laat my vermoed dat dit lank nie meer oor die skildery of respek vir die president gaan nie, maar oor die mobilisering van die kaders ten einde aan president Zuma ’n tweede termyn as president te besorg. Die terugslae en verlies aan steun (en respek!) weens Julius Malema se minagting van Zuma is nou vergete; almal dreun saam in die Zuma-koor.

Ek het die gevoel begin kry dat Brett Murray onwetend ’n hele ander proses aan die gang gesit het. Hy het aan die President ’n baie, baie groot geskenk gegee: die onvoorwaardelike steun van sy party.

Toe breek Donderdag aan. President Zuma se saak stort grotendeels in duie en sy advokaat, Gcini Malindi, bars in die hof in trane uit. Die saak word onbepaald deur die regters verdaag, wat beteken dat president Zuma se span die hof kan versoek om dit weer aan die gang te sit eendag wanneer hulle voel hulle het ’n saak. Vóór advokaat Malindi se ineenstorting het hy aan die regters toegegee dat die saak nie oor rassisme handel nie.

Hoe meer ek te lese gekry het vir die rede vir advokaat Malindi se trane, naamlik ou herinneringe uit die pre-1994-jare wat skielik té veel vir hom geword het, hoe meer het ek tot die besef gekom dat daar iets anders was wat die hele week by my gespook het, maar wat ek nie kon verwoord nie.

Advokaat Malindi, wat een van die aangeklaagdes was in die Delmas Hoogverraad-saak van die jare tagtig, en wat in onlangse jare al as waarnemende regter in sake gesit het, het laat deurskemer dat dit gaan oor ou apartheid-herinneringe. Voor sy ineenstorting het hy aan die hof vertel van die uitwerking wat apartheid op swart mense gehad het.

En wat hy gesê het, gaan essensieel oor die respek wat mense vir mekaar toon. Een groep mense wat nie ’n ander se menswaardigheid erken nie. Hier gaan dit nie, soos in die geval van ’n land se president, oor respek wat op velerlei maniere gewen moet word nie. Dit gaan oor die respek wat een groep aan ’n ander gun en betoon.

Daar kan geen verskoning wees vir die manier waarop apartheid die swart bevolking gestroop het van hul menswaardigheid en wit mense aangemoedig het om geen respek aan swartes te toon nie. Ek het al baie argumente moes aanhoor, soos dié wat oudpresident De Klerk weer onlangs op die tafel geplaas het, van die maniere waarop die vorige regime tog wel baie gedoen het om die lewensomstandighede van swart mense te verbeter. Die feit van die saak is dat die verlies aan respek nooit werklik goedgemaak is nie, nie deur die tuislande nie, nie deur die driekamerstelsel nie, niks.

Op dieselfde manier kan daar geen verskoning wees vir die manier waarop BEE gebruik word om swartes ten koste van wittes te bevorder nie – spesifiek in gevalle waar dit net om velkleur gaan, en nie vermoëns nie. Apartheid het ons land skade berokken weens rassisme. Aan die kern van BEE lê ’n rassisme wat ewe dodelik is. Dit gaan gewoon om respek.

Nou, hoe mens ook al na Die Spies kyk, respek is nie daarin vervat nie. En ongeag wat die argumente en ontledings daarvan sê, moet ’n mens ten minste daarvan bewus wees dat dit nie in besonder goeie smaak is nie.

Gcini Malindi se trane was vir my ’n oerkreet oor die hopeloosheid van ons situasie. Die Spies het die verharding van houdings vir my baie duidelik na vore laat kom. As ek terugdink aan president Mandela se dae, en die hoop wat ons tóé gehad het, sien ek weinig daarvan wat behoue gebly het. Die debat oor Die Spies is gepolariseer in wit en swart, die een vir vryheid van spraak, die ander vir respek vir die gesagsfiguur.

Ek kon nie anders nie as om te dink aan ’n aand in 1961, toe my pa my na die amfiteater van die Voortrekkermonument in Pretoria geneem het vir die première van Jamie Uys se rolprent Doodkry is min. Ek was nege jaar oud. Dié rolprent het gehandel oor die oorlewing van die Afrikaanse taal. Mimi Coertse het by die geleentheid “O Boereplaas” gesing. Daar was trane lank. Van die rolprent self kan ek min onthou.

Maar ek onthou hoe dr Verwoerd in sy groot swart motor by die amfiteater aangekom het, hoe hy na die podium vergesel is, en hoe die gehoor soos een mens opgestaan het om respek vir hom te toon. In my jeugdige onskuld het ek gevoel hoe my hart swel van trots toe hy toegejuig is.

Binne tien jaar het ek tot ander insigte gekom, en met die uitsondering van president Mandela was daar nie een staatshoof aan wie ek net met onverbloemde respek terugdink nie.

Dit is hoog tyd dat die situasie verander. Gee terug ons kinderlike geloof in ’n staatshoof wat die verpersoonliking van eerbaarheid en integriteit is.

Die saak is volledig in die hande van ons president.

Lees ook Marius Ackermann se mening oor kuns en satire.

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Francois Verster
2012-05-29 @13:47
Uitstekend (no pun intended) verwoord Kerneels. Die hele ding is uit verband geruk. Al kon Murray dalk sy punt (!) gemaak het deur 'n sensorteken voor Zuma se broek te maak, eerder as om met die hele sak patats (pun ... ag wel) vorendag te kom, is die agendas van talle rolspelers tog duidelik genoeg - as mens die moeite doen om te kyk, en nie summier 'n vloermoer gooi soos die media (blogs ingesluit) duidelik vertoon nie; nie net Zuma word ontbloot nie, maar ook die velletjiedun voorvel (bogger die pun) van die nasie - dat baie steeds die geringste kritiek van "die ander" as beledigend vir hulle hele groep ervaar, is duidelik. Ook die frustrasie met die kulturele mure wat steeds sterk staan - die Huilende Advokaat se optrede is metafories van die groter situasie; eerstens die onvermoë om tot ander deur te dring en tweedens die onvermoë om in elk geval te cope met die uitdagings van 'n moderne demokrasie (van dienslewering tot diskoers).
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address