Herinneringe aan Dennegeur

  • 0

Net voor ek standerd 6 toe is, is ek met die trein af om by tant Phoebe en oom Josef en hulle kinders Linette en Manie op hulle plaas Dennegeur te gaan kuier vir ’n week voor ek saam met hulle see toe gegaan het. Dennegeur was tussen Oudtshoorn en De Rust geleë in die Karoo. Die naaste treinstasie was ’n “siding” in die middel van nêrens.  

Vlakteplaas was ’n siding waar die trein vieruur die oggend gestop het om boere se room- en melkkanne op te laai. Vlakteplaas was nie ’n regte stasie nie, maar die naaste aan die plaas, en omdat die trein daar gestop het, het my ouers gereël dat oom Josef my daar van die trein sal kom afhaal.

Die kondukteur het my hier kort na drie-uur die oggend kom opklop sodat ek kon regmaak vir die afklim op die siding. Dit was koud in die treingang en ek het my trui, wat erg na treinrook en steenkool geruik het, vasgeknoop. Die ou stoomenjin het gewillig oor die Karoovlakte getjoek-tjoek, terwyl ek angstig gewag het dat die trein stadiger moes ry en stilhou. Uiteindelik fluit die trein toe so ’n lang fluit en die ysterwiele begin oor die spore skree soos die remme aangedraai word, en ten einde laaste het die trein stilgehou. Die kondukteur het vir my die treindeur oopgemaak en met ’n flits gelig. Op Vlakteplaas was daar nie ’n platform nie en ek moes agteruit met die steil ystertrappies afklim ondertoe na waar oom Josef met ’n paraffienlantern ver onder langs die spoor vir my gewag het. Ek het styf aan die reling vasgekleef, want ek was bang ek val in die donker af op die klippers langs die spoor.

Twee leertasse en ’n kosmandjie word van die trein afgetel. Oom Josef het die lantern neergesit en my bagasie aangevat. Die een leertas was heelwat groter as die ander een. Dit was in die groot tas dat die groot nuwe geheim veilig en netjies tussen my nuwe somersklere gelê en wag het.    

“Dag Evaton,” groet oom Josef. Hy pik ’n soentjie op my mond, tel die lantern op en vat my hand. “Ek sal nou-nou die tasse kom haal.” Ons skaduweebene spring tussen die lanternlig oor die gruis langs die spoor soos ons aanstap na die bakkie, wat nie ver daarvandaan staan nie. Hy maak die deur van die bakkie oop. Binne sit my maatjie vir my en wag. Linette is my niggie wat ek nie baie gesien het nie, maar sy was familie. Ek het nie susters gehad nie en hierdie niggie-ding was asof sy soos ’n regte egte sussie was. Sy was my ma se tweede jongste suster se dogtertjie. Ons het mekaar net een maal per jaar gesien as ons van die Transvaal na Groot Brak se see toe kom. Ons ken mekaar nie regtig nie, maar dit is ’n wonderlike ding om familie te hê. 

Terwyl oom Josef die tasse gaan haal, skuif ek voor in die bakkie langs Linette in. In die donker steek ek my hande uit om aan haar te raak. Op haar kop is ’n wolmussie en sy dra, soos ek, bril. Ek het nie geweet sy dra bril nie. Ons giggel. Sy’s  nog in standerd 4 en gaan volgende jaar standerd 5 toe. Ek is die groot meisie wat die volgende jaar hoërskool toe gaan.

My ma-hulle het my dikwels alleen vir ’n paar dae laat gaan kuier. Hierdie lang drie weke se kuier was dalk ’n oefenkuier vir die koshuis toe gaan. Ek sou van die volgende jaar af Helpmekaar Meisies Hoër toe gaan, waar ek vir vyf jaar ’n koshuisbrak sou wees en net een maal per maand sou huis toe kon kom. Was hierdie ’n oefenkuier vir my of vir my ouers? 

Moes ons gewoond raak om sonder mekaar te wees? 

Doef, doef hoor ek oom Josef die tasse agter op die bakkie sit. Hy klim in, draai die lantern dood en trek weg oor die klippers dat die stof deur die oop venster inwarrel. Vinnig draai ek die venster toe. 

“En toe, Evaton, hoe gaan dit met jou ma-hulle en het jy lekker trein gery?”

Oom Josef het my altyd Evaton genoem na aanleiding van die ou stofgatdorpie waar ek grootgeword het.

“Hulle het gesê ek moet groete stuur oom.” Linette lag saggies in die donker.

“Mens kan hoor jy kom van die Transvaal af – jy praat soo van ’ek’ met ’n wye oop mond,” lag sy.

“Mens kan hoor jy bly in die Kaap, want jy bry jou ’r’.”

So sit ons en skerts oor die sinkplaatpad tot ons êrens voor ’n donker huis stilhou.

“Hier’s ons,” sê oom Josef en druk die toeter drie vinnige kere. 

Ons klim uit. Ons gaan deur ’n tuinhekkie waarlangs daar twee dennebome groei en stap met ’n kleipaadjie af tot by stoeptrappies. Net toe ons die trappies opstap, gaan die voordeur oop. Tant Phoebe staan in die deur met ’n blou japon. Sy het ’n kers in ’n blaker in haar hand en in die kerslig lyk sy na my ma. Skielik verlang ek vreeslik na my ma en wens sy was ook hier. 

“Estelle, hallo. Kyk net hoe het jy gerek – jou ma-hulle sal ’n skilpad op jou kop moet sit sodat jy nie verder kan groei nie,” lag sy. “Hoe gaan dit met jou?” vra sy en haar stem is nie my ma se stem nie.

“Dit gaan goed, dankie, Tannie.” Ek dink ek het haar seker gesoen. 

“Daardie tasse is nou so vol stof, Josef. Los dit eers hier op die stoep dat ek hulle kan afstof voor jy hulle inbring. Estelle, welkom hier by ons. Linettetjie, wys vir haar jou kamer en haar bed. Dis nog so vroeg. Gaan lê eers ’n bietjie en kyk of julle nie kan slaap nie, dan bring ek netnou vir julle ’n bietjie tee.” 

Linette vat ’n flits wat op ’n tafeltjie by die voordeur staan en lig vir my om agterna in die donker gang af te loop na haar kamer toe. Die huis ruik na gebakte brood en plaasbotter. Die geelhoutplanke kraak onder my nuwe sandale soos ek Linette volg.

“Hier’s jou bed,” wys sy met die flitslig. Sy loop na die spieëlkas, waar sy ’n kers aansteek. Dit is nou die eerste keer wat ek regtig kan sien hoe sy na ’n jaar se laaste sien lyk. Sy trek die wolmussie af en ek sien haar hare is nou kort en lyk ’n donkerder bruin. Agter die nuwe brilglase kyk twee groot bruin oë na my en twee mieliepitvoortande hang oor haar onderlip soos sy vir my glimlag. Net toe spring ’n wit-en-swart foksterriër die kamer binne en pyl reg op my af, spring teen my op en haak sy naels in my trui.

“Af, af, Vicks.” Sy slat na hom met haar wolmussie. Vicks gryp na die mussie en begin daaraan te trek. “Jou swerkater, kyk nou het jy amper my kepsie gehaak.”

Oom Josef kom met my tasse die deur ingestap en sit dit in die hoek neer.

“Vicks, uit, uit!” skree hy. “Toe julle twee, vang gou nog ’n slapie voor sonop,” sê hy. En trek die deur agter hom en Vicks toe.

“Ek gaan net my jas uittrek – kyk, ek het my nagrok onderaan.” Sy wys vir my. Daar is twee lang maer bene en ’n maer lyfie binne ’n blou blommetjiesflennie-nagrok.

Ek begin my klere uittrek. “Sies, myne stink na treinrook.” Vir ’n oomblik staan ek net in my frokkie en broekie, dan spring ek vinnig tussen die lakens in. Ek het al so effens borsies gekry waaroor die seuns my gespot het. “Aitsa, ons sien die bytjies begin al steek,” het die goor Austerlands-seuns oor die straat vir my gespot. Ek is nie gewoond aan iemand wat by my in die kamer na my kyk nie, behalwe my ma.

Linette blaas die kers dood en ons lê in die donker. Ek weet nie of ek met haar kan praat en of sy wil slaap nie. Ek wonder waar my neef is? Hy het nie saamgekom om my te kom ontmoet nie. Ek sluimer in.

Toe iemand aan my skouer raak, skrik ek. “Ek sit vir jou hier op die bedkassie beskuit en tee neer.”

Die son skyn skuins deur die venster en die kamer is vol oggendskaduwees. Linette lê opgekrul op haar bed.

“Ous, jy moet nou begin roer, jy wil tog nie laat wees vir skool nie,” sê tant Phoebe.

Linette steun. “Kan ek nie maar vandag hier bly nie? Manie kan vir Mevrou gaan sê ek is siek. Ek kan mos nie dat Estelle hier alleen bly nie?” pleit sy.

“En wat dan van die rapport? Jy moet dit mos vandag self gaan haal.”

Die Kaapse skole het later as die Transvaalse skole gesluit. Dis hoekom ek nou al hier is en Linette en Manie nog skool toe moet gaan.

“Toe Ousie, dit is nog net vandag dan het jy die hele vakansie.”

Linette sit op die kant van haar bed en doop haar beskuit in die tee. Woeps, breek daar ’n stuk af en plons spettend in die tee.

“Ag nee, kyk nou hoe bespat jy jou skoon nagrok. Nou moet jy dit maar in die wasgoedmandjie gooi sodat ai Vytjie dit kan was. Die arme meid het nou ekstra om te was noudat Estelle ook hier is. En water is so skaars,” sê tant Phoebe. 

Ek drink my tee en eet my beskuit terwyl Linette brommend haar nagrok uittrek en haar by die waskom op die wastafel begin was.

“Estelle, as Linette klaar is, kan jy ook maar opstaan en was. Wees suinig met die water; hier by ons is dit bitter droog.”

Toe Linette klaar is, gaan sy deur ’n buitedeur en ek hoor hoe sy die water in die tuin uitskiet. Sy kom terug met die leë waskom en sit dit terug op die wastafel. Sy gooi water uit die lampetbeker in haar tandebekertjie en stap weer buitentoe. “Jy moet jou tande buite onder die bome borsel,” praat sy oor haar skouer.

Ek staan buite onder die vyebome en spoeg lang strale wit tandepastawater onder die vyebome op die sanderige grond voor my voete uit. Ek het my, soos Linette, in die kom gewas met my nuwe waslap en liggroen lekkerruik Vinolia-seep wat my ma ingepak het. Ek het gemaak soos Linette en die water onder die bome uitgegooi. Bo in die dennebome sing die duiwe. 

“Evaton, jy moet kom brekfis!” roep oom Josef. Ek trek ’n nuwe kuierrok aan en gespe my nuwe sandale vas. Ek kom in die kombuis.

Manie en Linette staan reg vir skool met elkeen ’n kosblik in die hand en ’n boeksak op die rug. Dit voel snaaks, hulle gaan skool toe en ek nie. “Dalk kan ek saamgaan skool toe,” stel ek voor.

“Moenie worry nie, ek dink dit gaan in elk geval ’n halfdag wees vandag,” stel tant Phoebe my gerus. “Hulle is sommer nou-nou terug.” Ek smeer die plaasbotter dik op tant Phoebe se bruin brood. “Hier’s vyekonfyt wat ek van ons eie vye gekook het.”

Oom Josef kom sit. “Kom laat ons die seën vra,” sê hy en hou sy hande op voor Linette en Manie deur die deur kan kom.

Hy bid vir alles en almal. 

“Josef, die kinders gaan laat wees,” fluister tant Phoebe. Oom Josef sluit uiteindelik af met ’n lang diep “aaamen”. Linette en Manie glip vinnig deur die agterdeur voordat iemand nog iets kon sê. 

“Evaton, het jy geweet jou pa het vannag hier aangekom?”

“Ag is nie, Oom.”

“Ja, hy het vannag hier aangekom. Hy het die hele nag deur Aberdeen se vlak met ’n dikwielfiets gery en net nadat julle weer gaan slaap het, het hy hier aangekom. Hy slaap nog. Hy is in die solderkamer waar niemand hom mag pla nie. Hy het gesê jy moet hom nie kom wakker maak nie, hy wil eers uitrus voor hy begin kuier.”

“Ag is nie, Oom.”

“Sowaar, jy moenie raas nie, hoor.”

Ek kyk diep in sy bruin oë. Dis ook Linette se oë, dink ek. Ek weet hy maak net ’n grap, maar sê nou net dit is waar?

Dit was natuurlik nie waar nie, maar hy het my so dwarsdeur die vakansie geterg. 

“Maak ons los, Pa,” se tant Phoebe. Eers kon ek nie verstaan wat die losmaak beteken nie, maar toe kom ek agter dat ons nie mag opstaan van die tafel af voor oom Josef klaar die “dankie vir die kos”-gebed gesê het nie.

“Gaan maak jou bed op en dan kom jy my help koekies bak. Vandag moet ek begin koekies bak vir die see. Kan jy eiergeel van die wit af skei?” vra sy en begin die borde na die opwaskombuis toe dra waar ai Vytjie met die skottels baklei.

Toe ek klaar bed opgemaak het, hang ek my klere in die kas. Ek los die mooi netjiese wit pakkie met die blou letters onder in die groot tas en skuif dit onder die bed in. My ma het my van die “groot meisie”-goed vertel. Dit was ’n paar dae voor ek weg is. Ons twee het een aand alleen op die sifstoep gesit. Die motte het klaps-klaps teen die sif vasgevlieg en my ma het saggies gepraat. My ma het ’n ander soort trek op haar gesig gehad, so asof sy wou huil. Sy het vertel van wat een maal per maand met alle meisies gebeur wanneer hulle so twaalf, dertien jaar oud word. Hierdie ding kan dalk met my gebeur terwyl ek kuier en sy wou my mooi daarvan vertel sodat ek nie skrik of bang word nie. Toe het sy die pakkie vir my gegee en vir my met ’n spierwit ander watte-dingetjie met ’n rekbandjie verduidelik hoe ek dit moet aansit.     

Terug in die kombuis. “Ek kan die eierwit skei,” jok ek. Ek het mos al hoeveel keer by gestaan as my ma die eiers skei vir koek en dit lyk glad nie so moeilik nie.

Ek verbrou met die eier en voel vreeslik skaam toe tant Phoebe hard sê: “Ag nee, kyk nou, jy het dan gesê jy kan dit doen … Jy moet maar liewers die gaar koekies vir my uit die panne haal.”

Ek lig die koekies een vir een met die punt van ’n mes uit die panne en pak dit op ’n spierwit doek.

“Smeer die panne met hierdie lappie vet. Moenie te dik smeer nie, maar ook nie te dun nie anders sit die koekies vas.” Sy rol die goudgeel deeg behendig met die roller uit en druk die koekies uit die deeg met ’n glas en rangskik hulle op die panne wat ek klaar gesmeer het.

“Estelle, jy kan maar van die gebreekte koekies eet, hoor. Vytjie, bring daar nog ’n bietjie hout – dit lyk vir my my oond koel af. Kom, kom, my oudste, moet nou nie dat ons vandag sukkel nie, maak nog bietjie meer vuur!” roep tant Phoebe die opwasplek in. 

Ek lig koekies uit en pak hulle mooi versigtig tussen die ander. Ek wil nie weer ’n fout maak nie. Ek smeer die leë panne met vet en ai Vytjie stook die vuur. 

Voor ek mooi geweet het waar die tyd heen is, stap Manie en Linette die agterdeur in.

Hulle gee hulle rapporte aan tant Phoebe, wat eers haar hande aan die nat vadoek moes afvee voor sy dit kon oopmaak om te lees.

“My wêreld, Maneveld, sowaar alles A’s, en jy ook Linettetjie! Maar baie geluk, hoor, julle twee is darem ou twee voorslae.” Ek kan sien tant Phoebe is hoog in haar skik met die rapporte.

“Ek het ook alles A’s gekry,” spog ek, net ingeval niemand vir my daarna vra nie.

“Linettetjie, skink vir julle gemmerbier uit die kan en dan gaan lê julle ’n bietjie. Julle kan nie nou in hierdie hitte buite speel nie. Ek sal julle kom roep vir koffie so teen vieruur en dan kan julle buite gaan speel.”

Die gemmerbier kom uit ’n erdekan wat die bier heerlik koel hou. Dit bruis in my keel af.

“Ma, kan ons nie elkeen ’n koekie kry nie?” vra Manie.

“My kind, vat van dié wat stukkend is, en daar is ’n paar wat ’n bietjie aangebrand het. Hierdie koekies is vir die see en as julle nou al daaraan begin eet, moet ek alweer bak voor ons afgaan Brakrivier toe.”

Daar is nie baie wat gebreek is oor nie, want ek het self gewillig aan die gebrandes en die stukkendes geëet.

“Ma, kan ek nie maar proe aan die koffiekoekies nie?” vra Linette.

“Vir julle elkeen net een. Onthou ons moet vanaand nog die vulsel tussenin sit en julle almal sal moet help.”

Ons loop kamer toe met die gemmerbier en die koekie. Ek voel effens naar van al die oorskiet se eet. Linette en Manie het hulle toebroodjies by die skool geëet. Hier by die huis, so tussen die koekies bak, was daar skaapvleisbredie en pampoen.

Dis warm in die kamer. Linette trek die gordyne toe. In die middagskemer, terwyl ’n paar vlieë teen die vensterglas gons, sluimer ek in.

“Koffietyd!” roep tant Phoebe by die deur. Vicks spring ook na binne en bo-op Linette waar sy nog met haar skoolklere aan lê en slaap.

“Toe, toe, ounooi, trek jou skoolrok uit en dan kom julle koffie drink. Vicks, kom uit hier!” Tant Phoebe gryp hom aan die halsband en dra hom uit, maak die deur toe. Linette trek haar huisdrarokkie met die blou en pienk strepies aan en gooi haar groen skoolrok in die wasgoedmandjie.  

Ons drink koffie by die kombuistafel en eet ’n yslike sny bruin brood met plaasbotter daarop. Eenkant op die tafel staan die koekblikke gestapel met die strandkoekies daarin.

“Tant Phoebe, vanoggend het iemand gepraat van die rivier – kan ons by die rivier gaan speel?” vra ek, wat aljimmers in water wou speel. Vars- of soutwater was die lekkerste speel vir my.

Almal lag vir my.

“O my, daar is nie veel van ’n rivier nie … dis bitter droog. Julle kan maar gaan vir so ’n rukkie – vat vir Vicksie saam en ai Vytjie ook. Ek hou nie daarvan dat julle daar onder alleen speel nie.”

Almal sit hulle sonhoede op. Linette gee vir my ’n kakiehoedjie om op te sit. Ons hardloop die agterdeur uit. 

“Julle moet ook nie lank wegbly nie, want Maneveld, jy moet vir Vicksie kom kos gee en julle moet gaan eiers uithaal en hoenders kos gee!” roep tant Phoebe agterna  terwyl ons afstreep met die stofpad rivier toe.

Die stofpad loop reguit die rivier in en, soos die pad, is die rivier niks anders as ’n wye stof- en sandstrook nie. “Maar ek wil in die water loop,” neul ek. “Waar is die régte rivier?”

“Niggie, dis die rivier hierdie,” verduidelik Linette.

“Nee, nee, ’n rivier het water … ’n mens kan daarin swem en …” Net toe kom ’n trop skape teen die skuinste van die oorkantste wal af. Hulle blêr en ruik aan die sand en bondel in die droë rivier saam. ’n Ou man jaag hulle aan.

“Hier anderkant is daar nog ’n paar plasse water waar die skaap kan drink!” skree die ou man soos hy die troppie aanjaag. Vicks wil nog agterna, maar Manie hou hom vas.

“Ek gaan saam met die outa na die regte rivier toe,” sê ek en begin agterna hardloop.

“Estelle, jy mag nie, jy gaan in die moeilikheid kom. Kom terug, ons moet huis toe gaan!” skree Linette.

Ek plof in die stof agter die ou man aan.

Vicksie gaan opgewonde aan die blaf en Manie moet net vashou.

“Es..te…e..e..lle!” roep Linette.

“Vytjie, gaan vang haar, en maak gou, anders gaan die miesies baie kwaad wees!” skree Linette.

Maar voor Vytjie nog kan agterna slof, draai ek om. Skielik voel ek iets warms tussen my bene. Het ek dalk in my broekie gepiepie? Ek kom uitasem by my groepie aan. Ons loop weer die skuinste op met die stofpad terug na Dennegeur.

“Ek moet kleinhuisie toe gaan … Ek het ’n groot piepie.”

Toe ons by Dennegeur se hek indraai, draf ek dadelik kleinhuisie toe. Ek is nie gewoond aan hierdie kleinhuisie nie. Daar gons brommers in die hoek toe ek die houtdeur oopluk. Dit ruik na Jeyes Fluid daar binne. Dis ’n houtbank oor ’n gat. Tant Phoebe het dit daardie oggend vir my gewys. Daar is nie ’n ketting om te trek as jy klaar is nie, net papier vir die afvee en dan in die gat afgooi. Ek hou my oog op die brommers. Ek weet hulle steek nie, maar ek is nogtans bang vir hulle. Ek trek my broekie af en gaan sit. Toe sien ek die bloed in die middel van my spierwit splinternuwe kuierbroekie.

Toe weet ek waarvan my ma gepraat het. Toe weet ek hoekom ek die pakkie so netjies tussen my klere ingepak het. Die pakkie saam met die rekband wat my ma vir my gewys het.

Van diep binne-in my kom daar iets soos ’n wete dat ek nooit sal vergeet dat ek ’n jong vrou geword het op Dennegeur nie. Dennegeur, die plaas wat nou nie meer is nie. Die plaas wat opgekoop is baie jare later vir die PK le Roux-besproeiingsdam. 

Ek weet toe ook dat ek nie vir Linette sal vertel nie. Sy is nog ’n klein meisietjie en ek is nou groot. Groot, ja, soos my ma verduidelik het … al kan ek nog nie die eiergeel van die wit afskei nie. 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top