Hoop vir jong musikante

  • 0

Titel: Die Wellingtonse Klopse – 100 jaar se onvertelde storie
Outeurs: Michael le Cordeur, Marlene le Roux
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780987038821

 

Apartheid het ’n negatiewe impak op die Suid-Afrikaanse samelewing gehad, en dit het op verskeie gebiede neerslag gevind. Maar danksy ‘n klomp versiende Suid-Afrikaners, onder andere Nelson Mandela en FW de Klerk, is ‘n nuwe demokrasie in 1994 gebore. In 2014 vier ons 20 jaar van demokrasie in Suid-Afrika.

Die vraag is: Hoe vier ons hierdie jong demokrasie? Die beste manier waaraan ek kan dink, is om vir ons kinders geleenthede te skep. Geleenthede wat ons self nooit kon smaak nie. Dit is in die lig hiervan dat Marlene le Roux, direkteur van die KunsteKaap, en die uwe ‘n musiekprojek begin het wat sy wortels in die Wellingtonse klopse het. Die uitreikprogram is deur Marlene gekonseptualiseer met die doel om Suid-Afrikaners aan die verskeidenheid kulture in ons land bloot te stel om sodoende nasiebou met behulp van die kunste te bevorder.

My en Marlene se boek, Die Wellingtonse Klopse – 100 jaar se onvertelde stories, wat verlede jaar gepubliseer is, vorm deel van hierdie uitreikprogram. Wellington is die enigste dorp buite die Kaapse metropool met ’n klopsekultuur. Alhoewel dit reeds 105 jaar oud is, is min mense bewus van hulle bestaan of hulle rol in die ontwikkeling van die kunste in die Wellington-gemeenskap. Om ’n boek oor die Wellingtonse klopse saam te stel, was dit nodig om hulle geskiedenis na te vors. Ek en Marlene het, met behulp van twee onderwysstudente van die Universiteit Stellenbosch, Allison Hoffman en Leandra Jantjies, drie jaar lank onderhoude gevoer met troepe en gemeenskapsleiers wat die klopsetradisie in Wellington help vestig het. Met hierdie boek word die moeilike stigtingsjare, die rol wat apartheid en- die kerk gespeel het, asook positiewe invloed van die klopse op die Wellingtonse gemeenskap, vir die eerste keer aan die breë Suid-Afrika bekend gestel.

Om foto’s en dokumente te vind wat die vertellings perfek sou komplementeer, was moeilik. Die boek maak dus geensins aanspraak op volledigheid nie. Daar is talle herinneringe wat wag om opgeteken te word. Die talle foto’s en die onderhoude skets ’n besonderse era in Wellington se geskiedenis en ’n musiektradisie wat, ondanks uitsluiting uit die hoofstroom tydens die apartheidsjare, na meer as 100 jaar steeds daarin slaag om jongmense te inspireer om hierdie platform te gebruik om hul musiektalent uit te leef. So kan hulle aan die negatiewe sosiale invloede ontsnap. Kortom: dis die verhaal van ’n musiektradisie soos dit al vir meer as ’n eeu in die monde, geheues en harte van Wellington se mense voortleef.

Die boek vorm deel van ’n drieledige projek en is gekombineer met ’n verhoogproduksie en ‘n musiekprojek. Laasgenoemde het gelei tot ‘n jeugorkes wat uit die klopse en in samewerking met die Breytenbach Sentrum en die KunsteKaap ontstaan het. Jong musikante van die Wellingtonse klopse, van wie die meeste nog op skool is en nooit formele musiekopleiding gehad het nie, se vaardighede is onder die wakende oog van Marlene en Ian Smith van die KunsteKaap geslyp.

Toegerus met hul nuutgevonde musiekvaardighede het hierdie orkes op 2 Maart vanjaar na net sewe maande se opleiding hul eerste verhoogoptrede gehad as deel van die boekbekendstelling by Woordfees. Vir baie het ‘n droom waar geword toe hulle saam met kunstenaars soos Karen Zoid en Arno Carstens kon optree. Sedertdien het verskeie optredes gevolg. Die projek strewe daarna om geleenthede te bied vir jong orkeslede om verder in musiek te studeer, waarna hulle ‘n loopbaan kan volg by KunsteKaap of die Kaapstadse Filharmoniese Orkes. Alle opbrengste van die boek en die konsert word in ‘n trust gestort en sal aangewend word vir studiebeurse vir behoeftige kinders van Wellington.

Sedertdien het die jeugorkes vanjaar op 1 Februarie by die Suidoosterfees en op 6 Maart by die Woordfees opgetree. Dis ons wens dat een en almal in sy eie omgewing soortgelyke projekte sal begin. Deur ‘n verskil aan ‘n kind se lewe te maak, help ons bou aan Madiba se droom van ‘n land waar almal waarlik vry sal wees en boonop ‘n bydrae tot nasiebou sal lewer.

 

Lees nog oor die Wellingtonse klopse en die boek wat hieroor geskryf is.

 

Michael le Cordeur is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en Marlene le Roux aan die KunsteKaap. Albei het op Wellington saam met die klopse grootgeword. Jantjies en Hoffmann het intussen hul studies voltooi en is nou suksesvolle onderwysers.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top