SêNet-briewe | Letters

 
Geld
“Geld wat stom is maak reg wat krom is”. Geld koop nie liefde nie, maar dit betaal darem die pad soontoe. “Money makes the world go around”. Ensovoort ens.

In my tiener- en in-die-huis-dae het my ouers gereeld gevra of ek geld by my het. Hulle het altyd gesê “jy kan nie sonder geld gaan nie”. Snaaks, hulle doen dit vandag weer... . Genadiglik.

Wanneer mens aandag aan jou gedagtes en gepaardgaande emosies begin gee, kom jy agter dat sekere dinge sekere reaksies ontketen. Een van hierdie “sekere dinge” is geld. Nie net die beskikbaarheid daarvan nie, maar gewis die onbeskikbaarheid daarvan. Ek verwys nie net na 'n tekort aan geld nie, maar eerder die psigiese reaksie op die wete dat dit nie daar is of binnekort gaan wees nie. Dit krap die gemoed om en maak jou moeg.

Mens kan gewoond raak aan die gevoel om 'n pak note in die beursie te hê. Veral as jou kommer daaromtrent beperk is tot die bankure of die OTM se toelaatbare limiet. Mens raak met moeite daaraan gewoond om dit nie te hê nie. Die gedagteskuif wat gemaak moet word om te aanvaar en oor-die-weg te kom, sonder 'n voltydse beskikbaarheid van note, gaan met wrywing gepaard. Party se wrywing is meer intens as ander en party se spreekwoordelike remme slaan teen die wrywing vas. Kners tot lewenstilstand.

Hier het ek geleer dat oefening die beste manier is om geldloos-fiks te word. Oefen om te luister, te dink en te doen. Dit kan lewenskoste wesenlik verminder. Dan is dit oefen om jou trotse self sover te kry om dit te aanvaar. Om daai kwaaijong wat op die vervreemding van note gefloreer het, sover te kry dat hy die spaarjong word wie die sente omdraai om die noot weer op te bou. Die konflik tussen hierdie twee uithoeke van mens se bestaan is nie 'n eenmalige veldslag nie, nee, dit is 'n uitgerekte oorlog. Die inkorting gaan mens laat voel soos die onderpresteerder van die dekade en 'n verloorder. Jy gaan in die lyftaal van jou geliefdes hul teleurstelling lees. Of dit daar is aldan nie. Jy gaan die sensitiewe dun velletjie van selfverwyt en mislukking in jou ore laat groei en dié sal wil opvrommel vir elke woord wat na aanstoot klink. Of dit daar is aldan nie. Dit gaan nie eensklaps verwyder word en verdwyn nie. Dit sal oefening neem om die oor instaat te stel om werklik te hoor wat gesê word. Dit sal oefening neem om jou geliefdes as juis dit te sien – geliefdes. Nie geliefdes van die kwaai- of spaarjong nie, maar geliefdes van wie jy is, ongeag watter een op die oomblik botoon voer.

Dit is bevrydend om te besef en te weet dat al die notevreters wat voorheen onthaal is, nou sonder my bydrae tot hul onheilspotte moet klaarkom. Dit is te danke aan die genade van ondersteuning van buite, van binne en van bo wat mens oefening laat kry.

Die geld maak steeds saak; hoe anders kan mens 'n brood koop. En ja, mens gaan die benoude gevoel kry wanneer daar net-net genoeg is daarvoor, maar nie angs nie. Nie nag sweet nie.

Mens mag steier en kommer, dit hou jou soekend, want met elke Godsgenade oefening verbeter jou fiksheidvlak en groei die gestel se weerstand teen die aanslae. En, kort-voor-lank, wen jy meer van geld se veldslae as wat jy verloor.

Hennie Fritz

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address