Hygliteratuur | Erotic literature

 
haar lyf sidder
Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.
Die huis ruik na bier; die voordeur staan oop. Die alarm was nooit aan nie; die buiteligte is nog nie af nie. Die tuinstel word omring deur ’n stille gehoor van bottels en stompies. ’n Eensame skoen dobber in die swembad. Die buurhond is hees geblaf; sy eienaars taamlik moerig.

Tasya weet van fokol. Sy slaap in gisterheeldag se skinny jeans en gisterheeldag se T-hemp op die 1950’s-deco-bank waar haar bloedsuiker haar begewe het; Jules slaap geheel en al kaal in die 1950’s-deco-bed waar Tasya haar sonder veel afskeidsangs gelos het. Die res van die oproerige party het volgens protokol gedeurnag en voordag uitgepeul op soek na ietsie te ete.

Nou, Jules van der Merwe se lewe was sover verligte NG-kerk-Andrew-Murray-gemeente-materiaal. Vanoggend gaan sy haar eie vlerkies wel snoei wanneer sy vir die eerste keer wakker word in ’n vreemdeling se 1950’s-deco-bed. Die wakker word is nie die rede vir die snywerk nie. Die onbeplande, onbeskermde seks wat sy met ’n beautiful olyfvel-girl gehad het, dít is die snoeiskêr. Vergewe maar die dubbelsinnigheid.

Jules se babelas wag geduldig vir haar om aan die beweeg te kom; haar gewete is twee treetjies agter. Sy rol op haar rug, trek haarself in die proses oop en begin haar teer oë fokus. Die eerste objek wat sy sien, is haar panties wat bloot op genade aan ’n hoekie van die bedlampie hang. En dan afval. Asof dit heelnag teen swaartekrag gestoei het net om gesien te word, om Jules te herinner aan hoe vinnig Tasya dit gisteraand uitgetrek het.

Sy gryp die stukkie skuldgevoel, glip dit aan en lê vir ’n oomblik terug. Sy vryf haar oë versigtig en probeer gisteraand se beginpunt sien. Jules is die een wat Tasya op haar rug draai, oor haar gly en haar eie kaal bene tussen die kaal olyfvelvrou s’n vleg.

Die herinnering laat Jules se lyf opnuut kramp. Magtig, wat is fout met my? dink sy ontstoke en sit regop. Die babelas vat sy kans en oorrompel haar; so ook die reeds genoemde skuldgevoelens. Beide maak Jules naar.

Sy buk om haar jeans langs die altaar op te tel. Tasya druk Jules teen die muur vas, soen haar en gly haar hande af om die knoop van die jeans los te maak. Iemand lag op die grondvloer en Tasya trek haar by ’n kamer in. Sy sluit die deur, stamp Jules agteroor op die bed en trek haar jeans aan die pype uit.

Jules skud haar kop, maar is dadelik spyt toe die hoofpyn sterker pols en die naarheid in haar opstoot.

Met die maksimum balans wat sy kan baasraak, glip sy haar jeans aan en soek verniet na ’n bra of hemp.

Goed, sy gaan in die gang moet loer. Sy sit haar hand op die deurknop en wonder vir ’n hoendervleisoomblik wat sy sal doen as die deur gesluit is.

Haar bra lê vlak voor die deur! Tasya knoop Jules se bra met een hand los, trek dit af en vou haar warm, nat mond saggies eers om die regtertepel, en toe om die linker-een.

Goeie genade, dink Jules en skraap die soewenier op en trek dit agter die toe deur aan. Jules trek Tasya se hemp oor haar kop, want sy wil onmiddellik die vrou se kaal olyfvelborste teen hare kan voel.

Jules byt op haar tande. Haar hemp! Waar is haar hemp? Sy loer weer in die gang af, sien die bewysstuk so drie meter verder. Tasya knoop dit ongeduldig los, trek dit af en gooi dit op die houtvloer. Sy druk Jules teen die muur vas met haar heupe teen hare.

Met haar hakke in die hand, haar moed in haar skoene, sluip Jules tot by die hemp. Terwyl sy dit haastig vasknoop, stuur die beginpunt van die aand op haar af. Sy staan en bestudeer die versameling ou plate teen die muur. Tasya kom staan agter haar, sit haar hande op haar heupe en soen haar agter in haar nek. Tasya se hande gly vorentoe en rus op haar lieste.

Jules stap so wyd verby die ongelukstoneel, ’n heuphoogte-staankas waarteen Tasya haar vasgedruk het, dat sy teen die teenoorgestelde muur skuur. Jules draai om. Sy is die een wat eerste soen, wat Tasya nader trek en die rooiwyn op haar lippe proe. Hulle hoor iemand op die trappe en beweeg verder in die gang af, onder die beskerming in wat die donkerte hulle bied.

“Een, twee, drie,” fluister Jules vir haarself aan die bokant van die trappe. Ten volle geklee, maar eintlik toegevou in ’n jas van versigtig gekultiveerde skuld, stap sy die trappe af op soek na haar handsak en die naaste siel wat die hek kan oopmaak.

Tasya van Reede het intussen teen alle verwagtinge in begin wakker word. Met die hoeveelheid whiskey wat sy gisteraand gedrink het, het sy alkoholvergiftiging met ’n haarbreedte vrygespring. Sy poog om op die bank om te draai, maar slaag eerder daarin om van die meubelstuk af te bliksem.

In uiterste skok, en ongoddelik naar, vlieg sy orent tot in ’n sittende posisie. Haar brein klop, haar mond is droog en harig. Sy vat ’n sluk van die naaste gaslose bier. Hair of the dog. Op dié Emsie Etiket-oomblik arriveer Jules van der Merwe op die toneel.

Ja, dit is die girl, dink Tasya in slow motion, die girl wat ek gisteraand uitgetrek het, opgewerk het en op haar sy wou draai sodat ek soos ’n lafaard agter haar rug kan wegkruip wanneer sy klimaks.

“Haai,” sê Jules in Pretoria-slang.

Tasya burp eers, sit die bier neer en gooi haar Joburg-“Hey”. Sy krap haar kop. Sy het al vele meisies vir een aand huis toe gebring, uitgetrek, opgewerk, laat klimaks en dan sonder enige skuld huis toe gestuur.

“Koffie?” verneem sy.

Jules se glimlag is skaam en bang en onskuldig en Tasya onthou iets van gisteraand se aantrekking. “Nee dankie. Ek moet in Pretoria uitkom …”

“Sure. Ek maak vir jou oop,” antwoord Tasya en staan op. Dit kos al haar selfbeheersing om nie op haar retro-flokati-mat te hurl nie.

“Het jy dalk my handsak gesien?” vra Jules. En asof sy moet verduidelik waarom hulle nou verdere minute in mekaar se geselskap moet spandeer op soek na die stuk nagemaakte koeivel, voeg sy by: “My sleutels ...”

“Sure,” sê Tasya en gooi al die bankkussings af in die soektog.

“A, daar’s dit,” sug Jules verlig en wys na die kapstok waar sy ook haar wraparound opgehang het. Sy haak beide los en stap sommer voor, iets wat sy nooit doen nie. Sy sluit haar kar oop, gooi alles op die vloer van die kar, ook iets wat sy nooit doen nie, en skakel die Isuzu-bakkie aan. Die hek gaan oop en Jules draai summier links, al het sy geen idee waar sy is nie.

Toe sy die kar in tweede rat druk, eers tóé kyk sy op van die stuurwiel af en terug na die olyfvel-girl met die lang, amperswart hare wat in die wind waai. Tasya stamp Jules agteroor op die bed, trek haar jeans aan die pype uit. Sy kruip oor Jules, gaan lê lig bo-op haar. En die druk teen die muur, die haastige pluk aan klere, die lyfgierigheid is skielik weg. En daar lê ’n verstommende warmte, ’n stil, ongekende oopte tussen hulle, wat nie een verwag het of verstaan nie.

Jules trek die vrou se mond af, nader, en soen haar lig. Die vrou kreun lig, bly haar eers soen, maar sak dan af en soen Jules se borste. Dan haar hele lyf.

Jules trek haar terug, nader, en soen haar weer. Haar hande rus op Tasya se boude, beweeg dan op en vou om haar borste. Tasya hou daarvan, kan Jules voel, want haar lyf sidder. Sy draai Tasya om, lê lig op haar en vleg haar eie bene tussen die kaal olyfvelvrou s’n. Sy druk Tasya se hande bo haar kop vas, soen haar, haar borste en dan weer haar mond.

Sy gly haar hand tussen Tasya se bene in, voel die opgedamde natheid en versprei dit eweredig. Tasya glip haar eie hand onder Jules se lyf in en doen presies dieselfde.

Hulle bly deurgaans naby mekaar; hulle soen of verwonder hulle aan die oop stilte. Hulle word warmer, begin sweet, raak minder en minder bewus van die pompende musiek op die grondvloer en meer en meer bewus van asems wat snak, opgehou word. Hulle gee gelyk in tot die ander een en hul orgasmes begin saam.

Tasya kyk hoe die bakkie om die draai verdwyn, steek ’n sigaret op en stap haar deurmekaar huis binne. Sy bekyk die gemors en stap uit. Sy mis die galbrakende bure met ’n paar minute.

“What did you do?” vra die barista opgewonde.

“Moenie vra nie, Sean. Gooi net vir my ’n dubbel espresso.”

“Was she at least hot?”

“Go away.”

Sean lag en verdwyn in sy koffiewinkel in. Ed daag voor die espresso op.

“Hey,” groet hy en soen Tasya op die voorkop. Sy haal haar sonbril af, maar hou die fedora op om die son te keer.

“Jissus. Jy lyk sleg.”

“Baie drank en min slaap sal dit aan jou doen,” probeer Tasya glimlag en steek nog ’n sigaret op.

Sean bring die espresso. “She shagged some broad last night,” sê hy vir Ed.

“Sean ...” begin Tasya.

“Yeah, yeah, I know,” lag Sean. “Fuck off and bring me eggs on rye. Am I right?”

Tasya knik.

“Selfde vir my, Sean,” bestel Ed en skakel sy iPad aan. Tasya sluk die espresso in een sluk, sug en sit haar donkerbril weer op. “So?” vra Ed.

“Ek het moeilikheid gemaak.”

“Vertel.”

“Jy weet daardie groot job waarvan ek gepraat het?”

Ed lig ’n wenkbrou. “Die Franse een?”

“Daai een. Gisteraand was die meet and greet. Dit was ek, die Franse producer, die Franse kliënt, die Franse fotograaf en dan die pop wat die kos doen. Jy weet, die een waarop die kliënt aandring?”

“Ja, die een wat jy nog nooit van gehoor het nie?”

“Jip. Sy bly in Pretoria, weet jy?” probeer Tasya tyd koop.

“Wragtag? Gaan julle cool klomp Joburgers karringmelkbeskuit eet? Melktert vir die Franse bedien?” terg Ed met ’n onderduimse laggie. Ed se espresso daag op. “Hoe het sy die job gekry?”

“Niemand weet nie.”

“Sy’t seker die producer ge-schtump?”

Tasya bloos. “Ek is amper seker dit is nie die geval nie.”

“Goed. So wat is die moeilikheid? Is die kliënt clueless?”

“Nee.”

“Is die fotograaf ’n diva?”

“Nope.”

“Wat dan?”

“Die Pretoria-pop.”

“Wat van haar?” Tasya bly stil; sy byt haar lip. Ed se oë rek. “Sy’t jóú ge-schtump?!”

“Wel, ja, maar nie om die job te kry nie.”

“Tasya!”

“Jy hoef niks te sê nie. Ek weet watse kak ek gemaak het. Een, sy werk tegnies vír my. Twee, ons is vir twee maande saam op hierdie projek. Shit.”

“En nou?”

“Ek’t haar vanoggend huis toe gestuur ...”

“Sy’t oorgeslaap?”

“Wel, sy was te dronk om Pretoria toe te ry ...”

“Hoe dronk was jy?”

“Voor die tyd? Nie baie nie. Na die tyd het ek wel ’n bottel whiskey uitgedrink.”

Ed maak sy oë skrefies. “Tasya, jy is mos nou al jare lank klaar met daai kak? Jy’t een keer jou gat gesien oor jy jou soos ’n hormonale tienerseun gedra het. Jy’t amper jou besigheid verloor.”

Tasya haal haar bril af. “Ek het amper my besigheid verloor, maar ek hét wel my girlfriend verloor, so glo my, ek onthou alte goed.”

“As dit nie jou ou truuks is nie, wat is dit dan?”

Tasya bekyk die eiers wat Sean neersit. Sy wonder of sy dit gaan inhou. Sy sluk en skraap haar moed bymekaar. “Ek weet nie wat gebeur het nie,” antwoord sy en dink aan die moment waar haar asem opgeraak het, die moment toe sy oor Jules gekruip het, haar gesoen het.

“Is daar iets omtrent hierdie girl, Tasya?”

“Nee, fok man. Sy’s ’n Afrikaner, for god’s sake.”

Ed sit terug. “En wat’s jy?”

“Wit en Afrikaanssprekend, maar nie ’n Afrikaner nie.”

Ed skud sy kop. “Hoe weet jy dan sy is ’n Afrikaner? Sy’s bloot wit en Afrikaanssprekend?”

“Sy bly agter die boereworsgordyn. Sy besit seker ’n Blue Bulls-trui en ’n Toyota. Ek wed jou sy bly op ’n golf estate, gaan elke dag gym toe en gebruik woorde soos ‘leka’.”

“Jy’s ’n hypocrite – jy weet dit?”

“Ek’s net realisties. Sy het wit jeans aangehad! En jy is reg oor die kos. Sy gaan seker vleispasteitjies en koeksisters bedien.”

“Jou vooroordeel verbaas my soms.”

“Toe, toe. Jy’s eerste om te kerm oor die Stellenbosch-boereadel wat vir jou klas gegee het.”

“Ek sê eerder niks nie,” verklaar Ed en kyk af na sy iPad. “So wat gaan jy doen?”

“Om verskoning vra en belowe dat dit nooit weer sal gebeur nie?”

“Dit is seker al wat jy kan doen.” Ed lig sy iPad op om dit van nader af te kan bestudeer.

“Jy is so ongeskik met daardie ding ...”

“Is hierdie girl blond?” vra Ed.

“Ja, hoekom?”

“Stywe wit jeans en ’n swart hemp?”

“Nee!” sê Tasya en gryp die iPad. “Bliksemse Facebook!”

Comments 2 Reaksies | 2 Comments
Delete Comment
avatar
isme
2012-08-14 @13:29
heerlike leesgenot met 'n belofte van 'n Déjà vu gevoel
Delete Comment
avatar
Hen3n
2012-08-21 @03:18
Aai, jy maak mooi! Sappig maar nie noodwendig so soet nie. 
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address