Geskiedenis in woord en beeld: Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal

  • 0
Titel: grond/SantekraamSkrywer: Ronelda Kamfer
Uitgewer:
Kwela Boeke
ISBN:
9780795703652
Klik hier om grond/Santekraam te koop by Kalahari.com.

Zapiro, die venynigste luis in die pels en immerdreigende stortkop bo die kop van Jacob Zuma, het in 2002 ’n tweetal spotprente gemaak wat inspeel op Jan van Riebeeck se aankoms aan die voet van Tafelberg op 6 April 1652. Volgens die konvensies van koloniale uitbeeldinge staan hy in die sentrum van die eerste tekening, terwyl ‘n “local” hom met ‘n buiging aan wal nooi. Van Riebeeck kyk inhalig en hufterig rond met die tekswolkie “in a spirit of co-operation and mutual prosperity” voor sy mond. In ’n volgende spotprent is die uitbeelding van Van Riebeeck ongeveer dieselfde, maar nou buk die figuur wat Autshomao / Herrie die Strandloper voorstel, nie meer nie – hy staan regop. Nou merk hý op: “Well, there goes the neigbourhood.” Die tekeninge is duidelik geïnspireer deur Charles D Bell se bekende 19de-eeuse skildery van Van Riebeeck se landing. Via die pen van Zapiro het ons hier ’n voorbeeld van wat postkoloniale teoretici terugpraat sou noem: “The empire writes back.”

My 2011-12-lesingreeks vir studente van die Vrije Universiteit en Universiteit van Amsterdam In die ban van die verlede: Suid-Afrikaanse letterkunde en geskiedenis, het begin met ’n bespreking van hierdie visuele voorstellings. 17de-eeuse lofgedigte oor die Kaap en Dan Sleigh se monumentale roman Eilande / Stemmen uit zee het later aan bod gekom. Dat die jongste toevoeging tot die eggoput van stemme oor die Kaapse begintyd in lewende lywe die kollegereeks sou kom afsluit, het ek in Februarie nie kon vermoed nie.

Op 22 Mei was Ronelda Kamfer ons gasdosent. Veral twee gedigte uit haar bundel grond/Santekraam (2010) was ’n uitstekende aanvulling by die lesingreeks: “eviction notice” en “owners response”. Die eerste is in die vorm van ‘n brief wat Van Riebeeck in 1651 vanuit Nederland aan Herrie skryf en waarin hy aankondig dat die Kaap nou die Kompanje s’n sal word en dat hy beoog om ‘n “fantastiese buy a male slave and rape a female for free-besigheid” aan die Kaap te kom vestig; geteken “Here comes Jannie”. Autshumao se antwoord, ook 1651 gedateer, lees Van Riebeeck egter tien jaar later pas, in 1662 in Batavia – dus veels te laat. Ondertussen het Autshumao se voorspellings gebaseer op stories oor Adamastor en volksverhale uitgekom: “siediere [het] vreeslik/ onner mekaa beginte baklei en pyn en haat het deur die onnerwate/ versprei.”

’n Afbeelding van Adamastor, ’n mitologiese figuur wat gedien het as personifiaksie van die natuurkragte wat Portugese seevaarders moes oorkom om die Kaap binne te kon vaar.

Ronelda Kamfer het vroeg vanjaar reeds in die harte van poësieliefhebbers by die Zuid-Afrika Huis geklim. Op 31 Januarie het Carina van der Walt haar debuutbundel, Noudat slapende honde (2008), tydens ’n Leeskring-byeenkoms bespreek. Op 22 Mei was Ronelda self aan die Keizersgracht aanwesig, nie slegs toe sy van haar gedigte aan die studente gelees en verduidelik het nie, maar ook tydens ’n spesiale byeenkoms die aand. Voor ’n groot gehoor het sy in die boonste saal van die Zuid-Afrika Huis gelees en in besonderhede oor die gedigte van grond/Santekraam vertel: die omstandighede, die taal. Die bundel het toe so pas by die Amsterdamse uitgewer Podium verskyn met vertalings langs die Afrikaanse teks deur Alfred Schaffer. Die titel is verkort tot net Santenkraam.

EJ: Was dit nie vir jou belangrik dat die woord grond behoue bly in die titel nie?

RK: Grond, en veral ook die verlies daarvan, is baie belangrik vir my, maar die uitgewer het besluit net die een woord sal beter werk vir die Nederlandse bundeltitel. Hy sal weet, het ek gereken.

Ná die aangrypende aanvangsgedig, “gaan”, volg “grond”: “[…] dis/ toe so dat die spesifieke/ stuk/ grond nie sy bewoners/ kon behou nie/ hy het nie daai ding wat/ grond moet hê vir mense nie”. Nie net Van Riebeeck en sy opvolgers is skuldig aan onteiening nie, ook die land self. Dat die grond onreg kan “toelaat”, dat mense verplig word om van hulle geboortegrond pad te gee, dui op Kamfer se metafisiese kyk op sake. Sy is skerp en reguit, maar nooit simplisties veroordelend nie; kyk dieper, verrassend ironies, satiries, en veral koppel sy die groot verhaal aan individue, maak dit invoelbaar en konkreet. ‘n Ongelooflik boeiende groep karakters bevolk in grond/Santekraam haar vertellinge oor Klippenkust, ’n fiktiewe plek aan die Kaapse suidkus wat die storie van Skipskop vertel. Óórvertel, in haar eie woorde, is wat sy wil doen: die stories van haar ma, maar veral ook van haar oupa Thomas Daniel Granfield, van ander mense wat in 1985 verskuif is uit Skipskop toe die vissersdorp moes wyk voor Krygkor se missieltoetsterrein wat daar ontwikkel is. Opskrifte bokant onlangse onderhoude met Ronelda (“De pijn en woede zijn er nog” – VPRO-gids en “Zo werd hun land weggeblazen” – Trouw) toon dat juis ook hierdie aspek van haar werk in Nederland indruk gemaak het.

Santenkraam het ’n opvallend goeie ontvangs gehad en foto’s van Ronelda het by talle onderhoude en resensies verskyn in koerante soos NRC Handelsblad en De Volkskrant. Benewens in die Zuid-Afrika Huis het sy opgetree in die Bijlmer Park-teater, tydens die VPRO-dag in Amsterdam, in Den Haag se Openbare Bibliotheek, op die Felix-poësiefees in Antwerpen, in die Openbare Bibliotheek in Den Haag en in de Balie naby die Leidseplein. Die Nederlandse Letterenfonds het ’n film oor haar gemaak en met die oog op ’n Ingrid Jonker-middag op 28 Oktober is sy ook verfilm. Haar verblyf van twee maande in die Schrijvershuis bokant boekhandel Athenaeum kan in alle opsigte ’n groot sukses genoem word.

Saam met haar man Nathan Trantraal het sy in die tyd gewerk aan ’n graphic novel oor ’n paar van die fassinerende Klippenkust-karakters wat Santekraam-lesers al ken. Die voorlopige titel is Ek is die see en die roman vertel die storie van Grootvis Visser, Sara Slimmeisie en Mal Maria toe hulle nog kinders was, ongeveer vyf jaar na die “forced removals”. Autshumao, Jan van Riebeeck, VOC-slawe en ander inwoners van Kassiesbaai waarheen baie Skipskoppers verskuif is, sal ook in die graphic novel voorkom.

Ronelda Kamfer en haar man, Nathan Trantraal.

Nathan en sy broer André Trantraal voeg op dié manier ’n opvallende visualisering in die Japanse manga-comic-styl tot Ronelda se werk toe. “Katie het kinders gehad” en “oorvertel I” – Ronelda se terugskryf op Koos Kombuis se Kytie-liedjie en David Kramer se Skipskop-song – is treffende voorbeelde. Ons wou graag ’n groot uitstalling van die Trantraal-broers se tekeninge in die Zuid-Afrika Huis hou, maar het uiteindelik besluit op ‘n “virtuele tentoonstelling” genaamd “graf van die vuurvliegies”. Die titel is ’n hommage aan ‘n Japanse filmregisseur. Die Trantraal-broers is in die Kaap bekend vir hulle uitgesproke weeklikse strokiesprent in die Cape Times, “the richenbaums”. ’n Katalogus met voorbeelde van hulle tekeninge, dikwels in kombinasie met Ronelda se gedigte, kan tot Desember in die SAI-biblioteek gesien word.

’n Grafiese voorstelling, in die Trantraal broers se kenmerkende visuele styl, van "eviction notice" uit grond/Santekraam.

Die laaste besoek wat Ronelda en Nathan met hulle babadogtertjie Seymour aan die Zuid-Afrika Huis gebring het, was toe Vincent Kuitenbrouwer se boek War of Words bekendgestel is. Ek het kort vantevore vir hulle foto’s gestuur van die houtbeeld van ’n “Transvaalsche boer” wat sedert 1900 teen die voorgewel van ’n huis op die Amsterdamse Herengracht (hoek Gasthuismolensteeg) pryk. Nooit het ek kon vermoed waarmee hulle vorendag sou kom nie. Spesiaal vir die boekbekendstelling het hulle ’n figuurtjie geskep met die naam Simeon wat net nog wou speel. Hy hou die beeldjie soos ’n speelding in sy hand vas, met ’n ossewaentjie (net soos die replika wat langs die vleuelklavier in die Zuid-Afrika Huis staan) aan sy voete. Soos baie Penkoppe moes hy as kindsoldaat gaan veg.

Ronelda en Nathan, uiters talentvolle nuwe besoekers aan die Zuid-Afrika Huis, het in ’n kort tyd inligting oor die Boereoorlog versamel en van ook hierdie historiese gegewe ‘n nuwe storie gemaak. Wie weet wat dus nog wag ná hulle graphic novel oor Klippenkust-karakters en Nathan se eie manuskrip gedigte, Chokers en survivors, wat spring om die Kaap te tref.

Ronelda Kamfer se twee digbundels, en ook die Trantraal-broers se comic-boeke Drome kom altyd andersom uit (2008) en Coloureds (2010) is in die SAI-biblioteek aanwesig en uitleenbaar.

Getekende 20x30 cm-afbeeldinge van Trantraal-tekeninge kan teen 20 euro stuk (plus hanteringskoste) bestel word by info@zuidafrikahuis.nl.

Zapiro-tekeninge is te sien op http://africartoons.com/cartoon/5373.

Hierdie artikel sal verskyn in Maandblad Zuid-Afrika. Besoek hulle webwerf by www.zuidafrikahuis.nl.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top