Heuning: "Ons laat die gehoor besluit"

  • 0

Die country-duo Heuning het pas hul tweede album, Drome, uitgereik. Jeanette van Staden van dié groep beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Jeanette. Hoe's dinge aan jou kant?

Dit gaan baie goed met my, dankie. Dankie vir die geleentheid om met jou te kan gesels.


Jeanette Van Staden en Henk Dercksen van Heuning.
Foto: Grant Difford

Geluk met die vrystelling van Heuning se nuwe album, Drome. Hulle sê die tweede album is die groot toets vir enige groep – hoe het jy en Henk hierdie uitdaging ervaar, veral in ag genome dat jul vorige album ’n Ghoema-toekenning gewen het?

Baie dankie. Dit was ’n besonderse uitdaging vir ons, daarom het ons eerder langer gewag maar seker gemaak dat ons nog ’n kwaliteit-album uitbring met die regte liedjies. Ons het ongeveer twee jaar aan hierdie album gewerk.

Heuning het naam gemaak as country-duo en ook trots die lojaliteit aan die country-genre verkondig. Tog klink die Drome-album met die eerste paar luisterslae minder na "tipiese" country (as daar so iets is!) as jul eerste snitte destyds – dis asof daar ’n groter neiging na melodiese pop of folk ook in is, asook ’n paar harder rock-insetsels. Het julle spesifiek besluit om met die tweede album vlerke te sprei en ander genres te betrek, sonder om die country-wortels heeltemal te laat vaar, of hoe het dit vir julle gewerk? Hoe was die benadering hierdie keer anders as met die vorige album?

Met ons tweede album was ons baie meer betrokke met die skryf van die album en het dus ons eie stempel sterk daarop afgedruk. Countrymusiek sal altyd ons basis bly en daarom die sterk country-aanslag van hierdie album. Die wonderlike ding van die country-genre is dat dit so veelsydig is. 

Op ’n EPK-video oor die nuwe album sê jy die album is grotendeels saamgestel uit liedjies wat by optredes getoets is en waarby die gehoor aanklank gevind het. Dit klink of julle dus ’n swetterjoel liedjies geskryf en uitgetoets het! Hoe werk die liedjieskryfproses vir julle? Wat is nodig vir jou om ’n trefferlied neer te pen? Voel jy soms druk dat daar geskep moet word sódat mense daarvan sal hou, of voel jy redelik vry in daardie kreatiewe proses?

Om liedjies te skryf is vir my natuurlik, en gewoonlik is alles in my kop voor ek te hard moet konsentreer. Dit is moeilik om objektief te wees as dit by my eie liedjies kom, omrede dit na aan my hart is, so ons laat die gehoor besluit. Dis tog die publiek wat die treffers kies.

Die storie loop dat Heuning destyds as wenners gekies is uit meer as 300 sangers wat demo's ingestuur het vir David Gresham Records. Hoe het daardie proses gewerk? Daar's verskillende teorieë oor sangkompetisies en -oudisiereekse – sommige meen dis wonderlike geleenthede, ander meen dit doen afbreuk aan sekere elemente van kunstenaarskap en die kreatiewe proses. Hoe voel jy daaroor – in die algemeen, en ook met betrekking tot wat dit vir jou en vir Heuning beteken het?

Kompetisies is ’n wonderlike geleentheid en platform. Die groot geheim is dat jy as kunstenaar moet aanklank vind by die tipe kompetisie waarvoor jy inskryf. Dit is wat met my en Heuning gebeur het. Ek is baie lief vir die country-genre en Heuning het vir my die platform gebied om dit verder te vat.

Volgens die biografie-gedeelte op Heuning se Facebook-blad het jy al op 12-jarige ouderdom jou eerste opname in ’n ateljee gemaak en ’n hele rits albums daarna vrygestel. Dit blyk dus dat jy gebore is om hierdie ding te doen – wat maak dit vir jou die moeite werd om ná soveel albums en optredes steeds voort te gaan en nuwe dinge te doen? Wat het daartoe gelei dat Heuning saam met Henk gestig is, eerder as om die sololoopbaan na te streef?

Definitief passie vir dit wat ek doen. Ek geniet dit so baie om te sing, liedjies te skryf en dit vir mense uit te voer. Ek glo in diversiteit en die Heuning-projek is vir my lekker om te doen. Ek kan ’n ander kant van musiek ook uitleef, soos om harmonieë te sing, en die interaksie met nog ’n persoon op die verhoog. Solank ek geniet wat ek doen, gee ek nie om of dit solo of in ’n groep is nie.

Heuning is grotendeels ’n Afrikaanse groep, maar daar steek ook ’n Engelse snit, "Tonight, tomorrow & always", uit op die album. Julle het ook al internasionale sukses met ’n Engelse lied, "Got you on my mind", beleef. As die geleentheid daar is, sal Heuning mettertyd Honey word en internasionaal só voortleef? Of hoe lyk jul planne met Afrikaans en Engels wat betref die passie(s) daaragter en ook wat die markte betref? 

Musiek is universeel, maar dit sal altyd die lekkerste bly om in Afrikaans te sing. Ons het nie op die oomblik sulke planne nie, maar wie weet wat die toekoms inhou?

As lid van Heuning en ook as solokunstenaar het jy al ’n magdom vertonings op verskeie plekke agter die blad. Is daar enige herinneringe wat vir jou uitstaan in hierdie opsig? Enige stories van wat op toer gebeur het wat jy nie sommer sal vergeet nie? Enige plekke waarheen jy altyd sal terugkeer, of waarheen jy nie sommer sal terugkeer nie?

Toe ons onlangs in Louis Trichardt opgetree het, het die krag afgegaan weens beurtkrag! Als was pikdonker en ons ondersteuners het met kerse gestaan vir foto’s saam met ons. Dit was baie spesiaal.

Heuning vertrek blykbaar binnekort op toer na Amerika. Wat sal die toer alles vir julle inhou? En buiten dié vooruitsig, wat hou die nabye en verre toekoms vir jou en vir Heuning in, in soverre jy beheer daaroor het?

Ons sien baie daarna uit om twee vertonings by die Buck Owens Crystal Palace in Bakersfield, California, te gaan doen. Ons gaan saam met die Stampede-orkes op tree en is baie opgewonde daaroor. Ons wil ook graag by elke dorp in Suid-Afrika gaan optree, veral die plekke waar ons as Heuning nog nie was nie.

Wat is die sin van die lewe?

Om ’n verskil te maak!


Foto: Grant Difford

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top