Growwe nalatigheid

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

 

Gedurende die bosoorlog in die destydse Rhodesië het ene mnr Bickle sy Cessna ligte vliegtuig aan die rebelle-regering van mnr Ian Smith verhuur. Ingevolge die huurooreenkoms sou hy die vliegtuig self loods en sou die regering hom skadeloos stel vir enige skade aan die vliegtuig terwyl dit in regeringsdiens gebruik is. Die enigste uitsondering was indien skade veroorsaak sou word as gevolg van opset of growwe nalatigheid aan die kant van die vlieënier.

Op 'n goeie oggend het mnr Bickle by die lughawe van die destydse Salisbury (nou Harare) sy vliegtuig geïnspekteer voordat hy daarmee 'n amptelike vlug sou onderneem. Die vliegtuig het die vorige dag 'n groot diens ondergaan. Mnr Bickle het die kajuitdeur oopgemaak en sy bagasie in die vliegtuig geplaas. Hy het toe gemerk dat die vliegtuig se sleutels in die aansitter gesteek was, maar hy het nie raakgesien dat die aansitter reeds in die posisie gedraai was wat albei enjins se magneto's aangeskakel het nie. (Die magneto is daardie apparaat wat die vonk veroorsaak aan die bopunt van die silinder ten einde die mengsel van petrol en lug te laat ontbrand, sodat die enjins van die skroefvliegtuie kan begin werk.)

Mnr Bickle het daarna begin om die enjins te toets, onder meer omdat hy bekommerd was dat daar dalk 'n brandstoflek kon gewees het. Hy wou seker maak dat hierdie probleem die vorige dag met die diens aandag geniet het. Daarvoor het hy die brandstofpomp aangeskakel en seker gemaak dat dit behoorlik werk. Uit die aard van die saak is brandstof toe tot in die enjin gepomp. Mnr Bickle het die pomp weer afgeskakel en toe na die enjins van die vliegtuig geloop om die kompressie te toets. Dit word gedoen deurdat die persoon wat die toets uitvoer, reg voor die skroef gaan staan, dit aan die punt vashou en dit stadig in die verkeerde rigting draai, dit wil sê antikloksgewys. Die oomblik toe mnr Bickle begin om die skroef van die een enjin op hierdie manier in die verkeerde rigting te trek, het dit hom bygeval dat die sleutels reeds in die aansitter gesteek was. Hy het onmiddellik sy greep op die skroef laat vaar, maar dit was te laat. Aangesien die silinderkop van die enjin reeds vol petrol gepomp was, en die magneto's aangeskakel was, het die enjin spontaan ontbrand - en toe was daar pêre. 

Die enjin het gou teen volle revolusies geloop en mnr Bickle het probeer om in die kajuit van die vliegtuig te kom sodat hy beheer daaroor kon uitoefen. Die lugstroom wat deur die skroef veroorsaak is, het egter die kajuitdeur toegewaai. Die gevaarte het in die rigting van die heining aan die suidekant van die lughawe begin jaag, daardeur gebars en teen 'n spul bome vasgejaag. Die vliegtuig is in die botsing onherstelbaar beskadig, en dis net 'n wonder dat niemand in die proses seergekry het nie. 

Mnr Bickle het daarna 'n eis teen die Rhodesiese regering ingestel vir skadevergoeding, maar die regering se verweer was die klousule in die huurkontrak wat bepaal het dat hulle nie aanspreeklik sou wees indien die skade veroorsaak is deur die opset of growwe nalatigheid van die vlieënier nie.

Regter Beadle het die saak op 4 en 5 Februarie 1980 verhoor en ondersoek ingestel na die vraag of mnr Bickle "grof nalatig" was, soos bedoel is in die huurooreenkoms wat hy met die Rhodesiese regering gesluit het. Die regter het beslis1 dat die woorde "grof nalatig" beteken dat iets méér as "gewone nalatigheid" vereis is. 'n Persoon wat “grof nalatig” optree se gedrag is net so kort duskant opset. Die toets wat die hof dus moes toepas, was of mnr Bickle se gedrag só roekeloos was dat dit as "grof nalatig" bestempel kon word.

Die regter het daarna beslis dat die redelike vlieëner, soos mnr Bickle, behoort te besef het toe hy aan die skroef van die vliegtuig getrek het dat die aansitter wel in die aanposisie kon gewees het. Hy het beslis dat mnr Bickle nalatig was deurdat hy homself nie éérs tevrede gestel het dat die vliegtuig afgeskakel was nie.

Die regter het egter, volgens die getuienis, beslis dat  die feit dat die enjin ontbrand het toe mnr Bickle die skroef in die verkeerde rigting getrek het, 'n frats was; dit was iets wat werklik uitsonderlik was en nie normaalweg sou gebeur het nie.

Die skade aan die vliegtuig is dus, volgens die regter, veroorsaak deur 'n kombinasie van twee faktore: mnr Bickle se eie nalatigheid en die hoogs uitsonderlike manier waarop die vliegtuig se enjin daarop gereageer het. Die hof was egter tevrede dat mnr Bickle se optrede nie “grof nalatig”, in die sin van "roekeloos", was nie, want sy gewone nalatigheid sou onder normale omstandighede nie daartoe gelei het dat die vliegtuig se enjin vanself sou ontbrand het met sulke rampspoedige gevolge nie. Gevolglik het hy die Rhodesiese regering aanspreeklik gehou vir mnr Bickle se skade en moes hulle ook mnr Bickle se regskoste betaal.

1 Bickle v Joint Ministers of Law and Order 1980 (2) 765 (R)

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top