SêNet-briewe | Letters

 
Hoeveel dae in jou ligjaar Dolf?
Dolf: Ek staan steeds daarby dat ’n ligjaar ’n term is wat slegs vir afstand geld en dat ’n uitdrukking soos “ligjare gelede” ’n cliché is wat deur oningeligtes geskep is. Ek het ’n waarde in km gegee en my bronne aangehaal wat dit bevestig.

Maar jy beur hardkoppig voort en argumenteer dat ’n ligjaar óók ’n eenheid vir tyd is. Nou jy gaap oor my argument en ek is weer van mening dat jou argument die punt mis. Kom ons besleg dan nou maar die dispuut op ’n ander wyse, want dit is baie maklik.

Ek sê: ’n ligjaar is ’n eenheid van afstand en gelyk aan 9,461 x 10^12 km. (Bronne reeds verskaf)

Jy sê: ’n ligjaar is óók ’n eenheid van tyd. Nou hoeveel dae is daar in só ’n ligjaar? Net die getal en ’n geloofwaardige bron wat die getal bevestig. Ek hou asem op!

Beste wense

Panda

Comments 9 Reaksies | 9 Comments
Delete Comment
avatar
Brianvds
2012-12-13 @06:45

Panda, moet nou nie simpel wees nie. Jy weet tog daar is 7,23 ligkilogramme in ’n kubieke desibel, waaruit ons maklik kan aflei dat daar 57 vierkante gauss is in 25 meter-dae, en daaruit volg die antwoord op jou vraag dan heeltemal logies. :-)

Delete Comment
avatar
Panda
2012-12-13 @08:45

Brianvds – Nee man! Hoekom help jy hom nou? Ek wou juis hê hy moet self sukkel.

Panda

Delete Comment
avatar
George Claassen
2012-12-13 @10:06

Ligjaar is NIE ’n eenheid vir tyd nie, Dolf, maar vir afstand. Jy ken nie jou astronomie nie. Die definisie van ligjaar volgens my naaste astronomie-woordeboek is "A unit of distance equal to the distance traveled through space in one year by light, radio waves, or any other form of electromegnetic radiation. Since all electromagnetic radiation travels in a vacuum at the speed of light, one light year equals about 9.4605 x 10 to the power of 12 km."

In Afrikaans word dikwels verkeerdelik gepraat van ligjare (wat juis in jou verwarring tussen afstand en tyd bevestig). Dit is ligjaar, nie ligjare nie. Om JE van Zyl, die voormalige astronomie-dosent van Wits uit sy deeglike werk, Ontsluier die Heelal (Protea Boekhuis), aan te haal: "Die ligjaar is dus ’n afstand – soos in die ou dae verwys is na twee uur te perd om ’n afstand van omtrent 20 km aan te dui"  (p. 173). Dolf, bly dus liewer stil as iets nie verstaan nie.

Delete Comment
avatar
Dolf
2012-12-13 @10:09

Panda,

Wat verstaan jy nie?  Ek het nie gesê ’n ligjaar word gebruik om “tyd” mee te meet nie, soos in “ligjare gelede” nie. Ek dui op die belangrikheid van “tyd” in die berekening van ’n ligjaar en dan ook ander aanames wat daaromtrent gemaak word soos digtheid van die medium, ens. Daarom wys ek jou daarop dat dit ’n onakkurate metode is om astronomiese afstand te bepaal gegewe die bo-genoemde. En ook dat jy nie ’n ligjaar kan sien sonder om tyd daaraan te koppel nie.

Dus, as Nasa (ek verwys na Rael-en-Gael se skrywe) sê dat hulle tot dusver die verste waarneembare sterrestelsel op ’n afstand van ongeveer  13,5k miljoen ligjaar ontdek het, en dat dit is (só dink hulle) soos wat die heelal 13.5k miljoen jaar gelede (tyd) daarna uit gesien het, beteken dit 2 dinge. Die afstand soontoe is ongeveer 13,5k miljoen ligjare vêr (afstand) en indien ons soontoe wil gaan moet ons vir ongeveer 13,5k miljoen jaar (tyd) teen die spoed van lig (soos bereken onder aardse toestande ) “travel” om daar uit te kom! Net vir interessantheid – dit sal “time travel” wees omdat daar “terug” in tyd gegaan sal word, dan nie? Met ander woorde “tyd” speel ’n belangrike rol in astronomiese afstandsbepaling in terme van ligjare en die twee kan nie apart gesien en/of gebruik word nie. Dit gaan nie oor ek wat “hardkoppig” is nie, dit gaan oor eenvoudige logika.

Dus om jou vraag te beantwoord, is daar 365 (aardse) dae in 1 ligjaar (ek sluit skrikkel jare uit) omdat dit ’n ligpartikel 365 dae (tyd) neem om 1 ligjaar te voltooi, teen die spoed van lig (is dit nie tog hoe ’n ligjaar se afstand bereken word nie?). Met ander woorde dit neem die ligpartikel, 365 dae om die afstand van 1 ligjaar af te lê, teen die spoed van lig, natuurlik. Kan jy nou sien - die een kan nie sonder die ander nie? Kyk gerus weer my vorige eenvoudig definisie van ’n ligjaar. Indien jy tegnies wil raak kan ons seker begin om na 364 en ’n kwart dae te kyk – maar jy verstaan sekerlik wat ek bedoel?

Dan wil jy hê ek moet sukkel?

OK, blaas stadig uit.

Sterkte

Dolf

Delete Comment
avatar
Angus
2012-12-13 @10:47
Dis nou tipies van julle agnoste. Julle het geen spirituele insig in wat in die Bybel staan nie, maar dis omdat julle met die SKA-teleskoop probeer om die ouderdom van fossiele te bepaal dat julle die parallaksfout maak. Vir sulke godslasterlikhede sal julle beslis nog eendag in die plek van Wenende-en-knersende-der-tande beland.  
Delete Comment
avatar
Kobus de Klerk
2012-12-13 @12:01
Dolf,

Die klomp bevestig in essensie wat jy (en ek ook) sê – veral Claassen se aanhaling – maar wil dit opsluit in hul eie terminologie doen. Dit is hulle irriterende manier – hulle sal weke lank en maande lank oor beuselagtighede stry met jou en in die proses alles bevestig wat jy sê met onvolwasse, kinderagtige aanmerkings en opwerpsels tussenin in, soos ons Brianvds en Panda soos gebruiklik sien doen, en jou dan agterna as die onkundige en leuenaar probeer uitmaak. As hulle kan papegaai, soos Claassen, is hul in hul element, maar wanneer hulle logika en insig moet aanwend om dit wat ons net in ander terme stel, in perspektief te plaas, is hulle soos vlieë wat by ’n toe glasdeur spartel en probeer uitkom en nie kan begryp waarom hulle nie vordering maak nie.

Laat staan maar die spul, hulle is in jul eie beuselagtighede vasgevang en draai nou al spartelend  in die rondte daarmee.

Groete,
Kobus de Klerk
Delete Comment
avatar
Charl le Roux
2012-12-13 @14:31

’n Alternatiewe manier om dit te verduidelik is met dimensionele analise.  Spoed (van lig byvoorbeeld) is die afstand wat afgelê word gedeel deur die tyd wat dit neem om daardie afstand af te lê.  Die dimensies is dus [afstand]/[tyd].  ’n Jaar is ’n eenheid van tyd en sy dimensie is [tyd].  ’n Ligjaar is die produk van die twee, met dimensies [afstand]/[tyd]*[tyd].  Omdat jy met die [tyd] dimensie deel en dan weer maal, kanselleer dit uit en bly jy oor met slegs een dimensie: [afstand].

Jy sou ’n ligdag kon definieer as die afstand wat lig in ’n dag aflê en dan sê dat daar ongeveer 365 van hierdie afstandeenhede in ’n ligjaar is, maar jy kan nie ’n afstand in tydeenhede opdeel nie.

Delete Comment
avatar
Brianvds
2012-12-14 @06:24

Kobus, waarom volg jy nie jou eie raad en "laat staan die spul" nie? Ek neem nie juis deel aan die gelowiges hier se teologiese debatte nie (my spirituele intelligense is immers te laag). Maar sommige van hulle kan eenvoudig nie hulle Bybels uit die wetenskap uithou nie. 

Delete Comment
avatar
Panda
2012-12-17 @07:59
Dolf het nie gesê ’n ligjaar word gebruik om “tyd” mee te meet nie, soos in “ligjare gelede” nie.

Ek sien jy na-aap Kobus se styl al baie oulik waar jy vra wat ek nie verstaan nie. Miskien moet jy maar in die toekoms net beter lees want ek het nie vir ’n verduideliking gevra nie. Ek het bloot net vir jou gevra hoeveel dae daar in jou ligjaar is en jou antwoord kon minder as 10 woorde gewees het. Die doel waarvoor ek dit wou gebruik, het nou genadiglik verval in die lig van jou nuutste openbaring. So ek laat dit daar.

Hierdie  dispuut het van meet af uitsluitlik en alleen gegaan oor die foutiewe gebruik van die term ‘ligjaar’ nadat ek vir Kobus gekritiseer het omdat hy dit as ’n term vir tyd gebruik het waar hy gevra het: “Het hy sy bevindinge 169,000 ligjare gelede opgeteken?” En jy was baie vinnig  om hom te te hulp te snel en te ondersteun en my te bombardeer met die definisie van die ligjaar en te verduidelik hoe ’n ligjaar nou eintlik bereken word, asof dit vir my nuus sou wees. Een van die gereelde maar elementêre toetsvrae by Fisika/Sterrekunde in Standerd Agt (Graad 10) is toevallig: “Verduidelik die term ligjaar en bereken die afstand in kilometer as die spoed van lig = 300,000 km/sek. Ignoreer die invloed van eksterne faktore en dui die antwoord in wetenskaplike notasie aan.”  Vol punte hier is taamlik algemeen vir die meerderheid, want dit is een van die makliker vrae met die oog op differensiasie wat ’n vereiste vir vraestelle is. Jou verduideliking was nou wel ongevraag en van die punt af en onnodig omslagtig maar jy sou waarskynlik ’n redelike punt daarvoor gekry het. Met vrae oor die parsek word soms bietjie kleigetrap want daar moet jy ook kennis van driehoeksmeting hê. En ek het ’n vermoede dat jy daarmee ook bietjie hulp nodig sou hê. Net maar ’n vermoede Dolf!

Ek beklemtoon weer: Hier was nooit ’n dispuut  oor die definisie van ’n ligjaar nie! En ook nie ’n dispuut  oor die belangrikheid van “tyd” in die berekening van die ligjaar nie! Dit is mos maar net jy en Kobus wat op slinkse wyse telkens die definisie en die wyse waarop ’n ligjaar bereken word, as ’n rookskerm by julle irrelevante argumente aanhaak om sodoende die fokuspunt van die eintlike dispuut (die verkeerde gebruik van die term), te verskuif. Ek is nietemin bly vir jou duidelike uitwysing  as jy nou sê:  “Ek het nie gesê ’n ligjaar word gebruik om “tyd” mee te meet nie, soos in “ligjare gelede” nie”  

Maar Kobus het — Dolf! En dit is waaroor ek hom gekritiseer het! En jy het jou gewig agter hom ingooi! Ek wonder  maar net tereg wat jou motief dan eintlik was vir jou entoesiastiese ondersteuning as jy nou onskuldig pleit?  Is dit nie maar omdat ek een van die ‘spul’ is wat nie glo  aan bonatuurlike wesens nie  — goed soos gode en duiwels en engele en so aan. En nie glo aan bonatuurlike dade soos water wat in wyn verander is, en die ganse magtige Nylrivier se water wat in bloed verander is deur net met net ’n kierie daarop te tik — en — en —  en, . . .?

Dan net ’n laaste sakie: Kobus de Klerk — die katalisator wat aanleiding gegee het tot  hierdie dispuut — skryf byna nooit hier sonder om die sg ‘spul’ of enige individu  wat van hom verskil op sy kenmerkende onbeskofte en beledigende trant aan te val en te probeer kleineer nie. Voorbeelde daarvan is legio en hier is tipiese voorbeeld: (die laaste sin daarvan want die hele dokument is byna ’n ligjaar lank) “Is daar enige groter en siekliker domme verwaandheid as dié van die  agnostikus? Met julle gebrek aan insig, is julle verwaandheid ’n spektakel” http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=104401&cat_id=160  En jy, behoort dit beter as enigiemand anders hier op die Sê baie goed te weet, want jy verslind sekerlik al die snert wat hy hier plak. Selfs in sy kommentaar van 13 December 2012 @12:01 oor hierdie aangeleentheid, word weereens deur hom verwys  na ‘die spul’. Jy behoort dus ook bewus te wees daarvan dat hy sommer nog baie onlangs bv. so na my verwys het: “En dan is hy so onnosel om . . .” en nog meer onlangs wou hy weet hoe ek ooit standerd ses geslaag het? Ek kan my nogal voorstel hoe jy jou verkneukel het daarin en gegiggel het vir sy ‘spitsvondigheid’. Verstommend genoeg was daar toe geen reaksie van jou kant, soos toe ek na sy onkunde en dom vraag verwys het nie. Ek is nou ook glad nie kleinserig oor sy opinie van my nie want ek sou nogal ongemaklik voel as hy agter my in die skrum sak.

En net vir die rekord, want dit kan dalk die verkeerde indruk by jou en Kobus skep as ek oor sy ‘standerd-ses-opmerking’ bly swyg: Ek kan ook, vir wat dit werd is, ’n graad èn ’n nagraadse kwalifikasie agter my naam skryf, wat myns insiens nie juis iets is om oor huis toe te skryf nie. Ek heg egter baie meer waarde aan gesonde verstand (common sense) Maar dit kom vir my ook voor of dit ongelukkig nie aangeleer kan word nie. As jy dit nie het nie dan is dit nou maar net ongelukkig — en jou treurige lot ! Dié feit word skitterend deur Kobus de Klerk gedemonstreer en bevestig, wat in die 21ste eeu nog o.a. snert hier kom plak soos: (ek sal met enkeles volstaan, anders word hierdie kommentaar  wat reeds na my sin te lank is heeltemal te lank)
  • dat grote en massa nie ’n belangrike invloed op swaartekrag het nie omdat swaartekrag kwansuis gegenereer/opgewek word en dat dit derhalwe volgens hom dus moontlik sou wees dat die son wel om die aarde kan wentel. En daarmee Newton se Universele Teorie van Gravitasie en Einstein se Algemene Relatiwiteitsteorie beide in hulle moer stuur. Gaan lees dit gerus aandagtig want daar is ook ander stellings daarin wat jou hare behoort te laat rys. Net paragrawe 6 en 7  as die res jou verveel of te veel ontstel. (Terloops: die son se massa is 333 keer en sy volume 1,3 miljoen keer dié van die aarde) Dit is dieselfde skakel as die vorige een.
  • En om die kroon te span het hy wragtig nog iewers ’n geleende skets geplaas om sy aanspraak dat Mars om die aarde wentel en nie nie om die son nie, uit te beeld. Kyk ongeveer in die middel van die lywige bydra daar: http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=print_article&news_id=104259&cause_id=1270 ·
  • En sy volharding daarmee dat 2 x 0 = 2.
  • En sy ongeskrewe reëls dat aanhalings uit die Bybel in orde is, maar ander aanhalings, veral as dit uitsprake van hom weerlê, as papegaaiwerk afmaak.
En aangesien jy jouself nou soortvan van die dispuut gedistansieer het met jou verklaring oor wat jy nie gesê het nie, sluit ek ons gesprek af  met ’n boodskap (L.W.: nie raad nie!) en dit is dat ek jou arrogante ongevraagde ‘goeie raad’  van die hand wys. As ek raad nodig het, sal ek daarvoor vra by iemand van my keuse vir wie ek goed ken en vertrou. Ek het mense wat ongevraagde raad uitdeel, soos jy, nog nooit vertrou nie.

Panda

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address