Theunis Engelbrecht: Sound Bites | Music Columns

 
Gille vir Kersfees

Luisterpaneel: Elsie Els, Naas Vermaas en Willemien Toerien
Sameroeper en notuleerder: Theunis Engelbrecht

Dit breek ons besmette harte net soveel soos julle s’n dat Sound Bites vanjaar baie ongereeld – indien ooit? – verskyn het. (Miskien nooit?) Dit is daaraan toe te skryf dat drie lede van ons eerbiedwaardige luisterpaneel (Beyers Eybers, Yvette Ysterslet de Wet en Alice Ellis) vanjaar besluit het hulle is gatvol vir die vals glans van die vermaaklikheidsbedryf, die venyn van die rolspelers asook die oordadige spuitpoep-orkaan van nuwe CD’s en DVD’s en MP3’s en MP4’s en flieks en boeke dat hulle niks meer daarmee te doen wil hê nie.

Beyers is ook die mening toegedaan dat resensies eintlik maar ’n pot krokodilkak is, baie relatief en arbitrêr. Wat maak sy – of enigiemand anders – se mening dan so belangrik? Alice verskil heftig van hom en sê in ’n popkultuur van toenemende vervlakking is dit nodig dat daar nog mense is wat aandag gee aan die niehoofstroommusiek wat deur die media en uitsaaibedryf onderdruk en gemarginaliseer word. (Sy het die paneel verlaat omdat sy swanger is.) Yvette sê sy is gatvol vir die scene, want dis duidelik dat die meeste Suid-Afrikaanse popsterre dit mekaar nie gun dat die son op almal skyn nie. Boonop dink hulle ook nie net dat die son uit hul holle skyn nie, maar dat die son ook elke oggend daaruit opkom en saans daarin ondergaan. Ag nee wat.

Naas Vermaas is al lid van die ou paneel wat oorgebly het. Hy is nog steeds sy siniese self en dink alles is kak. Dit was gelukkig nie moeilik om nuwe kennis-deurdrenkte paneellede te kry nie. Elsie Els (29) is besig met haar doktorsgraad in die sosiologie van populêre postmoderne globale kultuur, en Willemien Toerien (24) het haar graadagt-klaviereksamen by Royal Schools geslaag, werk bedags vir ’n vermaak-impressario in Pretoria en sing oor naweke snags in nagklubs. Elsie en Willemien is nog nie so afgestomp soos Naas nie en ’n bietjie meer verfynd as Yvette. Elsie is minder pretensieus as Alice, en gerugte dat Willemien ’n ex-girlfriend van Yvette is, is nie waar nie.

Met hul eerste sitting het die nuwe paneel besin oor die hoogtepunte op die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse musiektoneel die afgelope jaar. En ons het almal lekker gelag vir Beyers, Alice en Yvette wat stert tussen die bene weggehol het, want hulle het uitgemis op baie opwindende dinge.

Die grootste hoogtepunte van die jaar was ongetwyfeld Die Antwoord se $0$, Jack Parow se Jack Parow, Bittereinder se ’n Ware verhaal, Les Javan en die Delta Vastrapgenootskap se Hiervandaan en Foto na Dans se Die vloed. Hieroor was ons luisterpaneel dit eens. Elsie en Willemien is ook van mening dat dié nuwelinge op die toneel sulke vernuwende, vars, grensverskuiwende werk gelewer het dat ’n mens proefskrifte daaroor kan skryf. (Sommige ander resensente dink ook so.) Elsie en Willemien, ’n mens kan hier selfs praat van ’n kulturele revolusie. Naas stem nie heelhartig saam nie, maar sê al hierdie kunstenaars het darem minstens één belangrike ding gedoen: Hulle gee ’n mens weer hoop vir Afrikaanse musiek. Hy word naar as hy na goed soos DKNT en Skouspel kyk, sê Naas, en dit laat hom altyd alle hoop verloor vir sy taal. Daarom haal hy sy hoed af vir bogenoemde kunstenaars.

Moet egter nie dink die plesierigheid het opgehou nadat Die Antwoord, Jack Parow, Bittereinder, Les Javan en die Delta Vastrapgenootskap se CD’s verskyn het nie. Ons paneel is baie opgewonde oor ’n rits lekker uitreikings wat die afgelope maand of twee van Jax Panik, Die Heuwels Fantasties, Boo!, Karen Zoid en David Kramer verskyn het. Ek het aan hulle lippe gehang.

Jax Panik – I am Jax Panik

Te wonderlik vir woorde, dié CD, sê Elsie, Willemien en Naas. Jax Panik het twee jaar gelede gedebuteer met Cigarettes & Cinnamon,wat heel plesierig was en mens nie voorberei het vir wat ’n oorweldigende, briljante CD I am Jax Panik sou wees nie. Dit sal hulle nie verbaas as Jax Panik die volgende Suid-Afrikaanse kunstenaar is wat internasionaal deurbreek nie – Panik se musiek is minstens veertigduisend keer meer opwindend en kreatief as dié van byvoorbeeld Locnville en The Parlotones.

Johnny de Ridder en Jakobus van Heerden is die meesterbreine agter Jax Panik. Die produksie, verwerkings, klanke en ritmes is uitsonderlik. Daarbenewens is die CD propvol aweregse humor en tong-in-die-kies-ironie – Naas het veral gehou van hoe rocksterre opgestuur word in die liedjie “Dinosaur”. Jax Panik noem hul musiek “hyper pop”, en volgens ons paneel laat hulle ’n kunstenaar soos Mika na Gerrie Pretorius klink. Jax Panik maak ’n “wall of sound” wat nie eers deur ’n voorhamer gekraak sal kan word nie.

Nog iets van die baie dinge van hierdie CD wat ons paneel buite weste beïndruk, is die feit dat die musiek so lewendig en op en wakker en vrolik en dinamies is. ’n Beter nuwe dans- en partytjiealbum sal jy nie sommer maklik kry nie. En as dans- en partytjiemusiek is Jax Panik se CD glad nie breindood soos die meeste ander dans- en partytjiemusiek nie, om nie eens van sokkie te praat nie. Van voor tot agter is I am Jax Panik ’n toonbeeld van vlymskerp intelligensie en buite-die-boks-kreatiwiteit (en volgens Naas ook buite-die-doos-kreatiwiteit). Jax Panik het ook ’n skerp oog vir die sosiale werklikhede om hulle en laat dit neerslag vind in hul musiek.

Hierdie CD is ’n gil, sê Willemien en Elsie – ’n gil in die goeie sin van die woord. As jy nie pille vir Kersfees kan kry nie, kry dié CD. Dit sal jou deursien – nie net oor Krismis nie, maar tot in lengte van dae.

Die Heuwels Fantasties – Deluxe Edition (Lekker Luisterliedjies vir die Langpad)

In net twee jaar het Die Heuwels Fantasties ’n nis vir hulleself in die voorste gestoeltes van Afrikaanse musiek uitgekerf. Eers het hulle ’n Sama-prys vir hul debuut-CD gewen, en daarna ook aandag getrek met hul lekker-vibrasies-kollaborasies met Jack Parow, die Soweto Gospel Choir, die rappers JR en HHP en die groep Thieve.

Hierdie Deluxe Edition is dié Suid-Afrikaanse CD van die jaar wat met die indrukwekkendste verpakking sorg. Dit is ook maklik die mees ultimate present wat ’n mens vir iemand kan gee. Die CD bevat al die liedjies van hul debuutalbum van 2008, asook vyf bonussnitte, en om alles te kroon ’n DVD met 14 musiekvideo’s. Boonop is daar vir elke liedjie van die debuut ’n kunswerk geskep wat op die agterkant van die lirieke afgedruk word. Die groep gee ook interessante agtergrondinligting oor hoe elke liedjie ontstaan het.

Die Heuwels Fantasties maak puik elektropop. Daar is mense wat sê hulle is Afrikaans se eie Depeche Mode, maar ons paneel is dit eens dat dit onsinnig is om altyd te wil sê iemand is Afrikaans se eie sus-en-so. Buitendien is Die Heuwels Fantasties se musiek baie meer dinamies en energiek as Depeche Mode s’n, sê Willemien sonder ’n sweempie van enige twyfel, en dis maklik om haar punt in te sien as ’n mens na Deluxe Edition luister en kyk.

Oorspronklikheid, varsheid en knetterende kreatiewe energie – dié dinge wat musiek altyd bo die gemiddelde uitlig, is ook tot barstens toe aanwesig in Die Heuwels Fantasties se musiek. Soveel so dat dit onregverdig is om hoogtepunte uit te sonder – hierdie CD/DVD is van voor tot agter so ’n meesleurende, oorweldigende ervaring dat ’n mens dit wil aanbeveel vir al wat leef en beef. Die lirieke is ook nie iets waarvoor ’n mens jou hoef te skaam nie (soos op DKNT) – allesbehalwe.

Deluxe Edition is nie net ’n versamelstuk nie, maar ook ’n lekker lusmaker vir Die Heuwels Fantasties se volgende album, wat volgende jaar uitkom. Die bonussnitte – veral “Doodgewone aand” en “Way to Go” (met Thieve) – gee ’n goeie aanduiding van hoe die groep nie op hul louere rus nie, maar net beter en beter word.

Die video’s hou ’n mens ook vasgenael, sê ons paneel. Hulle hou ook baie van die nuwe video’s vir “Noorderlig” en “Hyg duiwel”, en sê die video wat Anneke Jacobs en Jaques du Toit vir “Die vraagstuk” gemaak het, is fantasties en behoort op MK en KykNET gewys te word.

Deluxe Edition – Lekker Luisterliedjies vir die Langpad is iets wat my trots maak op Afrikaans. Kry dit.

Boo! – The Three of Us

Dit is van die beste nuus van die jaar dat Boo! weer saam is en ’n nuwe CD gemaak het. Al het ons paneel – met die uitsondering van Naas Vermaas – waardering vir Chris Chameleon se Afrikaanse werk, vind hulle tog dat Boo! se musiek interessanter is. Naas sê hy is bly die CD is uit, want hy is besig om baie moeg te raak vir Chris Chameleon, en dis alles kykNET se skuld met daai temaliedjie van hulle waarin Chris sing God verstaan Afrikaans. Hy sê om elke dag daarna te luister, is genoeg om hom stapelfokkengek te maak.

Toe Boo! destyds hul buiging gemaak het, het hulle die verbeelding aangegryp met hulle hiper-energieke, kleurryke optredes, asook puik popmusiek wat net soveel varser en vindingryk was as enigiets wat mens op Top 40’s kry. Hulle het destyds nie al die erkenning gekry wat hulle in hul eie land verdien het nie – skande! snak Willemien – en is meer in die buiteland op die hande gedra as hier.

Hopelik word dit reggestel met dié CD, wat oudergewoonte beïndruk met die spierkragtige klanke, poëtiese lirieke en off-the-wall aanslag. Die liedjies steek dadelik in ’n mens se kop vas – veral “SMS”, die titelsnit, “To do Today”, “Dance”, “Untrue” en “Rookook”. Die uitbundigheid word ook afgewissel met erns, soos op die introspektiewe “Prayer for my Cedar of Lebanon”.

Die belangrikste tema op die CD is verhoudings tussen mense, asook liefdesverhoudings. Boo! vermy al die slaggate en clichés van dié tema flink en slaag daarin om ’n eiesoortige lig op hierdie taai onderwerp te laat val. Dis duidelik dat Chameleon uit eerstehandse ondervinding skryf, wat uiteraard bydra tot die gevoel van egtheid.

As jy hierdie musiek misloop, mis jy baie. Dit is een van die genotvolste Suid-Afrikaanse uitreikings van die jaar. Naas sê Chris mag maar Afrikaanse musiek maak as dit hom help om baie geld te maak sodat hy Boo! daarmee kan finansier. Boo! mag nooit weer ontbind nie. Ons soek nog CD’s van hulle. En nog en nog. En al hul vorige CD’s behoort weer beskikbaar gestel te word. Dis deel van die Suid-Afrikaanse kultuurskat wat nie in die vergetelheid mag verdwyn nie, sê Elsie, en almal sekondeer.

Karen Zoid - *Terms and Conditions

Karen Zoid het met haar debuut, Poles Apart, ’n hoë standaard gestel. In haar albums daarna – Chasing the Sun, Media en Postmodern World – het sy dit nie net gehandhaaf nie, maar ook beter en beter geraak. Haar jongste CD, *Terms and Conditions, is geen uitsondering nie.

Daar is so baie rockmusiek deesdae, en so baie daarvan begin al meer generies klink, dat dit ’n kuns is om in dié styl te werk en musiek te skep wat bogemiddeld is. Zoid kry dit lag-lag reg. Sy rock intens en kragtig en oorrompelend op liedjies soos “Broomstick”, “Dangerous”, “Moordenaar” en “Attitude vir Afrika”. Nuwe Afrikaanse liedjies wat uitstaan en van tydlose gehalte drup, is “Bly by my”, “Jy sal dit vind” en “Amper stamper”. Zoid skryf ook die mooiste ballades, soos “Want as ek droom”,  en sy is ook baie goed met humor (“Retail Therapy”). Moet ook nie snitte soos “Do What You Do” en “Shoot the Breeze” versmaai nie.

Wat haar lirieke betref, sal ’n mens ook ver moet soek om clichés te kry. Dit sê baie van ’n kunstenaar as sy/hy daarin slaag om nie selfherhalend en voorspelbaar te raak nie. Daarvoor het Karen Zoid net te veel talent. Voeg daarby die hoë produksiegehalte en slim verwerkings, en dis duidelik dat Zoid weer eens ’n wenner gelewer het.

Ons gunsteling-DVD:  

David Kramer – Karoo Kitaar Blues: The Concert

Karoo Kitaar Blues was een van die Suid-Afrikaanse musiekgebeurtenisse van die dekade. Almal ken die storie: David Kramer het die platteland ingevaar op soek na die wortels van Afrikaanse volksmusiek. Hy het kunstenaars ontdek soos Hannes Coetzee, Helena Nuwegeld, Siena en Jan Mouers, Tokas Lodewyk, Koos Lof, Dawid van Rooi, Jan Willems en Johannes Coetzee, hulle Kaapstad toe gebring en onvergeetlike konserte saam met hulle aangebied.

Dis hoog tyd dat die DVD van een van die konserte (in April 2003) nou beskikbaar is. Soos Kramer sê, is dit die laaste generasie wat dié roerende, aardse musiek maak – “die laaste eggo’s van ’n Suid-Afrikaanse musiektradisie wat besig is om uit te sterf”.

Nodeloos om te sê, hierdie DVD is ’n baie spesiale en onvergeetlike ervaring. Dit is hartverwarmend, in ’n wêreld waar daar meer dinge is wat harte koud maak eerder as warm. Dit is vol roerende menslikheid – iets wat ook al hoe skaarser word in die wêreld. Die kunstenaars wat Kramer hier voorstel, is eweneens onvergeetlike karakters – veral die kleurryke Tokas Lodewyk en Johannes Coetzee van Concordia. Om nie eens te praat van die musiek nie – liedjies soos “Jaloers bokkie”, “Die hanetjie en die hennetjie”, “Kharkams-vastrap”, “Antie maak oop jou deur”, Helena Nuwegeld se stoute “Pale toe”, “Kapalella”, “Pikkewyn my ding”, “My naam is Pepsi Cola”, “Platriel” en “Mahalla”. Kramer self sing ook tydlose liedjies soos “Johnny Raakvat”, “Die kruispad”, “Bitterswaar” en “Ek kô huis toe”.

Die meeste van die kunstenaars wat op die DVD gesien kan word, is al dood: Helena Nuwegeld (wat vermoor is), Koos Lof, Siena en Jan Mouers, Dawid van Rooi en Jan Willems. Die DVD is dus ook ’n soort testament van ’n kosbare tradisie en ’n waardige huldeblyk. ’n Mens kan Kramer nie genoeg bedank dat hy hierdie projek aangepak het nie.

Karoo Kitaar Blues: The Concert is onmisbaar. Sorg ook dat jy die dokumentêre DVD Karoo Kitaar Blues kry, waarin gewys word hoe Kramer deur die platteland reis op soek na kunstenaars en van die sonderlinge ontmoetings wat plaasvind. En dan is daar natuurlik ook die CD Karoo Kitaar Blues, wat liedjies bevat wat nie op die DVD is nie. Watter juwele is dit nie.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address