Hoe lyk jou stad-kompetisie: Om met ‘n stad te praat asof hy sal luister

  • 0

(Is daar iemand wat nog omgee? Iemand wat verstaan?)

So hier sit ek weer, Johannesburg,  
op dieselfde plek
in dieselfde kroeg
in dieselfde seisoen
van ’n ander jaar
en ek wonder.

Jy was my goedgesind,
het my joune gemaak toe ek nog wou protesteer,
jy het my jou agterstrate gewys sonder geweld
en ek was nog nie een oomblik spyt
dat ek jou ’n breukdeel van my tyd kom gee het nie.

Die lewe vat jou soms laag,
soms hierna toe
en soms daarnatoe,
maar dit help nie jy jaag ’n hart asof hy nooit koud sal word nie.

Ek en drome sukkel mos maar met mekaar
en as ek regtig sou wou, sou ek seker kon sê
ek het my hart so bietjie op jou verloor
toe ek nog lus was om in drome te glo,
maar hierlangs is ek deesdae al hoe minder lus vir retoriek en snot.

Ja, Johannesburg,
ek praat nou maar my hart uit met jou,
want jy is een van die min wat my nog goedgesind is.
Minder bombasties as Pretoria,
meer persoonlik as Londen,
het dit vir my gelyk of jy nog so bietjie omgee,
al sien ek soms die spore van duisende wat sal verskil.

Dit is seker net trane wat oorbly,
trane wat ek soos bloed op jou sypaadjies moet stort
oor ’n hart wat ek maar weer
uit eie keuse van my mou moes skeur.

Ek is jammer, Johannesburg,
eendag sal ek my mooiste skoene aantrek
en jou weer iewers in een van jou strate kry
vir ronde nommer twee, want ek skuld jou dit, Johannesburg.

Ek skuld jou, om vir jou een keer te wys wie ek regtig is.

Al is dit net vir dankie en sterkte vorentoe.

Klik hier vir inligting oor hierdie kompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top