Het die Afrikaanse kortverhaal Apartheid oorleef?

  • 0

1.

In ’n onlangse uitgawe van die New Yorker herinner ’n artikelskrywer ons aan ’n opmerking wat Norman Mailer amper vyftig jaar gelede gemaak het, naamlik dat skrywers van realistiese fiksie nooit tred gehou het met die tempo van verandering in die Amerikaanse lewenswyse nie; trouens, hulle het net verder en verder agtergeraak.

Bestudeer mens die parabool wat die kortverhaal in Afrikaans tot op hede beskryf het, is dit moeilik om nie tot die gevolgtrekking te kom dat die kortverhaal as genre in Afrikaans nou ’n kritieke punt bereik het nie. Die tyd het onder die kortverhaal uitgesuiker, as mens dit só kan stel. Die vraag wat inderdaad nou gevra kan word, is of die Afrikaanse kortverhaal die apartheidsera oorleef het.

 

2.

Dit is nie altyd maklik om jou in te dink in die konteks van die jare vyftig van die vorige eeu nie. G Dekker se Afrikaanse literatuurgeskiedenis (1935) is destyds as gesaghebbend beskou, Rob Antonissen het ’n korrektief op Dekker gebring en is in die jare vyftig gevolg deur ‘n nuwe geslag kritici, onder wie AP Grové en Ernst Lindenberg. Met die aanbreek van daardie dekade, anderhalfjaar ná die bewindsoorname deur die Nasionale Party, is die kortverhaal se aansien binne die groter konteks van ons letterkunde só gering dat sommige literêre historici die genre koppel aan tydskrifte, en die welsyn daarvan aan die kom en gaan van sulke publikasies.

Skrywers wie se name in daardie stadium met kortverhale van literêre gehalte verbind word, is JHH de Waal. Gustav Preller, Langenhoven, DF Malherbe, Jochem van Bruggen, Sangiro, CM van den Heever, Mikro, Van Melle, Willem van der Berg en WA de Klerk. (JC Kannemeyer toon later in sy Die Afrikaanse Literatuur 1652–2004 presies hoe bekrompe só ‘n siening was wanneer hy wys op die eerste bloeiperiode van die kortverhaal in die jare twintig, met ID du Plessis se spookstories, MER se Goedgeluk en Eugène Marais se Dwaalstories as besondere hoogtepunte.)

Die jare vyftig lewer wel ’n opbloei in die kortverhaalkuns op. Naas J van Melle is daar Uys Krige, Elise Muller, CGS de Villiers, Jan Rabie, Uys Krige – en hul publikasies was nie altyd aangewese op tydskrifte soos Brandwag en Die Huisgenoot nie.

 

3.

As ouduitgewer wonder ek uiteraard oor die agtergrond waarteen boeke gepubliseer word en is. In Liber amicorum pro AA Balkema skets JJ Human, wat in die jare vyftig by die Nasionale Boekhandel werksaam was, hoe dit gekom het dat die Nasionale Boekhandel, waarheen die meeste ernstige skrywers hulle in daardie jare gewend het, begin het om belangrike nuwe skryfwerk aan AA Balkema af te staan.

“Dit was … nie net die mooi afwerking van Balkema se boeke wat hierdie beweging veroorsaak het nie,” skryf Human, “ook Balkema se ondernemingsgees in ’n tyd toe ’n sekere slapheid by Nasionale Boekhandel se algemene publikasiebeleid bestaan het, het hier ’n rol gespeel. So, byvoorbeeld, is Elise Muller se Die vrou op die skuit deur Nasionale Boekhandel afgekeur en daarna deur Balkema uitgegee. Destyds is geglo dat kortverhale nie verkoop nie. Die groot sukses van Die vrou op die skuit het die valsheid van hierdie oortuiging gedemonstreer, iets wat Dirk Opperman nog ingevryf het met sy toespraak by die oorhandiging van die Hertzogprys aan Elise Muller vir die bundel.”

Ander skrywers het Muller se voorbeeld gevolg. Een swak besluit oor ’n kortverhaalbundel het veroorsaak dat Balkema die room op hierdie gebied kon publiseer: Jan Rabie se 21, CGS de Viliers se Snel dan jare, asook werk deur Eitemal, ID du Plessis en Uys Krige.

Wat vir my hiervan betekenisvol is, is die feit dat Human ’n klimaat skets waarin die gesindheid jeens kortverhale dramaties uiteenlopend is – en dat die leserspubliek se reaksie op die publikasies ’n aanduiding is van ’n groter gesindheidsverandering.

4.

Kortverhale was vir die skoliere van die jare vyftig nie iets vreemds nie. Verskeie kortverhaalbloemlesings is gemaak en in die goeie ou tradisie van anthologies op skool gebruik. In die middeljare vyftig het Felix Lategan, ’n boorling van Burgersdorp, sy doktorale proefskrif oor die kortverhaal in Afrikaans aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat geskryf. Hy het dit opgevolg met twee bloemlesings wat in die laat jare vyftig op skool voorgeskryf was: Kortpad en Kernbeeld van die Afrikaanse Kortverhaal.

Naas Lategan se bloemlesings het veral FEJ Malherbe baie gedoen om kortkuns in Afrikaans, Nederlands en Vlaams meer toeganklik te maak vir skoliere en studente – en daardeur sekerlik die saad gesaai vir ’n nuwe geslag skrywers wat hul hande aan dié genre sou wou waag.

’n Mens moet in gedagte hou dat die dosente in die literêre dissiplines aan Suid-Afrikaanse universiteite in die laat jare vyftig en vroeë sestigs nie kon ontsnap aan die invloed van die Amerikaners Cleanth Brooks en Robert Penn Warren se Understanding Poetry en Understanding Fiction nie. Hul werk en vars benadering tot die literêre teks het ook ’n beduidende invloed gehad op dosente en studente aan die Universiteit Stellenbosch, en dit is dan ook begryplik dat die eerste groot vernuwende bloemlesing ná Lategan se werk onder redakteurskap van Johan en Ria Smuts kom, te wete Mosaïek, wat in 1965 gepubliseer is, en meteens die prikkeling en onderrig van skoliere na ’n nuwe vlak geneem het.

Die benadering was ingestel op maniere waarop die literêre teks toeganklik en verstaanbaar gemaak en ’n evaluering daarvan moontlik gemaak word. Mosaïek is ’n studieboek, en dit het vir uitgewers die voorbeeld gestel waarop verskeie soortgelyke publikasies vir alle vlakke van skoolonderrig voorberei kon word.

In die middeljare sestig was dit belangrik dat die bloemlesings vir skoolgebruik ’n groot verskeidenheid kortverhale bevat het – met die klem vir eers op verhale wat toeganklik was vir die betrokke ouderdomsgroep, en ten tweede verhale wat verteenwoordigend van die belangrikste skrywers was.

Getrou aan die kodes van daardie tyd (hetsy formeel of informeel) sou ’n mens in sulke bundels geen vloekwoorde of kru taalgebruik, seksbeskrywings of godsdienstige neerhalings vind nie. Samestellers sou ook op ’n manier moes in ag neem dat daar dinge soos gemengde klasse (seuns en meisies) naas klasse van slegs een geslagsgroep was, dat daar kinders van verskillende geloofsoortuigings was – en dat daar spesifieke aannames was oor die emosionele rypheid van die skoliere in hul ouderdomsgroepe.

Daar was, anders as wat mens sou verwag het, nie spesifieke politieke voorskrifte vir sulke bundels nie. In die raamwerk waarbinne die boeke gepubliseer en gebruik is, is politiek reeds verdiskonteer in die kodes van die tyd. Daardie kodes is ingebed in die Calvinistiese tradisie waarbinne Suid-Afrika gestaan het, al van lank voor 1948 af, en wat veroorsaak het dat Suid-Afrika op baie vlakke (en gekoppel aan die wetgewende gesag) ’n eng, geslote gemeenskap bevorder het, wars van die liberaal-demokratiese beginsels van vandag.

5.

Het hierdie nuwe benadering aanleiding gegee tot die groei in die getal kortverhaalbundels en -bloemlesings wat gepubliseer is? Net deels.

Mens kan die tydsgewrig nie ignoreer nie: die Sestigers, verset teen die apartheidsregime, toenemende kulturele isolasie. Alles dinge wat as prikkels vir die skryfimpuls gedien het. Tog weet ’n mens dat die uitgewers nie skielik sou begin om meer kortverhaalbundels te publiseer as daar nie iets was wat hulle sou laat afsien van die opvatting dat kortverhaalbundels nie verkoop nie.

En daardie iets was die provinsiale en skoolbiblioteekstelsels wat in die jare vyftig tot stand begin kom het en in die jare sestig en sewentig tot wasdom gekom het. Toe ek in die laat jare tagtig by Human & Rousseau begin werk het, was die biblioteekdienste nog in volle swang, en ek onthou watse invloed die gewaarborgde verkope op publikasiebesluite gehad het.

In die jare sestig en sewentig veral het die biblioteekdienste plaaslike boeke dermate ondersteun dat veral Afrikaanse boeke ’n ongekende bloeityd beleef het. Die amptelike tweetaligheidsbeleid het aankope aan biblioteke help waarborg; plaaslike Engelse uitgewers had dit egter minder voorspoedig, want hul publikasies moes om hul helfte van die koek meeding met buitelandse publikasies. Afrikaanse uitgewers kon seker wees daar was min mededinging vir hul helfte van die koek.

As ’n mens dan die biblioteke as agtergrond neem, en jy soek verklarings vir die groot aantal nuwe kortverhaalbundels wat vanaf die middeljare sestig tot die middel-negentigs in Afrikaans gepubliseer is, dan moet jy ook die werkswyse van Afrikaanse uitgewers betrag. Die biblioteekdienste het ’n vaste fondament vir publikasies help skep; die onderwysstelsel het hulle gehelp om kortverhale, na die voorbeeld van die digkuns, as groeigebied te benut.

Hulle het gewoon die voorbeeld van hul Amerikaanse en Europese eweknieë gevolg – hoe meer kortverhaalbundels daar in jou eie fondslys is, hoe groter is die keuse vir bloemlesings wat jy kan maak sonder om hokgeslaan te word deur onbeskikbare oordrukregte of buitensporige tantième-eise deur ander uitgewers by wie jy oordrukregte moes aanvra. Die beheer van neweregte is een van die sentrale boustene van die uitgewerswese en in die Suid-Afrikaanse konteks was dit nog altyd een van die beste inkomstestrome naas dié uit biblioteek- en handelsverkope.

6.

Die voorskryfmark in die jare sewentig was ’n ware Josefskleed. Enersyds was daar vir onderwysers op moedertaalvlak die moontlikheid om hul diskresie te gebruik wanneer hulle hul keuses moes maak oor wat hulle met hul skoliere sou behandel – ’n roman, ’n keuse van kortverhale uit ’n bloemlesing, en so meer. Andersyds was daar nog genoeg ruimte vir uiteenlopende benaderings op provinsiale vlak.

Vanaf die laat jare vyftig is in Afrikaans ses boeke voorgeskryf waaroor matrikulante in die eindeksamen moes verantwoording doen: een digbundel, een drama, een kortverhaalbundel, een essaybundel, ’n reisverhaal en twee Nederlandse boeke. Die beleid is mettertyd aangepas en verfyn; ek onthou dat ek in 1969 in matriek net oor ’n roman en ’n bloemlesing kortverhale geskryf het. Die ander voorgeskrewe boeke het ons onderwyser ligter hanteer en alle studietyd is gekanaliseer na die roman en kortverhale, waaroor ons vrae “gespot” het.

Kortverhaalbloemlesings se samestelling is dikwels bepaal deur die fondslyste van die betrokke uitgewers, met die toevoeging van enkele gekanoniseerde werke. Onderwysers kon kies wat hulle daaruit wou behandel. (Hierdie voorreg om seleksies te maak het die aanpak van studieboeke – soos Pylvak, Reënboog ea – ondermyn, aangesien hulle in die geheel vir sowel onderwysers as leerlinge leiding gegee het.)

Voeg hierby die moontlikhede wat tweedetaalonderrig geskep het – onderwys aan swart skole in die era van AP Treurnicht (die aanloop tot 1976 se opstande) het meegebring dat daar intense wedywering onder uitgewers was om hul publikasies voorgeskryf te kry en dan deur skole geplaas te kry. Dit is hiér waar die groot geld deur skrywers en uitgewers gemaak is.

Wat is die praktiese uitvloeisel van dié biblioteek- en onderwyssituasie? Die hooggety van die Afrikaanse kortverhaal. As mens gaan kyk na Abraham H de Vries se Die Afrikaanse kortverhaalboek, is dit opvallend hoeveel van die verhale wat opgeneem is, tussen 1970 en 1989 gepubliseer is. Dié bloemlesing bestryk ’n tydperk van meer as ’n eeu, en die swaartepunt lê in die tydperk waarin die onderwys- en biblioteekstelsels gedy het.

Dit is die tydperk waarin Hennie Aucamp se Volmink verskyn het, De Vries se eie Nag van die clown, asook Koos Prinsloo se Die hemel help ons en Slagplaas. Hier, aan die bopunt van die kortverhaal se kurwe, het die boekklub Leserskring ’n bloemlesing Afrikaanse kortverhale, Vertellers 1,as hul kroonboek gekies – sekerlik die mees praktiese bewys daarvan dat die kortverhaal volledig losgeskeur was van sy tydskrifwortels en ’n baie gewilde genre geword het.

Let gerus ook op die aanloop – die vrugte van Sestig. Die kortverhale van Breyten Breytenbach, Chris Barnard, Ingrid Jonker ea het reeds 'n sensitiwiteit vir dinge buite die tradisionele raamwerk ingebed gehad.

In die jare sewentig en tagtig het die spreekwoordelike sluise oopgegaan. Naas Aucamp en De Vries het John Miles, Piet Haasbroek, Jaap Steyn, Welma Odendaal, Henk Rall, Jan Spies, Ina Rousseau, Margaret Bakkes, Elsa Joubert, MC Botha, Dalene Matthee, E Kotze, Petra Muller, George Weideman, PJ Philander, Etienne van Heerden, TT Cloete, Koos Prinsloo en Alexis Retief gehelp om die sentrale korpus van die Afrikaanse kortverhaal se bloeityd te skep.

Die laat jare tagtig, met die verklaarde noodtoestand, het 'n bloeityd van sy eie opgelewer, en vernuwing waarin die name van Alexander Strachan, Jeanne Goosen, André le Roux, Gawie Kellerman, JM Gilfillan, Zirk van den Berg, Harry Kalmer en F Muherab Marethab prominent was.

As mens dan, aan die hand van De Vries se Die Afrikaanse kortverhaalboek, kyk na hoeveel nuwe kortverhaalskrywers daar sedert 1990 tot op hede deur uitgewers aan die publiek bekend gestel is, dan word dit baie duidelik dat daar in hierdie 24 jaar 'n verlangsaming was. Die lys lees: Anton Döckel, Emma Huismans, Rachelle Greeff, Riana Scheepers, Corlia Fourie, Pirow Bekker, Fransi Phillips, Ina le Roux, Jaco Botha, Herman Wasserman, Elias P Nel, Izak de Vries, Thomas Deacon, EKM Dido, Eben Venter, Christiaan Bakkes, Diana Ferrus, Danie Botha, Nanette van Rooyen, Nini Bennett, PJ Bosman, Leonard Koza, Dana Snyman, Helena Gunter, Willemien Brümmer, Danie Schreuder, Anastasia de Vries, Nicole Jaekel Strauss en Christine Barkhuizen le Roux.

Uiteraard is daar ook skrywers wat nie die paal by De Vries se keuse gehaal het nie, maar in die algemeen is daar ook iets positiefs aan hierdie maer tyd van die kortverhaal: uitgewers het hierdie skrywers se werk goed genoeg geag om te publiseer, ongeag die kwynende onderwysmark en die ineenstorting van die biblioteekdienste. Die genre self is dus nie uitgedien nie. Maar dit is ook 'n feit dat daar geen aansporing soos daar van ouds vir uitgewers was om kortverhaalbundels in groot getalle te publiseer nie.

7.

Een van die heel eerste strydperke waar transformasie begin het ná FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990, was dié van die onderwys. Die aanloop tot die uitkomsgebaseerde onderrig was hier, met mense soos Mary Metcalfe wat teen 1994, die jaar van vrywording, hul stempel baie diep afgedruk het op die maniere waarop die kennisstrewes van skoliere vervul word.

’n Disfunksionele Departement van Nasionale Onderwys het in 1998 veroorsaak dat baie uitgewersondernemings hul deure moes sluit nadat die voorskryfstelsel in duie gestort het. Die groot oesjare was verby.

Die daaropvolgende implementering van die uitkomsgerigte onderwys het nuwe lewe in die uitgewerswese geblaas, en die kortverhaal het aanvanklik nog gedy – sover dit moontlik is om te gedy binne ’n voorskryfstelsel waar onderwysers nie meer hulle inisiatief en eie oordeel kon gebruik nie, maar streng moes hou by dít wat voorgeskryf is, en die manier waarop daar van hulle verwag is om dit te onderrig.

Enersyds het die onderwys die juk van die eng Calvinistiese stelsel van weleer volledig afgewerp; andersyds is dit vervang deur ’n stelsel wat algaande meer beperkings ingevoer het. Ons lewe in ’n meer permissiewe era – seks is nie meer heeltemal ’n taboe nie, en kras taal kan soms funksioneel verantwoord word. Politiek, veral struggle-politiek, het amper ’n tematiese voorvereiste geword.

Uitkomsgerigte onderwys was een van die grootste rampe wat Suid-Afrikaanse onderwys nog getref het, hoofsaaklik omdat niemand behoorlik opgelei was in daardie dissipline nie. Uitgewers moes vervaard begin om werkswinkels te reël waartydens aan onderwysers verduidelik kon word hoe om die handboeke te gebruik. Spesiale werkboeke moes deur die uitgewers in baie dissiplines voorberei word waarin die onderwysers addisionele materiaal en antwoorde op al hul vrae sou kry.

Die onderwysowerhede self is geknelter deur die siekte van ons tyd: té veel gepraat, té min gedoen.

Toe die stelsel uiteindelik nekomgedraai is, het die Afrikaanse kortverhaal daarmee saam baie slegte nuus gekry.

7.

In die nuwe stelsel van taalonderrig wat deur die Departement van Nasionale Onderwys geïmplementeer is, moet uitgewers volgens baie streng reëls voorleggings doen van boeke wat moontlik voorgeskryf kon word. Vir al die publikasies is daar op elke vakgebied baie streng voorskrifte.

  • Vir Afrikaans as huistaal word 'n roman, 'n aantal gedigte en óf 'n drama óf filmdraaiboek voorgeskryf. By Afrikaans as eerste addisionele taal staan die kortverhaalbundel wel.
  • Vir huistaalleerders val kortverhale onder die sg vierde genre saam met poësie, drama, die misdaadroman en filmstudie, waar die leerders twee take moet doen oor een van die genres as deel van 'n portefeulje, dws dit word nie ekstern geëksamineer nie en die onderwyser kan self 'n keuse van verhale doen uit 'n voorgeskrewe bundel (slegs vyf verhale word vereis).
  • Die leerders wat Afrikaans as eerste addisionele taal neem, doen twee tekste uit drie verskillende genres (poësie, prosa en filmstudie of kortverhale).
  • Uitgewers moes voorleggings maak vir voorskrywing – nadat die onderwysdepartement in sommige gevalle reeds besluit het oor die inhoud van die bloemlesing. In laasgenoemde gevalle lê die samesteller se kuns in die verrykte, bykomende materiaal en die wyse waarop dit die inneem van kennis vir onderwyser en leerling vergemaklik. In die onlangse verlede het die onderwysowerhede al hoe meer spesifieke eise begin stel oor presies wat die inhoud van bloemlesings moes wees, en word daar nie baie ruimte gelaat vir leerlinge wat meer wil weet as die voorbereide antwoorde wat saam met die teks aangebied word nie.

Daar is gelukkig aanduidings dat die onderwysowerhede afgesien het van hul besluit om self die inhoud te kies – die samestellers kan hulle nou weer tot beter materiaal wend.

Die onsekerheid wat sedert 1998 oor kurrikulums ingetree het, het die noodwendige gevolg gehad dat die publikasie van kortverhaalbundels baie strenger beheer is deur uitgewers as ooit vantevore. Daar is nie meer, soos in die sewentigs, op hoop van seën links en reg uitgegee aan sulke bundels nie. Slegs dié manuskripte met die hoogste meriete word oorweeg – en nie altyd goedgekeur nie.

Ek het baie begrip vir hierdie versigtigheid. Die prestasie van kortverhaalbundels in boekwinkels is ook nie van so ’n aard dat uitgewers gaan soek na nuwe manuskripte nie.

En dit bring mens dan by die vraag of die Afrikaanse kortverhaal gaan oorleef. Vir my gevoel is dié genre se dood nie ’n saak van noodwendigheid nie – maar dit sal vindingrykheid kos om dit na ’n nuwe groeifase te stuur.

8.

As ’n mens in ag neem dat die Afrikaanse kortverhaal se groot opbloei baie te make het met eksterne faktore soos die onderwys en biblioteekdienste, en dat die publikasiereëlmaat toegeneem het namate uitgewers met bloemlesings aan die kortverhale in hul fondslyste ’n tweede, baie lonende lewe kon gee, is dit vir my vanselfsprekend dat hierdie genre ’n nuwe abba-geleentheid moet soek.

Anders as die roman in die inheemse swart tale – wat feitlik uitsluitend binne onderwyskonteks bestaan – is dit denkbaar dat die genre met geringe aanpassings ’n nuwe publikasiekonteks kan vind. Baie sal afhang van hoe aanpasbaar die skrywers is en in watter mate hulle nog die leiding en deelname van uitgewers nodig het.

Dis maklik om te sê dat mens die e-boek en die internet as media moet gebruik. Maar gehaltebeheer was nog altyd deel van die uitgewer se funksie – ek ken min skrywers wat nie ’n uitgewer nodig het om hulle tot beter insigte, formulerings en noodsaaklike redigering te lei nie. As daar ’n manier gevind kan word om manuskripte by ’n toestand van persgereedheid te kry, is ek bereid om geld te verwed op die kanse dat die Afrikaanse kortverhaal met veerkrag digitaal sal vorentoe skiet.

(Met dank aan Johan en Ria Smuts, asook Riens Vosloo.)

Kerneels Breytenbach

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top