In memoriam: Détlev Kröger

  • 0

Waar begin ? mens om te praat oor so ? veelsydige en talentvolle mens soos Détlev Kröger? Die probleem is nie wat jy moet insluit nie, maar wat jy moet uitlaat, want dit is so omvangryk. In koerantberigte die afgelope tien dae  is vele byvoeglike naamwoorde gebruik om na hom te verwys. Ek haal aan soos sy dogter Anja hom beskryf: "My pa se uitstaande karaktertrekke was sy laterale denke, kreatiwiteit, harde werk, sterk morele waardes, liefde en toewyding tot sy vrou en familie, liefde vir die natuur, stabiliteit en aardse wysheid."

Ek kon dit nie beter stel nie.

Daar is na hom verwys as as geniale ingenieur, vernuwende denker, uitmuntende dosent, navorser en akademikus, lojale vriend en gewaardeerde kollega. Hy was in baie opsigte meer bekend in die buiteland as in sy eie kontrei, hoofsaaklik as gevolg van sy beskeidenheid. Want wanneer jy by hom kom en groet en vra hoe dit gaan, het hy die onderwerp van die gesprek dadelik omgekeer na jou, sy gespreksgenoot, toe. Hy wou weet hoe dit met jóu gaan, waarmee jý besig is.

Détlev het in 1957 aan die Hoërskool Hermanus matrikuleer en in 1962 die grade BSc en BIng aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Aan MIT ontvang hy die grade MScEng en MEng in 1965, en sy DScEng in 1967. Sy proefskrif handel oor die termiese beheer van ? ruimte-kernreaktor.

Na sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy by die destydse Yskor, en word in 1971 aangestel as professor van meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.

Hoogtepunte in sy lewe was sy wetenskaplike deurbrake, sy vrou Regine, sy drie kinders en vyf kleinkinders, sy studente se groei, en wandel in die natuur. Ons het hom dikwels raakgeloop op uitstappies in Luiperdskloof en Disakloof in Bettysbaai, of op die wit sand van Dawidskraalbaai. Hy het groot vreugde geput uit sy gesinslewe, en was trots op wat hulle gedoen het. Niemand het meer breëbors rondgestap as juis hy by die opening van een van Regine se uitstallings van haar skilderye nie. Niemand was trotser as hy op die prestasies van sy oudstudente nie. Niemand het meer daarop aangedring dat die eerste ding wat sy studente moes leer, was om te leer dínk nie.

Met sy koms na Stellenbosch 43 jaar gelede was daar haas geen navorsingskultuur in die Fakulteit Ingenieurswese nie; hy het dit dadelik gevestig. Hy stig die Instituut vir Termodinamika en Meganika, wat vandag as unieke navorsingseenheid wêreldwye aansien geniet. Hy inspireer ander deur sy voorbeeld en die hoëgehalte akademiese werk van sy nagraadse studente op magister- en doktorale vlak. Vir baie jare was hy die enigste A-gegradeerde navorser in die fakulteit.

Hy spesialiseer op die terreine van die termodinamika, warmeteoordrag en droëverkoeling van kragstasies. Sy navorsing vind toepassing in onder andere  mynverkoelingsaanlegte, termiese prosesse in die proses- en staalnywerhede, sonenergie, en droëverkoeling-kragsentrales.

By internasionale firmas en oorsese universiteite het hy talle lesings en kort kursusse aangebied. Hy het meer as 86 vakwetenskaplike artikels en 73 konferensieverrigtinge gepubliseer. Verder was hy studieleier van meer as 49 M-studente en 15 PhD-studente. Nadat hy formeel in 1999 afgetree het, het hy tot kort voor sy dood voortgegaan met navorsing, klasgee as buitengewone professor, en begeleiding van nagraadse studente.

Sy fisiese monumente kan gesien word by die Matimba- en Kendal-droëverkoeling-kragstasies, nuwes wat tans opgerig word by Medupi en Kusile, en ? nuwe reuse-nywerheidsaanleg wat in San Francisco, Kalifornië in aanbou is. Sy nywerheidsontwerpe staan op vyf vastelande, in die VSA, Europa, Rusland, Australië, Indië, die Midde-Ooste en China. Nuwes sal in die toekoms verrys, gebaseer op die resultate van sy navorsing.

Détlev het ? groot aantal toekennings verwerf vir sy navorsing, waaronder eredoktorsgrade vanaf RAU (2002) en die US (2012), die Bill Venter/Altron Literêre toekenning (2003) vir sy akademiese magnum opus, Air-cooled heat exchangers and cooling towers. In 2001 is 'n internasionale konferensie (12th International Association of Hydraulics Research Symposium on Cooling Towers and Heat Exchangers) in Sydney, Australië ter verering van sy werk aangebied. Van sy ander toekennings sluit in die Campbell-Pitt-toekenning (twee keer: in 1990 en 2002) deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Meganiese Ingenieurs en die Havenga-prys (1986) vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy was ? lewensgenoot van die Amerikaanse Vereniging van Meganiese Ingenieurs. In China is hy vereer as "? vriend van China vir 10 000 jaar".

Sy werk het nie met sy heengaan tot ? einde gekom nie, maar gaan voort. Hy self verklaar kort voor sy dood in ‘n tydskrifonderhoud: "My kollega prof Hanno Reuter is besig om die aktiwiteite in die afdeling uit te bou. Die goeie gees onder die jong personeel van die Departement Meganiese Ingenieurswese is ? absolute inspirasie. Van hierdie jong manne gaan nog sterre wees." Sy nalatenskap leef voort.

Een van sy oudstudente skryf kort voor sy heengaan soos volg aan hom oor sy passie vir die lewe en sy werk:

Your support of me over the years was unwavering. I know how lucky I was to have experienced that. You took me under your wing and gave me direction when I had none, and when I faltered you were there to make sure I stood fast. Most of all though, you showed me what it is to live a life of passion. I always enjoyed watching and experiencing your excitement for your work. … I guess that is what this next chapter of my life is about for me: going out there and searching for passion … like so many of your students before me have done. Thank you for what you have done for me, for all of us. I hope I can live up to your expectations.

Agt dae voor sy heengaan het ons ? laaste gesprek gehad. Hy kon skaars hoorbaar praat, maar het my verseker dat hy alles wat hy wou bereik, bereik het. "Ek gaan nou na ? beter plek toe, ou Christo," was sy woorde.

En oor die dieper dinge van die lewe, oor die skepping en die heelal en die betekenis van lewe, het ons dikwels by geleentheid gesels. Die termodinamika gaan oor energie, en energie beteken lewe, het hy dikwels gesê. Die termodinamika het dan ook vir hom die wondere van die skepping en die lewensiklus openbaar en verklaar. Ek onthou een aand hoe hy aan huis aan ? groepie vriende, in geselskap van ? buitelandse besoeker, toe die onderwerp van die gesprek die kosmos was, met geduld verduidelik het hoe die drie wette van die termodinamika die heelal reël. Die eerste, die wet oor die behoud van energie, verklaar hoekom die totale hoeveelheid energie van die heelal konstant is; energie kan nie vernietig of geskep word nie, dit kan net van een vorm na die ander omvorm word. Die tweede wet, dat die entropie van ? geslote termodinamiese stelsel wat nie in ewewig is nie, toeneem. Die derde wet, dat die entropie van ? stelsel by absolute nul grade gelyk aan nul is. En dan sommer verduidelik hoe die vloei van energie orde en lewe handhaaf, hoe die entropie van die heelal steeds toeneem, en hoe die heelal oor ? geskatte 10100 oftewel ? googol-jaar, tot ? einde sal kom en sal sterf, soos wat alles ‘n begin en ‘n einde het. En om die geselskap te laat dink, het hy met ‘n skalkse glimlag verduidelik dat daar nie drie nie, maar eintlik vier Wette van die Termodinamika is, en hoe die nulste wet temperatuur verklaar.

Terwyl ons hartseer is oor die heengaan van Détlev Kröger, kan ons die lewe vier van ? besonderse mens. Ek was bevoorreg om hom te ken as kollega, as vriend, as dubbele buurman – nie net in Hoflaan in Stellenbosch nie, maar ook in Plateauweg in Bettysbaai.

Ruhe in Frieden, Détlev. Dein Platz kann leer sein, aber du bleibst in unseren Erinnerungen weiter leben.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top