In Memoriam: Koos du Toit

  • 2
Koos du Toit (Foto: http://www.netwerk24.com/nuus/2014-10-30-du-toit-as-mentor-duisend-gehuldig)

Beste Koos

Nooit het ek gedink dat ek so bevoorreg sou wees om op vriendelike versoek van LitNet ’n huldeblyk aan jou te mag skryf nie. Ek voldoen hieraan met soveel graagte, want om met jou op hierdie vlak en tydstip te kan gesels, is asof jy oorkant my sit en ons die aangename gesprekke van lank gelede sonder onderbreking hervat. In elk geval volg die weg van lewe tot Lewe dieselfde roete van gesprekvoering, want eintlik is daar geen onoorbrugbare afstand nie en is ons net ’n hartsreik van mekaar.

Jy was een van die eerste mense wat ek ontmoet het toe ek in 2000 by André van der Walt se Taalsekretariaat in Stellenbosch begin werk het. Jou kantoor was regoor myne net as jy by die voordeur inkom. En hoewel jy nie kantoorpligtig was nie, was jy op bepaalde dae in die week getrou op jou pos by ’n aktiewe lessenaar met geordende lêers, ’n A4-skryfblok en ’n vol pen. Jou betrokkenheid in die kantoor het gewentel om dit wat vir ons almal by die Taalsekretariaat van oorheersende belang was: die behoud, uitbou en bevordering van ons allerkosbare moedertaal, Afrikaans.

Afrikaans, wat lewenslank vir jou ’n hartsaak was, het hoofsaak geword ná jou akademiese loopbaan eers as student en daarna as sosioloog aan die Universiteit Stellenbosch en later professor in sosiologie aan die UWK, toe jy ook van 1973 tot 1976 sekretaris van die Erika Theron-kommissie was. In 1995 stig jy en Johan Combrink die Taakgroep vir die Bemagtiging van Afrikaansgebruikers (TABEMA) op Suid-Afrikaanse televisie. Jy het na Johan se afsterwe in 1999 met onverdrote vlyt voortgegaan met hierdie taak en telkens taaloorwinnings van een of ander aard en inset behaal. Ek onthou hoe deeglik jy jouself en jou aanbiedings voorberei het wanneer daar ’n vergadering met raadslede of beleidmakers van die SAUK, later net die SABC, op hande was.

Dit was altyd salwend vir my taalsiel om jou keurige woord- en sinsgebruik, asook jou deurdagte argumente ter wille van Afrikaans, in te neem. Jy was bedeel met ’n welversnede pen en jy het jou selfs as bejaarde steeds beywer vir jou moedertaal en voortgegaan om jou standpunte in artikels, onderhoude en briewe in dagblaaie – alles in onbesproke Afrikaans – te stel en te verdedig. Mag dit wees dat jou woorde op vrugbare grond geval het, dat dit in die toekoms goeie vrugte sal dra en dat die oes daarvan groot sal wees. Dit is soos jy dit sou wou hê.

Jy was benewens jou ander hoedanighede by uitstek ’n gesinsmens. Ons het pas op Stellenbosch aangekom toe jy en Lydia ons kom welkom heet, en ons heerlik gekuier en gesels het. Van Lydia, die fyn vroutjie met helderblou oë, nes joune, weet ek toe lank reeds vanweë haar remediërende publikasies en leer- en leeshulp vir kinders, maar dit was baie goed om haar persoonlik te ontmoet en later ook beter te leer ken. Julle kinders, Elma, Marietta, Johan en Louis, en julle kleinkinders was nie net julle seën nie, maar was ook geseënd met julle as ouers en grootouers. As gesin het julle ook hartseer en verlies ervaar met die heengaan van julle kleinseun in die fleur van sy jongmenslewe en ek onthou nog watter moeilike tyd dit vir julle was.

Nadat ons mekaar vir ’n hele paar jaar nie gesien het nie, woon ons albei op 13 Maart 2013 die opening van die Hugenote-Vereniging se granietsonnewyser in Franschhoek by en in Oktober ook die algemene jaarvergadering. Soos gewoonlik het jou bos golwende grys hare bo die ander koppe uitgesteek, want jy was mos ’n besonder lang man. Aangesien jy van Hugenote-herkoms was, was hierdie vereniging vir jou ’n vanselfsprekende organisasie om lid van te wees. Jy was ook ’n aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ander organisasies.

Donderdag (die 30ste Oktober 2014) is jy ná ’n lang en geseënde lewe van 89 jaar opgeroep tot hoër diens, waar jy in die taal van die heelal waarskynlik ook woorde herken van dit wat ons hier op aarde Afrikaans noem.

Opregte groete tot weersiens

Helena Liebenberg

  • 2

Kommentaar

  • Watter roerende huldeblyk! Baie dankie, Helena; Koos herlewe in jou woorde, wat soveel sê van hom én van jou! Watter voorreg om via jou vir hom in herinnering te roep. Seënbede vir sy agtergeblewenes. Myra

  • Johannes Comestor

    Ek het Koos du Toit as kollega en stryder vir Afrikaans geken. Helena Liebenberg se huldeblyk is veel meer in die kol as die van die plaaslike koerant wat eerder op die uitlatings van 'n oud-MK-soldaat gesteun het. Du Toit het terrorisme nooit ondersteun nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top