Biebouw-resensies | Reviews

 
In dié rymteskip van René so baie: ’n resensie van in die niks al om van René Bohnen

Titel: In die niks al om
Skrywer:
René Bohnen
Uitgewer:
LAPA Uitgewers
ISBN:
9780799348835
Prys: R120.95

 

Klik hier om In die niks al om te koop by Kalahari.com.

Ek weet dat daar tans gesprekke aan die gang is rondom die gebruik al dan nie van ’n inhoudsopgawe in ’n digbundel en of dit voor- of agterin die bundel moet verskyn. Poësie laat haar egter nie so voorskryf nie. Wat vir die een bundel reg is, is nie noodwendig reg vir die volgende nie. Ek hou van ’n aanloop – ek is gefassineer deur die paratekstuele gegewens en die konteks-skeppende rol wat dit speel in betekenisgewing van ’n bundel. Dus verkies ek om by die begin te begin: die voorblad.

Die visuele impak van René Bohnen se bundel stuur ’n boodskap lank voor die bundel oopgeslaan word en is in samehang met die bundeltitel rigtinggewend vir die verstaan van die bundel. Bepaalde lesersverwagtinge word geskep wat spanning teweegbring tussen die buiteblad/bundeltitel en die teks terwyl daar van die leser gevra word om die paratekstuele gegewens aan te vul en as intrinsiek deel van die teks te lees. Die lotusblom en koi-visse plaas die bundel in die middel van die filosofiese konteks van Zen-Boeddhisme, waardeur die oorwegend rooi en amber kleure ’n definitiewe Oosterse karakter verkry.

Die lotusblom word geassosieer met reinheid en progressie van die gees, terwyl die Boeddha dikwels uitgebeeld word waar hy op ’n lotusblom sit. Die lotusposisie, ’n kruisbeensit-posisie, word in meditasie gebruik met die doel om die mediteerder by te staan om kalmte van gees en uiteindelike verligting te bereik. Ook die koi-vis speel ’n belangrike rol in die Oosterse filosofie. Dit is een van die agt beskermende simbole en verteenwoordig vryheid, krag en uithouvermoë. Die lettertipe van die titel dra by tot die Oosterse gevoel van die buiteblad. Dit skep die indruk van vinnige, vloeiende kwashale wat in ooreenstemming is met die bekende en tradisionele Zen-sirkel in gekwaste ink, gewoonlik op sy of ryspapier (in ooreenstemming met die agtergrond van die buiteblad), en uitgevoer in een vloeiende beweging, sonder dat die hand gelig word. Hierdie verftegniek wys, volgens die Zen-kultuur en -kalligrafie, op die uitdrukking van die oomblik wanneer die gees in beweging gebring word. Die Zen-sirkel, of ensō (Japannees vir sirkel), is simbolies vir absolute verligting van die gees en druk ook krag, elegansie en die heelal uit. Die sirkel is die oomblik wat die intellek vry en leeg word sodat die gees/liggaam skeppend kan optree. Zen-Boeddhiste glo dat die karakter van die kunstenaar ten volle ontbloot is in daardie oomblik waarin die ensō geskep word. Die onegalige onvolmaaktheid van die sirkel suggereer die onderliggende wysheid van die onvolmaakte, onvoltooide en tydelike van alle dinge, maar terselfdertyd ook die strewe na die perfekte en die uiterste toestand van een-wees en eenheid wat groei vanaf ’n toestand van meervoudigheid.

Teen hierdie agtergrond is die herhalende gebruik van die sirkelmotief regdeur die bundel betekenisgewend – trouens, die sirkel kan as sentrale simbool gesien word. In “sjamaangrot” (13) sê die spreker-digter:

hoe flikker hulle
in my hande as ek in sirkels
binne sirkels binne sirkels
die oerpad vat.

En in “eenmot” (21):

partiture draai draai
ek kom om ek kom om
al kringend
kringend na die
vlam.

In “huisraad” (24) is daar byvoorbeeld sprake van ’n “onvoltooide kring”, terwyl die gedigtitel “familiekring” (35) ook op die sirkel as simbool fokus – enkele voorbeelde uit die dig geweefde geheel waarin die sirkel-simboliek keer op keer herhaal word.

’n Ontleding van die bundeltitel, in die niks al om, bring die leser ’n stappie nader aan die ontsluiting van die teks en verskaf leidrade waarop die leser moet reageer. Die titel oefen samebindende krag uit en tree op as metafoor vir die hele bundel. Dit kan gesien word as ’n raamwerk waarbinne al die ander gedigte gelees en verstaan word en wys op die interne samehang van die geheel. Die bundeltitel sluit by die visuele aanbieding op die buiteblad aan deurdat dit inspeel op die idee van hierdie toestand van absolute verligting waarna gestreef word, ’n toestand wat deur meditasie bereik word.

By ’n leksikaal-semantiese ontleding van die titel word die aandag gevestig op die toestand van leegheid waarbinne die digter-spreker haar bevind, maar ook meer universeel die toestand van leegheid en niksheid self. Die tweede been van die bundeltitel, al om, moet beide in teenstelling en in samehang met die woord alom gelees word. Al beteken “heel”, “een”, “enigste” en “alles”, terwyl om veral verwys na “rondom”, “in die rondte” en “na alle kante”. Al om kan gelees word as “alom-teenwoordig”, “alom-vattend”, “alles-insluitend”, maar ook as “herhalende sirkelgang” of “kringloop”.

Niks (die Groot Niet) en al (alles, allesomvattend) is ’n polarisasie van die absolute/relatiewe en die samehang en saambestaan van uiterstes. In die Oosterse tradisie is mu die niks, die niks-heid, om sonder te wees, en leegheid, wat, anders as in ’n nihilistiese, Westerse denkrigting, juis fokus op die duidelike ontologiese basis van alle fenomene en dat ’n bruikbare kennis daaruit gekommunikeer kan word. Die stelling “Vorm is leegheid; leegheid is vorm” is een van die bekendste paradokse in die Zen-Boeddhistiese filosofie en berus op die konsep dat realiteit nie absoluut is of onafhanklik bestaan nie.

Verskeie verwysings na die proses van meditasie word in die bundel gevind, dikwels ook ikonies uitgedruk. Dit is bekend dat die mandala (’n Hindoe-woord vir ’n sirkel) – ’n rituele geometriese diagram – ingespan word om konsentrasie te bewerkstellig en die transendentale toestand te bereik waardeur die gees van die liggaamlike na die geestelike beweeg. In die gedig “mandala” (30) word transformasie as proses van wording in meditasie beskryf, terwyl die herhaling van die woord “word” self op ikoniese wyse visuele en ouditiewe vibrasie en inkantasie vir die oog en die oor van die leser bied:

word die sand
word ’n tregter
en die monnik se hand

word die rooi blou geel wat vloei
word die krulblare
van die goue krisant

word die een
volgehoue klank
van raspertjies staal
teen die kant van kokertjies
vol sand

word tydelik
die hier en die loop
van ’n rivier

hoor die sang hoor die lang
dreunkeelritueel

word die water
word sand.

In “waterlelie” (28) en “Nymphaea” (29) word die proses van meditasie visueel en ikonies aangebied. Die digter-spreker is metafories die lotus, die posisie waarin sy mediteer (28):

liggies en pure plant
     sit ek
     stil

goudgeelvinke weef in die papierbas

kort voor lank
jaag my gedagtes
visse op fietse

Transformasie word bewerkstellig wanneer ’n kreatiewe, buite-kognitiewe (“visse op fietse”) vlak bereik word en ’n ongehinderde gedagtestroom ontstaan waarin die digter se vers tot stand kom: “skep lug my vers”.

Meditasie word ook verbind met die Afrika-omgewing van rotstekeninge en sjamane, soos in “sjamaangrot” (13), waar daar weer eens transformasie plaasvind wanneer die digter “elandbul” word. In “mandala” (30) beskryf die digter die fokus op die dele van die geheel in die mandala (“die rooi blou geel wat vloei/ word krulblare/ van die goue krisant”) en die verloop van tyd (“teen die kant van kokertjies/ vol sand”). Die gedig eindig as spieëlbeeld van sy eie begin wanneer reëls omgekeer word, wat die sirkelgang ikonies aanbied, ’n tegniek wat meermale aangewend word, byvoorbeeld ook in “familiekring” (35) en in gedigtitels soos “dryfbedryf” (49) en “kuswoudkus” (61), terwyl “palindrome rondom middernag” (56) ’n spel met palindrome aanknoop. Hierdie omruilbaarheid van beginne en eindes en van letters in ’n woord dui nogmaals op die omruilbaarheid van die geheel en sy dele.

Veral “vlamtong” (11) staan sentraal in die bundel en bied ’n interessante woord- en klankspel met die woord om, wat terug te vind is in die bundeltitel. Om of aum verteenwoordig die primordiale vibrasie wat in Zen-Boeddhisme ingespan word om regdeur die liggaam te weerklink en om in samehang met die hele kosmos die skepping in beweging te bring. Die Zen-filosofie beskou om as die eerste woord of klank waaruit alles ontstaan het – die oorsprong van alle lewe. In “vlamtong” sê die digter:

en toe hy die woord ukhahlamba
spreek
was daar vuur in
sy mond

berg
het hy gesê en
om
het die pieke geantwoord om
eggo
die amfiteater om

om
sing die wind en die stertvere
van sakaboelas om
janfrederik, tiptol, om
aalwyne, waterval, die tugela om

en om bulk die beeste
met bruin stemme
wat wegsink in
rimpelklip

intaba yami, bid die paters
en die priesters in hul grotte, om
dan die bok-
beelde immer
om

in die sneeu op
die monnik se rug om
warrel psalms oor
die afgrondkrans by
cathedral peak en om
sjampanjekasteel

deur digter mis
om die vol alom
die ukhahlamba
om om om.

Volgens die moderne wetenskap kan alles in die heelal, van mikroskopiese tot makrokosmiese vlak, gesien word as toestande van vibrasie. Die Zen-Boeddhistiese filosofie sluit hierby aan deurdat die gebruik van die mantra (volgens die HAT ’n mistieke formule wat as inkantasie gebruik word) die belangrikste mantra is waardeur nie net innerlike helderheid verkry word nie, maar transformasie bewerkstellig word. Daar word ook na die sillabe om verwys as omkara (wat insgelyks die naam is van God in Hindoe en vertaal kan word met “Ek Is Bestaan”). Die woorddeel om- en omni- se Latynse oorsprong beteken “universeel” en is as klank of lettergreep teenwoordig in die Keltiese taal, terwyl daar in die Maja-literatuur melding gemaak word van die skepping van die mens wat deur die krag van die Woord as klankvibrasie tot stand kom. Verwant is omega, die laaste letter van die Griekse alfabet, terwyl aum fonologies saamklink in die woord amen (wat beteken “laat dit so wees”) wat sy oorsprong in Hebreeus het en die einde van die gebed aandui. Om word vergelyk met die Bybelse konsep van die Woord/Logos waardeur alles tot stand gekom het en wat self God is (Joh 1:1-4). Die digter-spreker bevestig hierdie verband wanneer sy in die laaste gedig, “ligstrale” (64), die skeppingsproses as einde (van die bundel) en as begin van die al om verwoord met:

want alles was see
en alles was leeg
voor die sterre losgeskeur het
uit die niks-alom

     in die begin
       was die woord
’n naam wat uit sy nate bars.

Die woord as skepping en as begin en einde word hierdeur beklemtoon, maar ook die opheffing van begin en einde, die sirkelgang – nie net van die bundel nie, maar die opheffing van polariteite en dus die samehang van alle dinge, wat as sentrale konsep funksioneer. Hierdie beginsel, die absoluut-relatiewe (polariteit wat eintlik opgehef word) wil sê dat die uiteindelike en fundamentele realiteit ook teenwoordig is in die daaglikse wêreld van relatiewe realiteit; dat die geheel teenwoordig is in die dele en die dele teenwoordig in die geheel.

Die universele samehang van alle dinge word teruggevind in die wyse waarop die digter ’n hibriede wisselwerking tussen die verskillende filosofiese en godsdienstige beskouinge bewerkstellig. So byvoorbeeld word in “vlamtong” (11) verskeie wêrelde en filosofieë opgeroep: “ukhahlamba” (’n Xhosa-woord wat na die bergreeksspitse verwys as spiese, wat die Afrika-kultuur verteenwoordig); “bid die paters/ en die priesters”; “monnik” (die Rooms-Katolieke en Westerse kultuur); en “psalms” (deel van Westerse godsdienspraktyke). Ook in “vanaf Mont aux Sources die Tugela” (31) vind die samehang tussen Ooste en Weste en Afrika plaas met ’n vindingryke vermenging van terme: “namaste corpus christi halala”.

Om slegs op die Zen-Boeddhistiese konteks van die bundel te fokus, sou nie reg laat geskied aan hierdie diggeweefde, simboolryke bundel nie. Bohnen slaag daarin om samehang te skep uit ’n groot aantal simbole wat heg met mekaar verweef is en deur die alledaagse met die mistieke te laat saampraat. Universele natuursimbole speel ’n belangrike rol, soos byvoorbeeld die maan, vuur, water, visse en voëls. Verder word daar ook heelwat gebruik gemaak van die simbole van die maagd, engele, skip of boot, geboorte en dood. In die pragtige gedig “vroue van La Loba” (54) word die verbintenis van geslagte vroue teen die agtergrond van die La Loba-sprokie en Clarissa Pinkola-Estes se boek Women Who Run with the Wolves op besonderse wyse ontgin. Daar is ook enkele gedigte wat sosiopolitieke probleme aanspreek, soos byvoorbeeld die apokaliptiese “plaasvervangers” (33) en die visuele “soos die oopsny” (34). Die digter-as-fotograaf stel in een of twee gedigte ondersoek in na die verhouding tussen die fotograaf en haar onderwerp en die morele en etiese implikasies hiervan.

Teen die agtergrond van die konsep van samehang van die dele binne die geheel is dit nie onvanpas om kortliks te kyk na die groen in Bohnen se gedigte nie. Die gedig “mooi weer en warm” (48) met sy ironiserende titel trek die aandag weens die ekopoëtiese aard daarvan. Daarmee word bedoel dat dit nie net die natuur beskryf soos in die geval van tradisionele natuurpoësie nie, maar die verhouding tussen die mens en sy omgewing beskryf en kommentaar lewer op die spanning in hierdie verhouding as uitdrukking van ’n veranderde sosiale bewussyn. Dit is egter veral die gedig “onvasteland” (43) wat die aandag trek.

Die digter maak van ’n aantal natuurbeelde gebruik wat op die oog af die skoonheid van die vasteland weergee en ’n egte Afrika-gevoel aan die gedig gee: wildekastaiing, piet-my-vrou, die koorsboom en kwêvoëls. Die tweede reël gee egter alreeds ’n voorteken dat alles nie pluis is nie: “vinke wat vanjaar hoër neste bou” en dan die herhalende “dit duur nie lank nie ja dit duur nie lank nie” (reël 3) en ’n daaropvolgende herhaling, “dit duur nie lank nie nee” (reël 13), waarin ’n fyn verskuiwing plaasgevind het van “ja” na “nee”, wat op ’n negatiewe houding dui. Daar is ook sprake van ’n bykans waarskuwende vooruitwysing na “die seisoen van die sikloon” – wat miskien ’n verwysing kan wees na klimaatsveranderinge en ’n verhoogde voorkoms van siklonale natuurverskynsels wat onder andere daarmee geassosieer word. Die laaste strofe bied die verdoemende slotsom:

ons moeder loop
in ’n vuurspiraal
al om haar as.

Die verwarming (“vuur-“) is onontkombaar (“-spiraal”). Die digter-spreker identifiseer met die vasteland as haar “moeder”, dus van wie sy afhanklik is vir oorlewing. En as die moeder onvas word, beteken dit die verlies aan die perfekte balans tussen al die dele van die geheel en haar onvermoë om na haar kinders om te sien. Die “voskopkind” is in die fleur van haar lewe (“botselborsies”), maar loop alreeds met die kiem van die dood binne haar (“dra geraamtes in haar rond”).

Die veelvuldige gebruik van metaforiek, tesame met die wyse waarop die geheel saamhang en die dele onderling met mekaar in gesprek tree, kan gesien word as die uitstaande eienskappe van hierdie bundel. Simboliek en die metafisiese ervaring word voortdurend geanker in ’n polarisasie van die fisiese, tasbare werklikheid, waardeur die bundel daarin slaag om voete-op-die-aarde te bly.

In die niks al om van René Bohnen is alles wat ’n tweede bundel behoort te wees. Dié rymteskip vaar goed.

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Fanie
2012-06-15 @09:12

In die niks alom is dikwels die begrip waarmee die meeste (gewone) mense te doen het en dikwels moet kies tussen wetenskaplike bewyse en geestelike sieninge dat die niks eintlik iets (soos 'n onsigbare ruimteskip) is. Bohnen se bundel bring 'n nuwe geloofwaardige insig met bewoordings wat gemaklik aanklank vind. Susan Smith se uiteensetting van die bundel dra baie daartoe by om die leser met die teks en sy eie gewaarwordinge in voeling te laat bly- "'n polarisasie van die fisiese, tasbare werklikheid,waardeur die bundel slaag om voete-op- die- aarde te bly". Geluk aan Bohnen en Smith vir 'n besliste bydrae tot die uitbouing van Afrikaans met 'n vars bries.

Dr Fanie Marais, Cordis Trust 

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address