Webseminare | Web seminars

 
Gee my die kaas en melk, en vat die bloed en wyn vir jou
Bloed is 'n gespesialiseerde vloeistof met baie funksies. Maar bloed is ook 'n kragtige simbool in ander genres as die mediese wetenskap of die biologie. Bloed kan 'n hoofrol speel in 'n aksiefliek, of kom sterk na vore in die ongekende volume vampierfiksie wat deesdae verskyn. Om nie eens te praat van die kardinale belang van bloed in die teologie nie. 'n Paar kundiges praat oor of dié simbool nog net so sterk soos altyd deur die are pomp, en of dit sy krag verloor het.

Hoekom die ambivalensie in verband met bloed in die Christendom? Is ons nou daarvóór of is ons nou daartéén?

Aan die een kant is ons so erg oor Christus se bloed – dat dit genees en verlos. Maar aan die ander kant het ons ’n afsku in vroue se menstruasiebloed dat dit besmet en dui op vroue se onreinheid.

Aggenee, sal julle sê, hoe kan jy nou hierdie twee bloede by mekaar uitbring?

Ek vra maar net hoe bloed tegelykertyd simbool van teenoorgestelde dinge kan wees. Simbool van verlossing. En simbool van verdoeming.

Die ding is dat daar verskillende vroeg-Christelike tradisies oor bloed was.  Twee duisend jaar gelede was daar nie een kerk, een dogma, een internet nie. Kommunikasie oor die wêreld was swak en stadig, en verskillende Christelike tradisies het verskillend op verskillende plekke wortel geskiet.

Paulus praat graag oor die bloed van Christus. Romeine 3:25 sê God het Jesus Christus as offer gegee om mense met God te versoen. Klink maar half creepy, as ek mag sê, die offer-ding. Paulus praat seker hier maar soort van nog as ’n Jood van daardie tyd wat daaraan gewoond was dat mense in/by die tempel skape geoffer het om God te probeer behaag.

Party eksegete lees hierdie vers anders. Vir party geleerdes beteken eksegese om te bewys dat wat daar staan, nie régtig daar staan nie. So sê party eksegete dan dat Paulus hier juis bedoel dat versoening ’n daad van God is. Dat mense hulleself nie met God kan versoen nie, maar dat die versoeningsdaad God s’n is. En dat Paulus dus hiermee eintlik die tempel-kultus veroordeel, en juis nie Christus as ’n slagskaap voorstel om mense met God te versoen nie.

Hoe dit ook al sy, Paulus praat dikwels en op baie ander plekke van Christus se bloed. En ek wil nie nou op elkeen ingaan nie, want eerlikwaar, ek is nie ’n ou vir die bloedteologie nie. Ek wil regtig nie vir Jesus terughang aan die kruis nie. Ek soek hom daar af, en opgestaan hier tussen ons.

Die vroeë tradisie wat Paulus begin het, het gou baie aftrek gekry. Baie van die vroeë kerkvaders neem dit oor en gebruik dit. Bloed staan sentraal in hulle teologie. Bloed verlos en versoen. Ek moet ook bysê dat die kerkvaders wat ons vandag het om te lees, diegene is wat die uitwissing van “ketters” deur die eeue oorleef het. Miskien was daar baie vroeë Christelike tradisies wat anders oor bloed gevoel het – maar hulle voorstanders sal ons nooit te lese kry nie. Hulle werk is verbrand. 

Daar is wel een vroeg-Christelike tradisie waarvan ek weet wat heeltemal teen bloed was. En dit kom nogal uit Afrika. Noord-Afrika, Carthago, om presies te wees. En dit word ook nogal aan ’n vrou se naam gekoppel: Perpetua. Perpetua het (na bewering, want die outyd het anders oor die waarheid gedink as ons) in 203 in die arena in Carthago ’n marteldood gesterf omdat sy ’n Christen was. Dis in ’n boek beskryf wat, as sy dit self geskryf het, die eerste boek sou wees wat ons van ’n Christelike vrou het.  ’n Aand of wat voor haar dood kry Perpetua ’n visioen. In hierdie visioen trap sy op die draak se kop, en klim op met ’n leer tot by ’n tuin waar ’n Man in ’n Wit Kleed in ’n tuin sit, haar welkom heet – en ’n stuk kaas gee. Die kaas wat Perpetua kry, is nie onskuldig nie. Ek kan nie al die leidrade hier uitspel nie, maar die kaas verwys na ’n tradisie in die vroeë Christendom wat in reaksie was teen die bloed en die wyn van die Romeine – die bloed wat hulle vergiet het om hulle ryk in stand te hou, en die wyn wat net die rykes beskore was. In die plek daarvan het hierdie Christene ’n eenvoudige dieet van kaas en melk gevolg. En dit was ook vir hulle die simbole van groei in hulle geloof en oortuiging: soos die melk wat stol in kaas, so het hulle deur die doop tot volwasse Christene gegroei. Die doop is dan ook gevier met melk, wat na die seremonie gedrink is.

Daar is nog verdere oorblyfsels van hierdie tradisie van kaas en melk in plaas van bloed en wyn in die vroeë Christendom, veral in Klein-Asië. Ek kan nie al die verwysings hier gee nie. Maar dat dit daar was, en dat dit sterk was, glo my maar.

En nou wonder ek of ons nie maar weer na hierdie bloedlose tradisie kan terugkeer nie. En weier dat bloed verder die verhouding tussen ons en God beskryf. Ek wil nie ’n bloederige verhouding met God hê nie. Ek wil ’n verhouding met God hê wat my wys en gesond maak, en nie bebloed laat nie.

As ek nou ’n fisiese simbool moes kies om die ding tussen my en God te beskryf … wel, miskien sou dit kaas wees, maar miskien ook nie. Vandag het kaas ook maar nie vir die meeste van ons ’n simboliese betekenis nie, met dié dat ons nie meer op plase grootword nie.

Miskien sou ek iets kies soos ’n “evergreen” of ’n vy of ’n meer of reën of iets. Of miskien eerder iets wat nie tasbaar is nie, soos menslikheid of “moral ecstacy” of “agency”. En dan kan ’n mens probeer om al hierdie “stunning” begrippe in Afrikaans te probeer vertaal.

Ons kán mos. In Afrikaans. Bloedloos naby God wees.

Terug na indeksblad

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address