Fiksie | Fiction

 
Grafskrif

Met sy koue lyf het hy langs haar onder die komberse ingeklim. Hy was nat van die reën, sy hemp ’n lagie ys teen haar vel. Sy kon hom voel ruk, het hom teen haar groot lyf vasgehou en probeer warm en stil maak.

Later het sy opgestaan, swaar en moeg van die kind in haar, ’n blikkie vis oopgemaak en saam met wyn langs Dedo neergesit. Hy wou nie eet nie, selfs al het sy hom probeer voer. Net sy kop gelig om moeilik ’n paar slukke wyn te neem, toe die bottel weggestoot. “My kop, my kop,” het hy sag gekerm, “my brein gaan dood brand ...”

Daar was lankal nie meer kole vir die stoof nie. ’n Swart poeierlaag het teen die mure en houtvloer aangeslaan. Sy het gedink dat sy seker van die skerwe steenkool bymekaar sou kon skraap vir ’n laaste bietjie hitte, maar toe begin Dedo lag en warm kry en homself uit die komberse uit woel. “Dit is somer in Italië,” het hy vir haar gefluister en sy hand voor sy oë gehou. “En die lig is so skerp. ’n Vuur.”

Deur die vensters was dit reeds skemergrys, met geen teken van die son nie. Jeanne het die luike van die kamer toegetrek sodat dit donker kon bly en in ’n leunstoel langs die bed gaan sit.

Sy het altyd geweet dat hulle nooit ’n rustige lewe saam sou hê nie. Haar ouers en haar vriende het uit hul pad uit gegaan om haar teen die Italiaanse Jood te waarsku. Bly weg van Modi, maar sy’t hom Dedo genoem, soos sy ma. Slegte bliksem, het haar pa geswets toe hy ná die geboorte van hul eerste baba te dronk was om die kind te gaan registreer. Maar sy wou hom hê, meer as enigiets anders in haar lewe. Sy het nie eens omgegee toe hulle die kind later na ’n staatskool moes stuur nie. Dedo ook nie. Nie een van hulle het in elk geval geweet hoe om vir die kind te sorg nie. Sy wou nét vir hom alleen by haar hê.

Toe hulle in ’n kamer in Rue de la Grande Chaumière intrek, het sy ’n huislikheid probeer skep uit sy deurmekaar, dronk gemors van ’n lewe waar hy kon werk. Maar sy was gou weer aand na aand alleen, wanneer sy net kon hoop dat hy huis toe sou kom. Dit was sy mal kunstenaarsvriende wat hom elke keer teruggelok het, het sy haarself wysgemaak as die eerste lig sonder Dedo deur die kamervenster val. Partykeer het hy vir dae weggebly, rondgelê in die strate van Montparnasse wat oorgeloop het van vinnige drank, dwelms en hoere, sy roes op ’n sypaadjie afgeslaap totdat die polisie hom huis toe sou bring.

Sy het vir lank na hom gekyk. Sy skouers is nog breed, het sy gedink, en sy gesig mooi. Hy het kort-kort gekreun, en soms kon sy ’n paar woorde uitmaak. Hy het van Italië gepraat – “Cara Italia” – en van sy ma. Sy lippe het skaars beweeg. Jeanne het hom toegetrek, maar hy het dadelik weer die komberse afgegooi. Sy het nie meer geweet of hy lag of huil nie en kon nie ophou om na hom te kyk nie. Nog ’n bottel wyn, het sy gedink en een oopgemaak.

Die probleem was nie net dat ander vrouens, soos daardie flenniekop verskoning van ’n digteressie wat die hele Montmartre onder die tafel in suip, nie hul pote van Dedo kon afhou nie. Die groot probleem was drank. En dwelms. Kokaïen, hasjisj, eter saam met liters wyn, glase absint, rum, en uiteindelik enigiets met alkohol in waarop hy sy hande kon lê. Here tog, selfs parfuum.

As hy so gedrink het, het hy arrogant en aggressief geraak, sy oë ver en leeg soos klip. Dit was ook wanneer hulle die ergste baklei het, geskree en geslaan het asof hulle mekaar wou doodmaak. Hy was veral kwaad omdat sy weer swanger was. Jesus, ek kyk net na jou dan blom jy! Een aand, een fokken aand …! En hy sou aanhou skree hoe pateties sy is, hoe swak en afhanklik, hoe sy niks vir haarself kan doen nie. Soms het Ortiz hulle kom stil maak.

Hy het weer gehoes, sy kop gedraai en gespoeg. Dit was bloed. Hy het na haar gekyk, sy mond met sy hempsmou afgevee en vir haar gewys.

“Wil jy eet, Dedo, is jy honger?” het sy gevra.

Sy mond het oopgegaan, maar hy kon nie meer praat nie. Net klein geluidjies maak wat sy nie verstaan het nie. Sy lyf, waarmee hy altyd so vrygewig was, het vir haar ongemaklik gelyk, sy nek langer en sy rug styf. Jeanne het moeilik afgebuk, haar hand oor haar maag, en weer die wynbottel voor sy mond gehou. Hy het sy kop probeer wegdraai. Die wyn het oor sy wange en teen sy nek en bors afgeloop. “Ek kan nie sluk nie,” wou hy sê.

Daar was dié keer toe hy vir agt dae aaneen dronk was en al sy nuwe skilderye en tekeninge vir drank verruil het. Hy was besig om hulle lewe weg te suip. Jeanne het probeer keer, hom agtervolg en in die Luxemburg-tuine ingehaal. Hy het omgeswaai, haar aan die hare gegryp en haar kop ’n paar keer teen die tralierelings gestamp. “Kont! Kont!”

Sy het hom met haar naels deur die gesig gekrap, sy hemp geskeur toe hy haar neergooi en hom probeer terugskop. Daardie aand laat het hy huis toe gekom. Sy wang was geswel. Hy het tussen die leë blikke en bottels rondgeskop tot hy ’n halwe bottel rum gekry het, dit gedrink en toe gaan slaap. Sy het hom net stil aangekyk.

Mettertyd moes sy seker heeltyd gelyk het na iemand wat wag – groen oë wat op een onbeduidende plek vashaak en niks sien nie, skouers vorentoe gerol, hande gevou. Sy het vir hom gewag om huis toe te kom. Sy het gewag dat hy met haar moes praat. Dat hy moes ophou skree. Dat hy aan haar moes raak – selfs al was dit net seks. Dat hy moes glimlag. Sy het gewag vir sy voetstappe, moeilik teen die trappe op, dan oneweredig tot by die deur. En daar het hy gelê, weerloos, amper lig, en gebewe asof hy bang was.

“Hier is nog wyn. Drink,” het sy naby sy wang gesê en oor sy hare gevryf. “Of wil jy eerder rum hê?” Daar was blink bloedklontjies in sy mondhoeke, of dalk rooiwyn, sy was nie seker nie.

Tog was daar rustiger tye. Dedo sou die heeldag werk, opgewonde en koorsig, sy hemp glad teen sy rug gesweet. Hy het veral vrouens geskilder, vrouens met lang, kaal lywe en maskeragtige gesigte, ovaal en in gedempte kleure. Teen die wit mure van hul kamer het hy met lang kwashale kleure getoets voordat hy dit in sy skilderye gebruik het. In die donker het dit vir Jeanne gelyk asof die muur skeur en bloei.

Hy het onrustiger geword, sy kop agtertoe gebeur en in sy mooi skildershande vasgehou, woorde gekreun wat sy nie kon verstaan nie.

“Wat is dit, my Lief,” het sy gepaai. “Onthou jy hoe die swaeltjies laas somer onder La Rotunde se terraskap nes gemaak het en die malvas soos gapende rooi mondjies ...”

Toe iemand klop, het sy opgestaan en weer langs Dedo gaan lê. “... en hoe stil-stil-stil ek elke keer in my wit chemise gesit het as jy my skilder ...” Gereeld het mense aan die deur geklop. “Hulle is nie goed vir jou nie, jou vriende, nie goed nie. Maar ek sal na jou kyk ...”

Sy het hom vasgehou toe die pyn sy lyf al hoe stywer getrek en hy nie meer sy kop kon beweeg nie, nie meer kon sluk nie.

“Hei, hei, is julle daar? Modi, is julle daar?” Sy het Ortiz se stem herken, goeie ou Ortiz wat altyd vir Dedo oor sy skouer sou gooi en hom dra wanneer hy te dronk was om self die trappe na hul woonstel te klim.

Vir oulaas het sy die wynbottel voor sy mond gehou, toe agter sy rug gaan lê en gevoel hoe sy sweet deur haar rok slaan.

“Modi! Jeanne!”

Jeanne het nie beweeg toe die deur ’n paar maal kraak voordat die skarniere uit die hout geskeur het nie. Die vertrek het na ou kos en sweet gestink, braaksel en verslane rum en wyn, so erg dat Ortiz eers ’n tree agteruit gegee het.

“Jesus, wat gaan hier aan? Jeanne?”

Sy het nie eens opgekyk nie.

“Goeie God, kry ’n dokter,” het hy vir Kisling gesê, wat in die deuropening bly staan het.

“Jeanne, wat het gebeur? Hoekom het jy ons nie geroep nie? Hoekom het jy nie hulp gekry nie?”

Sy het niks gesê nie, net voor haar uit gestaar. Selfs al was sy nege maande swanger, het sy vir Ortiz klein en skraal gelyk.

Die volgende oggend is Modigliani in die hospitaal dood aan tuberkulêre meningitis. Die nuus het vinnig versprei. ’n Mens kan aanneem dat selfs Picasso vir ’n oomblik sy kop laat sak het.

Jeanne is na haar ouerhuis in Rue Amyot geneem. Sy het gedwee gegaan. Hulle het op die vyfde verdieping gebly. Drie-uur die oggend het sy opgestaan en uitgestap op die balkon. Sy het teen die balkonreling geleun, kon waarskynlik die koue staal deur haar klere voel net voordat sy gespring het. Sesuur die oggend het ’n werker haar lyk op die sypaadjie gekry en die gebou in gedra.

“Vyfde verdieping,” het die opsigter beduie toe hy haar herken.

Hy het met die spiraaltrap op tot by die vyfde verdieping geklim. Dit was moeilik om die swanger vrou te dra. Sy het al begin styf word, haar maag groot en hard, en haar bene en rok het teen die traprelings bly haak. Hy het eers asem geskep en toe met sy skoen liggies teen die deur geklop. Haar pa of broer het die deur oopgemaak, instruksies gegee dat sy na Modigliani se kamer in Rue de la Grande Chaumière geneem moes word, en die deur in sy gesig toegeslaan. Vir nóg ’n skandaal het hulle nie kans gesien nie. Die werker het die spiraaltrap afgeklim, rus-rus, en haar in sy kruiwa gelaai waarmee hy op pad werk toe was. Hy kon ruik dat sy haarself bevuil het.

Die pad wat hy vanaf Rue Amyot na Rue de la Grande Chaumière gevolg het, was waarskynlik die volgende: af met Rue Lhomond, Rue Claude Bernard, Rue des Feuillantines, Rue du Val-de-Grace, dan oor die besige Boulevard Montparnasse met sy oggendverkeer, tot by nommer 8 Rue de la Grande Chaumière. As ’n mens gemaklik stap, neem dit omtrent ’n driekwartier. Ek weet, want ek het dié pad een herfsoggend vroeg gestap, selfs die verdiepings van die gebou getel. Maar daar is geen manier wat die werker dié pad in ’n driekwartier kon stap nie – rigor mortis vind stadiger plaas in koue weer en Jeanne se voete het ’n paar maal los tussen die wiele rondgeswaai of teen sy bene geskop. Dan moes hy stop om haar lyf weer reg te skuif. Sy het waarskynlik albei haar bene gebreek, het hy gedink toe hy met moeite haar bene moes buig om in die kruiwa te pas.

Die opsigter wat die deur oopgemaak het, het dadelik haar hande om haar gesig gevou. Vir ’n ruk het sy na die man in sy blou oorjas met die geswelde, stywe vrou in sy kruiwa gekyk, en toe haar kop geskud. Sy kan nie die lyk op die perseel toelaat nie. Modigliani het die kamers gehuur, nie Jeanne nie. Slegs met die regte dokumente mag sy dit doen. Wat sal gebeur as sy in die moeilikheid kom?

“Maar iemand hier moet haar tog ken, vra die ander mense wat hier bly,” het die werker probeer, nou al warm gesweet.

“Almal slaap nog,” het sy gesê, “en ek kan haar nie inlaat sonder die regte papiere nie.”

En vir ’n tweede keer daardie oggend word ’n deur in sy gesig toegeslaan. Hy het omgedraai, weer die besige Boulevard Montparnasse gekruis en na die naaste polisiestasie gegaan. Daar kon later geen rekord van sy besoek aan die polisiestasie opgespoor word nie, maar dit was waarskynlik die een in Rue Delambre of Rue Champagnè-Premiere. Hier het hy die nodige dokumentasie gekry, waarna hy Jeanne in sy kruiwa teruggeneem het na Rue de la Grande Chaumière.

Die nuus van haar dood het stadig uitgelek. Haar ouers wou dit stil hou en die begrafnis so gou as moontlik verby kry. Twee vriendinne het haar lyk uitgelê voordat die ander een vir een, stil, die kamer ingekom het. Ortiz. Kisling. Foujita. Salmon. Zborowski en Hanka. Iemand het intussen die kamer probeer skoonmaak, het hulle gesien, en ’n paar van die bottels en ou kos weggesmyt. Maar die reuke het gebly, vis en vrot water en ’n mufheid wat nie een van hulle kon plaas nie. Hulle moes deur die nag wakker bly om die rotte weg te hou wat om Jeanne se lyk begin draai het.

In Père Lachaise het ek hulle gaan soek. Jeanne se laaste versoek was om saam met haar Dedo begrawe te word. Op ’n eenvoudige grafsteen is hul name in graniet gebeitel. “Uiteindelik slaap hulle tesame,” het ek die grafskrif vertaal. Amedeo Modigliani (12 Julie 1884 – 24 Januarie 1920). Jeanne Hébuterne (6 April 1898 – 25 Januarie 1920). Parys. Ek het blomme en ’n sigaret op die grafsteen gelaat en ’n foto geneem. Terug in my hotelkamer het ek weer na die foto gekyk, toe deur my aantekeninge en boeke gesoek om seker te maak. Selfs klip lieg soms as ’n mens ’n harde lewe gehad het, het ek gedink, want die korrekte datum waarop Jeanne Hébuterne gesterf het, is 26 Januarie 1920.

 


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address  

 

article

The we field

Jaco Fouché

The microbus goes again, and she is alone when she trudges along the mud-smeared path to the front door of the long building, a forty-year-old woman in a long brown skirt, long red pullover, and a woollen cap with flaps hanging over her ears.