Essays | Seminar Room

 
Hoe ekovriendelik is die reismedia?
Vandat ek baie klein was, het padkaarte vir my ’n groot bekoring ingehou. Sekerlik is dit redelik algemeen, sou ek dink. Al is daar nie regtig meer ’n onontdekte horison oor nie, bly die mens inherent maar hunker na ontdekking, en hoe kruis en dwars die aardbol ook al bereis is, hetsy per land, water of deur die lug, is dit mos steeds ’n persoonlike ontdekking as jy vir die eerste keer by ’n plek uitkom. Ongeag wie vantevore daar was, dis jóú eerste keer.

Dan is daar natuurlik ook nog variasies op die tema. Party plekke trek ooglopend baie mense en ander maak mense meer huiwerig. Hoe moeiliker dit is om by ’n plek uit te kom, hoe groter die prestasie en die romantiek wat daaraan gekoppel word. Die Kasteel in Kaapstad kry baie meer besoekers as die Kunenerivier se mond. Maar almal praat baie eerder oor die magiese aantrekking van iets soos die Kunene, alhoewel dit nie in elkeen se broek sit om soontoe te gaan nie. Of om Everest te klim, die Amasone af te roei nie ...

Iewers tussen padkaarte opstel en verslae skryf om te dien as inligtingstukke en monitering in die vroegste dae van ontdekkingsreise en die mens se onblusbare behoefte om dit steeds vandag te doen, het reis en die verslaggewing oor reis deesdae ’n groot speler in die media geword. Daar is menige tydskrifte en televisieprogramme wêreldwyd daaroor. Internasionaal is daar onder andere National Geographic, Condé Nast Traveller en Outside en plaaslik het ons hoofsaaklik Getaway en Weg/Go en al die Weg-aanhangsels, soos Wegsleep en Wegry, plus ander gespesialiseerde viertrek- en motorfietstydskrifte. Dan het al die algemene leefstyltydskrifte amper sonder uitsondering ook altyd ’n reisafdeling in.

Een van die interessantste kwessies rondom al dié publisiteit wat geskep word, is die koolstofvoetspoor wat dit nalaat. In die huidige toestand van onse aarde is die voetspoor uiteraard iets wat elke liewe bedryf en individu ernstig moet opneem, maar is dit nie nóg meer die geval vir die reismedia nie? Want alles waaroor hulle skryf, al die inhoud wat eksemplare verkoop, gaan oor die omgewing, die ongerepte natuur en die fyn ekologiese balans van die skepping. Wat doen al die papierpulp, ink en verwerking om die glansblaaie reg te kry aan die omgewing? Hoeveel van hierdie tydskrifte word op herwinde papier gedruk?

Buiten die kwessie van die produksie van al die bladsye is die verdere vraag ook watter invloed die onderwerpe waaroor daar geskryf word, het op die omgewing waarin dit afspeel. Dit kan redelik algemeen aanvaar word dat die lesers van reistydskrifte entoesiaste is en dat die inhoud wat hulle lees, hulle aanspoor om mee te doen. Nou word daar geskryf (met pragtige foto’s daarby) oor hierdie ongelooflike en pragtige plekkie daar doer in die Bosveld waarvan niemand nog gehoor het nie. Natuurlik net tot die ter perse gaan van dié artikel, wat altyd iets soos “Die Bosveld se bes bewaarde geheim” as opskrif.

Die eerste naweek ná die uitgawe verskyn het, ruk al wat leef en beef en ’n viertrek het op na die idilliese en afgesonderde plekkie. Nou slaan hulle kamp op, ruk die braaitoerusting uit, gaan maak hout, maak vuur en skakel die radio’s aan om Superrugby te luister. Die kinders maak oor en weer maats en kort voor lank skoffel hulle ’n stuk aarde skoon om ’n krieketblad te maak. Partytjietyd vir almal. Gillend en jillend is dit amper nes die naaste Aventura-oord. Aanvanklik laat spaander al die diere verskrik uit hul Eden uit weg. Maar die volgende oggend snuif hulle kos in die lug. Voor jy kan sê “blouaap”, word hulle gevoer. Totdat die neushoringvoëls uit jou hand kom eet. Tog te pragtig. Sondag-laatmiddag ry almal in ’n snorkende stofwolk daar weg en die diere wonder waar gaan hulle hulp nou vandaan kom ...

Ek sê nie alles waaroor daar in reismedia geskryf word, is ’n euwel nie. Inteendeel. Reisstories in die media kan ’n wonderlike bydrae lewer. Veral waar dit gaan oor toerisme as ’n besigheid. ’n Paar jaar gelede was daar byvoorbeeld ’n storie in een van hierdie reistydskrifte wat gegaan het oor ’n boer in die suide van Namibië wie se plaas besig was om te kwyn. Die ekonomie en droogte en siektes het hom op sy knieë gehad. Dit het gelyk of alles verby was. Toemaaktyd.

Maar hoe sê die spreekwoord? ’n Boer maak ’n plan. Met sy laaste bietjie geld bou hy ’n paar blyhuisies op ’n hoogtetjie wat uitkyk op die Goddelike vlak van skoonheid waarvan die suide van Namibië gemaak is. Bo-op elke huisie is daar ’n sitstoep vir wyndrink en wys dink. Hy bou net genoeg huisies sodat sy stuk aarde die totale aantal gaste kan verdra. Dalk het hy net genoeg huisies gebou omdat hy net soveel geld gehad het. Tog wil ek glo hy het net genoeg huisies gebou om ’n bestaan daaruit te kon maak sonder om die ekologiese balans van sy uitgeputte stuk halfwoestynaarde te hard te laat werk.

Die man het nie meer geld oor om te adverteer nie, maar nooi die tydskrifte uit om oor hierdie plek te skryf, om mense bewus te maak van sy nuwe boerdery: hy boer nou met kuiermense. Van die tydskrifte stuur joernaliste en fotograwe. Die lesers lees en kyk lokkiekies. Genoeg van hulle mobiliseer. Soos hulle op- en afry tussen Windhoek en die Republiek, word hierdie plek ’n gewilde oornagplek. Die man is vandag nog op sy plaas. Die reistydskrifte het hom van ondergang help red. Hy boer nou met kuiermense, bokke, beeste en skape.

Die mag van die media is nie iets wat ’n mens sommer vlak moet vat nie. Maar dis iets waarvoor ’n mens verantwoordelikheid moet vat. Veral as jy oor iets soos reis skryf. Want dit waaroor geskryf word, gaan gelees word en gaan ’n reaksie ontlok. Gaan mense mobiliseer om dit ook te ervaar. Almal wil graag ’n eie nuwe horison ontdek.

Vat die reismedia verantwoordelikheid vir hulle blootstelling? Is dit hulle plék om verantwoordelikheid te vat? Sekerlik, want as alles uitgekuier is, is daar niks meer oor om oor te skryf nie. Tog is dit seker maar die ou-ou ding: die media se storie, die omgewing se storie, en die waarheid.

Comments 4 Reaksies | 4 Comments
Delete Comment
avatar
Perdebytjie
2012-04-25 @13:43

Baie goeie punte wat hier genoem word. Ons reis self baie en gaan juis na sulke afgeleë plekke. Ons probeer so min as moontlik impak op die omgewing maak, maar nog steeds ry mens brandstof uit, vergruis honderde insekte en laat onwetend spore agter.

Die reismedia kan gerus meer verantwoordelikheid neem, deur byvoorbeeld meer aksent te plaas op hoe die reisiger sy versteuring van die omgewing kan verminder. Daar is baie onnosel viertrekeienaars wat net oral wil inploeg en nie altyd bewus is van die skade wat hulle aanrig nie. Namibië is 'n goeie voorbeeld. Honderde spore lê kruis en dwars op die hoogs sensitiewe gruisvlaktes. Gelukkig het streng wetgewing nou hierdie praktyk vasgevat,maar daar is min inligting in tydskrifte oor hoekom die vlaktes sensitief is.

Elke nuutontdekte plek, behoort deur die reismedia bekryf te word, met die klem op bewaring, eerder as op plesier. 

Delete Comment
avatar
Gerrit Rautenbach
2012-04-26 @15:57
Dankie, Perdebytjie. Ja, dis seker 'n kwessie van balans. Ek het al vierwielmotorfietsspore in krabbelpatrone op versteende duine gekry, maar ek het ook al met dieselfde motorfietse op 'n bewaringsprojek gewerk....
Delete Comment
avatar
MaanKind
2012-04-26 @16:34
Die reismedia moedig ook die gebruik van elektroniese goed soos GPS aan. Hulle adverteer al wat gadget is. Hoe ekovriendelik is dit?
Delete Comment
avatar
Gerrit Rautenbach
2012-05-03 @09:00
Ek hoor jou MaanKind, maar dis darem nie net GPS'e en ander reistoerusting wat 'n spoor laat nie. Alles dra by; net so ook hierdie geskrywery in die elektroniese media waarmee ons nou besig is ...
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address