Fine Music Radio-resensie: Glipstroom deur Anemari Jansen

  • 0

Titel: Glipstroom
Samesteller: Anemari Jansen
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780798166263

Koop Glipstroom by Kalahari.com

Wat beteken die woorde “verlange”, “begeerte”, “liefde” en“belustigheid”? Wanneer verander ’n vriendskap in ’n liefdesverhouding en wat is nodig om ’n huwelik te laat hóú? Dit is van die vrae wat Anemari Jansen in haar debuutroman Glipstroom vra. Glipstroom is ’n inisiasieverhaal, oftewel ’n “coming of age”-verhaal. Maja, die hoofkarakter, wil klaarheid hê oor die verskil tussen liefde en belustigheid. Sy sê: “Ek wil jonkwees, jagsheid, verlange en begeerte verstaan. Ek het nodig om my eie, en ander, se beweegredes te herken. Nie net aan my eie lyf te voel nie, maar te weet waar die grense lê van die emosies wat my so bloots ry. Want as ek baie eerlik moet wees, is ek nou op agt en twintig gereduseer tot ’n draadsitter. Agtersitplekbestuurder en tweede-vioolspeler. ’n Naasbeste lewe ontken tog die passie wat mens dryf. En sonder passie gaan ek waaragtig nie in my eie vel pas nie (154).”

Die verhaal open met Maja se aankoms in die Kavango. Haar man, Louis, is deur sy konstruksiemaatskappy na die Kavango verplaas om 130 km van die nuwe Trans-Caprivi-hoofweg te bou. Maja verhuis saam met hom. Die verhaal speel chronologies af in 1992 en 1993, maar die vertelling word volgens ruimte (onderskeidelik die Soutpansberg en die Kavango) en jaartal opgedeel en as twee parallelle verhale aangebied deur middel van splitsing. In die een verhaallyn, dié van gebeure in 1993, sien ons Maja se lewe saam met Louis op die konstruksieterrein in die Kavango, waar sy die enigste vrou is en haar lewe ernstig in oënskou neem. In die ander verhaallyn, die voorafgaande jaar, 1992, ontvou Maja, wat onderwyseres is, se ontluikende vriendskap en verhouding met die kunstenaar Lem de Swardt in die Soutpansberge. In die Kavango leef Maja “in die glipstroom van die vorige jaar”: alles wat tóé gebeur het, beïnvloed tans haar lewe. Sy is ’n kreatiewe mens wat vasgevang voel in die alledaagse eenvoudige bestaan wat sy in die Kavango voer. Hier begin sy ’n cucashop om haar besig te hou, maar kom gou agter dat ook dít nie haar aandag kan aftrek – of die verlange na Lem de Swart besweer – nie. Sy hunker voortdurend terug na die vorige jaar in die Soutpansberge, na ’n voller lewe, ’n lewe waarin daar opwindende dinge gebeur. Sy het méér nodig as beskuitbak en Leonard Cohen, ou episodes van Vetkoekpaleis en die boeke wat uit Suid-Afrika kom. As die enigste vrou in die padkamp het sy niemand om mee te gesels nie. Louis is totaal opgeneem in sy werk en nie ’n maklike gespreksgenoot nie. “Alles wat belangrik is,” dink Maja, “bly ongesê. Ek wil nie hierdie padkamplewe hê nie. My hart is nog stukkend ná daardie gesprek van Desember. Agter my het die pad doodgeloop. My wêreld van verlede jaar het grys geword. Die dinge wat gebeur het, het die verloop van my hele lewe verander. Van óns lewe verander. En hiervan weet Louis nog niks. (...) Wat gebeur wanneer ’n vrou haar woorde insluk? Waarin los daardie woorde op of wat heg daaraan vas?”

Deur die verhaal in twee dele op te breek, plaas Anemari Jansen struktureel die Kavango en Soutpansberg as uiterlike ruimte, sowel as Maja se innerlike landskap tydens die twee onderskeie jare, teenoor mekaar. In die Soutpansberg is Maja energiek, besig, betrokke en waaghalsig. In die Kavango is sy lusteloos, onseker, eensaam en emosioneel verlore. Ook Louis en Lem, die mans in Maja se lewe, kan nie méér verskillend wees nie: Lem is ’n kunstenaar wat gevoelvol en sensitief is, wat Maja as begeerlike muse sien. Louis, aan die ander kant, is ’n aardse man wat dikwels besluite namens Maja neem, beslis nie lang gesprekke oor boeke en filosofie gaan voer nie en meestal geen begrip het vir Maja se kreatiwiteit nie. Maar albei mans dra swaar aan ’n verlede wat hulle optrede beïnvloed. En elkeen vul op sy manier ’n behoefte in Maja. Maja se afgesonderdheid en eensaamheid dwing haar om haar lewe, en haar verwagting van die liefde en ’n huwelik, deeglik te ondersoek.

Jansen raak in die verhaal ’n aktuele saak aan wat vandag steeds gevolge het, naamlik dié van mans wat ná die Grensoorlogtydperk nie terapie ontvang het om die trauma te verwerk waaraan hulle blootgestel was nie. Sy is ’n baie skerp waarnemer met ’n fyn aanvoeling vir en begrip van die menslike psige. Hiervan getuig haar karakterontwikkeling en raak dialoog. As debuutskrywer het Jansen ook reeds ’n kenmerkende styl: sy skryf poëties sonder dat dit ooit in mooiskrywery verval en gebruik dikwels die ruimte om onderliggende kwessies tussen karakters uit te lig of te onderstreep. ’n Voorbeeld hiervan vind ons wanneer Maja aan die begin van die verhaal in die Kavango aankom. Die eerste nag slaap sy en Louis by ’n sendingstasie oor. Op bl 13 kry ons die volgende beskrywing: “Ons stap deur ’n suurlemoenboord na ons kamer in ’n lang gebou met ’n lae dak en rye kamers soos in ’n koshuis. Dit is waar die jong Duitse en Nederlandse nonne bly wat op die sendinplaas kom werk, vertel Louis. Vrywilligerswerk in Donker Afrika, die mistiek daarvan steeds onweerstaanbaar vir die Europeërs. Ons kamer is aan die punt van die gang. Twee grys kateltjies staan teen mekaar. ’n Houtkassie met ’n kers in ’n blaker en vuurhoutjies daarop staan langs die beddens. Teen die oorkantste muur is ’n houthangkas met ’n kakiehempsmou van Louis wat uitsteek. Daarnaas ’n kantoorstoel met ’n uitgeholde sitplek. Louis het ’n foto van ons twee op die vensterbank staangemaak. Ons lê in vlak branders en lyk sorgeloos. Dit was die seevakansie saam met my ouers, my suster Maryke en Louis, net voordat ons getroud is. Ek kyk weg, buitentoe. Die vensters met die bruin gordyne maak op die boord oop. Die kragopwekker stotter skielik terwyl Louis die twee tasse teen die kas neerplak. Ek ruk van die skrik. Deur die boord sluip ’n donkergrys kat.”

Op hierdie punt in die verhaal weet die leser nog nie van die onderliggende spanning tussen Louis en Maja en haar onsekerheid binne hulle huwelik nie. Jansen berei die leser hierop voor met die kontras tussen die boord en sendingstasie se tuin, wat ’n lushof is, en die bar binnekant van Louis en Maja se kamer. Ook haar wegkyk van die foto uit ’n gelukkiger tyd, die stotterende kragopwekker en sluipende grys kat dui alles simbolies op die omvang van Maja se onvervuldheid, haar skuld, die sukkelende verhouding en die gevaar waarin hulle huwelik verkeer.

Anemari Jansen vra met Glipstroom belangrike vrae rondom liefde en verhoudings, die idee van “huis” en ’n gevoel van behoort, sowel as die invloed van die verlede op ’n mens se optrede, begeertes en behoeftes. Dit is ’n gevoelvolle, boeiende verhaal waarop die skrywer met reg kan trots wees. Ek sien uit daarna om Anemari Jansen as skrywer dop te hou.

Hierdie resensie is oorspronklik op Fine Music Radio uitgesaai.

Luister na die resensie soos wat dit uitgesaai is.

Lees nog 'n resensie van Glipstroom.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top