Heropening van die Christo Coetzee-kunsgalery

  • 0


Op die foto staan, van links, Joanie Combrinck, Herman Binge en

Jan Wolmarans.

Die Christo Coetzee-galery, geleë in die boomryke Kerkstraat in die huis waar die kunstenaar die laaste jare van sy lewe deurgebring het, is op Vrydagaand 12 September ten tye van die jaarlikse Tulbagh Kunstefees heropen.

Herman Binge, bekroonde filmmaker en stiefseun, se dokumentêr oor Coetzee se lewe het ook by die geleentheid gedebuteer. Die dokumentêr vorm deel van kykNET se Stroom-op-reeks oor “mans wat oor die jare heen hulle eie pad beginselvas en vreesloos geloop het ten spyte van openbare mening en politieke onderstrominge. Mense wat gedoen het wat hulle geglo het is reg”. So ’n man was Christo Coetzee

Carine Janse van Rensburg het met Jan Wolmarans, inwonende kunstenaar, oor die galery en die kunstenaar gesels.

Wat is jou toekomsvisie vir die Christo Coetzee-galery?
My bydrae is om kunstenaars meer aktief by Coetzee se nalatenskap te betrek – nie soseer om in een van sy vele style te werk nie, maar om weer te leer om meer te waag. Om nie deur konvensies, kritiek, politiek of polemiek bang gemaak te word om jou dink te dink en jou voel te voel en dit te wýs nie. Mens praat hier ook nie van skoktaktieke en banale soorte aandagtrekkery nie, maar van ’n skoonsif van gedagtes wat regdeur pynsenuwees sny tot op die been. Dis waagmoed, nie waaghalsery nie. Dis my plan om uiteenlopende kunstenaars met groepsprojekte bymekaar te kry om mekaar op te skerp.

Wat maak van Christo Coetzee een van ons groot Suid-Afrikaanse kunstenaars? In watter opsig(te) was sy werk grensverskuiwend?

Christo was ’n pionier wat die oppervlak van kuns deurbreek het, letterlik en figuurlik, en hy het inbeweeg op plekke waar kamera, teleskoop of mikroskoop nie kon raakvat nie. Dit was hoeka die dae toe almal se kyk op die maanvaarte gerig was, en toe “nuwe” lewe diep onder mikroskooplense ontdek is.

Coetzee het als bekyk. Hy was tegnies deeglik bewapen om in enige styl te werk, en het sy talent gedissiplineer met ’n enorme werksaptyt. Hy het die rol van kuns en die kunstenaar ernstig bevraagteken.

Weet mooi, die man het met ’n skalpel geskilder, hy net nie net verfraai nie. Hy het gekonfronteer en nie net met beeldsjarme betower nie. Derms het hy uitgeryg lank voor dit ’n modegewroeg geword het. Die karkas van kuns het hy met wilde woede of chirurgiese presisie oopgekloof om te sien wat binne-in aangaan. Te sien wat die onderdele van die estetika is, en die binnegoed dan weer in ongewone patrone te herrangskik om die mens – veral die slaafse Afrikaner – se sintuie wakker te klap. Hy het beelde opgedis om ons te wys hoe om weer vir onsself te dink. Om te sién. Om nie alles te glo wat jy sien en hoor nie. Om dit te durf waag om die status quo te bevraagteken. Destyds was dit uiters ongewoon.

Hoe beïnvloed Christo Coetzee hedendaagse kunstenaars, indien wel?

Dis ’n wye vraag en ’n moerse tesis. Wat my interesseer, is om kunstenaars vandag – hulle wat deur vryheid lamgelê en voos gehok word – weer te wys wat waagmoed is. Myself natuurlik ook. En dis nie vir sissies nie. Jy moet bereid wees om jou alles te openbaar, en dit nie as ’n vorm van ekshibisionisme nie, maar as genadelose selfondersoek. Die soort dryfkrag wat Koos Prinsloo in die lettere van die tagtigs had, het Coetzee as skilder in die vyftigs en sestigs gehad – op die internasionale kunsverhoog. Hy was ’n meedoënlose filosoof en was, soos Koos, ook genadeloos met ander en homself. Hy was ’n bliksem veel meer as ’n flambojante partytjiedier. And he did not suffer fools easily. Nie ’n maklike mens nie. En hy spook waar ek woon.

Wat beteken die aanstelling as, onder andere, inwonende kunstenaar vir jou as kunstenaar?

Dis uiters ongewoon dat ’n beskermheer van die kunste aan ’n onbekende kunstenaar ’n hawe bied om te kan werk. Nie sedert die Renaissance gebeur dit nie. Dis vir my ’n kans om balans te vind tussen my eie skilderwerk en die eise van ’n galery. Aan die een kant staan die orde en rasionele strukture om ’n plek te bedryf wat deur kenners fyn bekyk word, aan die ander kant die uitdaging om my eie chaos – ’n gelaatblommery met doringtakke en al – te omskep in iets wat ook nie bloot oppervlakke versier nie. Sal moet sien. Sal moet uithaal en wys.

Ek het my eie fokusopdragte en ander kollegas hulle s’n. Ek en Susan Smuts wissel mekaar af en vul mekaar aan, ook wat bedryfsure van die galery betref. Ek beoog om ’n gesprek te bou tussen Coetzee se werk en kunstenaars oor ’n wye veld, en dit met uitstallings, naweekwerkswinkels, meestersklasse soos aangebied deur kunstenaars en kritici, gemeenskapsprojekte, en talle ander spanwerke. Sal moet sien wat posvat. Maar dis veral ook deel van my opdrag om my eie werk te dryf ver verby die veilige terreine. Om onbevange te produseer en vreemde waters te waag. Dis nie so gerieflik en cushy soos dit klink nie. Ek woon binne-in ’n galery en moet daar werk sonder om ’n sirkusdier te word. En as ’n mens werk, veral as jy jouself genadeloos moet delf, wil jy nie iemand hê wat oor jou skouer loer nie. Daarom is die galery gedurende die week toe, behalwe vir afgespreekte besoeke deur beleggers, skoolgroepe, kunsstudente en so aan.

Ons bied gedurende die week ook funksies soos boekbekendstellings aan. Naweke en vakansiedae is die galery oop vir alle besoekers. Maar ons bly fokus op ’n baie spesifieke nismark: kundige kunsbeleggers. Ek het ’n goeie grondslag in die kunsgeskiedenis aan die eertydse RAU verwerf, fondamente waarop ek nog elke dag bly bywerk. Die galery is vir my ’n universiteit. Kyk, as ek dag vir dag dieselfde werk moes doen, was ek lankal gek. Ons galery is elke dag anders. En dis nie ’n oulike inloerhoekie vir tannies wat iets moois soek om by hul gordyne en tossels pas nie. Dis worstelkuns. Daar is bloed en hare en tande. Nie almal se smaak nie, maar die soort brandstof wat vir my kan werk.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top