(Gay) trou is nie perdekoop nie …

  • 0
  • Plek- en eiename is verander om hulpvaardige straight mense te beskerm.

Ons het nie eens daaraan gedink om die knoop wettiglik deur te haak nie, al het ons saam met ons ander gay landgenote die nuwe “civil union”-wet toegejuig – tot ons begin wonder het hoe wettig ons pensioenskemas ons ongehude, maar “reeds-twintig-jaar-saam-geblewe”-staat sou beskou as een van ons die emmer skop.

Ná lang gesukkel spoor ek ’n hoog aangeskrewe gay regskenner op die web op. Wonder bo wonder, geluk op geluk: sy antwoord my kreet om raad en ná bestudering van die pensioenskema se reëls raai sy ons aan om tog maar wettiglik tot perdekoop oor te gaan.

Bel toe Binnelandse Sake op ’n buurdorp – as jy in die kas is, klim jy nie op jou tuisdorp uit vir so ’n geleentheid nie,

Ná ’n aanvanklik misverstand kry ek die direkte nommer vir die persoon wat met “civil unions” werk. Skakel haar. Kry ’n Afrikaanssprekende, behulpsame jong meisie (klink so aan haar stem) op die foon. (Daar werk darem nog Afrikaanse mense by Binnelandse Sake!) Lynette vra ons albei se hele stamboom ná sy verduidelik het dat die vrou wat “civil unions” doen (“ons praat nie van gay huwelike nie”), net Vrydae na die buurdorp kom en dat sy eers “gewone” huwelike behartig voordat sy van 12:00 af (ongewone?) “civil unions” behartig. Ek maak toe ’n afspraak vir Vrydag, 1 Februarie, om 12:00. Dis drie maande vooruit, maar nietemin ’n afspraak. Stap een gedaan.

Toe vir stap twee. Laat neem paspoortgrootte foto’s – ons lyk soos die Adams-gesin op ’n af dag, maar nou ja, dis mos maar net vir obskure vorms iewers op lêer en hoe meer onherkenbaar, hoe beter! Stap twee gedaan.

Eish, toe vir die moeilike een: kry twee getuies. Gelukkig (bestiering) werk ’n ou skoolmaat op dieselfde dorp – ons is al vriende sedert ons as negejariges mekaar se hare getrek het en sy weet van my gay-wees, en ken my amper-wederhelf al jare. Ons maak ’n afspraak met haar om ons vir “’n groot guns se vra” by ’n koffieplek te ontmoet – mens vra mos nie “ouers” oor die foon nie! Sy stem gewillig in om as getuie op te tree (het vermoed ons gaan so iets vra!) en ons op die betrokke dag by Binnelandse Sake te ontmoet. Verligting – al een getuie, maar dinge word al moeiliker.

Ons beraadslaag en oorweeg – al ander mens wat weet ons is gay, sit in Johannesburg. Daar bly dus nie eintlik iemand oor om te vra sonder om uit die kas te klim nie. Ons het min vriende en familie … Ons familie is buite die kwessie (hopeloos te konserwatief) en my nig wat dálk sal inwillig, is uitstedig. Besluit toe maar om nog ’n ou kennis, dié keer aan Amper-wederhelf se kant, te nader. Maak weer eens ’n afspraak, dié keer oor ontbyt. Sy is ’n ouer vrou; dus stel ons dit maar báie diplomaties: lê klem op die finansies en die onregverdigheid daarvan as ons nie op mekaar se pensioene kan aanspraak maak ná jare se “vriendskap” nie. Pandora is heel inskiklik en ons slaak weer eens ’n sug van verligting: getuie nommer twee is in die sak – of so dag ons.

Kry toe mos ’n paar dae later ’n oproep: Pandora het haar dagboek geraadpleeg en “agtergekom” sy het reeds ’n afspraak op 1 Februarie, een wat sy nie kan uit- of afstel nie – dis ’n mediese afspraak. Ek en Amper-wederhelf kyk mekaar verstom en verslae aan: wat nou? Maar iewers is daar ’n vals noot. Amper-wederhelf bel die spreekkamer op voorwendsel dat sy Pandora is wat vergeet het hoe laat haar afspraak is. Verrassing! Pandora het nie ’n afspraak op 1 Februarie nie … Hoe sê die Ingelse: “A friend in need is a friend indeed?” Pandora se kissie het oopgegaan en die goggas hol die wêreld vol …

Teen dié tyd het ons albei verlof geneem by die werk om “besigheid” te doen op die groot dag en die tyd raak min. Bel toe maar Amper-wederhelf se suster en vra haar of sy sal omgee om as getuie te teken vir ’n amptelike dokument – ons beplan al teen dié tyd ’n shotgun-troue – al verskil is dat die loop teen sus se kop gehou gaan word, figuurlik gesproke natuurlik! Meen ons sal haar maar in die motor op pad na die huwelik inlig; dan is sy in skok teen die tyd dat ons by Binnelandse Sake kom en teken sy in ’n dwaal as getuie …

Die “troudag” breek aan met ’n trompetgeklank – of so dog ek toe ek net na 08:00 wreed uit my slaap geruk word, maar dis my selfoon se geskel. Dis Lynette van Binnelandse Sake, vreeslik apologeties: die vrou wat ons sou trou, kan weens “onvoorsiene omstandighede” nie die dag werk toe kom nie …

Verslae stotter ek: “Maar ons het spesiaal verlof geneem …” Lynette is baie verleë – sy is maar bloot die boodskapper ... Ek verseker haar ek is nie kwaad vir haar nie, net bitter teleurgesteld. Teen dié tyd het Amper-wederhelf al van my kant van die gesprek afgelei waaroor dit gaan en sy stoom behoorlik van woede. Ek is so stomgeslaan, ek voel niks meer nie.

’n Paar minute later lui my selfoon weer ­ – weer Lynette. Dié keer gee sy my die naam en telefoonnommer van ’n vrou wat glo plaaslik gemagtig is om gay huwelike te voltrek.

Amper-wederhelf bel weer en kry Haly in die hande. Verduidelik ons dilemma. Haly bevestig sy is die regte persoon en dat sy sprituele sowel as wettige gay huwelike doen, maar die angel in die storie, waaroor sy bitter is, is dat sy nie die wettige deel kan doen nie – sy wag vir Binnelandse Sake … Kan sy solank die spirituele seremonie doen? Amper-wederhelf is ferm: dankie, maar nee dankie – ons is al 20 jaar “spiritueel” committed aan mekaar, het selfs in die kerkie by Belvedere, al was dit dan net voor God, trou aan mekaar beloof. Haly het egter ’n ligpunt nadat hierdie deur ook in ons gesigte toegeklap het: hoekom skakel ons nie mevrou Davids op ’n ander buurdorp nie? Sy kan dalk help.

Dié keer bel ek. Die foon lui net, keer op keer. Uiteindelik antwoord iemand: “Hallo?” Net dit. Ek vra beleefd: “Could I speak to Mrs Davids, please?”

Sonder ’n verdere woord word ek deurgeskakel. Mevrou Davids antwoord en op my navraag bevestig sy dat sy wel “civil unions” mag behartig – sy werk vir Binnelandse Sake. Sy kan glo wel na ons dorp kom en ons hier by Binnelandse Sake in die eg verbind (of watter terninologie ook al op gay “gevalle” van toepassing is, dink ek heimlik). Voor ek verder kan uitvra en ’n afspraak kan maak, sê sy ek moet haar eenuur bel – sy is op pad hof toe. Sy gee my haar selnommer.

Eenuur bel ek. Sy antwoord, maar vra of ek tien minute later weer kan bel – sy het iemand by haar. Ek tel die minute af en bel weer. Dié keer hoor ek haar skaars en sy gee my haar direkte uitbreidingnommer. Ek skakel dadelik – die foon lui net. Is dit ons Staatsdiéns?!  Ek vererg my bloedig. Stuur vir mevrou Davids ’n SMS om my te skakel sodat ek ’n afspraak kan maak. Hoor niks van haar nie en besluit om eers af te koel en die volgende dag weer te bel – sy het seker ’n noodgeval gehad om aan aandag te gee …

Net na 08:00 die volgende dag bel ek weer. Geen antwoord by mevrou Davids se nommer nie. Ek skakel haar sel, maar dit lui net. My hare in my nek begin stadigaan rys … Skakel die algemene Binnelandse Sake-nommer.

“Hallo.”

“Could I speak to Mrs Davids, please?”

“Uhh … she’s not working today.”

“When will she be in?”

“Uhhh … I don’t know…”

Vererg plak ek die foon neer. Deure klap net toe …

Amper-wederhelf bel vir Haly, vertel haar die storie. Dalk het haar dokumentasie intussen aangekom? Hoopvol. Ha-ha. Sy het reeds ses ander gay paartjies wat wag –  ons is nommer sewe op die lys; ons moet maar oor ’n maand of so weer skakel, dalk …

My amper-wederhalf (raak al amperder) besluit om weer vir Lynette te bel en vertel haar simpatieke oor die hele sage. Lynette vertel haar toe dat dié mevrou Davids die einste persoon is wat ons op 1 Februarie sou trou. Amper-wederhelf vra of Lynette so tussen ons en Telkom kan sê of die hele gedoente met diskriminasie te doen het. Nee, sê Lynette, daar was werklik onvoorsiene omstandighede en mevrou Davids is werklik ons enigste uitweg in hierdie geweste – haar hoof is net nie altyd so inskiklik om vervoer te verskaf na ons dorp toe nie …

Lynette gee vir Amper-wederhelf kontakbesonderhede wat Haly kan gebruik om haar saak by Binnelandse Sake aanhangig te maak – straks, dalk, miskien help dit, maar Haly het al soveel bloutjies geloop; kry elke keer ’n ander storie by Binnelandse Sake. Nog ’n probeerslag kan seker nie kwaad doen nie; laat weet haar dus in elk geval. Sy is dankbaar vir elke strooihalm en vra haar dat ons haar op hoogte moet hou van enige “vordering”.

Teen dié tyd is ons albei se senuwees so styf gesnaar jy kan sonates daarop speel, en ons vlieg mekaar kort-kort in die hare oor nietighede. Intussen lees ek op Litnet van Egon-hulle se ervarings met Binnelandse Sake en beraam idealistiese planne om maar iewers in die Boland te gaan probeer trou, maar is ook gereed om die hele storie maar bokveld toe te stuur en so “buite-egtelik” aan te karring – die vierpootkinders gee tog nie ’n flenter om of hul ouers wettig verbind is of nie. Aan die ander kant oorweeg ons dit sterk om Johannesburg toe te vlieg en in vriendin aldaar se gay gemeente te gaan trou.

Net toe lui my selfoon weer; dis die engel Lynette. Sy het mevrou Davids opgespoor – sy werk tuis en ons kan haar daar skakel. Amper-wederhelf bel weer; kry haar dié keer. Sy kom die volgende dag na ons dorp toe as ons dan wil trou? Goeie hemel, hoe kry ons op sulke kort kennisgewing verlof by die werk en kry getuies gereël? Amper-wederhelf gooi maar wal en reël ’n afspraak vir twee weke later, 22 Februarie, om 11:00 – die werk en getuies móét net inskakel by die nuwe reëlings, kom wat wil.

Ek skakel vriendin; sy is gelukkig op die nuwe datum beskikbaar. Nou vir die moeilke een – nig is terug van haar omswerwings en ons besluit om haar maar te vra as die tweede getuie; sus moet maar eers in onkunde (?!) bly tot dit werklik nodig is om haar in te lig.

Bel vir nig en sweer haar tot geheimhouding, met die opsie dat as sy gewetensbesware het, sy dit net moet noem – ons sal verstaan. My bene is lam en my hande sweet van senuwees.

Nee wat, nig het geen probleem nie – sy doen dit met graagte. Ek sak verlig op die bank neer; dis seker maar wat die familie ná 20 jaar saam vermoed?

22 Februarie breek uiteindelik aan. Weer verlof geneem; nig kom al die vorige aand oorslaap. Ek bel vriendin om haar te herinner; alles is in orde. My sel lui so 09:00 – Amper-wederhelf kry amper ’n hartaanval; dog dis weer eens ’n kansellasie. Darem net vriendin wat plek en tyd bevestig.

Dis ’n warm en bedompige dag. Die sweet loop in straaltjies by my slape af. Ons ry ’n halfuur te vroeg. Binnelandse Sake is midde in die geharwar van die dorp en parkering is yl. Ek ry bo-oor ’n rooi robot, senuwees behoorlik op hol. Ons kry gelukkig reg langs die gebou plek. Dadelik is daar twee opportunistiese fotograaf-assistente by om ons na die woonwaens waar hul foto’s neem, te lok. Ek beduie nee dankie, ons het ons eie foto’s gebring.

Vriendin is betyds en ons gaan die Binnelandse Sake-gebou binne, gewapen met die naam van die vrou wat as mevrou Davids se kontakpersoon optree. Daar is streng sekuriteit by die ingang – ons handsakke moet deur die masjien met die blikoë en ons self deur metaalverklikkers.

Dis redelik stil binne. Ek vra by Navrae en word kortaf beduie dat ek doer by Security moet aanmeld – ’n vae gebaar beduie die koers aan. Ons drentel in daardie rigting. By ’n bordjie met “Marriage licences” draai ons in – klink of dit die plek kan wees. Nog ’n bordjie beduie “Wedding chapel” – ja-nee, móét die regte plek wees. Dit is ’n vertrek soos ’n klein saaltjie en die stoele is reggepak vir ’n seremonie. Ek weeg die aantal leë stoel op teen ons twee getuies en vind dit hopeloos uit proporsie. Die vertrek is egter verlate en ons sluip deur ’n tweede deur. Dié keer is dit ’n kleinerige vertrek met ’n tafel en stoel. Voor die tafel staan twee stoele en bo-op die tafel pryk ’n nagemaakte troukoek met drie lae – ene blommetjies en strikkies; kan mens amper in die regte stemming bring. Dit moet net die regte plek wees, maar nog geen siel is in sig nie.

Ons drentel weer uit, sien ’n vrou by ’n tafel sit met ’n groot boek voor haar. Op haar trui is “security” geborduur. Amper-wederhelf teken namens ons in en die vrou neem ons deur ’n geslote deur met veiligheidslotte na mevrou Groenewald, ons kontakpersoon. Dié keer is dit ’n groot, oop ruimte met ’n paar oopplanlessenaars waar amptenare rustig sit en data insleutel. Mevrou Groenewald sê sy weet nie van ons afspraak nie, maar ons moet solank sit – mevrou Davids is nog nie daar nie. Dis reeds vyf voor elf en my keel trek benoud toe – wat gaan nóg verkeerd loop? Sy beduie na ’n paar gemakstoele langs haar afskorting en ons sak gelate daarin neer. Probeer maar praatjies maak en bekyk die wêreld om ons. Teen ’n muur hang ’n foto van Thabo Mbeki en nog twee ander persone – een is seker die Minister van Binnelandse Sake, maar om de dood kan ek nie haar naam oproep nie. Die landsvlag hang aan ’n paal voor die foto’s, net so lusteloos en pap soos die hittige dag. Oral is plakkate: “Use your sick leave responsibly.”

Ons wag. Dis naderhand 11:15, maar nog geen teken van mevrou Davids nie. Ons kyk maar hoe verwese ou mensies teen ’n muur staangemaak word en deur ’n gesette vrou met ’n yslike kamera afgeneem word. Almal wonder waarom, maar ons kan nie agterkom wat die doel van die foto-nemery is nie. Mense drentel op en af verby en elke keer kyk ons hoopvol: Is dít dalk mevrou Davids? Dan roep mevrou Groenewald ons – dis mevrou Davids op die foon. Sy moes eers by ’n buurdorp omry en is op pad – ons moet net wag. Gelate wag ons maar. My grys hare word by die minuut meer – vriendin moet terug werk toe … Later kom nog ’n gay paartjie en hul getuies vir die 12:00-afspraak. Hul gesels onverstoord en ignoreer ons – mens sou dink broeders in die verdukking sal probeer praatjies maak, maar nou ja …

Uiteindelik, om 12:30, kom mevrou Davids binnegestoom. Sy hoef haar nie eens bekend te stel nie – dit kan net sy wees wat met lêers onder die arm en windverwaaide hare beduie dat ons haar moet volg. Sy noem aan Amper-wederhelf dat sy plek-plek 160 km per uur gery het om daar te kom. Ons dros maar agter haar aan, gang af, na ’n verlate, donker komiteekamer met splinternuwe tafels en stoele, ’n witbord nog in sy plastiekomslag teen ’n muur staangemaak, wagtend om vasgebout te word. ’n Houtlys verdeel die mure borshoogte in twee, die onderste gedeeltes is lemmetjiegroen geverf. Dis bedompig en stowwerig.

Mevrou Davids is vriendelik, maar duidelik gejaagd. Sy pluk haar baadjie uit en wil van die water in die kraffie op die tafel skink, maar die enigste glas is vuil. My keel is droog en ek sien net ’n yskoue bier in my geestesoog. Vriendin bied aan om ’n skoon glas te gaan soek en verdwyn. Mevrou Davids, wie se naam Mary is, kommandeer Amper-wederhelf op om te help vorms invul sodat ons gouer kan klaarkry. Sy begin self verwoed in haar boek te skryf. Gelukkig het ons al ons ID’s deurgefaks en is dit nie nodig om afdrukke te maak nie. Spouse A (ek), spouse B (Amper-wederhelf), witness 1 and witness 2 se ID-boekies vlieg heen en weer soos Mary dit nagaan en opteken. Mary se rokspant val kort-kort oop en sy vou dit kuis toe. Ek het binnepret oor die kurwes wat sy skalks probeer toehou – sy is seker ongemaklik voor gay vroue, maar hoekom dan so aantrek?

Vriendin verskyn met die kraffie en ’n skoon glas. Sy het selfs ysblokkies opgespoor en Mary teug dankbaar.

Die volgende stap is om foto’s in die boek te plak. Spouse A and spouse B, nogal in kleur, word ons in die boek gegom. Ons staan al vier nader vir die tekenslag, ek hou op tel ná die derde keer. Die vorm in die boek beslaan drie bladsye en dan is daar nog twee aparte “abridged marriage certificates”. Dan puk Mary ’n inkkussinkie uit en ek en Amper-wederhelf moet ons duime rol en afdruk in die boek. “Ontspan,” maan Mary, maar my duim bly stokstyf. In die gejaag druk ons albei ons regterduime twee keer af en moet ons die hele proses met ons linkerduime herhaal. Agt swart merke later is ons deel klaar en Mary druk die amptelike stempel onderaan die vorms af – die rompslomp is afgehandel.

Onseker staan ons rond en Mary beduie ons moet langs mekaar oorkant die tafel inval. Sy trek haar swart baadjie aan en staan oorkant ons. Dan begin sy met die verklaring: “Do you,” en hier lees sy my naam, “solemnly declare that you …” Sy rammel die res van die sin af en kyk afwagtend na my.

“I do,” kry ek darem uit. Sy knik tevrede en dan is dit Amper-wederhelf se beurt om “I do” te prewel. Ek wonder hoe sy voel. My emosies is so in ’n warboel, ek weet nie wat om te voel in dié onwerklike situasie nie.

Dan moet ons mekaar se ringe aansteek en mekaar die regterhand gee. Plegtig verklaar Mary dat ons wettig getroud is. Ons soen mekaar skamerig en vinnig en vriendin en nig wens ons geluk met ’n omhelsing en soen. Dis verby.

Mary sê ons moet dit gaan vier en ons verseker haar ons het reeds ’n afspraak vir die aand. Sy kan darem nou glimlag, half verlig, nes ek. Dis eenuur toe ons uitstap in die hitte en bedompigheid, maar my hart sweef – ons is wettig getroud, uiteindelik!

Die aand praak ek en Wederhelf (die “amper” het darem weggeval!) oor die onwerklikhied van die seremonie.

“Dit het nie gevoel of Hy daar was nie,” sê sy. En dan mog ons nie eens in die wedding chapel getrou het nie … Ons sal maar tweederangse mense in ander se oë bly, al is ons almal gelyk voor Hom.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top