Gemeenskapsorganisasie help kinders en die jeug – en bied hoop

  • 1

Die onderwys het stories met hoop nodig. Maar veral het die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap nodig dat daar mense is wat hulle en hul kinders kan bystaan met praktiese hulp en raad as dit nodig is. Philip Geldenhuys van Stellenbosch vertel van Community Keepers.

Hallo Philip, baie dankie vir die geleentheid om te gesels. Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond.

Ek is gebore en getoë in die Vrystaat en het na skool na Stellenbosch verhuis om maatskaplike werk aan die US te studeer. Meer as 10 jaar later is ek steeds in die Eikestad en woon saam met my vrou, Rée, in die idilliese Jonkershoekvallei.

Wat is Community Keepers?

Community Keepers is ’n niewinsgewende organisasie wat hom beywer vir die bevordering van die welstand van skoolkinders en hul gemeenskappe. Ons bestaan uit ’n groep sielkundiges, beraders en maatskaplike werkers wat gratis professionele dienste by skole lewer.  

Dit klink of jul organisasie binne die gemeenskap werk. Is julle fokus hoofsaaklik op skoolkinders, of wie word almal betrek?

Ja, ons primêre fokus is op skoolkinders, maar ons lewer ook dienste aan onderwysers en ouers. Die welstand en ontwikkeling van kinders gebeur nie in isolasie van hul omgewing nie en daarom is dit absoluut noodsaaklik om die belangrikste rolspelers in hierdie proses te betrek.

Jul inspirerende YouTube-video spel uit dat keuse die verskil maak. Prakties: hoe doen julle dit elke dag?

Ons volg ’n benadering waar kinders blootgestel word aan die invloed van keuses deur relevante gevallestudies te ondersoek. Hul word dan die geleentheid gebied om self te ondersoek (deur stories) wat die moontlike gevolge van hul huidige keuses vir hul toekoms kan inhou.

Wie vind almal baat by Community Keepers?

Op ’n mikrovlak vind die skoolkinders, onderwysers en ouers direk baat by Community Keepers deur die gratis professionele dienste wat aan hul gebied word. Op ’n mesovlak baat die gemeenskap hierby, aangesien minder kinders vroeg skool verlaat en/of by misdaad betrokke raak, meer kinders inskryf vir naskoolse opleiding en die gemeenskap ’n gesonder en meer opbouende omgewing raak.

Is jul organisasie beperk tot Stellenbosch, of wat is julle visie vir die res van die land?

Community Keepers het ontstaan in Stellenbosch en ons fokus is tans op skole in hierdie omgewing. Ons plan is egter om binne die volgende paar jaar na meer dorpe en stede, provinsies en eindelik die hele Suid-Afrika uit te brei. Daar is ’n reusebehoefte by die meeste skole in ons land na die dienste wat ons lewer.

In ’n land met so baie ellende en nood: word julle nie soms moedeloos nie? Wat bied vir jou die grootste uitdagings van julle organisasie?

Ja, daar is redes om moedeloos te word en daarom is dit belangrik om klein oorwinnings te vier en ’n langtermynperspektief op dinge te hê. Een kind wat verbetering toon of positief verander is rede vir ’n feesviering, en ’n belegging in kinders toon nie noodwendig onmiddellike resultate nie. Die grootste uitdaging is seker ’n tekort aan hulpbronne, beide finansieel en menslik.

Is daar wel stories wat jou opgewonde maak en wat jy met ons lesers wil deel, kere wat jy kan sien dat daar ’n verskil gemaak word?

Ja, ’n onderwyser stap vroeër die kwartaal by een van ons Community Keepers se skoolkantore in en deel met groot opgewondenheid die volgende storie met my: “Ek het vir John (skuilnaam) na Community Keepers verwys. Die onderwysers het hom as ’n ontwrigtende leerder beleef, wat geen respek gehad het vir medeleerders of homself nie ... geen belangstelling getoon in klaswerk nie ... huiswerk nie gedoen nie ... aggressiewe gedrag teenoor medeleerders ... voorgekom as ’n leerders wat geen vooruitstigte in die lewe gehad het nie. Die verandering in John is verstommend. Vandag is hy een van die top-leerders in my klas. Hy is ’n staatmaker wie se werk altyd gedoen is ... straal selfvertroue uit en het duidelike doelwitte ... wil onder die top 20 in graad 10 wees. John het selfs ’n naweekwerk gekry – self vir sy kamp daarmee betaal. John toon soveel positiewe karaktergroei en ontwikkeling, en ek as opvoeder glo dit is alles te danke aan Community Keepers en hul personeel se betrokkenheid in sy lewe. Baie dankie vir wat julle as Community Keepers vir John beteken.”

Dit is die tipe oorwinnings waarna ek vroeër verwys het! Nog ’n baie inspirerende storie is dié van ’n skoolhoof by een van die skole waar ons werksaam is en daar is selfs ’n video hieroor beskikbaar:

Vertel asseblief van julle Give Thanks-projek – wat dit is en wat lesers kan doen om betrokke te raak.

Dit is ’n geleentheid aan die breë publiek om dankie te sê aan mense wat ’n verskil in hul lewens gemaak het en ook terug te ploeg in kinders se lewens. Lesers kan ons webtuiste besoek (www.communitykeepers.org) en drie maklike stappe volg om dankie te sê:

1. Maak ’n aanlyn donasie van R45 of meer.
2. Kies ’n virtuele kinderkunskaartjie wat jy vir iemand wil stuur.
3. Vul jou naam, die persoon aan wie jy die kaartjie wil stuur en ’n persoonlike boodskap in. 

Verder kan hul ons Facebook-blad besoek of ons volg op Twitter om gereelde nuus te kry oor die verloop van die projek.  

Die nuwe demokratiese kommunikasieomgewing en veral sosiale media maak dit baie maklik ook vir 'n besigheid om deel te wees van ’n inisiatief soos die Give Thanks-projek deur byvoorbeeld self iemand te bedank en dit met hul aanlyn gemeenskap te deel. Personeel kan ook gemobiliseer word om ’n kultuur van dankbaarheid binne ’n organisasie te bevorder en ’n bydrae tot die toekoms van ons land te lewer.

Waarvoor word die geld gebruik wat deur die Give Thanks-projek ingesamel word?

Ons volg ’n 100%-donasiebeleid wat daarop neerkom dat elke rand wat ingesamel word, direk vir ons dienste aan skoolkinders en hul gemeenskappe gaan. Gemiddeld kos ’n sessie met ’n Community Keepers-sielkundige, berader of maatskaplike werker R90 en dus sal R45 die helfte van ’n sessie dek. Ons is totaal afhanklik van skenkings en die goedhartigheid van mense en daarom doen ons ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om betrokke te raak en so min as R45 te gee en sodoende ’n verskil in ons kinders en die toekoms van ons land te maak.

 

Laai PDF-dokument met nog inligting oor Community Keepers of Give Thanks.

Kontak Community Keepers.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top